Nuuskommentaar: Oordrewe wetstoepassing tydens afsondering pla

‘n Weermaglid op patrollie in KwaZulu-Natal tydens die staat van algehele afsondering wat steeds geld. (Foto: Facebook)

Sedert die algehele inperking van krag geword het, het sekere wetstoepassers behoorlik uit hul pad gegaan om sake onsmaaklik te maak vir gewone landsburgers. Nie alleen is mense dikwels onnodig met ’n yslike R5 000 beboet nie, maar was daar berigte van polisie- en weermaglede wat hulle met wetstoepassing te buite gegaan het.

Maar laat ’n mens dadelik ’n klippie uit die skoen kry. In Suid-Afrika het betogers en soortgelyk nie ’n wafferse reputasie nie, en is eerder bekend hoe hulle wetstoepassers tot die uiterstes toe kan tart, en dan soos babatjies tjank as hulle kortgevat word. Suid-Afrika het juis ’n klad op sy naam oor hoe betogers hier simpatie van die publiek vir protesoptredes verslons.

Maar as iemand tydens die inperking sommer met R5 000 beboet word omdat hy sy eie sypaadjie skoonmaak, of om ʼn nutsman wat gevra is om ʼn inwoner se rioolstelsel te gaan skoonmaak nadat dit verstop geraak het, by sy aankoms by die polisiestasie om ’n permit te kry, beboet word omdat hy buite sy huis is, raak dit ʼn bietjie belaglik.

Dit is so dat die ramptoestand baie skielik afgekondig is en dat wetstoepassers baie vinnig moes optree met die toepassing daarvan. Daar sou bepaald foute intree, en dit is ook nie iets nuuts in Suid-Afrika nie. Die land se burokrate is juis berug vir hoe sekere reëls tot die letter toe toegepas word, al leen die betrokke gevalle hulle verreweg nie daartoe nie. Soms is dit nie onkunde of swak oordeel wat moedelose burgers in ’n posisie stel waarin hulle skuldig is as die munt kop val, en die ander kant wen as dit stert val nie. Verloor verloor jy, en laat ʼn mens met ’n reusefrustrasie.

Nog ’n probleem is dat daar soveel burgers is wat gewoon nie ag slaan op die inperkingsmaatreëls nie. In baie gevalle lyk dit inderdaad of baie mense nie weet watter maatreëls van toepassing is nie, maar in genoeg gevalle blyk dit ’n geval te wees dat die maatreëls soos stoptekens geïgnoreer word. Voeg hierby reëls wat dit vir mense onekonomies maak om met dienslewering voort te gaan. Min taxi’s kan byvoorbeeld gelykbreek deur net sewe passasiers te vervoer. Noodgedwonge aanpassings wat gemaak moet word skep bowendien die indruk dat die owerhede vanuit die staanspoor nie ’n benul gehad het toe die maatreëls ingestel is nie.

In dié stadium ontlok die president en die meeste van sy ministers wat deel van die rampbestuurspan is lof vir die uitrol van die noodplanne. Ongelukkig is daar ook diegene wat, oudergewoonte, eers ’n gemors van hul planne maak, en die goeie werk van hul kollegas in die wiele ry. Die land kan dit eenvoudig nie bekostig nie. Die herstel na normaal ná afloop van die inperking sal vereis dat die beleggers en ander so glad as moontlik wegspring om die ekonomie dadelik weer geolie aan die werk te laat spring.

Jan van Riebeeck was nie volmaak nie, maar het minstens ’n voorbeeld gestel van ’n burokrasie met goeie bedoelings. Om sy bydrae tot die land af te kam, en die huidige geploeter as goeie voorbeeld voor te hou, kan net brouwerk tot gevolg hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Fufu ·

Wat ek nie verstaan nie is dat n maatskappy soos AVON Cosmetics toestemming het om besigheid te doen soos normaal. Hoe kan Parfuum, Grimering ens. as noodsaaklikhede wees in n krisis tyd soos die. Kan iemand dalk die maatskappy laat ondersoek want ek ruik n rot.

My Mening ·

Net gou ‘n vinnige regstelling, AVON het die nodige wettige toestemming van die regering af om essensiële produkte te verkoop. Daar is ‘n lys saamgestel van wat verkoop mag word, dit sluit NIE grimering, sakke, juweliersware, ens in nie. Glo my, daar word nie besigheid soos normaal gedoen nie. Dit sal enige AVON rep vir jou kan vertel, want hulle inkomste word ook daardeur geraak.

Genis ·

Ek is nou regtig nie aspris nie, maar sal n taxi ry teen verlies? Nee ek dink nie so, hully cry net wolf… bly dan tuis soos al ons ander mense…

Schalk N ·

Darem snaaks hoe n “normale” persoon verander sodra hy/sy n bietjie mag toe gedien word…

Michael 1 ·

Ek dink jy verwys na n arrogante persoon wat aan n minderwaardigheid sindroom ly en in n uniform is wat dink dit maak hom meer as wat hy is.

Thomas ·

Ek verstaan nie ons mense nie, reels en regulasies word geïmplementeer om ons te beskerming. 1000e mense gaan elke dag dood weens die virus. Ek weet ons minderheid groep in Suid Afrika word nie regverdig behandel nie. Trek jou sokkies op, hou op kerm en word deel van die oplossing. Almal word beinvloed wit en swart , die taxi eienaar tot die boer. Maak nie saak hoe die ANC hierdie situasie sal hanteer nie ons sal fout vind. Gister is n klomp taxi bestuurders en n hele troue se mense gearresteer omdat hulle nie die wet volg nie net soos die hulle wat sypaasjies skoonmaak en rond ry sonder die nodige klaring en vrywaring. Hou op kerm ons ia trots Afrikaans nie n klomp ou tannies met nat onderklere nie. Ja daar word baie foute gemaak maar ook baie lewens word beskerm. Bly in jou huis, sorg vir jou gesin en bid tot die Here vir genade.

Eclectus ·

Wanneer jy iemand se ware karakter wil sien, gee hom ‘n gesagsposisie.

Jannie van Niekerk ·

Ek het presies die teenoorgestelde ondervind met die polisie en verkeersmanne in die Weskaap.
Ek het ‘n permit om my werk te doen en word gereeld voorgekeer om dit na te gaan. Sonder uitsondering was al die polisie en verkeersmanne baie vriendelik en uiters profesioneel. Ek wil regtig vir hulle ‘n pluimpie gee. Ek is veral beïndruk met Swellendam, Buffeljagsrivier en Riversdale se polisie en verkeer
Welgedaan manne

My Mening ·

AVON doen nie besigheid soos gewoonlik nie. Hulle het die nodige toestemming om net essensiële produkte te verkoop. Tans kan geen grimering, juweliersware, ens bestel word nie. Enige AVON rep gaan vir jou dit kan sê, want hulle inkomste word ook daardeur geraak. AVON hou by die lockdown reëls, die bestelling kan direk by die kliënt afgelewer word deur die koerier maatskappy aangesien die rep nie tans self die aflewering sal kan doen nie.

Jacobus ·

Dankie Herman. Die opskrif kon ook lui: “meanwhile back in South Africa”.
‘n Ou Britse regter het een maal gesê “the law is an ass” bedoelende dat as dit nie met oordeel toegepas word nie, kry mens baie eng en swakdeurdagte interpretasie daarvan.
Meanwhile back in South Africa………!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.