Nuuskommentaar: Oop kaarte oor Medupi

Medupi-kragstasie Foto: Eskom

Medupi-kragstasie Foto: Eskom

Die nuus dat Eskom ingestem het om inligting oor kontrakteurs van die Medupi-kragstasie aan die DA beskikbaar te stel, moet verwelkom word. Die nuus volg kort nadat die Mail & Guardian berig het dat Chancellor House, die ANC se beleggingsarm, R50 miljoen oor agt jaar uit Hitachi Power Africa se betrokkenheid by Medupi en Kasile-kragstasies sal kry.

Die ANC, deur Chancellor House, besit 25% van Hitachi Power Africa.

Dié firma is gekontrakteer om stoomketels vir die twee stasies te voorsien.

Die Openbare Beskermer het reeds in Februarie bevind dat die voormalige voorsitter van Eskom, Vali Moosa, versuim het om die belangebotsing met die toekenning van die kontrakte te “bestuur”.

Medupi en Kasile was veronderstel om Suid-Afrika se kragvoorsiening wat noustrop trek, gou op te los. Arbeidsonrus en ander probleme het hiervan ‘n mite gemaak, en grootliks die argumente oor hoekom die kragprobleem nie eerder deur ‘n volskaalse fokus op skoon, hernubare energie geplaas is nie, tot niet gemaak.

Die nuwe hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid, Vasantrai Soni, het met sy aanstelling dadelik klem gelê op sy erns om ondersoek in te stel na private firmas se inspan van korrupsie om kontrakte te bekom.Hy het die bou van die wêreldbeker-sokkerstadions as voorbeeld gebruik.

Oor wat eerste was, die hoender of die eier, sal net so lank gedebatteer word as oor waar korrupsie met kontrakte begin – by amptenare wat die kontrakte toeken, of die firmas wat die amptenare laat struikel deur tsjôtsjô aan te bied.

Die firmas, diegene wat met die hand onder die tafel speel en die wat uit beginsel dit nie doen nie, voer aan dis al manier om sake te kan doen.

Dit blyk ‘n nimmereindigende probleem te wees. Verskeie padboukontrakte in die Vrystaat is in die hooggeregshof in Bloemfontein ter syde gestel. In sommige gevalle is die toekennings terugverwys na die tenderraad met instruksies dat geen van die aanvanklike paneel op die nuwe paneel mag sit nie, en in een geval het die hof die tenders sommer self hertoegeken. Nogtans was daar chaos toe dit geblyk het dat een groot suksesvolle tenderaar ‘n groot deel van die begroting gesluk het, maar weinig vermag het.

Die saak word nog ontrafel, of die nuwe ontwikkeling by die lughawe by Bloemfontein word deur ‘n dringende bevel van die hooggeregshof gestuit. Die aansoek is gebring deur ‘n onsuksesvolle tenderaar wat R26 miljoen getender het, terwyl die suksesvolle tenderaar R38,8 miljoen getender het.

Terselfdertyd ondersoek AfriForum en die Openbare Beskermer ‘n vreemde webwerfkontrak wat uiteindelik glo meer as ‘n R100 miljoen beloop.

Dit is maar net enkele voorbeelde van één provinsie.

Die Christen-Demokratiese Party het onlangs  onder die burgemeester van die Tshwane-metro, Kgosientso Ramokgopa, ingeseil: ““Die egoïstiese handeling sluit die volgende in wat onlangs goedgekeur is: Die restourasie van die Munitioria wat onder Ramokgopa se leiding van R2,8 tot R10 miljard belastingbetalersgeld gestyg het, die verjonging van die middestad van R6 miljard, die herstel van Schubertpark teen ‘n geraamde koste van net minder as R1 miljard, ‘n multimiljard rand studente-akkommodasieprojek, en om alles te kroon, 25% van die elektrisiteitsuitgawes oor die volgende agt jaar vir die instelling van “slim-meters” terwyl die kontrak aan ‘n maatskappy toegeken is sonder dat tenders aangevra is. Die beraamde koste hiervan is R28 miljard.”

Suid-Afrika het in twee jaar 15 plekke op die internasionale korrupsie-persepsieindeks teruggesak. Maar dit is nie die volle prentjie nie. Kom dit by die lande waar omkoopgeld betaal word, wat maar ‘n deel van korrupsie is, tel Suid-Afrika volgens ‘n onlangse verslag onder die heel swakstes ter wêreld. Suid-Afrika vaar selfs swakker as lande soos die DRK en Nigerië.

Dat dit nie geduld kan word nie is duidelik. Die Wêreldbank beskou korrupsie as die diefstal van ‘n land se toekoms. Om korrupsie uit te roei is tegelyk maklik en moeilik.

Dit is in beginsel so eenvoudig as om die algemene klimaat bevorderlik vir integriteit te maak. Dit beteken die leiers moet met integriteit die voorbeeld stel, en waar in eie geledere oortree word, hard toegeslaan word om die boodskap duidelik oor te dra.

Dit is egter ook moeilik weens die endemiese aard daarvan. Die helde-afskeid van Tony Yengeni by die tronk deur ‘n skare, wat Lindiwe Sisulu ingesluit het, sal altyd ‘n skadu werp oor Sisulu se aangekondigde pogings om korrupsie in die staatsdiens te bekamp.

En dan is daar Nkandla, wat as die kersie op die miskoek bly brand. Solank daar nie behoorlike deursigtigheid geskied oor wat daar gebeur het nie, so lank sal mense wat erns maak daarvan om korrupsie te bekamp met ‘n lammigheid in die knieë gelaat word.

En nou gaan Medupi onder die vergrootglas kom…

Dis nog net skuur aan die oppervlak, maar as nie minstens probeer word nie kan die handdoek net sowel ingewerp word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Flash ·

Kookoonde ! ?
Lagwekkend!
Dankie Maroela vir die grappie!
Hitachi het die stoomketels verskaf, julle het seker Google translate gebruik wat boilers as kookoonde vertaal het.
Dalk is kookoonde ‘n baie gepaste naam, met die gekook tussen die kaders en Eskom.
Die ketels is kolossale goed, duisende meters pyp – waarin daar met die laaste telling, iets soos
14 000 sweis defekte was, indien my bronne korrek is.
As Eskom kontraktueel vir Hitachi vasvat oor vertragings, sal Chancellor house dalk biljoene moet opdok….maar dit is seker net ‘n ‘pipe dream’. (Verskoon die dubbelsinnigheid)
Die ANC rassis regime se plundery duur voort!

Herman ·

Baie dankie vir die reghelp. So op my eentjie vanoggend vasgeloop in die rooi taal, en “solank” iets gebruik met die idee om later die regte Afrikaans te soek. Maar toe het die grys hare my ingehaal, en die hond het te haastig geraak dat ons gaan koerant koop…
Maroela het dit intussen reggemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.