Nuuskommentaar: ‘Onwaarskynlike’ vrede

Die groep Tuks-studente bid verlede week saam op kampus Foto: Daniella van Heerden, eNuus (via Facebook)

Die groep Tuks-studente bid verlede week saam op kampus Foto: Daniella van Heerden, eNuus (via Facebook)

Die aanduidings is dat die Universiteit van Pretoria se Hatfield- en Groenkloof-kampusse vandag heropen sal kan word soos die voorneme is. Drie gebeurtenisse dra hiertoe by:

  • Die ANC in Gauteng en sy filiale, die SAPK-jeugliga, Nehawu en Sasco, het met Solidariteit en AfriForum hande gevat om kampusvrede te bewerkstellig.
  • Die rektor van die UP, prof. Cheryl de la Rey, het onderneem dat die veiligheidsdienste streng op molesmakers sal toeslaan en vasberadenheid getoon dat die UP wel weer vandag sal open. Veiligheidspersoneel is byvoorbeeld verdubbel.
  • Die “afwesige” minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, het Sondag samesprekings gevoer met al Tuks se rolspelers hier gemeld, maar ook met die EFF wat mettertyd geblyk het die groot vlieg in die salf te wees. Nzimande se optrede volg nadat pres. Zuma uiteindelik die jongste kampusgeweld ten sterkste veroordeel het.

Die vorige rektor van die NWU, dr. Theuns Eloff, het gisteraand op die RSG-program, Kommentaar, gesê in die verlede het gewelddadige protes bloot voortgeduur wanneer die universiteitsowerheid onder regeringsdruk nie teen die molesmakers opgetree het nie. Wanneer wel opgetree is, het die moeilikheid gou bedaar. Daar moet egter gesien word of dié keer dalk te veel, komplekse faktore ’n rol speel wat die vasvat-strategie minder suksesvol as in die verlede maak. By die Mafikengkampus het die vasvat-strategie op enorme brandskade uitgeloop. Wat egter ook seker is, is dat ’n sagtehandjiebenadering soos wat verskeie rektore tot hul bittere spyt probeer het, óók nie gewerk het nie.

Daar kan min twyfel wees dat ’n groot deel van die moleste hul oorsprong vind in die EFF wat gewelddadige propaganda (verwant aan die meer bekende propaganda van die daad) inspan met die oog op die komende verkiesing. Volgens ’n berig in Rapport het ’n skynbaar selfaangestelde woordvoerder van die #FeesMustFall op Wits daarop aanspraak gemaak dat die filosofie van Fanon die protesbewegings onderlê. Die bronne wat hy aandui, is egter die werk wat in Engels vertaal is en Fanon se reeds gevaarlike idees nog gevaarliker skeeftrek. Hoewel die student waarskynlik in sy eie wêreld leef, is daar wél duidelike gevaartekens soos die ontsettende selfregverdiging wat sommige leiers openbaar weens die “pyn van kolonialisme en rassisme” wat hulle ervaar, en die opeis van nie net begrip daarvoor nie, maar ook vir optredes soos brandstigting en intimidasie.

Die ooreenkoms hierbo vermeld, betrek net die UP, en is met die Gautengse ANC en vennote gesluit. Dit het dus nie betrekking op Kovsies en die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit nie. Ook nie die ander nie. Die EFF is ook nie betrek nie. En hierin lê juis die vlieg in die salf. Die EFF het ná die samesprekings met Nzimande steeds volgehou dat hulle nie sal toelaat dat die UP vandag sy deure open nie. Studente wat bande het met die EFF het vroeër uit ’n vergadering tussen die minister, die bestuur van die UP en studenteverteenwoordigers gestorm.

Nzimande het op die vergadering die teenstander-groepe gevra om in gesprek te tree om oplossings vir probleme te probeer vind en dat die instelling onmiddellik heropen word. ’n Woordvoerder van die EFF se studenteliggaam sê egter hulle sal toesien dat die universiteit nie heropen word nie. Die EFF sê hulle wil met die bestuur onderhandel anders sal hulle nie toelaat dat die akademiese program voortgesit word nie.

Nzimande het ook gewaarsku oor ’n moontlike rassekonfrontasie by universiteite indien die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal nie aandag kry nie. Dit druis in teen die gees van die ooreenkoms tussen die Gautengse ANC, sy filiale, Solidariteit en AfriForum. Nzimande is waarskynlik deur die EFF se eise beïnvloed.

Terwyl AfriForum- en Solidariteitlede elders hulle moreel ingebind kan voel by die gees van die UP-ooreenkoms, het die ANC in Gauteng ’n geskiedenis van soms betreklik onafhanklik van die ANC elders optree. En die EFF is in elk geval nie ingebind nie.

Aan die positiewe kant, daar was gebedsbyeenkomste op verskeie kampusse waarin studente van alle bevolkingsgroepe saam om vrede op die kampusse gebid het. Mag die Tuks-ooreenkoms op stewige bene staan sodat die EFF se radikalisme geïsoleer en gehanteer kan word, asook ’n model ontwikkel word wat terselfdertyd op ander kampusse tot orde sal lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Trolle ·

Hulle weet mos wie is die EEF se baas,as hulle nou al so bang is vir hom dan het hulle al klaar verloor teen hom.

Sarie ·

Miskien moet ons eerder die beursiedraer agter die EFF se baas ondersoek. Daar is defnitief meer as die blote oog kan sien. Ek dink ook die feit dat die Afrikaanse studente steeds die groep is wat betaal vir hulle studies en nie bakhand staan nie, het die ANC moontlik ook twee keer laat dink.

Trolle ·

Hulle weet wie hulle ook is Sarie maar hulle is nog banger vir hulle want daai ouens gooi bomme.

HEVW ·

Dit is hoogtyd dat die baas van die eff ophou om ander te misbruik wat nie instaat is om vir hulself te dink nie en wanneer daar weer betoog word moet hy n slag self in die eerste linie kom staan. Dit sal nogal pret wees om te sien hou hy hardloop.

HEVW ·

Kan nie verstaan waarom my kommentaar nie geplaas word nie. Dit is hoogtyd dat die baas van die eff ophou om mense te gebruik wat nie vir hulself rekenskap kan gee nie, en as daar weer betoog word self in die eerste linie kom staan sodat ons kan sien hoe dapper hy in werklikheid is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.