Nuuskommentaar: Oorleef jou leeftyd

Gary Clarence en sy tweelingseuns Foto: The Telegraph

Gary Clarence en sy tweelingseuns Foto: The Telegraph

Nie almal word leiers en duidelike rolmodelle nie, maar dikwels is dit juis die klein, “vaal” mensies wat hul leeftyd oorleef … wat na hul sterwe mense bly aanraak.

Verskeie sterftes die afgelope ruk het Suid-Afrika geruk, en gaan ‘n impak bly hê. Een van die maniere om hierdie heengeganes se herinneringe in gedagtemonumente te giet is om die positiewe lesse te koester en te bly nastreef.

Tant Grietjie Adams. Wat ‘n inspirasie vir versoening, en een wat die land se leiers, wat die toon behoort aan te gee, absoluut beskaamd laat. Lank na haar heengaan sal mense steeds die vrolike vroutjie van Garies, en van die herlewing van die riel, se “Dis ‘n lekker ou Jan” in die kop bly maal. Dat sy in haar lewe reeds ‘n toekenning vir versoening gekry het, spreek boekdele, maar sy was gelukkig nie die land se enigste versoener nie. Baie doen hul werk onder radarhoogte, maar dis nie minder belangrik nie – dis die gesindheid wat tel. En selfs Rome is steen vir steen gebou.

Die drie jongste kinders van Gary en Tania Clarence, wat aan spinale spierdistrofie gely het, en wat onlangs vermoor is. Hul ma word van die moorde verdink. Dit sou voortydig wees om oor die omstandighede te bespiegel, maar dit plaas opnuut die soeklig op die geweldige lot van ouers wat kinders het vir wie ‘n groot lyding voor hul onafwendbare sterwes voorlê. Dit laat ook die soeklig val op ouers se kommer oor wat van hul gestremde kinders gaan word wanneer die ouers eendag nie meer daar is nie, terwyl al hoe meer berigte die rondte doen van inrigtings wat juis sulke werk doen, waarvan die geldkrane toegedraai word – onder meer omdat hulle nie net na swart mense omsien nie. En dit is nie net fisiese versorging eendag wat die vrae by ouers laat nie, maar mense met gestremdhede is, soos ander mense, meestal baie afhanklik van liefde. Juis emmers vol liefde.

Die tragedie is dat die twee gevalle by verre nie die enigstes is nie, en in nie alle gevalle is hulle in soortgelyke situasies reeds met die onomkeerbare dood gekonfronteer nie. Gister het ‘n groot groep Transnet-pensioenarisse na die Uniegebou opgeruk – mense wat soos talle ander mense hul leeftye hard gewerk het vir ‘n ordentlike pensioen, net om na aftrede jaarliks magteloos agteruit te boer soos die pensioen ver onder die inflasiekoers aangepas word. Die impak is veel groter as net die materiële ontbering – die slagoffers se hele menswaardigheid word gestroop.

By Rustenburg en omgewing is ‘n prentjie van onmeetbare lyding aan die ontvou namate die staking voortduur. Die grootste tragedie is dat mense wat hoegenaamd nie by die staking betrokke is nie, nie meer brood op die tafel kan plaas nie omdat die koopkrag opgedroog het. En hul kinders. Sodat Solidariteit Helpende Hand moet inspring – Solidariteit ‘n gedeeltelike noodtoestand moet afkondig.

Of as ‘n landbouer verlangend na die potblou hemel opkyk terwyl sy weiding en oes verskroei en die reën wegbly. En ander boere vir wie die reën reg geval het, inspring en help.

Ouers wat daagliks in vrees leef dat hul kinders in die pad van ‘n koeël tussen twee dwelmbendes kan beland, of dat hul kinders se lykies tussen die duine gesoek moet word as simptome van ‘n gemeenskap waarvan die morele kultuur se bodem weggeval het. In ‘n land wat as verkragtinghoofsetel van die wêreld bekend staan.

En die land steeds beskaamd moet wees oor hoekom die oorlewendes en naasbestaandes van plaasmoord-aanvalle se trauma erger is – as viktimologie bekend staan. Daardie dieper trauma wat nie wil wegval nie omdat die gevoel van afgesonderdheid, deur hulle wat moet beskerm versaak word, blootgesteldheid steeds geld.

Gelukkig is baie mense engele, wat op maniere bydra wat hulle kan – dikwels self in die nood. Nie net materieel nie, maar met liefde en vertroosting, met gebede.

Na berig word gaan China moontlik oor 15 jaar die grootste Christenland ter wêreld wees, met bykans 250 miljoen Christene. Onder die redes wat aangevoer word dat Christenwees in daardie land posgevat het, die hartelose materialisme is wat met die kapitalistiese opbloei gepaard gaan. Maar, die Christen en sy kerk swem teen die stroom met omgee vir ander.

Vir die gelowige is daar bitter baie werk in hierdie land.

En so kan ook hy of sy wanneer die einde kom, ‘n geestesmonument verrys as inspirasie vir ander om ook met hande en harte uit te reik.

So kan elkeen sy eie lewe oorleef en selfs na die graf toegegaan het vir ander as voorbeeld en inspirasie bly dien.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae