Nuuskommentaar: Oorlog oor ’n oorlog se naam

Minister Mthethwa tydens die bekendstelling. Foto: Facebook

Minister Mthethwa tydens die bekendstelling. Foto: Facebook

Volksblad plaas vanoggend ’n regstelling op ’n berig wat gister die loop geneem het. Volgens die oorspronklike berig het die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, “aangekondig” dat die naam van die Anglo-Boere-oorlog (ABO) amptelik na die Suid-Afrikaanse Oorlog verander is.

Vanoggend blyk dit dat die minister bloot by ’n geleentheid by die ABO-museum gesê het die naam van die museum kan in die toekoms na die Suid-Afrikaanse Oorlogsmuseum verander word.

Intussen is stoom wyd afgeblaas oor die “naamsverandering”. Daar is onder meer op gewys dat die naam Anglo-Boere-oorlog deur gebruik gevestig is, en dat dit nie ’n amptelike naam is nie. Die regering kan dit ook nie ’n amptelike naam gee nie. Dit het oor die jare immers ook as die Tweede Vryheidsoorlog, die Boere-oorlog en selfs die Engelse oorlog bekend gestaan.

Te  midde van die volgehoue pogings om plekname sonder behoorlike oorlegpleging te verander – ’n proses wat al as kulturele imperialisme beskryf is en indruis teen die gees van die Nasionale Vredesakkoord – het die “aankondiging” galsterig afgegaan.

Nie dat die naam vreemd is nie. Op RSG is al na “die Suid-Afrikaanse Oorlog, voorheen bekend as die Anglo-Boere-oorlog” verwys. Dis reeds in handboeke opgeneem en deur historici as ’n fout uitgewys.

Naamsveranderinge is internasionaal ’n sensitiewe kwessie. Ongeveer honderd jaar gelede is die hoogste bergpiek in Noord-Amerika na die berg McKinley, ’n politikus, herdoop. Na raming het die berg toe reeds sowat 10 000 jaar lank as Deenaalee, en later volgens die anglisering daarvan, Denali, bekend gestaan. Deenaalee beteken “die lang of hoë een” in een van Alaska se inheemse tale, en ongeveer tien ander tale het ’n soortgelyke uitspraak daarvoor.

In Alaska het min mense na die berg McKinley verwys en die oorspronklike naam bly gebruik, baie soos ’n mens aantref in die name van gemeentes en skole wat die ou name, byvoorbeeld Pietersburg, in hul eie name bly behou. Die natuurpark om die berg het byvoorbeeld amptelik die naam van Denali gekry.

Op 30 Augustus vanjaar het pres. Barack Obama uiteindelik, ná jare lange veldtogte deur voorstanders van die naam Denali, aangekondig dat die berg sy ou naam terugkry. En dadelik was daar lang lippies by sommiges wat die naam McKinley wou behou.

Een van die hoofbesware teen die naam “Suid-Afrikaanse oorlog” is dat dit die aandeel van die Engelse, die aggressors, verswyg. Die oorweging vir die gebruik van die naam word gemotiveer deur aan te voer dit weerspieël nie die rol van swart mense in die oorlog nie.

Dit is inderdaad ’n feit dat geskiedskrywing oor die rol van swart mense in Suid-Afrikaanse konflik nie altyd suiwer was nie. In ouer bronne, soos Drie Eeue, word redelik breedvoerig berig oor die rol van swart en bruin mense aan die kant van die Voortrekkers in die laer van Bloedrivier. Dit sluit onder meer ’n kontingent swart skerpskutters van Port Natal in wat Alexander Biggar saamgeneem het om die moord op sy seun te wreek.

Latere bronne verwys nie na hierdie kontingent nie, maar net na die bruin “bediendes” en na ’n ondergeskikte rol soos om die voorlaaiers te help laai. Later is hierdie groep ook in skoolleerplanne verswyg.

Eers betreklik onlangs het die swart betrokkenheid in die laer van Bloedrivier weer bronne aangehaal wat die geskiedenis objektief probeer weergee, en is kennis oor die swart konsentrasiekampe in die ABO afgestof.

Die herstel van die werklike geskiedenis gaan egter soms met moeite gepaard. Betreklik onlangs het ’n teoloog en akademikus in ’n kerklike publikasie vreeslik te velde getrek teen mense wat nie meer hul geskiedenis ken nie. Hy het oor Bloedrivier geskryf, en die teenwoordigheid van swart mense verswyg, maar ook geskryf oor die vroue en kinders in die laer. Andries Pretorius het egter vroue en kinders belet om saam op die strafkommando te vertrek.

Uit ’n rekonstruksie van die geskiedenis, soos onder meer opgeteken deur die gerespekteerde Theal McCall, blyk dit dat die gebied waar Bloemfontein vandag geleë is, reeds voor die Brits-gesin dit by die fontein gevestig het, die naam gehad het. Die oorsprong van die naam word gegee as Jan Bloem, ’n Koranna-hoofman wat nou nie juis by die letter van die wet gehou het nie. Nuwe bronne bespiegel egter steeds oor die herkoms van die naam en beperk dit tot die aanwesigheid van die Brits-gesin.

Kortom, die objektiewe weergee van die geskiedenis verskil dikwels van die geïdealiseerde weergawe daarvan – en dit is ’n tweesnydende swaard. Met ander woorde, die weergawe wat die regering aan die land wil opdwing, is dikwels ook meer propagandisties van aard as op feite geskoei. Die ou spreekwoord lui immers dat die oorwinnaar die geskiedenis skryf (of dan herskryf).

’n Goeie voorbeeld is die aanspraak dat die ANC apartheid oorwin het. Die laaste apartheidswet is egter reeds lank voor 1994 uit die wetboek verwyder, en streng gesproke het daar uit die Kemptonparkse Vredesonderhandelinge nie ’n wenner of verloorder (in militêre sin) na vore getree nie. Wie vir wie by die onderhandelinge ore aangesit het, en daarna verkiesings oorheers het, is natuurlik ’n ander kwessie.

Op Solidariteit se Facebookblad skryf Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging: “Daar het hierdie jaar twee dinge vir my duidelik geword. Die eerste is dat die ANC nie kan regeer nie, en die tweede dat Afrikaners nie kan struggle nie. Die eerste probleem spreek vanself. Julle kan ook maar oor die tweede probleem ontspan. Ek bedoel nie dat julle moet leer toi-toi nie – ek hou juis nie veel van dans nie – en party van ons sal net hulself beseer! Met struggle bedoel ek dat ons sal moet leer om standpunt in te neem wanneer dit nodig is.”

En nadat die foutiewe berig die lig gesien het, het Afrikaners en hul kultuurorganisasies en ’n politieke party, die VF Plus, oor ’n wye front standpunt ingeneem. Dis nie sommer net vir vat nie.

Afrikaans se stryd teen kulturele imperialisme is nog lank nie verby nie. Die aanslag op universiteite toon ook dat daar, soos met die ABO, genoeg vyfdekolonners is – sommiges skynbaar eerlik van mening dat hul standpunt die korrekte is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Dawie ·

Ek is van mening dat ons ‘n belangrike les hieruit kan leer. Daar was nou onlangs ‘n paar berigte en kommentare oor die voortbestaan van die Afrikaanse media. Hier is nou ‘n duidelike voorbeeld van persone wat hulle eie agenda wil volg en graag dinge publiseer wat onnodige reaksies en spanning veroorsaak. Sies vir julle Nuus / Netwerk 24 ons is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie en glo lankal nie meer alles wat julle publiseer nie.

Bok-Bok ·

Janee Dawie, daar word aanhoudend gekrap waar dit nie jeuk nie. laat my dink aan die storie van ‘n outjie wat met ‘n stokkie in ‘n bynes gesit en karring het met vreesaanjaende gevolge. Ons sluk lankal nie meer die heuning wat die media soms aanbied vir reaksie nie. Sien, ons Afrikaners kan ook dink en weer dink en nogmaals dink.

Disselboom ·

“Afrikaans se stryd teen kulturele imperialisme..” – gaan dit oor Afrikaans of die Afrikaner? Stryd word uiteindelik in werklikheid gevoer tussen en insake mense, nie tale of ander abstrakte items nie.

As Afrikaans ‘n stryd het teen “kulturele imperialisme”, beteken dit Afrikaans het ‘n sekere kultuur en om ‘n kultuur te hê, is gekoppel aan mense, nie aan dinge nie. Die enigste manier wat die stelling oor “Afrikaans se stryd teen kulturele imperialisme” kan sin maak, is as Afrikaans as die uitsluitlike eiendom en ‘n doelwit van die Afrikaner beskou word. Interessante denke wat uit die woordgebruik na vore kom, en vir Disselboom ‘n lekker konsep, maar dan kom die vraag of die versplinterde Afrikaner wat Afrikaans deesdae gebruik van lastering teen God tot die hoogste geloofsuiting, en in Afrikaans van films van swak smaak en kru inslag tot kulturele bydraes maak, nog ‘n samehorige uitkenbare kultuur het om aan te val?

Peet Schabort ·

Wonder of die Engelse geraadpleeg is oor die naamsverandering van hulle oorlog? Immers is dit mos die AngloEngelseOorlog, nie waar nie?

jan en Annatjie Karsten ·

Die Anglo-boere oorlog was tussen 2 boere republieke, Transvaal en Vrystaat teen Engeland in altwee die Vryheids oorloe. Suid Afrika as ‘n eenheid het nie bestaan nie aangesien die Kaap en Natal Britse kolonies was. Suid Afrika het eers in 1910 tot stand gekom toe die 4 streke saam gevoeg is. Suid Afrika het eers in 1961 ‘n Republiek geword, wat ‘n heel anderse bestel is. So, die Suid Afrikaanse of net Engelse oorlog geld nie vir een van die 2 vryheids oorloe nie en Anglo-boere oorlog is ‘n gepaste naam. En ja, daar het nie net blanke boere baklei nie, baie ander rasse het ook deel geneem.

GES ·

Dit is presies hoe ek dit ook verstaan. Indien daar nou meer aan die tragiese gebeure van daardie toegedig wil word, gaan die hele betekenis daarvan verlore. Die oorlogsverklaring is oorspronlik tussen Boere Republieke en Brittanje afgekondig. Die ander rolspelers is letterlik teen hulle sin by die oorlog betrek en was nie hulle oorlog nie. Dit is vir my baie jammer en ‘n groot iritasie as daar gekrap word waar dit nie jeuk nie.

Johannes Meintjes ·

Sulke “krap waar die nie juk nie uitsprake” skep wonderlike geleentheid vir reklame en ‘n herbetragting van waarheid, veral waar volksake andersins deur die liberale en uitgekoopde hoofstroom media verswyg sou gewees het. Benut dit ten volle!

Bok-Bok ·

Uitgekoopte? Oorloopte? Hensoppers (soos vrydenkers destyds genoem is). Wat is die Waarheid, Johannes Meintjes? Dink maar voordat jy antwoord – die NG Kerk het jare lank dinge vir die volle waarheid verkoop en ons het gesluk tot barstens toe. Volksake? Van watter volk praat jy? Moet ons nie ‘n slag na nasiebou begin kyk nie …

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.