Nuuskommentaar: Onvrede in die landbou

Argieffoto: Reint Dykema

Die regering se planne vir grondgryp sonder vergoeding het gister in die parlement weer ’n stewige hupstoot gekry. Steeds word die indruk gewek dat die regering geen begrip het van die regsimplikasies en ekonomiese gevolge van die planne wat nou gesmee word nie.

Terwyl die een gogga ná die ander oor die Vrede-melkplaas-“projek” onder die Zondo-kommissie se vergrootglas kom en skokgolwe deur die land stuur, is die proses om die Grondwet te wysig sodat grondgryp sonder vergoeding moontlik kan wees in die parlement weer op koers gebring.

Verskeie instansies het hulle reeds sterk teen die jongste grondgrypskuiwe uitgespreek. Die TLU SA sê die proses om hiermee voort te gaan, is kortsigtig. “Onteiening sonder vergoeding sal geen goeie resultate meebring nie,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA.

“Navorsing toon dat die meeste aansoekers nie die kennis of vermoë het om grond wat nou winsgewend tot die landelike en nasionale ekonomie bydra, volhoubaar te bestuur nie en in elk geval eerder verkies om finansieel vergoed te word as om met die grond opgesaal te word.

“Die verlede het ook reeds gewys dat die meeste grond wat voorheen onteien is nou nutteloos lê omdat die regering die nuwe eienaars nie voldoende bygestaan het om dit suksesvol te bestuur nie.”

TLU SA staan by die mening dat dit uiters onverantwoordelik is om met hierdie wysigings voort te gaan. “Dit het nie net ’n direkte invloed op boere, hulle werkers en die platteland nie, maar ook op die vertroue wat buitelandse beleggers in die land het.”

Die Vryheidsfront Plus het ook soos volg by monde van sy leier, dr. Pieter Groenewald, gereageer: “Die ANC se mosie om ʼn parlementêre ad hoc-komitee saam te stel om finale voorbereidings te tref  vir wetgewing om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, moet na regte lui: ‘ʼn Mosie oor hoe om Suid-Afrika se ekonomie en sy toekoms te vernietig’.

“Dit sal die land op dieselfde glybaan na vernietiging plaas as wat met Zimbabwe gebeur het.”

Dít is maar ’n klein deeltjie van die argumente wat al deur dié twee instansies – net twee van vele – uitgespreek is.

Sedert die grondgrypplanne by dieselfde kongres ANC-beleid geword het as waartydens adj.pres. Cyril Ramaphosa tot ANC-president verkies is, is al genoeg geskryf oor die onderwerp om die spreekwoordelike skip tot sink te bring. Daarby het talle mense ook nog mondelinge getuienis afgelê. Die skriftelike dokumente het bestaan uit duisende petisies, beswaarskrifte, navorsingstukke waarvan baie meesterlik en oortuigend opgestel is, historiese perspektiewe, en vele meer. Bitter min van die dokumentasie wat selfs net naastenby gesaghebbend was, het die regering se perspektiewe en planne ondersteun.

Die Suid-Afrikaanse gemeenskap is nog verder gepolariseer en rasseverhoudinge sonder twyfel verder geskaad. Volgens gesaghebbende ekonome is die ekonomie reeds vroeg in die proses geskaad soos die ekonomie hom vroegtydig begin posisioneer het om die skadelike implikasies te verreken.

Nederland se Tweede Kamer van die parlement, vergelykbaar met die Volksraad hier, het reeds ’n mosie hierteen aanvaar wat insluit dat internasionale druk op Suid-Afrika vergroot gaan word. Veral danksy twee artikels deur die bekende Frans-Nederlandse rubriekskrywer in die Nederlandse dagblad Trouw, Sylvain Ephimenco, is plaasaanvalle in Suid-Afrika in grusame detail aan die groot klok gehang. Dit het weer deel uitgemaak van ’n rits artikels oor die voorkoms van rassisme in verskeie wêrelddele, ook in Nederland.

Die leier van die Vlaams Belang het ná dié party se onlangse verkiesingsuitslae reeds aan ’n Vlaamse Maroela Media-leser onderneem dat hy die Suid-Afrikaanse boere se lot in die parlement (vermoedelik die oorkoepelende Belgiese parlement), gaan opper.

Suid-Afrika het al male sonder tal aan sy bas ervaar dat die land nie ’n onaantasbare eiland is nie. Daar word net te graag met rommelstatus gespeel.

Boonop help dit ook nie dat, soos die TLU SA nou weer uitgewys het, die meeste van die grond wat voorheen onteien is (darem met vergoeding) nou nutteloos lê. Verder help die rillergetuienis oor die korrupte en mislukte Vrede-melkplaasprojek ook nie om die spoke oor mislukte grondhervorming in die toekoms te besweer nie.

Voorts dra dit ook nie juis by tot gerusstelling dat verskeie ministers en hul amptenare reeds aangedui het hoe hul departemente beplan om die voorgestelde onteieningsmaatreëls op ’n ingrypende wyse toe te pas nie – gewoonlik heel strydig met die sagte babakossies waarmee die president gemoedere probeer kalmeer.

Die president se kalmeringspogings word boonop ook erg aan flarde geskiet deur verskeie partye wat woeste stellings maak, soos die EFF, die BLF en die Land Party, terwyl ander, soos die PAC, wanneer hulle iets sê én publisiteit kry, nie juis agterweë bly nie. Al dra hulle niks tot die herskryf van die wetlike milieu by nie, klits hulle die gemoedere na die vlak van rooi om, en voortydige grondbesetting maak enige sinvolle grondhervorming en die ondervanging van die verstedelikingstroom bykans onuitvoerbaar.

En net om nog ’n knippie rooipeper by te klits, is daar min hoop dat munisipaliteite, wat vir ’n groot deel van die toepassing verantwoordelik gaan wees, se sake so reggeruk gaan word dat die projek nie agteruit gaan boer en sake nog meer onleefbaar gaan maak nie.

Die voorstanders van grondgryp sonder vergoeding het selfs binne die “gematigde” sirkel geen konsensus oor hoe die grondwetlike en wetlike skelet daarvan aanmekaargesit moet word nie.

Die Nederlandse voorbeeld dui ook daarop dat Suid-Afrika nie maar die bepalings van artikels 231, 232 en 233 van die Grondwet kan ignoreer nie. Suid-Afrika het immers oor die jare verskeie internasionale verdrae onderteken en geratifiseer, ook verdrae wat onder die vaandel van die VN staan, en waarin onteiening sonder vergoeding duidelik aan die ban gedoen word. Baie van hierdie verdrae maak deel uit van bepalings oor menseregte, en plaas dus die reg op eiendomsreg, soos in ons Grondwet, as deel van menseregte.

En selfs al word artikels 231 tot 233 nie as bindend op ons reg en regspraak vertolk nie, het die verdrae self uittredingsbepalings. Dit sluit dikwels strafmaatreëls in teen lande wat uittree, en omdat ’n groot deel van die internasionale gemeenskap ’n hoë premie op menseregte plaas, tender ’n land wat uittree of ’n verdragbepaling eensydig skrap, vir betreklik strawwe strafmaatreëls. Sommige verdrae verwag in beginsel van lidlande om oorlog teen ’n land wat die verdrag skend, te verklaar.

Redelikerwys sou ’n mens verwag dat sulke drastiese strafmaatreëls net ingestel sal word as regte wat teen misdade teen die mensdom gerig is, geskrap sou word. Die regering se halfhartige respons op plaasaanvalle en plaasmoorde, saam met grondgrypwetgewing en die wesenlike skop van ’n bepaling van die handves van menseregte in die tande, kan dalk net ekonomiese sanksies tot gevolg hê.

En dis nie asof baie van die land se diplomate veel vertroue inboesem dat baie saakmakende lande danksy hul “werk” sal besluit om Suid-Afrika se menseregtevergrype met hout-oë te betrag nie. Die skade wat Zindzi Mandela, Suid-Afrika se “ambassadeur” in Denemarke, aan die land (lees regering) se beeld in die buiteland aangerig het, raak-raak aan sedisie.

Sedisie kan soos volg saamgevat word: “Sedition Law and Legal Definition. … Sedition usually involves actually conspiring to disrupt the legal operation of the government and is beyond expression of an opinion or protesting government policy. Sedition is distinguished from treason, which requires actual betrayal of the government, or ‘espionage’.”

Hierdie regs-kopkrappers is ook maar ’n klein deeltjie en nie noodwendig die beste van regsoorwegings nie. Die feit bly, die lat wat die regering gaan wiks, is veel dikker en langer as wat gedink word.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Werner ·

As ek so na mense se kommentaar kyk oor hierdie onderwerp en ook hierdie berig lyk dit of mense nog gedink het sat grondgrype nie gaan gebeur nie wel ons moet ons maar regmaak dat dit wel gaan gebeur om dit te keer nie maak nie saak hoe baie ons vir mekaar se dat dit die ekonomie gaan knou en almal gaan dood gaan vd honger nie hulle het nie n saak nie

Piet ·

Dis ‘n kommie manier om te vat wat hy dink hy nodig het – en dan niks of weinig daarmee doen. Geen privaat initiatief.
Nie ‘n mite nie, Die Russe was netto gebruikers van skaars bronne totdat hulle tegnies bankrot was. Dit tesame met woeste korrupsie. Hiér gaan dit tot groot hongersnood lei.

Philippus ·

Suid Afrika sluit verdrae, maar uit ons eie geskiedenis wéét ons dat die mense in die regering kom uit ‘n agtergrond van totale onbetroubaarheid. Geen verdrag wat gesluit is, het waarde as die een party nie bestendiglik woord sal hou nie.
Die huidige President het baie mooi en sagte woordjies, maar die meesleurende mag van die gepeupel oorweldig alleswat redelik is. Ons kan niks anders as slegte verwagtings hê vir onsself en ons mense nie.
Om pessimisties te wees, is huidiglik om voorsorg te tref, sover moontlik, om erg ontwrigtende tye te trotseer.

Johan ·

I would recommend that an audit be done on all “government farms” in terms of “what was” and the “current” situation – that can then be used as mere confirmation to all interested parties as to what is awaiting the country if we carry on with expropiation of “private” property!

Piet ·

Good comment. The government have the technology and people with skills to quickly sort out what it owns as well as curent land use.
They must however sort out what it can be used for – human settlement or farming. It is quite clear the government department live in informetion silos – or choose to.

Regs! ·

Dit is ‘n uitgemaakde saak! Die regering en hulle ondersteuners sien die blanke as hulle vyand! Hulle weet presies wat gaan gebeur as hulle voorgaan met die proses! Maar dit is ook presies wat hulle wil hê! Wanneer gaan die blanke in die land besef dat hier ‘n oorlog oppad is? Dit gaan ook nie help om met hulle te probeer redeneer nie, want wat gaan gebeur in ons land, IS LANKAL REEDS BEPLAN!

Harry ·

Europa en Amerika beskou ons grondvergrype as diefstal en sal geen besigheid meer hier bedryf nie en ons regering sal ook geen verdere lenings kry om Eskom en ander dienste aan die gang te hou nie. Niemand doen besigheid met ‘n dief nie en dis hierdie duur les wat Zimbabwe geleer het, maar wat geen indruk op ons dom-astrante ANC & EFF het nie – hul is al te gulsig om net nog meer vir hulself in te palm en smalend toe te kyk hoe die blankes ekonomies doodgewurg word.
Hierdie sinnelose aksies word gedryf deur ‘n selfsugtige en jaloerse haat teenoor bankes, wat ten alle koste deurgevoer moet word, selfs al verwoes dit die land en meeste van sy mense.

fred ·

Ek stem saam Harry..ek weet vir seker dat die Belgiese regering dit reeds vorig jaar in hulle parlement bespreek het en daarteen is…
As die ANC wil voortgaan met hierdie doktrine gaan hulle baie moeilikheid uit die westerse lande kry.
Ons moe nie vergeet nie dat hierdie lande nog jaarliks biljoene Euros/Dollars in hierdie land pomp.

Bekommerd ·

Ek het erens gelees dat die grond wasrop die regering sy vuil hande wil lê, net 10% van lanbou grond is. Nou vra ek, waarom al die tyd en geld mors op grond wat vrugbaar verwerk word. Gebruik dis 90% en gee dit aan opkommende boere. Maak nie sin nie. Die anc het dit net eenmal teen ine wittes. (Sic)

Hettie ·

CR het mos gesê onteiening sal volgens die wet gedoen word ,hy het net nie gesê watter wet en wie maak daardie wet nie!

Trojaanse Donkie ·

Harry, jy’s heeltemaal reg met al wat jy se! Nou sal ons sien wat beteken die oorsese verdrae wat gesluit word op internasionale gebied

Vic ·

Ek dink die lat, waarna verwys word in die laaste sin van die berig, moet nou-al gebruik word.

Manie ·

Mense, die Regering is min gepla of swart boere ‘n sukses van boerdery kan maak of nie. Dit is ook oor en oor bewys dat slegs ‘n handjievol swart boere werklik ekonomies wil en kan boer en hulle moet ondersteun word. Vir die massas wat op grond aandring gaan dit nie oor boer nie, hulle wil net grond hê om ‘n paar beeste en bokke op aan te hou, om ‘n sukkelaarsbestaan op te voer. Dit gaan net oor stemme werf en gehoor gee aan die massas, niks anders nie.

Frik Lotz ·

Dankie aan dr. Pieter Groenewald van die VF Plus vir sy sterk leiding en leierskap in hierdie verband.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.