Nuuskommentaar: Oordeelsdag naby? Kroniek van ‘n “oorlogskorrespondent”

1058605_60297588‘n Bekende dagblad het onlangs ‘n ondersoekende artikel geplaas waarin die moontlikheid dat al die berigte en gerugte van oorloë, die tifone wat gereeld toeslaan, en selfs aardbewings, daarop dui dat die oordeelsdag naby is.

Moderne kommunikasie en verstommende kommunikasie-tegnologie kan dit so maklik laat lyk of dit in ‘n stadium erger gaan as in die verlede. Werklike statistiek skep gewoonlik ‘n ander perspektief (hoewel dit die oordeelsdag-profete nie stuit nie omdat die Bybel eerder na die toename in nuus oor rampe, as die werklike toenames verwys).

In Suid-Afrika self is daar volop nuus wat ‘n “oorlogskorrespondent” sou besig hou. Plaasaanvalle en plaasmoorde, wat volgens ‘n onlangse mediaverklaring van TLU SA nie afneem nie. Dit, tesame met vee- en gewasdiefstal, brandstigting en die diefstal van gereedskap en implemente word dikwels ‘n oorlog teen die boere genoem. Geweld en intimidasie wat met stakings gepaardgaan sodat daar instansies is wat beide AMCU en Numsa voor die hof wil sleep oor skade wat gely is. Diensleweringsbetogings is landswyd nie te vreedsaam nie. In die Wes-Kaap het dit in ‘n stadium die karakter van ‘n poefie-oorlog aangeneem – en weer duik die term “oorlog” op.

Maar hoe lyk die prentjie internasionaal?

Dié vraag word gevra teen die agtergrond van die 100-jarige herdenking van die Eerste Wêreldoorlog.

Met die Amerikaanse en Europese sanksies wat teen Rusland ingestel is, word die Koue Oorlog met mening voortgesit.

Die meeste mense is van die konflikte in Gaza en Oekraïne bewus. Van die Siriese burgeroorlog, en die bloedvergieting in Suid-Soedan het baie al amper vergeet bloot omdat dit so uitgerek raak dat dit nie meer behoorlik om nuusruimte kan meeding nie. Nigerië se stryd teen Boko Haram haal nou eerder die nuus oor die ontvoering van meisies as aanvalle wat byna ganse dorpe uitwis.

Was dit nie vir die ontvoering van die Suid-Afrikaner Pierre Korkie nie, sou min Suid-Afrikaners bewus gewees het van die voortslepende stryd tussen Jemen se veiligheidsmagte en Al Kaïda-geaffilieerde terroriste.

Die IS (voorheen ISIS) se kalifaat in Sirië en Irak wat die mees ongelooflike wreedhede – in die besonder teen Christene – pleeg, moet behoorlik uithaal om met ander konflikte vir nuus mee te ding.

In Meksiko en ander lande word ‘n oorlog teen dwelmkartelle gevoer. In Suid-Afrika neem ons eerder via TV-reekse soos NCIS kennis hiervan as deur die nuus.

Hierdie vlugtige blik is nog by verre nie volledig nie.

‘n Aanduiding van hoe konflik wêreldwyd deel van ons daaglikse nuusspyskaart is, blyk uit die Nederlandse koerant Trouw se hooflyne van vars nuus vroeg vanoggend op sy webwerf.

Die tien jongste hooflyne sluit die volgende in: Die eerste kenners kom terug in Nederland aan van die toneel van die MH17-lugramp in Oekraïne, vuurpyle van Hamas verbreek die skietstilstand, Obama gee goedkeuring vir lugaanvalle in Irak, ISIS laat die eerste keer ‘n Westerse joernalis toe (‘n werklike oorlogskorrespondent), eerste Christen-vlugtelinge (uit Irak) kom in Frankryk aan, en Hamas stel woordvoerder tereg. Ook die elfde berig handel oor die situasie in Irak.

Bygesê, hierdie meer as 50 persent oorlogsberigte is die gevolg van deurnagberigte. Deur die loop van die dag, wanneer Nederland uit die vere geklim het, word die nuus ook deur binnelandse en ander buitelandse nuus oorheers.

Is daar ‘n verband tussen hierdie wêreldwye konflikte? Oor ‘n deel daarvan kan daar geen twyfel wees nie. Die radikale Soenie-Islam, bekend as die neo-Salafiste, speel ongetwyfeld ‘n groot rol in baie konflikte. Benewens die internasionale terreur van Al Kaïda, kan dit ook gevoer word na onder meer Boko Haram in Nigerië, die Seleka-rebelle in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Al Shabaab in Somalië, die Taliban in Afganistan en Pakistan, die IS in Irak en Sirië, Hamas, die Moslembroederskap, die rebellie in Mali en ander.

‘n Land wie se intelligensiediens nie dié aspek deeglik bestudeer nie, is beslis nie intelligent nie.

‘n Tweede aspek wat soos ‘n goue draad loop, is die wyse waarop met minderhede wêreldwyd gehandel word. In die onlangse jaarverslag van die Minorities Rights Group International word hierdie aspek as tema aangespreek – wêreldwyd lei die swak hantering van minderhede tot ‘n toename in konflik, of konflikpotensiaal. In Afrika is die Sentraal Afrikaanse Republiek en die Republiek van die Kongo pertinent genoem. Ook die aanslag teen Suid-Afrika se boere en die ontstaan van wit plakkerskampe word genoem.

Selfs al sou ons nou werklik die tekens van die eindtyd beleef, moet in gedagte gehou word dat selfs nie Jesus weet wanneer die einde kom nie – net die Vader. Ons kan nie God aan ons tydsverwysingsraamwerk koppel nie:

2 Petrus 3: 8 lees soos volg: Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

Psalm 90: 4 lees soos volg: Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag.

Die getal 1 000 in die Bybel is dikwels ‘n simboliese aanduiding van ontelbaar, of oneindig.

Argeologiese opgrawings vind aanduidings van konflikte wat duisende jare terug strek. Trouens, selde in die geskiedenis van die mensdom was daar op enige gegewe tyd so min konflikte soos nou, soos daar maar altyd iewers twee of meer stamme was wat aanmekaar gespring het. In die proses het daar nie so veel veranderings ingetree soos wat ons dalk meen nie – selfs biologiese oorlogvoering is nie nuut nie. Die Hunne het reeds mense wat met die pes besmet is, met katapulte in beleërde stede ingeslinger. Ook chemiese oorlogvoering word meer as ‘n duisend jaar terug gevoer.

Net so dui argeologiese en paleontologiese gegewens op rampe soos tsunami’s, aardbewings en orkane. Trouens, uit die geskrifte van die VOC kan die kom en gaan van die El Nino-verskynsel honderde jare terug afgelei word.

Die “oorlogskorrespondente” vertolk egter nie die tekens van die eindtyd nie, hy doen verslag oor wat gebeur, en ontleed dit. En daar is genoeg konflikte nou wêreldwyd om ‘n groot persentasie van die joernaliste goed besig te hou.

Sodat ons lesers ook deeglik kennis neem van die wêreld daarbuite – en die wêreld daarbuite begin dikwels al by ons wonings se buitemure.

Maar alles anderkant daardie mure is nie net lelik nie. Gelukkig is daar ook joernaliste wie se taak dit is om die mooie te soek en as werklike nuus aan die lesers op te dis.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

emwee ·

Daar is oorloë van die begin van die mensdom. Daar is onstuimige weerstoestande van duisende jare gelede. Daar is geen bewys dat daar ooit n Jesus op aarde was nie, so, daar is geen moontlikheid dat die karakter ooit Sy verskyning sal maak nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.