Nuuskommentaar: Opkoms van ’n ster kan koers van SA politiek verander

alida-kok

Alida Kok. Foto: Jurgens Burger.

Suid-Afrika het al verskeie rubriekskrywers opgelewer wat deur die invloed wat hulle op lesers het of gehad het, die land se politiek na die een of ander kant beïnvloed het. Om rubriekskrywer, en veral politieke rubriekskrywer te wees, is om jouself in leeuwêreld te bevind, en jy moet dikvelligheid teen kritiek ontwikkel.

Lesers van rubrieke deur politieke kommentators in die hoofstroommedia wat nog nie van die jong Alida Kok kennis geneem het nie, sal besonder stiksienig moet wees om ná vandag se rubriek in Beeld haar nie as opkomende jong ster te herken nie. Boonop het sy onlangs haar vuurdoop op RSG se baie gewilde program, Kommentaar, gehad, en ’n baie moeilike vuurdoop beleef. Boonop kan lesers van gister af haar ook deur haar bydraes vir Maroela Media leer ken. Haar eerste rubriek op Maroela Media kan hier gelees word.

Kok is deesdae aan Akademia verbonde waar sy dosent in politieke wetenskap is.

In haar jongste rubriek behandel sy onder meer die mosie van die Nederlandse parlement se tweede kamer om druk op die Suid-Afrikaanse regering uit te oefen oor die voorgenome onteiening sonder vergoeding. Sy noem onder meer dat daar ná die laaste verkiesing in die Europese parlement ’n wyer spektrum uit die politiek in die Europese parlement verteenwoordig is, wat die kanse verbeter dat Suid-Afrikaanse partye en belangegroepe ’n oor sal vind wat sal luister. Nie lank gelede nie sou dié opmerking as uiters polities inkorrek beskryf gewees het, terwyl die ANC dit waarskynlik, soos in soortgelyke gevalle wat dikwels AfriForum betrek het, dit as ’n vorm van sedisie sou beskou.

Inderdaad het die klimaat rondom politieke inkorrektheid die afgelope paar jaar baie verander. Die rol wat iemand soos Leopold Scholtz, onbetwiste doyen van die Afrikaanse rubriekskrywers, gespeel het, kan moeilik oorskat word.

In die Afrikaanse dampkring is daar twee terreine waarop politieke inkorrektheid afspeel, naamlik ’n groep wat beslis as regs beskryf kan word, en meestal uit die hoofstroommedia geweer word. Hulle kan as die antitese van die van onder meer die Seunse Weenkoor beskou word. Dr. Piet Croucamp het by geleentheid op Kommentaar na homself as liberalis, en na Max du Preez as “leftie” verwys. Ook Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het by geleentheid deeglik uiteengesit wat die verskille tussen verskillende klasse liberales en linkses is.

Die tweede groep politiek-inkorrekte rubriekskrywers is diegene wat vakkundig korrek probeer bly, en politiek onverbonde – minstens wat hul rubrieke en openbare lewe betref.

Die beweging onder swart meningsvormers is in ’n stadium deur die bekende kommentator en oudredakteur van Rapport, Tim du Plessis, breedvoerig bespreek. Trouens, toe daardie damwal onder swart redakteurs, wat hy by die naam genoem het, breek, het wit redakteurs gevolg, het hy geskryf. Heelwat van dieselfde name asook van kerkleiers soos dr. Nico Smit, is egter kort hierna weer gelys onder diegene wat oor bloedvergieting gewaarsku het as so volgehou sou word om die ANC (so fel) te kritiseer. Die indruk is geskep dat die aanvanklike verskuiwing meer te make gehad het met die magsgreep waar Jacob Zuma by pres. Thabo Mbeki oorgeneem het. Toe dit werklikheid word, het die nuutgevonde politieke korrektheid in daardie geledere grootliks verdamp.

Die oorgang na ’n meer politiek-inkorrekte omgewing het nie so seepglad verloop nie. Redelik kort na mekaar het Media 24 sy nuwe span aangestelde rubriekskrywers aangekondig. Dit het mense soos Max du Preez, Allistar Sparks en ander baie bekende rubriekskrywers ingesluit – ’n groep wat op die oog af as “oorwegend links” beskryf sou kon word. Adriaan Basson is as hoofredakteur van Beeld aangestel.

rhoda-kadalie-2019-01-28

Rhoda Kadalie. Foto: Verskaf.

Rhoda Kadalie het by geleentheid na politieke korrektheid as die diktatuur van die liberalisme verwys, en dit spreek boekdele. Die res is geskiedenis.

In ʼn reddingspoging is Barnard Beukman as redakteur van Beeld aangestel en het hom dadelik as ’n uiters knap rubriekskrywer geopenbaar.

Daar kan bloot bespiegel word oor die rol wat Maroela Media gespeel het om ’n klimaat te skep waarin politieke inkorrektheid oor ’n breër front kon begin gedy.

Politieke inkorrektheid het nie sonder groei- en werklike pyne na Suid-Afrika gekom nie. Malema het die kuns vervolmaak deur publisiteit vir sy party te genereer deur die media sleg te sê, terwyl ’n vuishou of wat, stampery en klipgooiery ook al letterlik pynlik vir die media was. Knap ondersoekende joernalistiek het staatskaping ’n harde skop in die tande besorg.

Die rol van Solidariteit in die opstand van die SAUK-8 het die vendetta van veral sekere lede van die Seunse Weenkoor en ’n leenspeler erg ontwrig.

Namate die regering se konsekwente droogmakery die land harder en harder knyp, en die behoefte aan tegnokratiese ingryping al groter word, word die begrip tegnokrasie meer dikwels in die media gehoor, dikwels terwyl dit duidelik is die skrywer het geen benul wat die begrip tegnokrasie behels nie. Dis nie vreemd nie, want tegnokrasie en politieke inkorrektheid pas soos ’n paar handskoene bymekaar.

Dit word, waarskynlik onbedoeld, goed in prof. Johannes Froneman se rubriek op Netwerk 24, “Ons huiwer op die rand van die afgrond”, gedemonstreer. Hy skryf onder meer: “(Flip) Buys noem in sy toespraak dat hy graag sou wou hê dat die regering slaag. En dat Solidariteit sal help waar hy kan” (met verwysing na Solidariteit se Selfhelpplan, oorspronklik bekend as Plan B).

Ten slotte is dit belangrik dat objektiewe rubriekskrywers kop bo water hou, en nie self verdrink onder die vragte negatiwiteit waarmee hulle daagliks in ’n land wat tender vir piesangrepubliek-status moet kophou nie. As lesers in te groot getalle reageer dat hulle wil emigreer is hy besig om te faal. Om die probleme gewoon te verswyg en ’n utopie te skets asof daar geen plaasmoorde, bendemoorde en korrupsie, magsmisbruik en ’n hele paar wavragte ander probleme is nie, is uiters onverantwoordelik. Druk op die regering om sake reg te ruk, en oproepe op die kiesers en burgers om ook hul bydraes in die sakkie te gooi, is die regte ding om te doen.

Christene is immers nie fataliste nie. Welkom Alida Kok, en baie, baie sterkte.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Andreas ·

‘n Klomp jaar gelede is ons met kommentare en briewe in koerante en op webwerwe baie streng geredigeer, ons mog nie eens swart gesê het as ons van iemand skryf nie. Selfs toe Zuma aan die bewind gekom het, daardie eerste paar jaar was die media só sensitief, dit het geskrik vir niks.

Met die tyd het dinge egter baie verander, korrupsie en wat nog het mense meer krities na dinge laat kyk en daar is meer vryhede vir die skrywers en kommentators toegelaat. Kyk waar is ons vandag, ons noem, sonder om te blik of te bloos, ‘n mens onbevoeg, ook veralgemeen ons. Ons tipeer nou al die ‘ANC’, bedoelende … die ANC?

Woon ons in die Afrikane se Afrika?

Nee, ons woon op ‘n stuk aarde wat die voorsienigheid bepaal het en dan kan ons nie dinge saam uitwerk nie.

Die kompas soek waar is noord, waar is suid.

Nou vra ek tot watter mate het die bewoners van ‘n multikulturele land aanvaar mens kan net in harmonie saamleef as jy die ander ruimte gee om ook homself uit te leef, as jy met ‘n probleem sou vashaak of kundigheid soek, die ander om hulp vra?

Herman Toerien het al baie oor koalisievorming geskryf, waarom, omdat een mens die ander nie ruimte gee nie, die ander sy aspirasies misken. Makliker kan dit nie wees om vir die ander te gun as wat jy vir jouself toe-eien nie.

Maar praat moet ons praat.

Jerry ·

Dit is van te veel praat en nie die regte dinge reg doen nie deur Afrikanerorganisasies, dat mense emigreer. Mense emigreer nie net oor die ANC nie, hulle emigreer omrede Afrikanerorganisasies aanhou om beloftes te maak en onrealistiese verwagtinge skep wat nie nagekom word nie. Mense, veral die Afrikaner sien regdeur mense wat nie opreg handel nie. Net soos die ANC se dubbele standaarde en onopregtheid raakgesien word, net so word rubriekskrywers van Afrikanerorganisasies en MM se doelbewuste bevooroordeeldheid, gebrek aan kennis, insig oor die anderkant van die muntstuk, asook die afwesigheid van doelgerigte leiding raakgesien. Rubriekskrywers en MM wat poog om die Afrikanersaak net uit een hoek te bevorder deur die groter prentjie en die anderkant van die muntstuk doelbewus te ignoreer of te misken, skep wantroue en n gevoel om eerder te distansieer en te emigreer as om te assosieer. Indien julle weet wat die reguit pad behels, begin om daardie pad te stap, anders is ek bevrees dat julle amateuragtige pogings om die Afrikaner te oortuig om nie te emigreer nie, sal aanhou misluk!

sweis ·

Dit is die groot probleem in SA die alewige politieke korrektheid ek sê noem n ding soos hy is sonder om beledigend te raak maar wees konsekwent.

Dirk ·

Die nuwe opkomende ster sal haarself n groot guns bewys om die raad te volg in Jerry se kommentaar. Skryf sy die waarheid uit alle die hoeke uit, want alle waarheid moet uit, dan sal sy voorwaar n opkomende blink ster word! Sy moet nie toelaat dat een spesifieke ideologie die allesoorheersende raak in haar denke en ontledings nie, want tans is dit presies dit wat die rooi ligte erg laat flikker en die Afrikaner eerder laat gly as laat bly! Wanneer ons, ons nek uitsteek en se ons bied ons hulp aan vir die ANC, dan moet dit die ware motief wees, dit moet nie n verskuilde motief wees omrede ons weet dat die ANC nee sal se vir voor die hand liggende redes, maar dat ons motief dit dan eintlik ten doel het om skietgoed teen die ANC vir selfbeskikking en vir simpatie uit die buiteland te kry. Indien ons nie met eerlike motiewe, maar met oneerlike motiewe ons saak moet bewys om ons sin te kry, dan doen ons dit met oneerlikheid en daal ons na die vlak van die radikales. Doen dus die regte dinge reg en hou op om die ANC/EFF uit te lok om die Afrikaner uit te sluit en om sodoende die Afrikaner te dwing tot isolasie by Solidariteit/Afriforum. Regdenkende Afrikaners assosieer nie met oneerlikheid en onreg van Afrikaners teenoor die Afrikaner self nie! Mag Alida se ster nie soos die ander sterre ook verskiet nie!

Henry ·

“…Mense, veral die Afrikaner sien regdeur mense wat nie opreg handel nie…”

Belangrike stelling wat Jerry hierbo maak.

Mense – veral die Afrikaner – is laaaankal moeg vir onuitvoerbare beloftes en ‘n bykans naïewe ontkenning van die werklikhede in hierdie droewe land.

Die heel belangrikste werklikheid is egter die ‘numbers game’, soos die Mafiosi daarna sal verwys. Nagenoeg 55 miljoen siele wat nie Afrikaners is nie, teenoor (hoogstens) 2,5 miljoen Afrikaners.

Wie gaan kitaar slaan, wie gaan dans?

Sonder dat daar gekruip en ge-kortbroek hoef te word, is die meerderheid Afrikaners inderdaad deeglik bewus van die ‘numbers game’ se werklikhede.

Ons isie stjoepit nie.

Aggressie, oorlogsugtigheid, afstigting, skoorsoek, tuisland sprokies ens is nie nou een van die opsies nie. Dat ons voorouers bloed en lewens ge-offer het om die wonderlikhede van hierdie land en ons Afrikanerswees te verwerklik, is so. Netso het ons, die huidige Afrikaners, ook bloed en lewens ge-offer om dit wat ons ontvang het, te beskerm en nog veel verder uit te bou. Ons almal weet dit en ons is dankbaar vir dit wat bereik is. Ons weet ook dat daar behoedsaam beweeg moet word. Groot praat en moeilikheid soek, is nie prioriteite nie. Bly en oorleef, of gly, is die keuses wat nou en voor-innie-wapad wag.

Felix ·

Sy jy sit tjoepstil en kyk terwyl die munisipaliteit die sypaadjie voor jou huis verwoes.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.