Nuuskommentaar: Opkoms van vroueleiers

Margaret Thatcher

Margaret Thatcher

Vrouepresidente en -premiers is op die oog af wêreldwyd in opmars, al is die pad nog lank en steil. Maar hoe goed of sleg is die kanse dat pres. Jacob Zuma deur ’n vrou, veral ’n vrou met die nodige statuur, opgevolg sal kan word?

Vroue as regeringsleiers en staatshoofde is skaars. In ’n stadium was dit mode om ’n vroueleier wat wel haar stempel kan afdruk as die betrokke land se ystervrou, soos Margaret Thatcher, te beskryf. Angela Merkel van Duitsland het egter geblyk ’n ystervrou uit eie reg te wees, al het sy onlangs met veral die vlugtelingekrisis ’n knou of wat weg.

Soos die wind nou waai, lyk dit of die VSA, die magtigste land ter wêreld, dalk met die komende presidentsverkiesing sy eerste vrouepresident kan kry, Hillary Clinton. Baie water moet egter nog in die see loop met minstens drie spoke van haar eie, en een in die vorm van die omstrede Donald Trump, wat dalk haar verkiesingsveldtog kan laat sneuwel.

In die diskoers oor wie pres. Zuma eendag gaan opvolg, word die naam van sy gewese vrou, Nkosazana Dlamini-Zuma, gereeld genoem. Zuma self het al gesinspeel dat sy opvolger ’n vrou behoort te wees.

In verskeie lande was vroue al van die bekendste regeringsleiers, onder wie die onvergeetlike Golda Meir van Israel, Sirimavo Bandaranaike van Sri Lanka, Benazir Bhutto van Pakistan en Indira Gandhi van Indië.

In Mianmar het Aung San Suu Kyi die algemene verkiesing ondanks enorme struikelblokke soos huisarres gewen, en word internasionaal as ikoon van versoening gehuldig. Sy het ook reeds die Nobel-vredesprys verower.

Pas het Taiwan die eerste keer ’n vrou, Tsai Ing-wen, tot president verkies.

Tog, toe die VN verlede jaar sy vyfjaarlikse opname gedoen het oor vroueleierskap, het vroue slegs tien van 152 verkose presidentsampte beklee, en het net 14 van die 194 lande ’n vrouepremier gehad.

Dit, tesame met ’n toename in vrouekabinetsministers, dui nietemin op ’n geleidelike toename. Veral Suid-Amerika en Asië het heelwat vroue as staatshoofde of regeringsleiers opgelewer.

Een van die hoofredes wat aangegee word vir die opmars van vroue is dat hulle in ’n wêreld vol korrupsie en geweld as mense met skoon hande beskou word.

Wat is die kanse dat Suid-Afrika se volgende president ’n vrou kan wees?

Die ANC handhaaf formeel ’n beleid van gelykheid, en streef ’n 50-50-kwota in verteenwoordigende liggame na. Teoreties is daar dus ’n potensieel groot veld van kandidate wat Zuma sal kan opvolg.

Die praktyk lyk egter heelwat anders. Pogings om wetgewing oor tradisionele howe deur te voer dui op ’n sterk aanwesigheid van tradisionele opvattings waar vroue feitlik geen regte het nie. Die behoud van tradisionele leiers se steun is een van Zuma se hoekstene om sy mag te verskans, hetsy deur die uitdeel van blink vuurwaens, geld vir die bou van paleise – en om wetgewing te laat deurgaan wat duidelik ongrondwetlik is.

Werklike talent onder vroue kry nie maklik die geleentheid om statuur in sulke omstandighede te bou nie.

Die ANC se Vroueliga is gemanipuleer om ’n ego van Zuma te wees.Op enkele uitsonderings na, soos Naledi Pandor, beïndruk vroue in die kabinet nie, en van hulle val ook onder die swakstes van die swakstes. Zuma is nie juis bekend daarvoor dat hy iets in sy skadu laat groei nie, en ’n duidelike opvolger uit vrouegeledere, en selfs tot groot mate mansgeledere, steek nie juis die hand op nie.

Menings verskil oor of Zuma hemel en aarde versit het om Nkosazana in die AU-hoofpos te kry om haar uit die politieke kringloop te haal, of juis om statuur op te bou vir die opvolgstryd.

Die heropbou van Suid-Afrika se beeld ná die Zuma-era gaan ’n president met statuur verg. Dit moet iemand wees wat Cosatu se onredelike eise met gesag kan afslaan en wegkom daarmee. Dis iemand wat die EFF kan vasvat sonder om steun aan die EFF af te staan. Dis iemand wat die SAKP se hegemonie op die Suid-Afrikaanse ekonomiese portefeuljes kan verbreek sonder om self gekwes daarvan af te kom.

Nkosazana lyk nie na die een wat dit sal kan vermag nie. Boonop sal die Sarafina-albatros altyd om haar nek bly hang.

Ja, daar is vroue wat oor die eienskappe beskik, soos dr. Olive Shisana, voorheen direkteur-generaal van die departement van gesondheid en nou uitvoerende hoof van die RGN. Sy is egter deur die ANC kantlyn toe geskuif.

Wat van die Openbare Beskermer, adv. Thuli Madonsela? In dié stadium lyk dit of dit oor die ANC se dooie liggaam sal moet geskied.

Die probleem is dat ingevolge die huidige kiesstelsel, die toekomstige president sy of haar aanspraak moet bou op grond van ’n mededingende posisie vanuit die ANC se leierskap. So word van die bekwaamste kandidate eenkant geskuif.

Die beste mense sal ook nie noodwendig belangstel nie. Om Zuma op te volg sal in elk geval ’n nagmerrie wees weens die groot gemors wat gedurende sy termyn aangerig is.

En, so weet ons, ystervroue in posisies van mededinging is skaars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

alida ·

Van die huidige vroue in die parlement is daar nie een wat vertrou kan word of wat die President se pos kan vul nie. Almal is onbekwaam. Dit enigste vrou wat dit miskien nog sal kan doen is Helen Zille maar sy sal nie gekies word op grond van haar velkleur nie. Wens hulle wil vergeet van kleur en die persoon aanstel met integriteit en sonder Zuma se arogansie en siek sin vir humor. Daarvan kan ons seker maar vergeet die volgende een gaan nog slegter wees as die huidige een.

Rynhardt ·

As n vrou Zuma sou opvolg, is daar twee kandidate:Zuma se eks of Mbete, die speaker !

Petra ·

JZ soek sy eks daar sodat hy steeds die toutjies kan trek…Vader behoed ASB. Ons mense!

Johann Marx ·

Kom ons kyk gou na twee scenarios en dan praat ons weer oor ‘n “vrou” as president van ‘n Afrika land. ‘n Vriend van my doen navorsing namens die grootste vodka verkoper in SA. Hulle be-oog om die buitelyne van hulle bottel ‘n “meer vroulike” vorm te gee. Sy navorsing wys dat Zoeloe mans die meeste Vodka in SA drink, en die gebruik is as volg: As jy ‘n kuiergas vodka aanbied, gee jy vir hom die bottel met die etiket na hom gedraai sodat hy nie kan sien hoeveel is in die bottel nie. Nadat hy ‘n sluk gevat het, gee hy die bottel aan sy gasheer terug met die etiket na die gasheer toe gedraai sodat die nie kan sien hoeveel die gas gedrink het nie. Indien die vervaardigers die vorm van hulle bottel verander na ‘n vroulike lyf toe, sou hulle tot soveel as 40% van hulle mark-aandeel verloor, want ‘n Zoeloe man drink nie uit ‘n bottel wat so lyk nie. Tweede scenario: een van my vorige spanleiers word gearresteer. Ek kry ‘n borg-aansoek geloods, betaal dit en kry hom uit die selle. Die gesprek verloop as volg: “Wat het jy gedoen?” “Ek het my vrou geslaan want sy wou nie luister nie.” “Maar jy weet mos jy mag nie jou vrou slaan nie?” “Is hierdie bakkie joune?” “Ja, dit is.” “As jy sy ruite uit slaan, die bande stukkend steek, die bekleedsel sny en hom vol duike kap, gaan hulle jou arresteer?” “Nee. Dis my bakkie, ek kan met hom maak wat ek wil.” “Ek het 23 beeste vir daai sleg vrou betaal. Ek kan haar elke aand skop as ek wil. As haar pa nie wil hê ek moet haar slaan nie, kan hy my beeste terug gee en sy dogter terug vat.” ‘n Vroue president kan NET suksesvol wees in ‘n kultuur wat haar respekteer….nie in ‘n samelewing wat vooraf groot gewag maak van vroue-regte ens., en in die aande agter geslote deure ‘n vrou as eiendom sien nie. Ek sê maar net….

humor ·

Wie is die een wat beet as kuur vir die grootsiekte aanbeveel het? So???????????

Rynhardt ·

Humor, e dink dit was “dr.Beet $ of was dit nou “dr.Knoffel?”

Theresa ·

Enigste een waaraan ek kan dink as dit dan moet uit ‘n meerderheid kom, is Thuli Madonsela. Regverdig. Intelligent. Gesofistikeerd. Logies. EN waardig geskoold – dit is waaragtig die minimum kriteria vir ‘n land se president.

Rynhardt ·

Onthou, Anc is anti-Madonsela weens Zuma se Nskandla! Sy is nie gewild by Anc nie!

Theresa ·

Rynhardt, Humor: Ek dink die ou het dalk vergeet om te noem (of dalk kon hy dit nog nooit mooi verstaan nie) dat die knoffel dit sal doen as jy dit rou en gedurig daagliks kou… MIN meisies sal daarvoor kans sien.
Dis die stort en beet wat nog ‘n groot vraagteken ontlok.

Sorika ·

PMS en Menapouse kan ‘n probleem veroorsaak met besluit neming!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.