Nuuskommentaar: Oorlog en sterftes weens Wes-Kaapse water?

kaapstad-damvlakke

Stand van Wes-Kaapse damme (8 Mei 2017) Foto: Departement van water en sanitasie

Met Wes-Kaapse damme wat hul laagste moontlike vlakke van bruikbare water nader, bly die reën steeds weg. Op tien dae voorspellings moet waarnemers verbyster toekyk hoe selfs baie mildelike voorspellings “opdroog” soos wat die dag nader kom, en selfs heeltemal verdwyn. Tans voorspel die Noorweegse langtermyn-weervoorspelling sowat 30 mm van Vrydag 26 Mei tot Saterdag 27 Mei, maar of die reënvooruitsigte dié keer gaan “hou”, sal nog gesien moet word. (Kyk na die onderste tabel wat vollediger is).

Al strenger waterbeperkings geld, en vlak 4 word nou voorsien. Kort-kort word berig dat Kaapstad en omgewing wat van dieselfde waterbronne afhanklik is, nie by die besparingsteikens hou nie. Die wolf is nou voor die deur.

Te midde hiervan kom ’n ope brief van die vakverbond, Cosatu, aan pres. Jacob Zuma, om te help. Volgens Cosatu dreig oorlog en sterftes sou die water opraak. Die rykes kan gebottelde water koop, maar as die water op is, is die armes heeltemal uitgelewer, redeneer Cosatu. Die politieke angel is egter ook aanwesig soos om Zuma daaraan te herinner dat Cosatu hom uit die kussings wil sien verkas.

Die owerhede het so ’n waterkrsis voorsien, net nie nou al nie. Omvattende planne om die watersituasie te beredder en programme vir die instelling daarvan is gereed, maar was afgestem vir oor ’n paar jaar. Dit sluit navorsing oor volhoubaarheid in. Kaapstad se bevolking het egter veel vinniger gegroei as wat voorsien is, en die huidige droogte is nie nou al voorsien nie.

Die gevolg is dat die indruk gewek word dat daar nou baie gepraat en kop gekrap word, maar min gedoen word behalwe om waterverbruik te verminder.

Verminderde waterverbruik is wel nou ’n blywende gegewe, maar nie die blywende oplossing nie.

Daar is verskeie noodmaatreëls wat betreklik vinnig ingestel kan word. Sommiges, soos ’n ontsoutingsaanleg, is weens kragtariewe in Suid-Afrika baie duur. Ander, soos onttrekking uit die aanloklike reuse-akwafers in die Tafelberggesteentes wat van die Wes-Kaap tot ongeveer by Knysna strek, se volhoubaarheid is nie altyd seker nie. Is dit droog, word hul watervoorraad ook nie aangevul nie, en bekende vleilande kan moontlik in die slag bly. Maar nood is nood, en enorme hoeveelhede water kan betreklik maklik onttrek word.

Ander oplossings soos om water van die onderbenutte Breederivier te onttrek is langertermynprojekte.

Dit is egter objektief onafwendbaar dat die groeiende Kaapstad in ’n gebied wat al droër word uiteindelik op groot skaal van ontsouting gebruik sal moet maak. ’n Groot deel van die koste is opgesluit in die hoeveelheid krag wat gebruik moet word om die water deur die membrane te dwing. Danksy beter tegnologie daal die koste met ongeveer vyf persent per jaar, en om so lank moontlik water (of is dit stof?) te trap voor die aanlegkoste aangegaan word, lyk logies. Maar het Kaapstad die luuksheid van tyd?

Onlangs is berig dat ’n nuwe membraan van die wondermateriaal grafeen-oksied ontwikkel is. Dit sal die koste nog aansienlik afbring, maar ongelukkig nie oornag nie.

Wat nie uit die oog verloor moet word nie, is dat die stedelike gebiede nou al lank dertig persent landbouwater vir stedelike gebruik onttrek. Onlangs is die Bergrivierdam se sluise heeltemal toegemaak. Die Wes-Kaap se ekonomie is baie afhanklik van die uitvoer van landbouprodukte, en om besproeiingswater te lank te weerhou verhoog die kanse van enorme skade. Daar is ook wintervrugte soos suurlemoene en lemmetjies wat uitgevoer word, en nie nou kan droogte ly nie.

Dit kan aangeneem word dat die Stad Kaapstad se stadsvaders en -moeders betyds sal optree om noodmaatreëls in werking te stel. Die nuus oor die vooruitsigte is nie altyd ewe goed nie, en vroeër die week is berig dat die stad te min waterkarre het om water by al die woongebiede en plakkerskampe gelewer te kry.

Daar is egter ook goeie nuus. Daar is reeds begin om baggerwerk in die byna leë Voëlvleidam te doen, terwyl baggerwerk in die Theewaterkloofdam ook beplan word. Die doel is weliswaar nie soseer om die damkapasiteit te vergroot nie, maar om te verseker dat water by die pompe sal kan uitkom. Dit kan egter aanvaar word dat heelwat slik in die proses verwyder sal word.

Hoewel die huidige situasie ’n krisis is, is die probleem die tempo waarteen die stad en omliggende dorpe en stede groei. Nuwe projeksies dui daarop dat die stad binnekort water en dienste aan ongeveer 5 miljoen mense sal moet voorsien, iets wat bykans ondenkbaar met huidige bronne is, selfs al word ’n besparingskultuur ’n lewenswyse, en selfs al bly droogtes van hierdie omvang vir ’n paar jaar weg.

Miskien kan opnuut gekyk word na die moontlikheid om ysberge van Antarktika as bron van vars water te ontgin. Onlangs is berig dat ’n firma van die Verenigde Arabiese Emirate van volgende jaar af beplan om ysberge wat van Heardeiland naby Antarktika wegbreek na dié land te sleep. Een ysberg kan glo ’n miljoen mense vir vyf jaar van water voorsien.

Die idee van ysberge na Kaapstad sleep is nie nuut nie, maar die navorsing het tot dusver die gedagte se uitvoerbaarheid nie ondersteun nie. Tog was daar sedert die begin van die 20ste eeu verskeie gevalle wat ysberge vanaf die Suid-Afrikaanse kus bemerk is. Wetenskaplikes skryf dit aan aardverwarming toe. ’n Baie onlangse “geval” was egter ’n reklamefoefie.

Volgens internasionale organisasies wat noodreddingswerk in Afrika doen, is waterskaarste in dele van die kontinent reeds die oorsaak van geweld, en uiteraard van hongersnood. Maar is daar werklik ’n gevaar dat die situasie in Kaapstad tot geweld en dood kan lei soos wat Cosatu in sy oper brief aan Zuma voorsien?

Die waarskynlikheid van geweld en selfs doodslag is moeilik voorspelbaar. As daar egter, soos gereeld gebeur, ’n brand in ’n plakkerskamp uitbreek en die brandweer het eenvoudig nie water nie, is die moontlikheid van oproerigheid nie uitgesluit nie. As daar te min waterkarre is, kan gemeenskappe wat oorgeslaan word onstuimig raak. Dit is natuurlik moontlik dat baie voorligting en oorreding nodig gaan wees om gemeenskappe wat uit byvoorbeeld die Oos-Kaap na die Wes-Kaapse utopie getrek het te oortuig dat daar werklik nie water is nie. Maar met soveel koppe wat saam beplanning doen, sal hierdie gevaar ook voorsien wees en aangespreek word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

MC ·

Asseblief, ek moet my regtigwaar begin skaar by Bok Radio. Kaapstad het geen planne in plek nie anders het hulle lankal daarmee begin. Toe daar droogte in Gauteng was, was daar ‘n biddag vir reen, toe dit droogte in die Vrystaat was, was daar ‘n biddag vir reen. Hier in Kaapstad wag ons nog vir daardie biddag vir reen. Wat Cosatu se maak sin, wat presies gaan gebeur as die hordes en hordes mense in die plakkerskampe by die krane kom en daar is geen water meer nie. Dit is presies waaraan ek gedink het gister toe ek vir die hoeveelste keer weer my 10 liter kan gaan volmaak het by die winkelsentrum, want ons kan nie eers meer die kraanwater drink nie.

Ai ·

Toemaar ons bid saam julle elke aand al is ons nie daar nie. Niks keer jou om n WhatsApp boodskap te skryf en almal op jou adress te vra om bv. 8:00 more aand te bid nie. Daai boodskap versprei soos n veldbrand. Ons hier het nie gewag vir Angus se bid dag nie. Ons het ons reen lank voor Angus se byeenkoms gekry want ons het self almal gevra wat ons ken om saam ons te bid.

humor ·

Wanner nooddieste gelewer word wie gaan eerste in die ry wees om bevoordeel te word?

Nettie ·

Jip. Kaapstad (eintlik die hele Wes-Kaap) se inwonertal het gegroei. En wie kan ons bedank (nie Boland Bank nie): die ANC – hulle het die afgelope jaar (sedert Augustus 2016) 100’e en 1000’e Oos-Kapenaars en “vlugtelinge” vanuit Zimbabwe en Mosambiek per taxi ingevoer na die Wes-Kaap, met een doel voor oë: die meerderheidsmagte moet in 2019 hier gevestig wees om die stem in 2019 se Nasionale Verkiesing om te swaai na heerskappy in al 9 provinsies van die land. Die DA-beheerde Wes-Kaap is ‘n yslike groot, pynende doring in die ANC se vlees.

Hendrik ·

En Nettie hulle gaan nooit weer terug van waar hulle kom nie. Hulle gaan net terug tydens lang naweke. Miskien moet die Wes-Kaapse regering werk skep in die Oos-Kaap. Dit gaan almal in die Kaap baat.

John ·

Ons sal eers wag totdat ons ook laaste in die ry staan vir ‘n ysberg. Vra ‘n graad 1 kind om uit te dink hoe ‘n ysberg geberg kan word. Hy sal jou dadelik antwoord. Maar ons kan gou olietanks bou of opgaardamme. Die Kaap hou van bravado en drama. Koop rubberbote vir reisigers na groener weivelde en vra ‘n paar regte ingenieurs om raad. Julle is te lank deur anties bestuur… en voggies vanaf ander tenks…

Dankbaar ·

Die mens wik en God beskik – en Hy gebruik selfs ‘n donkie, in dié geval droogte, om die mens tot sy sinne te bring en weer op sy knieë te kry om te besef wie Hy IS… Hierdie is maar ‘n tydelike droogte maar die werklikheid van ‘n ewige lewe lê voor – hetsy ‘n plek waar daar nooit weer ‘droogte’ gaan wees nie of ‘n plek waar daar NOOIT ‘n einde aan droogte gaan wees nie, nie eens ‘n druppel wat nie…

Frans C ·

Die ironie van die aak is,dat tussen 71-72% van ons planeet se oppervlakte met water bedek is. Ongelukkig is 97 % soutwater, wat dus 3% los vir die 7.5 biljoen mense en wie weet presies hoeveel diere.

Sonder water geen lewe- die probleem moes dus eerder aandag gekry het.

marous ·

Daar is bloot eenvoudig te veel mense en te min water , en dis nie net beperk tot die Wes Kaap nie. Die ongekende chaos wat gaan uitbreek gaan ook voor die wittes se deur geplaas word. Ja dit is die regering se plig om te sorg dat daar voorsiening word met opgaar van water, en hulle het die waarskuwings bloot geignoreer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.