Nuuskommentaar: ‘Ope brief’ aan pres. Zuma

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma

P.a. Nkandla, Uniegebou, Parlement, China, Rusland

Geagte pres. Zuma

Dis met ’n gekweste hart dat ek die brief rig. Dít nou ná Japan se bloeisels Springbok-soesji gemaak het.

Eintlik het ek dit sien kom, en wou al voorheen skryf. Dis nou ná min. Mbalula vir die Springbokke gesê het: “Gaan mo*r hulle.” Dit was mos nie baie slim om ’n span met ou krokke, beseerdes en onervarenes te wil aanhits om ’n klomp ninjas te gaan mo*r nie, was dit? Onder die lot is genoeg wat karate, koeng foe, kennetjie en ander Oosterse gevegskunsvorme bemeester het, wat gegrond is op verskriklike vasbyt en ysere selfdissipline.

Al wat die Japanners hoef te gedoen het, was om die Springbokke die mo*rwerk te laat doen, maar self hul geheime wapen in te span – om rugby te speel.

Toe die Springbokke uiteindelik besef het hulle is met ’n slap riem gevang, was die oupas se gô uit, die jonges verward, en Japan aan die wenkant.

Boonop, danksy Tony Ehrenreich, Peter de Villiers en ’n paar ander het Heyneke Meyer die een persoon wat ’n verskil teen die Japanners kon maak, Heinrich Brüssow, met die transformasiestok gelooi. Dink net, met so ’n paar meer balle en Heinrich wat soos Adriaan Strauss en Lood de Jager sulke strooptogte op Japan se doellyn van stapel stuur, hoe anders sou sake teen die kamikazes gewees het!

Stuur asseblief dadelik Gupta Force One na Fishershaven International om vir Heinrich Engeland toe te vlieg.

Wil u nie tog maar vir Tony as afrigter van die Bafana herontplooi met die opdrag om verteenwoordigende spanne te kies nie? En vir Peter as die burgemeester van Kannaland? Mbalula sal ’n gawe minister van kommunikasie wees, veral omdat die pos wesenlik vakant is met die bestaande min. Faith wat die land lewend ontval het.

Geagte president, ek het soveel op die hart. Soos min. Rob wat die land van beleggingsgeleenthede rob. Of transformasie wat nou oorle apartheid na ’n beginnerspeletjie laat lyk.

U weet dat die kwessie van Afrikaans my baie na aan die hart lê. U weet, hoe meer ons bruin en wit jongelinge met swepe en sambokke geslaan word om Afrikaans as tersiêre opvoedkundige taal te laat vaar, hoe halsstarriger word hulle. En dit terwyl hulle eintlik net op hul grondwetlike regte aandring.

U weet, ek en u deel iets oor taal. Ek moes ook al ’n toespraak in ’n taal lewer waarvan ek min weet. Vroulief het die toespraak vir my in Suid-Sotho vertaal en met die uitsprake gehelp tot dit min of meer vlot was. Al verskil met die toesprake wat u in Engels moet lees, was dat vroulief nie so hier en daar hê, hê, hêêê ingewerk het nie.

Ek is natuurlik skaam dat ek nie Suid-Sotho magtig is nie – ek het in die Boland grootgeword en ’n bietjie Xhosa “opgedoen” deur die melkman te help om sy trollie teen Dalsig se bulte uit te stoot. Honde was ’n alewige lastigheid sodat ek gedink het hamba! beteken voertsek! Wintervakansies het ek wel ’n klompie Suid-Sotho-woordeskat opgedoen, maar vroulief spoel my mond met seepsoda uit as ek die woorde wat ek onthou, inspan. Veral as ’n mens kwaad is. Nee, geagte president, die Grondwet sê die inheemse tale, wat tog Afrikaans insluit, moet uitgebou en ontwikkel word. Nie gesloop word sodat almal behalwe die Engelssprekendes die agterstand het om in ’n tweede of derde taal in Engels te moet leer nie. “Then we will be having a problem. ’n Mo*rse big problem.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Alwyn Beetge ·

Goed gese Herman. Kan jy nie elke Maandag so maak nie. Klink of jy Blou Willem ken.

Geniet ·

Baie goed geskryf Herman. Het dit geniet. Dit vat die blou uit die Maandag.

Eduard ·

Goed gese Herman ,Maar hoekom voel ek ons is in die minderheid wat so voel My ou gryse skoonpa het my a paar mande terug gewaarku ek het gedink die ouderdom begin nou die praat werk doen .

Jenny thom ·

Ai, ai wonderbaar Herman. Jouself namens ons almal goed uitgedruk. Kan dit nie asseblief ‘n weeklikse instelling word nie? Ek het dit waarlik terdee geniet. Jy het ‘n wonderlike gawe, en ons Jan Publiek sal dit waardeer om jou weer en weer op Maroela raak te lees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.