Nuuskommentaar: Oom Paul en die kriminalisering van Afrikanergeskiedenis

Die foto van Anchen Dreyer, DA-LP, wat by die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad geneem is. Foto: Phillip Bruwer

Die foto van Anchen Dreyer, DA-LP, wat by die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad geneem is. Foto: Phillip Bruwer

Die ANC se verbale diarree oor ’n foto van die DA-LP, Anchen Dreyer, by ’n afbeelding van pres. Paul Kruger, toon die gevaarlike koers wat die ANC met sy rassepolitiek inslaan.

Eintlik al lankal ingeslaan het, veral voor groot verkiesings, maar nog selde met die georkestreerde histerie wat nou geopenbaar word. In die proses word soms erg laf geraak oor wat as rassisme beskryf word, soos ’n #ZumaMustFall-plakkaat – so asof diegene wat meen die land kan Zuma se vrot regering nie meer bekostig nie, enigsins hoop om ’n nie-swart president in sy plek te kry. Die ANC skop nou selektief ’n rassespook agter elke bos uit en slaan selfs ’n mossie met ’n voorhamer dood – weer en weer terwyl nog slagoffers gesoek word.

Die geskiedenis word wesenlik opnuut herskryf. Volgens die ANC se model het apartheid nie eers ná die Nasionale Party se verkiesingsoorwinning van 1948 beslag gekry nie, maar reeds met die aankoms van Jan van Riebeeck. Die Afrikaner se “kriminele geskiedenis” kom dus van 1652 af. Afrikanerhelde soos Paul Kruger, MT Steyn, Totius, genl. Christiaan de Wet, Andries Pretorius en andere is al by geleentheid as eksponente van apartheid voorgehou, al was dit net om ’n straat se naamsverandering te motiveer, of om ’n standbeeld te laat verwyder.

Soms sluip selfs ’n glipsie in, soos premier Ace Magashule wat oudpres. CR Swart as ’n voormalige Boeregeneraal beskryf het toe die CR Swart-gebou se naam ook verander is.

Moet daar maar aanvaar word dat dit in orde is om die term “apartheid”, wat in werklikheid informeel in die media ontstaan het om die beleid van afsonderlike ontwikkeling makliker te beskryf, terugwerkend toe te pas én mense of groepe te kriminaliseer? Van die begin af was daar immers in ooreenstemming met die internasionale opvattings destyds maatreëls wat ooreenkomste toon, maar terselfdertyd was huwelike tussen koloniste en slawe of die Khoi nie ongewoon nie.

Die internasionale konteks lyk nie heeltemal soos wat dit graag voorgehou word nie.

In die VSA is segregasie eers met die aanvaarding van die Civil Rights Act in 1964 afgeskaf, hoewel die inwerkingstelling nog ’n ruk lank geduur het. Volgens die jongste meningspeilings meen meer as 50% van die Amerikaanse kiesers rasseverhoudinge is aan die versleg.

Australië se sogenaamde White Australia Policy is geleidelik afgetakel met die laaste elemente wat eers in 1973 afgeskaf is. In Suid-Afrika was die laaste apartheidswet, waaronder die bevolkingsregistrasiewet, teen 1994 reeds ’n geruime tyd uit die wetboek verwyder, in sommige gevalle reeds etlike jare.

Dit is dus ’n histories onomstootlike feit dat die vorige regering apartheid afgeskaf het, en dat die massa rassewetgewing en maatreëls wat nou op die wetboek is, die werk van die ANC was.

Om apartheid terugwerkend te maak is een ding, maar om te gaan bylieg oor mense se opgetekende geskiedenis is skoorsoekery. So is Kruger uit ANC-geledere met Hitler vergelyk, en as hartelose monster en wrede en bloeddorstige rassistiese leier beskryf.

Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, som die situasie goed op in ’n mediaverklaring. “Die ANC is besig om die Suid-Afrikaanse samelewing uitmekaar te skeur en in twee kampe te verdeel met die wyse waarop die organisasie tans sy veldtog oor rassisme voer. Rassisme van swart en van wit kant dra die kiem om Suid-Afrika en alle verhoudinge te vernietig. Daarom moet alle leiers hulle ten sterkste daarteen uitspreek. Leiers bepaal grootliks die trant en styl van sulke openbare debatte.”… “Soos die ANC tans rassisme definieer, is alle wittes rassiste omdat hulle volgens die ANC in die verlede bevoorreg was. Dit is ʼn totale oorvereenvoudiging van die verlede en van rassisme. Om daarby die Afrikaner se geskiedenis en leiers wat Afrikaners as helde beskou misdadigers te noem, skep ʼn onoorbrugbare kloof.”

Ook die vakbond Solidariteit het gereageer: “Die kriminalisering van die Afrikanergeskiedenis deur die ANC is gevaarlik en kan op lang termyn verdeling en haat tot gevolg hê.”

Vrydagaand het Stone Sizani, hoofsweep van die ANC, Paul Kruger in ’n debat op die TV-kanaal ANN7 met Adolf Hitler vergelyk. Hy het ook teen die DA-LP Anchen Dreyer te velde getrek omdat sy verlede jaar op die vakbond se toekomsberaad langs ’n plakkaat van Kruger afgeneem is.

“Hulle (die ANC) ontwikkel ’n narratief oor die geskiedenis wat hul rasse-agenda dien. Om Kruger te beskryf as ’n genadelose, bloeddorstige rassis van die koloniale era onder wie se bewind swart mense onderwerp is aan massamoord, marteling en die vernietiging van gemeenskappe is ’n onverantwoordelike, gevaarlike, subjektiewe en vals narratief oor die geskiedenis,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Deurdat die ANC die Afrikaner se geskiedenis in sy geheel kriminaliseer, word Afrikaners gekriminaliseer en word ek ’n rassis bloot omdat ek ’n Afrikaner is. Dit is gevaarlike politiek van ’n meerderheid in mag.

“Onderliggend is daar ’n desperaatheid in dié soort politiek van ’n party wat besig is om as regering te misluk en weerligafleiers soek om ondersteuners te mobiliseer,” sê Hermann.

’n Groot deel van die ANC se stokery van die rassedebat waarin hy voordoen of hy vreeslik teen rassisme gekant is, maar self lekker agter die deur staan, is natuurlik om die DA as politieke faktor te knou. Die DA is nou in ’n baie kwesbare posisie in sy eie “transformasie” van oorwegend wit party (persepsiegewys) tot ’n oorwegend swart party.

Histories het die DA in sy binnekringe nog heelwat wit Afrikaner-leiersfigure (al staan hulle selde sigbaar sentraal) wat dateer van die destydse samesmelting van die ou DP met die NP. Uit liberale kringe word meedoënloos “jag” gemaak op hierdie “rassiste” wat vir die DA ’n blok aan die been sou wees (en soms dalk wel is). Om hulle almal egter op ongure wyse uit te werk hou die potensiaal in dat heelwat Afrikanerkiesers te ongemaklik sal voel om nog hul kruisies by dié party te trek. Trouens, heelwat het al in die sosiale media “aangekondig” dat hulle nie weer DA gaan stem nie, maar dis uiteraard moeilik om te bepaal hoe verteenwoordigend dit is.

Intussen moet die DA daarteen waak om nie in die slaggat te trap deur op so ’n wyse te reageer dat dit die rasse-agenda versterk nie.

Intussen vind die kulturele imperialisme plaas asof daar geen vredesverdrag was nie, en trouens asof daar geen Grondwet is nie, soos die Tshwane-raad se optrede oor straatname.

Die behoefte, nee, noodsaak van die Solidariteit Beweging se Plan B word net al hoe groter.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Frans ·

Jy kan nou maar kwik en kwaak soos jy wil, dit rol soos water van die ANC-eend se rug af.
Geskiedenis word geskryf deur diegene aanbewind,wat hulself as die ‘oorwinnaars’ sien en word alle besware uit die weggevee.

Dit is die prys wat ‘n mens betaal as jy toegee en ingee onder druk aan ‘n kommunistiese beweging.

Sarel Strydom ·

As die DA nou nog nie die ANC se taktiek en werkgewoontes ken nie sal hulle nooit.

Fanie ·

Betreffende ANC/Zuma se opmerkings oor Jan van Riebeek en Afrikanerleiers, hoef ons nie eers te redeneer nie. Vra hulle die volgende vrae;
Wie het vir Shaka se ma en en hom, uit hul stam weggejaag?
Wie het later vir Shaka na sy terugkoms en hoofskap, vermoor?
Hoe is Dingaan dood? ens, ens

Winston ·

Ek dink ook die witskrif is aan die muur vir Solidariteit se plan BEE! Puik raakvatting soos altyd. Dankie Herman Toerien.

Grassie ·

Die ANC het ‘n groot probleem wat hul verkiesingspolitiek belemmer. Hulle kan nou nie vir hul stemvee sê “stem weer vir ons want kyk hoe goed het ons die land regeer” nie. Selfs die domstes onder die dommes sal dit nie glo nie. Hulle kom nou met ‘n ander aanslag naamlik dat die witmense rassiste is, die grond wat hulle besit gesteel het en die groot finansiële instellings onregmatig besit en daarmee die arme agtergeblewenes onderdruk. Hulle skep dus ‘n gemeenskaplike vyand met die rassiste-praatjies as gom om hulle saam te bind om as ‘n eenheid vir die ANC te stem, teen die booshede van die wit “kolonialiste”. Hulle sal baie vèr wegbly van hul eie meriete as regeerders.
Al voordeel wat die proses volgens my mening het is dat die wit liberales in die DA nou sal begin besèf dat alle wittes oor dieselfde kam geskeer word.

willemol ·

Die stemvee baseer hulle stem op die huidige. M.A.W. die kospakkie en T-hemp wat hulle op stemdag ontvang. Ook die feit dat hulle sonder vrees van agtervolging op geweldadige manier kan staak en letterlik met moord kan wegkom.

Christo Visagie ·

Al wat hieruit gaan voortspruit is nog meer moorde en diskriminasie teen die blankes, want ons is volgens die anc verantwoordelik vir alles wat sleg en verkeerd is. Die blankes word voëlvry verklaar deur die anc “kill the boer kill the farmer”. Ons BLANKES is in groot K,,

Theresa ·

Sal graag die vals en kwaadpratendes op ‘n hoofopskrif in ‘n koerant wat almal verstaan wil uittrap oor kommentare oor goeie, sterk, nugter denkende leiers se swartsmeer veldtog.
Foeitog, ons almal weet mos, dat sodra jy ‘n ander persoon so moet verkleineer dat jy eintlik van laster en leuens moet gebruik maak, is jy ‘n papperd. en nee, dit is nie ‘n diernaam nie.
Die sotlike optrede teenoor blankes is belaglik.
Buiten vir gevalle wat seker onder opdrag uitgevoer was – het ons nie rondgeloop en mense geroof en plunder nie. Wat gebeur tans?? Skaam hul hul nie dat hul nou nog wil lieg oor ons agtergrond en geskiedenis nie?
Die balk in hul oog is so swaar dat dit skynbaar nie sonder masjinerie uitgehaal sal kan word nie. En elkeen sit toerus met ‘n mikroskoop om ander se ou splintertjie raak te sien.
Werklik pateties met vreeslike gevolge.

Theresa ·

ANschen kan staan langs en by wie sy wil. Waar kom hul daaraan om haar uit te jou? Ek hou van niemand by wie hul staan nie – want hul het gedoen en doen nie tans waarvan ek hou nie. Wie het sy al ooit aangerand, besteel of gemartel?

Sakkie du Plooy ·

Die ANC en trawante kan my noem wat hulle wil. Ek gaan NIE daarom skuldig voel en ophou praat en skryf nie! Ons mag nie gaan le voor hierdie sinlose rassistiese lawaai, valse beskuldigings en intimidasie van die ANC of enigeen wat ons en ons verlede met leuens staan en beswadder nie. Daar is iewers WAARHEID, ook in die ware feite omtrent die verlede van Afrikaners en Blankes. En dit moet tydig en ontydig geskryf en vertel word in hierdie see van leuens en propaganda oorlog.

Sakkie du Plooy ·

Ek gaan nie stilbly omdat ek beskuldig word van rassisme en sulke liederlikhede nie. Ek gaan praat en skryf so dikwels nodig. Ons mag ons nie laat boelie deur oningeligte haatdraende mede landgenote wat ons ywer en sukses net nie kan hanteer nie. Daar is ‘n WAARHEID omtrent die geskiedenis en die bydrae van Afrikaners in hierdie land sedert ons voorvaders voet aan wal gesit het. En dit sal ons vertel en skryf, tydig en ontydig, en ons NIE laat boelie deur oningeligte haatdraende medeburgers nie!

Han ·

Siestog, die ANC se selfbeeld is só laag, dat hulle net oor hulself beter kan voel deur ander te beledig en leuens te versprei. Almal weet dat die ANC nie tussen die waarheid en leuens kan onderskei nie. Daar is ‘n spreekwoord wat soos volg lui: “Al jaag die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel.” Nie dat die ANC dit sal verstaan nie, want hulle ken nie die verskil nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.