Nuuskommentaar: Op soek na die wortel van die kwaad

pageTerwyl universiteite met onder meer die verskuiwing van vakansies probeer om die hitte van die studente-onluste te laat bedaar, speel twee onwerklikhede af wat ʼn mens laat wonder of daar nog gesag is om dinge reg te ruk. Dit blyk dat die hoof van die Valke vroeër vanjaar vir meer as R100 000 se belastingskuld voor die hof gesleep is, wat ʼn skadu werp oor die Valke se skynbare heksejag op die inkomstediens. Verder verstom die SAUK-raad se vasbeslote ondersteuning aan Hlaudi Motsoeneng bykans die hele land. Bestaan die wortel van hierdie kwaad uit een persoon, of is die aanduidings dat dit so is blote toeval?

ʼn Interessante storie wat News 24 as eksklusief aanbied, is dat die hoof van die Valke, Lt. Genl Berning Ntlezema, ʼn hofbevel in die hooggeregshof in Pretoria teen hom op die lyf geloop het oor uitstaande belasting van meer as R100 000. Die Suid-Afrikaanse inkomstediens sit agter die aansoek.

Dit werp net nog ʼn lang skaduwee oor die Valke se skynbare heksejag oor ʼn eenheid waarby minister Pravin Gordhan ook betrek word en waaroor ʼn boek al verskyn het waarin ʼn heel ander lig gewerp word daarop as die beeld wat die Valke van die eenheid probeer voorhou.

En dan is daar nog die kwessie van die lêer oor die generaal se saak wat misterieus uit die argiewe verdwyn het…

Die eintlike sirkus wat hom nou afspeel, is die herontplooiing van die SAUK se gewese bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, as groepbestuurder van korporatiewe sake. Ook dit word nou deur die Openbare Beskermer aangepak. Daar moet vasgestel word of hy geskik vir dié pos is en of die regte prosedures gevolg is om hom aan te stel. Sou dit blyk dat die proses gebrekkig was, sal die Openbare Beskermer vra dat die minister en raadslede in hul persoonlike hoedanigheid vir die koste verantwoordelik gehou word.

Boonop het die VF Plus prosesse begin om te bepaal of Motsoeneng verantwoordelik gehou kan word vir sommige van die verliese wat die SAUK gely het en dat hy ingevolge die Maatskappyewet persoonlik daarvoor aanspreeklik gehou kan word.

Hoe gebeur dit dat ʼn raad iemand kan steun wat ook elkeen op die raad se reputasie aan flarde kan slaan? En tussenin is berig Motsoeneng het ʼn meevallertjie van R11 miljoen gekry en dat nog meer op pad is.

Motsoeneng het ook aangedui hy sal weer om sy ou pos aansoek doen wanneer dit geadverteer word.

Hierdie gebeure, wat so onwerklik klink, speel af teen die agtergrond dat die land al weer met die harde werklikheid van studente-onluste opgesaal sit. Verskillende berigte gee syfers dat die skade wat die “studente” aangerig het, sedert die onluste verlede jaar begin het, tussen sowat R600 miljoen en byna ʼn miljard rand beloop. En dit lyk ook nie of die oplossing op hande is nie. Trouens, die gevaar bestaan die bottel kan bars soos universiteite probeer om hul akademiese jaar af te handel. Deur te torring aan universiteitsvakansies, bied net tydelike “oplossings.”

Die minister se oproepe dat die stille meerderheid wat wil studeer, hulself moet laat geld, kom ook baie laat. Verlede jaar is AfriForum Jeug-lede, wat presies dit wou doen, uit talle oorde verguis. Daar is behoorlik jag gemaak op toeskouers wat betogers wat ʼn rugbyveld tydens ʼn amptelike Varsity-bekerwedstryd beset het, van die veld gaan verwyder het.

Hoe gaan jy vandale teë wat honderde miljoene rande se skade aangerig het en studente hardhandig uit klasse verwilder, sonder die risiko dat dit op “onderonsies” kan uitloop? Onthou, mens hoor kort-kort van die studente wat so aangaan dat een uitroep “ons is nie misdadigers nie!”, onder meer toe ʼn rektor gyselaar geneem is.

Geen land kan so aanploeter soos die gevalle hierbo getoon het nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Lance ·

Die hof is nou n joke ! Ek konnie glo dat hy terug is nie …skelm streke ! Onkruit vergaan nie

Lalla ·

As ek net hierdie gesig sien, dan wil my bloed kook. Een van die arrogantste siele in ons land.

Theuns ·

Die arrogansie van die man grens aan ‘n kranksinnige aangedrewe ego wat nie brieke het nie terwyl die blinde Voorsitter toekyk! ‘N normale mens sou sy 33 miljoen vat, dankie se en waai? Maar nie die ou nie! Hy wil sy vorige job terughe en die wereld vertel van hoe “smart” is hy dat die SAUK hom ‘n bonus gee van miljoene. Of is die hele “charade” net n spel hoe ver No 1 die howe en mense van Suid Afrika kan dryf voordat hulle opgee en maar God’s water oor God’s akker laat loop?

Sydney ·

Wys ons net hoe arrogant die man werklik is. Met Mendoza ge begrafnis het dit oor hom gegaan en nie ‘n huldeblyk aan Mendoza nie. Die familie en vriende moes maar aandagtig luister na hoe bekwaam hy is en wat hy nog gaan bereik……….. Ag shame sulke mense val op ‘n stadium van hulle troontjie af en blameer dan die ander wat hom aankyk en lekker lag.

Grassie ·

Hlaudi is ‘n bittereinder soos Zuma – klou aan sy pos soos strooi aan ‘n wolkombers. Die oorspronklike wortel van die kwaad is sekerlik ou Zoempas maar ek glo sy kwaad het al oor ‘n wye front versprei en om hom bloot te verwyder is nie ‘n finale oplossing nie. Ek dink die hele spulletjie stuur af op ‘n groot “showdown” binne die volgende twee jaar.
Ek soek nog na ‘n goeie Afrikaanse uitdrukking vir “showdown”.

Albert Marais ·

Lalla ek stem nie heeltemal saam met jou nie, n “siel” is baie werd. maar dat die my bloed ook laat kook stem ek volkome saam

Foxi ·

En satan het so stadigaan sy kop begin uitsteek! En dit is net die begin van alle dinge. Ek is gegrief wat van ons kinders gaan word…..ook diegene wat nie hulself kan help nie.
Maar in elk geval, tv lisensies is net n klug. Waarvoor betaal jy? Advertensies op advertensies, belaglike bonusse ensv. Hier kom n ding………

Riaan ·

Die ou het nie eers grd.12 nie, wat kan dan nou so moeilik wees om die ou te verwyder.

nieBAFUnie ·

Hierdie DAK het iemand in ‘n luislanggreep beet. Die “iemand” durf nie van hom ontslae raak nie.

John ·

Die ‘iemand’ hou van hom… baie. Inteendeel, hy verteenwoordig die gees en waarheid van die sg bevrydingbeweging, wat nog presies dieselfde is. Al bogenoemde aksies en nog meer waaroor ons kerm en kla en ons hande in die lug gooi, is identies aan die verlede s’n. Daar is geen waarborg dat ‘n sirkusleeu wat oulike toertjies voor skares doen en selfs sy afrigter vriendelik soen hy, wanneer hy op straat vrygelaat word, die verbygangers klapsoene sal gee en betaal vir sy hamburgers nie.

Johan Oosthuizen ·

Johan
Ek het pas verneem dat die SAUK-duiwel nou R4-miljoen verdien. Jy weet wat; ek het 35 jaar vir AEK en WNNR gewerk. Was gediplomeerde ingenieur in elektronika én het ook ‘n wye veld in baie ander sektore bedien. Ek is nou op pensioen en het ge-eindig op iets oor die R 330k per jaar. My pensioen-pakket is veel laer as dié van Hlaudi en trawante. Daarby kan ek sê dat ek gekwalifiseerd is teenoor hom en ander ‘bestuur’ se bedenklike kwalifikasies. Dis vir my hartseer dat hierdie blatante diefstal nie ent kry of in die bek geruk word nie. Het dit nie tyd geword dat Iemand opstaan én terugveg sodat ons van hierdie ‘kriminele’ ontslae kan raak nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.