Nuuskommentaar: Op reis iewers tussen Utopie en Moedverloor se Vlakte

Afrikaner

Argieffoto.

Is dit onafwendbaar dat die Afrikaner en ander minderheidsgroepe onderweg moet wees na Moedverloor se Vlakte, of is daar nog geleenthede vir voortgesette oorprestasie waar kultuurgoedere binne ’n raamwerk van saamstaan die reis weg van ’n stuiptrekkende einde kan stuur?

’n Klompie jare gelede, toe pres. Jacob Zuma nog ’n slag saam met Steve gebraai en gesê het die Afrikaner moet sy eie Nkandla kry (blykbaar bedoelende ’n geestelike, kulturele tuiste), was daar by baie Afrikaners ’n strooihalmpie van hoop.

Kom ons gestel hipoteties dat die Afrikaner sy eie Nkandla sou gevind het. Waar sou dié Nkandla hom bevind?

Hierdie Afrikaner-Nkandla, so blyk dit, is ’n plek bestaande uit woonwaens en mobiele huise, want die ganse plek beweeg … dit is geestelik op reis iewers op die pad tussen Utopie en Moedverloor se Vlakte.

Uit verskeie bydraes in die media is dit duidelik dat daar ’n persepsie of kommer is dat die Afrikaner, of ’n groot deel daarvan, haastig is om by Moedverloor se Vlakte aan te kom. Om enkele voorbeelde te noem; oor die nou reeds veelbesproke konferensie aan die einde van 2016 in Gent, België. Hier het verskeie Afrikaanse akademici hul menings reguit gestel oor onder meer die rol van die ANC se taalpolitiek op die toekoms van Afrikaans.

Een van die sprekers wat agterna onder kritiek van Charl Linde en Ingrid Glorie deurgeloop het, was die vermaarde prof. Wannie Carstens. Glorie het gemeen baie van die jong mense wat die referaat bygewoon het, het moed verloor en daarna na ander onderwerpe gaan luister. As ’n groep hoofsaaklik Nederlandse en Vlaamse jong mense ná ’n enkele lesing “moed verloor” het, hoe gaan dit nie in die geledere van jong Afrikaners lyk wat daagliks met die skerp, rassistiese kant van die ANC se beleidsmanifestasies te make het nie?

In ’n artikel op Maroela Media, “Kom laat ons bou”, val Flip Buys, voorsitter van Solidariteit, weg met “Kom, laat ons mekaar dus nie moedeloos praat nie”. Hy het dit onder meer oor die verlammende uitwerking van moedeloosheid. Wie nog nie die artikel gelees het nie, kan gerus so maak.

Hy wys daarop dat die geskiedenis toon dat die Afrikaner nog altyd krisisse baasgeraak het en nie as gevolg daarvan ondergegaan het nie.

Nie almal reis op dieselfde manier nie. Tipies Afrikaner bly baie aan hul geestelike wortels geanker, maar nie meer noodwendig aan die wortels van hul kerkverband nie.  In die proses word soms geestelik verdiep, en soms geestelik vervlak. ’n Onrusbarende aspek is dat veroordeling nou so maklik kom … byvoorbeeld om ’n Christen-wetenskaplike sommer ’n ateïs te noem omdat hy ’n wetenskaplike is.

Nog ’n voorbeeld waar Afrikaner teen Afrikaner opstaan, is die verskillende vorme wat Geloftedagvieringe aanneem. In leserskommentare het talle verklaar dat Geloftedag niks met versoening te make het nie. Maar is die Gelofte dan nie gesluit met dieselfde God van die Bybel wat liefde vir God, liefde vir die naaste, liefde vir die vyand en liefde vir die vreemdeling in die poorte so duidelik stel nie? Trouens, ons hoor gereeld God is liefde. In die begin het God die mens geskep. Is ons nie nou besig om ons eie God te skep wat aan ons vereistes vir die interpretasie van Geloftedag en baie ander opvattings moet voldoen nie?

Sal dit nie wonderlik wees as ’n gemeenskaplike eienskap van die Afrikaner positiwiteit is nie? Om positief te wees beteken nie om nie realisties te wees nie. Naïewe positiwiteit kan net so verwoestend as verlammende moedeloosheid wees, want dan word die nodigheid nie ingesien om iets daadwerkliks te doen omtrent dit wat vir ons dierbaar is nie.

Dit is geen aanduiding van ’n positiewe gemeenskap as daar kort-kort voorvalle voorkom wat op rassistiese haatspraak neerkom nie – en almal wat daaraan meedoen, is nie wit nie. Hoe anders verklaar ’n mens die onlangse Facebook-inskrywing wat amper identies met die Penny Sparrow-voorval is? Het die persoon niks geleer uit die driedubbele verguising wat Sparrow te beurt geval het nie?

En leer die regering niks uit onewehandige optrede nie?

Om positief en objektief te wees, beteken ook nie ’n mens kan maar dom wees nie.

Omdat ’n Utopie nie op die ondermaanse bestaan nie, beteken dit die uiteindelike geestelike Afrikanertuiste sal wel iewers tussen Moedverloor se Vlakte en Utopie wees, en verkieslik nader aan Utopie. Die kontemporêre pioniers het al diep spore hiervoor getrap, en stewige fondamente is gelê. Afrikaans is byvoorbeeld die enigste Afrikataal met ’n ruimtewoordeboek. Akademia, as Afrikaanse universiteit, brei sterk uit. Afrikaanse koerante staan nog nie einde se kant toe nie – mits daar nie nog dom keuses met die aanstelling van redakteurs gemaak word nie.

Die Afrikaner het ’n lang geskiedenis van oorpresteer, en daardie gees van eerder oorpresteer as onderpresteer, is ten spyte van groot struikelblokke nog nie weg nie.

Maar binne die institusionele omgewing waarin die Afrikaner en ander minderheidsgroepe hulle nou bevind, is dit ook goed om saam te staan, en die Solidariteit-beweging met sy vertakkinge het onontbeerlik geword. Dit is nie ’n staatskaping van die Afrikaner soos Max du Preez dit stel nie, maar ’n oorpresterende manifestasie van iets wat eie aan ’n grondwetlike demokrasie is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

Frans C ·

Hoemeer die Afrikaner sigself losmaak van sy kerk,kultuur,taal en geskiedenis hoe meer verlore sal die volk word,want dit was die ankers wat diep gelê het in ‘n onstuimige see van volkeverskeidenheid en dit op koers gehou het.

Eers die kerkanker se kabel afgekap omdat kerke begin kleitrap het oor belangrike sake soos apartheid (afsonderlike ontwikkeling),homeseksualisme, Belharbelydenis ens.
Godsdiens het ‘n vloekwoord geword en is daar talle oproepe dat dit in skole verbied moet word.Oor kultuursake soos geloftefees heers daar onenigheid.

Toe word die taalanker se kabel afgekap en buig onderwys instellings agteroor om die taal van die grootste koloniale mag en verwoester van die Afrikanervolk die primêre onderrigtaal in die onderwys te maak,terwyl allerhande verskonings uitgedink word hoekom dit so moet wees.

Die Afrikaner se geskiedenis word geminag en van Riebeeck as die vader van alle onheil
uitgebeeld , wat ‘n utopia van vredeliewende swart volke kom veroes het, in ‘n poging om tog ‘n oorsaak van die huidige mislukkings te vind.

Dr Malan het by die opening van die Voortrekkermonument in 1949 die volgende gevra,
‘Afrikaner Quo Vadis,waar gaan jy heen?’ Nou minder as sewentig jaar later kan ‘n mens dieselfde vra.

JC ·

Dankie Frans C.
Ek beaam wat Theuns se, uitstekende kommentaar hoor!!

Theuns ·

More Herman,
Jou mening is weer in die kol! Ek ondevind dit ook so. My eerlike mening is dat die oorsaak van die Afrikaner se moedeloosheid spruit uit die politieke korrekthuid uit eie geledere, uitsprake deur bekende mense , propaganda op alle vlakke teen die Afrikaner soos bv die uitspraak van Max waar hy se hy dank die GROOT MEESTER dat hy nie soos die meerderheid Afrikaners is nie. ( Hy het mos gese “Ons is nie almal so nie!”) As jy ook kyk na die veldtog teen die Afrikaner gaan dit oor GELD en die aanname dat hy alles besit en beheer! Die Afrikaner moet ook wegkom van die idee dat ons GOD ‘n primitiewe GOD is deur nie intesien nie dat die wetenskap n bevestiging is van die skepping en dit wat in die lewende woord, Die Bybel, geskryf is nie! Ons krag le juis in laasgenoemde. Groete.

JC ·

Baie dankie Herman.ONS BOU OP ROTS EN OP DIE FONDAMENTE WAT REEDS DAAR VIR ONS GELE IS DEUR ONS VOOROUERS EN DIE SOLIDARITEIT BEWEGING!VERGEET VAN SPORT OP NASIONALE VLAK, fokus daarop in gemeenskapsverband en leef eerder opnuut weer jou kultuur uit, soos die sing van Afrikaanse liedjies en ander verwante Afrikaanse gemeenskapsaktiwiteite. ons het so BAIE om op trots te wees in Suid-Afrika. Ons Afrikaners is die uniekste volk op aarde!ons het so baie om voor te leef, as ons net uit ons bokse kan klim en weer ons verborge nasionalisme en ons liefde en medeliewendheid soos voorgeskryf deur GOD bietjie kan uithaal! Wat ek vermoed; is dat van die oikofobetiese kommentators wat dikwels hul beste uithaal om Afrikanerkultuur te verkleineer op maroela, of daarop sinspeel dat Afrikanerwees of die uitleef van Afrikaans-wees verlore is; en dit afmaak as niksseggend; miskien op ‘n stadium uitgeworpenes was wat met die steelkant van Afrikaners se “ek gun nie ‘n ander man die son oor sy kop nie” sindroom te doen gehad het. WAT EK NOU WIL SE “KORT EN KRAGTIG”-IS DAT EK SEKERLIK OOK EEN VAN DAARDIE PERSONE WAS, miskien in die ergste graad-MAAR-DIT MAAK MY NIE MINDER AFRIKANER EN BOER NIE, NIE MINDER AFRIKAANS NIE! NIE MINDER PATRIOTIES EN TROTS OP MY TAAL EN MY GESKIEDENIS, MY LAND EN MY ERFENIS NIE! ONS IS ALMAL MAAR NET MENSE, SO KOM OOR DIT !

John ·

?… ‘n Betoog vir ‘n Nuwe-orde-Afrikaner? Dit klink baie soos ‘n liberale konserwatiewe nasionalistiese anti-nasionalistiese gehandevat met almal binne ‘n lekkergees jolkerk-konkoksie waarbinne die Afrikaner of hy 16 Desember lief of haat en nog vis nog vlees voel daagliks ‘n post-waarheid kulturele bollemakiesie slaan, steeds soos ‘n stoere boer oppad is na sy eie unieke Utopia.

JC ·

hehe…dankie John. oulike kommentaar hoor…my laat lag, party ouens weet REGTIG nie waar hulle val nie, patrioties, nasionalisties, anti-nasionalisties, konserwatief, rewolusioner, sosialisties, reaksioner?? Wat wil jy nou eintlik wees- wat spreek tot jou SIEL, kies, en kies GOU in die nuwe wereldorde! :-)

Sarie ·

Lees ook Dr Carel Boshoff se rubriek op die Orania webblad oor soortgelyke onderwerp.

TTh ·

As enige volk nie opstaan vir sy Geestelike Waardes, sy kultuur, sy taal, sy geskiedenis en homself beskerm teen vermenging nie, sal daardie volk ondergaan. Die Afrikaner het nog ‘n klein geleentheid om saam te kom, te verenig in terme van die basiese gemene raakpunte en in ALLE opsigte terug te slaan teen die ANC, EFF, DA, BEE, Regstellende Aksie, Grondhervorming en daarvoor het hierdie volkie ‘n baie sterk leier nodig, iemand soos Dr Hendrik Verwoerd. Die strukture van Afriforum en Solidariteit kan die verlossingstryd van die Afrikaner dra en help deurvoer – MAAR ek kan nie sien dat dit ooit gaan realiseer sonder ‘n formidabele leier nie en tot dan sal die Afrikanervolk binnekort verdwyn as ‘n volk…

JC ·

Ja, sjoe, ons kort regtig ‘n sterk en formidabele leier wat ‘n sterke demagoog is en wat sin kan praat en kan op- en meesweep en mense meevoer en sommer die Vrystaat stadion kan vul, sekerlik iemand wat tans in die politiek is ! Wie gaan dit doen vir ons?

Elisabeth ·

Geloftedag is dat ons die Genade wat God wat ons voorouers ontvang het herdenk. Dis vir geen biologies siel om hier ander te kom veroordeel hoe hulle dit moet vier nie.

Versoening het geen plek op die 16 Desember nie want na trauma kom genesing en versoening is in geloof. Poltieke versoening kan na 1994 op ander dae gevier word b.v. 5 Desember. Wil darem die geskiedenis suiwer hou?

TTh ·

Versoeningsdag was eintlik 15 Desember 1838, maar die zulu koning het dit van die hand gewys, so daardie geleentheid het verstryk. Stem saam met jou versoeningsdag en die betaal van ‘n gelofte aan God het niks in gemeen nie. Dit is te laat ver versoening, die ANC, SAKP, EFF se aanklagstaat is enorm en dit moet betaal word en steeds loop die rekening op. So ook die Afrikanervolk moet regmaak met die Almagtige God, veral die wat nog kan…

Ebert Terblanche ·

Ek vind die gedagte dat Afrikaners se tuiste “geestelik” moet wees vernederend.

Wie werk vir ‘n denkbeeldige salaris? Wie spandeer tyd saam met denkbeeldige vriende? Wie loop rond in denkbeeldige klere? Wie eet denkbeeldige kos? Wie slaap op denkbeeldige beddens?

Ek weet wie, diegene wat nie daartoe in staat is om ‘n regte salaris te verdien nie, wat nie regte vriende kan maak nie, wat nie regte klere kan vind, koop of maak nie, wat nie kos kan groei of kan bekostig nie en wat nie ‘n bed kan maak of koop nie. Eenvoudig gestel: versukkelde mense.

Nou moet ons onsself as kultuurgemeenskap reduseer tot ‘n versukkelde gemeenskap met ‘n denkbeeldige tuiste? Bloot omdat ons glo (en vertel word) dat ons nie daartoe in staat is om deur ons vermoëns ‘n stad te bou met Afrikaner straatname, Afrikaanse besighede, Afrikaanse skole, Afrikaanse kolleges en universiteite, Afrikaanse polisie en veilige geleenthede vir ons kinders nie?

Wie ookal glo dat Afrikaners slegs tot die denkbeeldige beperk is, is waarlik pateties. En dit is hierdie patetiese houding wat jong Afrikaners met geen beter keuse laat nie as om ander kulture op te soek wat met groter selfvertroue die toekoms ingaan.

Frans C ·

Beste Ebert
Dinge het denkbeeldig geword die dag toe Christus in mense se lewens ‘vermis’ geraak het en baie Sy bestaan hierop aarde en sy doel in twyfel begin trek het.

Hierdie saaidjie is op subtiele wyse geplant want daar is wye publisiteit verleen aan organisasies soos OGOD . Die Afrikaanse kerke se stilswye was soms oorverdowend.
Ook die ANC se houding om Christus as ‘n soort vryheidsvegter te sien en dat hul sal regeer tot Hy weerkom is ‘n duidelike bewys dat daar ‘n stryd teen die kerk is wat voorbereidend is vir ‘n staat wat alhoemeer op die kommunistiese inslag begin funksioneer.

Die feit dat jy van die ‘geestelike’ as denbeeldig praat en dink is net nog ‘n bewys hoever daar reeds in die doel geslaag is.

Ebert Terblanche ·

Beste Frans,

Ek dink jy verstaan my verkeerd wanneer jy meen dat ek gepoog het om die geestelike te reduseer tot die denkbeeldige.

Die geestelike is bepaald ons verhouding met die volmaakte Skepper van Hemel en Aarde, voor wie se aangesig ons nie op ons eie kan kom deur die bevlekking van ons sonde nie, maar wie uit Sy groot genade vir ons ‘n deur oopgemaak het deur ons sonde op Homself te neem. En inderdaad word ons geestelike wêreld ook besoedel deur alles wat ons verhoed om volgens God se wil te lewe en te handel.

Daarteenoor is die kulturele ervaring ‘n fisiese ervaring en kan dit nie met die geestelike wêreld en geestelilke ervaring gelykgestel word nie. Enige poging om dit te doen relativeer die geestelike wêreld. Daarom dat ek die gedagte van ‘n “geestelilke” kulturele tuiste gelykstel aan ‘n denkbeeldige kulturele tuiste, want dit is niks meer as dit nie.

Daarmee hoop ek om jou gerus te stel dat ek nie die geestelike gelykstel met die denkbeeldige nie, maar eerder die kamma-geestelike gelykstel met die denkbeeldige.

SkarrelKind ·

Ons as Afrikaners is ook soms ons eie vyand. Dis ongelukkig ‘n herhaling van ons geskiedenis. As ons nie kan saamstem nie, dan stig ons ‘n ander kerk, ‘n ander politieke party of ons neem net nie deel aan iets nie, omdat ons nie saamstem nie. Minderheidsgroepe na my mening, moet juis meer verdraagsaam teenoor lede wees en probeer om ‘n goue middeweg te vind as om net weg te breek, te oordeel of te onttrek. Ons is te min om elkeen ‘n eie rigting in te slaan. Ek dink as ons meer verdraagsaam teenoor mekaar was, en stadiger om te oordeel, kon dit dalk beter met ons gegaan het, al is dit net ‘n bietjie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.