Nuuskommentaar: “Oom Kosie sukkel in Afrika” en “Heidi”

Foto: travel.us.com

Foto: travel.us.com

Die voorstel van die ANC-LP, Lindiwe Michelle Maseko, dat die SAUK twee keer per dag die volkslied speel, sou altyd gemengde reaksie ontlok. Dat die reaksie só oorweldigend negatief is, dui daarop dat iets nie pluis is nie.

‘n Deel van die kritiek is pertinent gerig teen die voorneme om dit deel van die nuwe uitsaaibeleid te maak – iets wat op sy eie omstrede is omdat sekere doelwitte moeilik met die grondwet te versoen is, en eerder partypolitiek op ‘n propagandistiese wyse wil dien.

Een van die strategiese doelwitte is om sosiale kohesie onder die bevolking te bevorder. Die waarnemende hoof van die GCIS, Phumzile Williams, verduidelik dat te veel Suid-Afrikaners nie trots daarop is om Suid-Afrikaners te wees nie. Sy steun die gedagte dat Suid-Afrikaners meer lojaal sou wees as hulle die volkslied twee keer per dag sou hoor. Anders as in die verlede toe dit gespeel is net voor die stasie vir die nag gesluit het, wil sy dit nou sesuur soggens en sesuur saans laat speel.

Die munt kan egter ook van ‘n ander kant bekyk word. Eerstens lui die ou, ou bemarkingsbeginsel dat ‘n kliënt hom sal begin verset as hy agterkom daar word met sy kop gesmokkel. Tweedens kan dit wat Williams beskryf net so goed die gevoel van vervreemding wat baie Suid-Afrikaners in hul eie land ervaar, uitdruk. Die vervreemding in eie land het selfs al deel uitgemaak van die gebedskwessies waartoe die Hervormde Kerk sy lidmate verlede jaar met ‘n dag van gebed opgeroep het, en wat hoofsaaklik op die droogte en plaasmoorde afgestem was.

Nie almal reageer dieselfde op propaganda en selfs blatante twakstories nie. Ons ken almal die SMS’e en e-posse met die grootste, opsigtelike wolhaarstories wat iemand doodernstig aanstuur om al wat leef en beef te waarsku. Onder die ontvangers is wel weer ‘n paar liggelowiges wat die boodskap weer ewe ontsteld aanstuur. Trouens, Australiese navorsers het die genetiese mutasie hiervoor bepaal.

Op ‘n ernstiger noot, is daar verskynsels soos post-euforiese depressie en post-euforiese trauma. ‘n Goeie voorbeeld hiervan was na die wêreldsokkerbekertoernooi wat in Suid-Afrika aangebied is. Suid-Afrikaners is op ongekende skaal opgevorder om “gees te vang”. Na die toernooi het die werklikhede van misdaad, plaasmoorde, werkloosheid, stakings, Julius Malema en Suid-Afrika wat weer en weer verder op die korrupsiepersepsie-indeks daal, weer soos nare gedaantes herrys, en was baie mense se gemoed swakker daaraan toe as voor die toernooi begin het.

Tydens die toernooi is vanuit regeringskringe is ‘n onverbloemde ras-getinte lojaliteit aangevuur. Nadat Bafana Bafana uitgeskakel is, is die een Afrikaland na die ander uitgesoek en aan Suid-Afrikaners opgedra om te steun tot hulle ook uitgeskakel is. Hierdie keuses was skaamteloos op ras gemik – Algerië is blatant misgekyk en lande met ‘n African African-bevolking is gekies.

Baie Afrikaanssprekendes het verkies om eerder Nederland of Duitsland te steun.

Vanjaar het die regering, gerugsteun deur die SAUK, iets soortgelyks op die proef gestel deur weer swart Afrikalande, en veral Ghana te steun.

Met die aanbreek van die kwarteindrondtes is daar egter geen land uit Afrika oor nie. Van die agt lande wat oor is, is vier belangrike stamlande van die Afrikaner – Nederland, België, Duitsland en Frankryk. Loyiso se “buitelandse korrespondent”, David Qibuku, het juis reeds draak gesteek oor die kwota-aspek van sport in Suid-Afrika en gesê die Bafana Bafana sal veel beter kan sokker speel as daar ‘n paar Afrikaners in hul geledere is. Die Afrikaners dra die regte gene – van die Nederlanders wat woes kan sokker speel.

(Soms voel dit egter of hierdie sokkergene op die rugbyveld neerslag vind waar Suid-Afrikaanse spanne elke nou en dan hulself met mamparra-skoppe uit die wedstryde uitskop).

Uit ANC-geledere is AfriForum ook reeds as onpatrioties teenoor die land gestriem, en het AfriForum tereg daarop gewys dat sy aksies daarop gerig is om sake soos plaasmoorde te laat regruk – dit maak hulle immers die ware patriotte.

Jare gelede was daar ‘n sportbyeenkoms op Coetzenburg in Stellenbosch. Soos gebruiklik het die bruin mense op die oorkantste wal gesit. Vooraf is die volksblad gespeel – “Heidi blou van onse hemel” soos Mike glo sou gesê het. Die “wit kant” het soos een man opgestaan en Die Stem uit volle bors gesing. Aan die oorkant het die bruin mense bly sit – ‘n duidelike demonstrasie van ‘n gevoel van uitsluiting.

Die reaksie op die LP se volkslied-voorstel dui ook dat daar minstens ten dele ‘n gevoel van uitsluiting is, en dat hierdie mense nie wil meedoen aan iets wat pleistertjies op die kanker plaas nie.

Die lys oor hoekom baie lesers vervreemding ervaar is legio – van ‘n gewoonlik dawerende swye van die regering oor plaasaanvalle, die gerapporteerde krapperighede binne die NVG, die e-tol, die aanslag op Afrikaanse kampusse, staathospitale en klinieke wat kort-kort oor die verkeerde redes in die nuus is, riool in die waterstrome, die keuringsdiskriminasie vir kursusse op grond van mense se velkleur, politieke inmenging in sport, plek- en straatname wat verander word… die lys is baie, baie lank.

Oor Maseko en Williams se aanname dat die gereelde speel van die volkslied moraliteit sal bevorder, moet die sluier liefs getrek word. Duitsland, in ‘n poging om te keer dat omstandighede weer ontwikkel soos dit wat tot die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog gelei het, verplig skole om godsdiensonderrig aan te bied. Weens die grondwetlike vereiste van godsdiensvryheid, is die bywoning van hierdie lesings nie verpligtend nie.

Kortom, daar is darem baie maniere om moraliteit te bevorder anders as die gereelde sing van die volkslied – soos om nie casino’s in woongebiede en naby skole op te rig nie, om nie wetgewing te hê wat dit moontlik gemaak het om ‘n plek van vleeslike plesier reg oorkant die parlement te hê nie, om universiteite te ontmoedig om van hul tradisies af te stap om byvoorbeeld gebed by gradeplegtighede af te skaf.

Om nie eens te praat van ‘n president wat die voorbeeld met sy sin vir moraliteit stel nie.

Die regering sal eenvoudig ‘n groter verbintenis tot die nasionale vredesverdrag moet toon. Met ‘n vredesverdrag maak almal opofferings om kompromieë te bewerkstellig. Hieronder tel juis die saamgestelde volkslied, maar ook die gedagte dat munisipaliteite een naam, en die plekke ‘n ander naam sal hê. Die voortdurende pogings om met die naam “Pretoria” weg te doen, is skandelik uit pas met die skikkingsooreenkoms.

Cosatu se galbrakery oor te min swart spelers in die Springbokke se begin-vyftiental en aanval op Heyhneke Meyer staan in skrille kontras met die swye oor die feit wat Matthew Booth nie tydens die Fifa-toernooi in Suid-Afrika speelkans gekry het nie – selfs nie in tye toe die Bafana Bafana sy lengte en gemotiveerdheid so broodnodig gehad het nie.

Dit sal egter verbasend wees as Victor Matfield weer met die skrumpet wat onder Cosatu deurgeloop het vir die Bokke op die veld draf. Ter wille van die vrede.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Hanno ·

Ter wille van COSATU-SARU rassisme en politieke korrektheid moet die Bokke maar met swart-en-pienk beanies speel.

Dr P E van der Dussen ·

‘n Uitstekende ontleding en uiteensetting. Dankie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.