Nuuskommentaar: Ope brief aan pres. Jacob Zuma (alweer)

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Geagte pres. Jacob Zuma

Nommer Een

P/A Uniegebou, Moskou, Luanda, Maputo

Luthuli Huis, Nkandla

Aangesien my vorige ope brief  van 21 Januarie vanjaar aan u skynbaar weens die destydse posstakings verlore geraak het, rig ek weer ʼn nuwe skrywe aan u. Maar u moet darem toegee dat dit vir selfs die beste posdiens ter wêreld moeilik sal wees om u tydens een van u periodieke blitsbesoeke aan Suid-Afrika opgespoor te kry. Tot die parlement wat oorsig oor u doen en late moet hou, sukkel om ʼn volledige program van u reisreëlings te kry. En die Poskantoor het nie iets wat vinnig genoeg kan ry om u bloulig-brigade in te jaag nie.

Ek neem hierdie vrymoedigheid aangesien ek, as kenner daarvan om my mond verby te praat, my waarskynlik in ʼn soortgelyke liga as u bevind. Kyk nou maar gister, toe u by die WEF-kongres verduidelik het dat selfs die president in Suid-Afrika vir korrupsie ondersoek kan word, hê, hê, hêêê, die ongepoetste gehoor vir u gegiggel het. Die groot geheim is dat u éérs die minister van polisie vir sy verspotte verslag moes gepos het voor u so ʼn stelling maak. Dis nogal moeilik om feite op die sand van feëverhale te bou. Kyk maar vir Sepp.

Van Sepp gepraat, dink u nie daai Fikile het al genoeg amok gemaak nie? Ons weet u kan darem nie pa staan vir die dinge wat Thabo aangevang het nie, maar hoekom moet u reputasie nou staan en skade ly oor net $10 miljoen? Skaars genoeg om vir u firepool ʼn sterk dieselpomp in te sit vir wanneer daar werklik ʼn brand in Nkandla se grasdakke sou uitbreek. (Dis nou met die soort inflasionêre tenderprosesse wat met Nkandla gebruik is, waar byvoorbeeld genoeg op u firepool gespandeer is om ʼn Olimpiese-grootte firepool mee te bou).

Ja-nee, noodsituasies is nie dinge om ligtelik mee om te gaan nie. Na ʼn onlangse groot aardbewing ʼn entjie weg van Japan, het die regering en die hysbakvervaardigers besluit om alle hysbakke in Japan met noodtoilette toe te rus. Dis nogal baie – meer as 600 000. Dis nou oor daar met die jongste groot aardbewing amper 20 mense in hysbakke vasgesit het, sommige effe langer as ʼn uur. Nou weet ek nie van u nie, maar as ek in ʼn hysbak in ʼn hoë gebou is en dié maak moeilikheid, dan begin die natuur ook te roep.

Dis omtrent die soort benoudheid wat ek ook sou ervaar as ek sien hoe boomskraap die belastingbetalerspoel (die staatskas) is om weer soveel op te dok om vir u ʼn nuwe landgoed op die koning se grond te bou as die bestaande sou afbrand. Skaars genoeg om ʼn rondawel met ʼn buitegeriefie te bou. Miskien darem ʼn ondergrondse kluis ook waarin u u huweliksertifikate kan hou. ʼn Groterige kluis.

Grootouma Martjie het laat weet sy het raad oor hoe om daai ongepoetste grootbekke in die parlement tot orde te roep. Wyle Grootoupa was mos ʼn diabeet daar in Mosselbaai se omgewing en het geëet net wat hy wou en in die negentig jaar oud geword. Sy geheim was om elke dag ʼn glasie aalwynsap weg te slaan. Ná sy afsterwe sit ouma Martjie toe met die flesse ingemaakte alwynsap opgeskeep. Maar so met die kinders, kleinkinders en agterkleinkinders saam het sy baie ervaring opgedoen oor hoe om ʼn groot geraas met ʼn teelepel vol aalwynsap tjoepstil te kry. Ouma Martjie sê sy is heel bereid om in die parlement te sit en hekel (dis nou met naalde en wol) en as die speaker in haar rigting knik, ʼn parlementslid met die aalwynsap te gaan stilmaak. Sy sê dit gaan só klink: “ Pay back the monêêoeg fffft tjoepstil.” Sy waarborg dit sal selfs op Julius werk.

Sy het nou niks gesê van die DA nie – daai kant van die familie was mos van oudsher af Sappe.

Grootouma Martjie het ook laat weet sy dink u moet ʼn nuwe bril kry – een wat nie aanmekaar so afskuif en weer teruggestoot moet word terwyl u giggel nie. En een wat die geskiedenis beter kan lees. Ouma Martjie is amper honderd jaar oud en sy hou net niks daarvan dat “die ander” so geblameer word vir alles wat verkeerd gaan nie. Sy ken haar geskiedenis – sy het immers aan die voete van mense grootgeword wat self help bou het aan die geskiedenis.

Ouma Martjie het ʼn punt beet. ʼn Splinternuwe Pew-ondersoek in van Europa se grootste lande het aan die lig gebring dat hoe meer uiteenlopende mense in een groot geheel ingeklits word. Dit gebeur veral waar sommige mense heelwat minder gelyk as ander mense is en hul tale nie meer ruimte gegun word nie, wat lei tot sterker sentimente oor minderhede ook. “Die ander” kan, soos Boetman, nogal die blik*&m in raak.

Hoewel ek nog baie op die hart het, weet ek u het nou baie ope briewe om te lees, soos die ope brief van die Afrikaanse kerke se tussenkerklike raad en een van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke. Oor moraliteit.

En u het nog nie eens die nuwe apteekbrilletjie wat beter kan lees nie.

Groetnis van huis tot Nkandla-paleis

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

chris ·

Lanklaas so ‘n puik tong in die kies stuk gelees.
Wra*tig pragtig!!

Englene Ferreira ·

‘n Goeie skootjie spitsvondigheid tesame met die relevante kolskoot vrae laat die vuurpoel borrel!

Tref en trap.

chris ·

Ja Janine.
Ek stem of hulle moet daai verf wat laas so strategies geverf is op hom, dalk nou in die middel so bolangs gebruik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.