Nuuskommentaar: Openbare skole is nie staatskole!

(Argieffoto/Unsplash)

Die voorgestelde wysigings aan die Skolewet is verlede week aan die parlement voorgelê met groot reaksie wat weereens hieroor uitgelok is. Hierdie wysigings is ʼn aangepaste herlewing van die wysigingswetsontwerp wat in 2017 reeds die rondtes gedoen het, maar uiteindelik doodgeloop het.

Die groot teenstand teen die wetgewing spruit uit die feit dat dié Skolewet ongelooflike groot magte oor openbare skole aan veral die provinsiale onderwysdepartement en LUR sal gee. Ingevolge hiervan sal die departement van onderwys die finale sê hê oor aangeleenthede soos skole se toelatingsbeleid, taalbeleid en die samesmelting van twee skole. Wat die wysigings aan die Skolewet in wese sal doen, is om openbare skole uit ouers (soos verteenwoordig deur beheerliggame) se hande te neem en in die greep van die staat te plaas. Sodoende kry die staat, eerder as ouers en die gemeenskap, die finale sê oor hoe kinders se opvoeding bestuur moet word.

In ʼn neutedop is hierdie voorgestelde Skolewet die verpersoonliking van ʼn oorbetrokke staat en oorgretige burokrate wat die staatsideologiese neigings van sentralisering ten koste van gemeenskapselfstandigheid sal afdwing. Die DA het dié wysigings ʼn staatsgreep teen ouers genoem. Die oomblik wat skole tot hierdie mate uit die gemeenskap en ouers se hande geneem word, word dit eintlik maar staatskole. Skole wat nou as instrumente van die staatsideologie aangewend kan word, eerder as om instrumente van ontwikkeling en opvoeding in ʼn gemeenskap te dien. Openbare universiteite is ook deur oormatige regulering en politieke inmenging afgewater van onafhanklike instellings van kritiese denke na onderpresterende staatsdepartemente. Dit is ook die pad wat skole sal stap die oomblik wat dit van betrokke gemeenskappe weggeneem word en vir ʼn verswakkende staat gegee word.

Die DA het verder gegaan deur te sê dat hierdie wysigingswetsontwerp vir alle praktiese doeleindes ʼn gelaaide wapen aan diegene soos Panyaza Lesufi sal oorhandig om die oorlog te volbring wat hy lank reeds teen moedertaalonderrig en beheerliggame voer. Derhalwe sal iemand soos Lesufi die sogenaamde oorblyfsels van apartheid uitsorteer deur sogenaamde wit rassistiese, uitsluitende en onderdrukkende Afrikaanse skole finaal te transformeer. (Hierdie sentiment word ook gedeel deur die ANC-geaffilieerde Sadou en die Professional Educators’ Union.)

ʼn Soortgelyke stryd tussen gemeenskap en staat speel nou ook in Amerikaanse openbare skole af. Ouers ruk vir die afgelope paar maande in massas op in protes teen die politieke indoktrinasie wat hul kinders in skole ondergaan. In Amerika is die stryd nie presies wat dit by ons is nie, maar is dit vir daardie ouers geensins minder belangrik nie. Ouers ruk op teen die Marxistiese kritiese rasseteorie, post-waarheid wokeness en teenwetenskaplike genderpolitiek waarmee kinders selfs vanaf laerskool in openbare skole geïndoktrineer word.

Hierdie ouers het met hierdie optrede bevestig dat die staat nie in beheer van hulle kinders se opvoeding is nie, maar dat hulle as ouers wel is. Dit is op geen manier die regering se reg of plig om hulle kinders politieke agendas te voer wat die ouers self moreel en polities sterk teenstaan nie. Die enigste antwoord hierop is dan om die politieke naelstring te knip en kinders se opvoeding terug in die hande van ouers en gemeenskappe te plaas.

Die probleem met openbare skole in Suid-Afrika is dat hierdie skole ongelukkig meer aan die staat verbind is as private skole – selfs al word private skole ook deur die staat gereguleer en kan hulle nie perkeloos doen wat hulle wil nie. Die staat besit die eiendom waarop en waarin staatskole funksioneer en befonds boonop ook nog ʼn wesenlike gedeelte daarvan – spesifiek groot dele van die onderwyserskorps se salarisse. Solank as wat ʼn mens tot hierdie mate afhanklik van die staat is, sál die staat ʼn (indringende) mening huldig oor wat jy met jou skool mag doen. Namate die staat verswak, wil hulle ook hul magsgreep versterk. Sodoende sal die staat hul regulatoriese greep op alle funksionerende dele van die openbare onderwysstelsel versterk ten einde hul eie mislukkings in die opsig te probeer beredder.

Staatsbestandheid is op die ou einde net makliker wanneer jy ontkoppel is van die staat en ook so ver moontlik onafhanklik is van die staat. Die staat gaan nie binnekort verdwyn nie – tog is dit moontlik om nou die mag en invloed wat hulle wel het, wesenlik te beperk.

Die Skoleondersteuningsentrum het weer verlede jaar hul Gids vir selfstandige fondsbestuur vir skoolgemeenskappe vrygestel. Hierdie gids beoog juis om veral openbare skole te bemagtig om so onafhanklik en selfstandig moontlik te word deur staatsbeheer en -invloed te verdwerg met ingrypende gemeenskapsbetrokkenheid en -inkoop. Sodoende neem gemeenskappe die maksimum verantwoordelikheid vir die opvoeding van hul kinders deur die kultuuroordrag wat in en deur skole geskied, te beheer, te bewaar en verkieslik te besit.

Openbare Afrikaanse skole word deur die alom dreigende werklikheid van verengelsing in die gesig gestaar – iets soos hierdie Skolewet fasiliteer die burokratiese deurforsering hiervan volledig. Indien hierdie Skolewet nie deurgevoer en geïmplementeer word nie, sal die regering die doelwit deur ʼn ander stuk wetgewing in die toekoms behaal. Politieke druk op openbare Afrikaanse skole gaan meer word in die toekoms en nie minder nie.

Daarom is dit belangrik vir gemeenskappe om prakties en ernstig te ondersoek hoe hul skole aanvanklik meer selfstandig kan word en uiteindelik ook volledig van die staat kan ontkoppel. Grootskaalse private Afrikaanse skole is glad nie so vergesog nie. Dit was eens op ʼn tyd byna verregaande om te dink dat openbare universiteite volledig sal verengels en verpolitiseer met ʼn dringende behoefte aan private Afrikaanse tersiêre onderrig wat daaruit sal ontstaan. Selfs nog meer ondenkbaar was die gedagte dat ʼn gemeenskap self nie net ʼn beroepsopleidingskollege nie, maar ook ʼn private universiteit volledig in Afrikaans kan bou. Tog staan Sol-Tech en Akademia vandag albei as tasbare bastions van kulturele selfstandigheid en gemeenskapsvermoëndheid.

Die volgende geslag verdien beter as om net nog ʼn rits staatsobjekte te word. Staatsbestandheid begin by gemeenskapsbetrokkenheid met ouers wat beheer terug oor skole neem. Indien die staat doodeenvoudig nie afstand wil doen van openbare skole nie, is private skole as’t ware die enigste oplossing – dit sal moeilik wees, maar is uiteindelik ʼn noodsaaklikheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

Nee wat, my kind sal nie NABY ‘n openbare skool kom nie. Al moet ons hele familie in ‘n klein woonstelletjie gaan bly om ‘n privaat (Christen) skool te kan bekostig.

AW

So So Dankbaar ek het nie meer Kinders op skool nie !!!

Marius

Die regering kan nooit wen met hul benadering nie. Al wat hul nou kweek is ‘n klomp dom kinders wat maklik gemanipuleer kan word. Heel waarskynlik is dit hul hoofdoel. Ek moet byvoeg dat ons land se leiers ook nie van die skerpste potlote in die pakkie is nie. Die blindes ly die blindes.

annie

Private skole kos nogal. Afrikaanse skole wat wil privatiseer sal van hul grond en geboue ontneem word. Al wat leef en beef sal op die Afrikaanse trein klouter om sonder kaart en eie transport te teer op wit ouers… En uiteindelik wittes van rassisme beskuldigde as hul nie beheer kan neem nie. Dan is hul skielik van ‘n ‘ander’ ras. Klein skoolgroepies sal eerder werk as groot private skole. So kan ons Christelike aard ook beskerm word: Ons eintlike oogmerk. Afrikaans gaan ons nie in die hemel kry nie.

Cobus

Die reenboog droom …. ai en 67% het hiervoor gesmeek.