Nuuskommentaar: Oorlogswolke oor Sirië en Zuma

President Jacob Zuma

“Hoe raak dit wat in Sirië gebeur Suid-Afrika?” wil ‘n leser op Maroela Media se bakkiesblad weet.

Met moderne tegnologie het die wêreld tot ‘n neutedop gekrimp. Een van die eerste dinge wat gebeur het toe dit begin rugbaar word dat die VSA en bondgenote – waarskynlik die ganse Navo – in Sirië gaan ingryp is dat die prys van ru-olie tot die hoogste vlak in drie maande gestyg het.

En Sirië self is geen beduidende olieprodusent nie. Dit gaan ook nie soseer oor transnasionale oliepypleidings in die omgewing wat in die slag kan bly nie, maar dat daar ‘n soort domino-effek kan wees wat die olietoevoer uit ander lande kan raak.

Suid-Afrika se inbinding by die wêreld blyk ook uit die openingsrede van vanjaar se uiters belangrike Myn-lekgotla, waar die president van die Kamer van Mynwsese, Mark Cutifani onder meer die volgende gesê het: “Our purpose over the next few days is to work through a carefully considered agenda, which is ultimately aimed at broadening the conversations linked to the many challenging issues currently impacting the South African mining environment… We will journey through this theme and consider a variety of topics that range from global scenarios in mining; to positioning for global competitiveness; to South Africa’s National Development Plan and its alignment to global thinking on mining and transformation

Maar daar is genoeg sake in Suid-Afrika wat die land se wel en weë deeglik raak. Die land het pas die stakingseisoen met mening betree, en van die eerste onderhandelings het ook al op niks uitgeloop nie. In die verlede, wanneer dit gebeur, en stakers besef hulle gaan bitter lank moet werk om hul inkomsteverliese in te haal selfs al dwing hulle hul oorspronklike eise af, het stakings erg gewelddadig geraak. Dink maar aan die vragmotor-bestuurderstaking. Die rand word geknou.

Dikwels pas die ekonomie aan by ‘n ongewenste ekonomiese puls, in dié sin dat die indikatore die invloed reeds verreken het, en nie werklik meer op elke bakatel uit daardie oord reageer nie. Die skade is dan effektief reeds ingebou. So ‘n faktor, so word dikwels aangevoer, is pres. Jacob Zuma. Die vraag word gereeld gevra of Suid-Afrika Zuma kan bekostig, en die antwoord uit talle oorde is dikwels dieselfde: “Nee.”

In ‘n stelsel van kollektiewe regering is die antwoord weliswaar komplekser as dit, maar dit is inderdaad so dat Zuma met individualistiese uitsprake die land se beeld ernstig skaad. Sy stelling in Davos dat die tipe onrus wat Suid-Afrika ken tipies van demokrasieë is maar dat die media net swyg oor soortgelyke gebeure elders in die wêreld, kon nie anders nie as dat die Weste wonder wat so erg raas.

In wese het die ANC self, in die aanloop tot die Mangaung-konferensie in Bloemfontein, ook toegegee dat Zuma nie wafferse gevaar het nie, deur aan te voer dat hy in ‘n tweede termyn sy voete mooi gevind sal hê, en dan beter behoort te vaar. Tweedens is gesinspeel dat Zuma eerder die rol van seremoniële staatshoof sou opneem, met Ramaphosa in effek die uitvoerende eerste minister.

Zuma het egter kort na sy herverkiesing weer ‘n paar keer die internasionale media met los opmerkings geslaan. Sy adviseurs was duidelik toe met vakansie, wat inderhaas moes inspring om skade te beheer. Van sy beloofde nasionale reinigingseremonie wat deur emeritus aartsbiskop Tutu gelei moes word, het niks gekom nie – trouens, die uitnodiging is nooit aan Tutu gerig nie. Zuma se stelling dat diegene wat nie aan hierdie animistiese praktyk wil deelneem nie, nie versoening nastreef nie, het gevolglik in die sand uitgeloop.

Maar die harde werklikheid is dat die ANC besluit het Zuma sal hul gesig vir aanstaande jaar se verkiesing wees. Hy het eerder sy eie politieke posisie versterk as om na ‘n meer seremoniële rol te keer. Adjunk-presient Kgalema Motlanthe is polities ontman, en Ramaphosa word tot dusver nog met geen owerheidsamp toevertrou nie.

Weens gebreke in die grondwet kon Zuma die omstrede Mogoeng Mogoeng as hoofregter aanstel, en deur van ‘n waarnemende direkteur van Openbare Vervolging gebruik te maak, word die grondwet se bepalings oor hoe die direkteur aangestel moet word, in wese omseil.

‘n Paar erbarmlike swak ministers word nie vervang nie. In demokrasieë reageer die opposisie op sulke situasies deur ‘n mosie van wantroue te stel. Dit is meer as net ‘n simboliese daad, omdat dit die parlementslede die kans bied om behoorlik bestek op te neem oor die rigting waarheen die land regeer word. Die uiteinde is gewoonlik dat die mosie van wantroue verwerp word, maar die kiesers, via die media, kan dan ‘n ingeligte prentjie vorm.

Die alternatief is ‘n deurlopende stroom negatiewe publisiteit, met die ANC wat al dikwels instansies soos AfriForum wat op probleme wys, van dislojaliteit teenoor die land beskuldig. Daar is ook al dikwels uit daardie oord gekla dat die negatiewe publisiteit die land groot ekonomiese skade berokken. By geleentheid is selfs gekla dat beleggers wyd hou as die persepsie na die buiteland geprojekteer word dat die land deur ‘n sirkus (narre) reageer word.

Maar die teenargument is juis dat iemand wat brouwerk uitwys, en probeer keer dat brouwerk die vaste norm word, die patriotte is.

Dus moet die ANC alleen die blaam dra dat die foutvindery so deurlopend plaasvind, deur te geweier het dat die meeste opposisiepartye wat saamgespan het, ‘n mosie van wantroue in Zuma kon stel. ‘n Staande praktyk in demokrasieë is weens ‘n leemte in die ordereëls na die maan gestuur, en dit het uiteindelik in die grondwetlike hof beland.

Dié keer het die DA die saak tot daar gedryf. By ‘n vorige geleentheid waar ordereëls eintlik die opposisie erg aan bande gelê het, het die IVP die leiding geneem en geslaag. Hoewel die DA ‘n sekere aspek van die saak met koste verloor het, is die oorhoofse verloorder die ANC. Die parlement is ses maande gegun om die ordereëls so aan te pas dat ‘n mosie van wantroue wel gestel kan word, en deur die parlement gedebatteer moet word.

Dr. Mathole Motshekga, vorige hoofsweep van die ANC, het reeds gekla dat dié bevinding die parlement “onregeerbaar” gaan maak.

Dit lyk dus nie of die ANC met die indien van die mosie net walgegooi het omdat dit kort voor die Mangaung-konferensie was, en dus ‘n groot verleentheid kon afgee nie, dit lyk of, as dit by Zuma kom, die ou spreekwoord effe aangepas van toepassing is: “Die opposisie moet gesien, nie gehoor word nie.”

Dat die parlement nou ses maande het om die ordereëls aan te pas, beteken dat Zuma in alle waarskynlikheid nie voor aanstaande jaar se verkiesing aan ‘n mosie van wantroue blootgestel sal wees nie. Die parlement sal eenvoudig net lank genoeg voor die verkiesing in reses gaan “om die LP’s kans te gee om in hul ‘kiesafdelings’ te gaan werk.”

Trouens, Suid-Afrikaners gaan waarskynlik ‘n frustrerende tydperk van voeteslepery oor talle kwessies tegemoet. Dit is byvoorbeeld reeds duidelik dat elke vertragingstaktiek in die boek gebruik word om te keer dat die sg Zuma-bande betyds die DA bereik om voor die verkiesing skade te kan aanrig. Dit sal ook interessant wees om te sien watter vertragingsmeganismes alles ingespan gaan word om te keer dat die Openbare Beskermer se verslag oor Nkandla betyds die openbare domein betree.

‘n Groot deel van die waarde van mosies van wantroue is tydsberekening. Vir die opposisie beteken dit uiteraard dat so ‘n mosie, verkieslik mét die skietgoed waaroor nou so voete gesleep word, voor die verkiesing moet dien.

Die ANC uiteraard, wil die verkiesing met so min as moontlik eier in die gesig betree.

Hoewel dit wat elders in die wêreld gebeur, Suid-Afrika erg kan raak, is daar nie veel wat Suid-Afrika daaraan kan doen nie. Suid-Afrika probeer wel sy invloed elders in Afrika laat geld, onder meer deur die ontplooiing van troepe, maar die land se oordeel oor waar om wat te doen boesem nie altyd vertroue in nie. Suid-Afrika se lam-handjie hantering van Mugabe is ‘n uitstekende voorbeeld.

Op tuisbodem is dit egter belangrik dat die regte dinge gedoen word. Eenparty-denke en –optredes is bloot ‘n manifestasie van volstruispolitiek. Dit is belangrik dat die opposisie gehoor word, en dat ag geslaan word op wat die opposisie sê.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae