Nuuskommentaar: Oppas dat ons Avrikaans nie selv fermoor

Argieffoto

Argieffoto

Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die SAUK, moedig TV-eienaars aan om hul lisensiegeld te betaal. Daar gaan ’n uitreikaksie wees om gemeenskappe te oortuig om op te dok vir die voorreg om na His Master’s Voice te kyk, en die groter lisensie-inkomste gaan gebruik word vir meer plaaslike inhoud.

Miskien bied die SAUK se uitreik die geleentheid aan lisensiehouers om ook op TV-inhoud aan te dring wat ’n mens nie bykans dag vir dag die kop laat skud omdat daar “niks” op TV is nie. Dikwels word selfs die nuus afgewater deur die meer nuuswaardige items na die SAUK se betaalkanaal te verskuif, wat nie alle Afrikaanssprekendes kan bekostig nie.

Maar kan ons op meer Afrikaans in gehalteprogramme aandring as ons nie self Afrikaans koester en bestendig nie? Of nog erger, as ons self besig is om Afrikaans te vermoor?

Die bekende, omstrede rubriekskrywer, Max du Preez, het pas iets op sy Facebook-blad geskryf wat baie instemmende reaksie ontlok: Afrikaanssprekendes kan nie haat én spel nie. Tot die f-woord word met ’n “v” gespel. Max weet van haatpos kry van mense wat hulself as die mees lojale Afrikaners beskou, maar kom dit by hul “spêling” lyk dit maar “frôt”.

Die stelling dat hoe méér lojaal Afrikaner, of hoe regser, of hoe meer rassisties iemand is, hoe swakker is sy spelling en algemene gebruik van Afrikaans, is nie nuut nie. Of dit werklik so is, is ’n debat op sy eie – miskien spring die “vlatirs” van die taalbulle net meer in die oog omdat die skrywer hom so as pro-Afrikaans uitgee. Miskien hou dit daarmee verband dat minstens twee regse instellings hul name verkeerd gespel laat registreer het, met die destydse Boerestaat Party (sic) van ’n bekende taalbul wat die toon aangegee het.

Die “veit” is dat ongelooflik baie mense se “spêling frôt” is, en nie net op die internet nie. Vanoggend het ’n bekende dagblad die van Nordier (wat in die berig reg was) in die opskrif Cordier gemaak. Menslike foute glip deur. ’n Mens se moed sak soms in die skoene na die SAUK die “nuutskepping” Algeriërs in nuusbulletins gebruik het, en na klagtes na die korrekte Algeryne verander het, net om op ’n dag weer met Algeriërs vorendag te kom.

Stap deur ’n Afrikaanse vlooimark en kyk hoe spel van die uitstallers hul ware, soos “Gebreide toilet sit plekke vir warmboude”.

Die bekende taalrubriekskrywer, Anton Prinsloo, het al verskeie kere opgemerk dat kleiner tale sterk beïnvloed word in ’n omgewing van ’n groter taal. ’n Goeie voorbeeld is dat die Afrikaanse woord, familie, as korrekte vertaling vir die Engelse woord “family” (gesin) aanvaar word – wat dikwels groot verwarring veroorsaak, omdat familie ook steeds as sinoniem vir “relatives” aanvaar word. Daar het, dankie tog, nog nie Afrikaanse weergawes vir “relatives” ontstaan soos “relatiewe”, of nog erger, “relasies” nie – al erken die Afrikaanse speltoetser dit – maar darem omdat daar sulke woorde is wat gans iets anders beteken.

Op die oomblik saai RSG ’n advertensie uit waarin na ’n artikel in ʼn wet as ’n “seksie” verwys word. Ja, die Afrikaanse speltoetser erken ook “seksie”, maar die enigste keer wat dit in die konteks van die reg gebruik word is wanneer iemand van seksuele teistering oor die gebruik daarvan aangekla is. Tog het groot koerante al deurlopend “seksie” begin gebruik wanneer “artikel” bedoel word, en wanneer te veel mense kla, verward “afdeling” begin gebruik. Al afleiding is dat senior mense by groot koerante wat juis aangestel is om ’n wakende oog te hou oor die korrekte gebruik van Afrikaans, eenvoudig nie (meer) weet nie.

Ai toggie, en hoeveel keer gaan vertaal die SAUK “international law” met  “internasionale wetgewing”. Die Afrikaans vir “law” is immers die “reg”, en die Engels vir “wet” is “act.”

Onder die invloed van Engels word allerlei dinge en konsepte nou “verban”. Die Engelse woord “ban” beteken egter “verbied”, nie verban nie. Daarvoor het Engels gans ander woorde soos “exile”. Dit is onmoontlik om byvoorbeeld ʼn kwetsende woord die land uit te sit (verban).

Jare ná Afrikaans afgestap het van die gebruik van die “h” in byvoorbeeld 10h20, word dit onder die invloed van Engels, waar dit steeds opsioneel aanvaar word, gereeld in Afrikaanse teks gebruik. Onder die invloed van Engels word die titels “dr., ds,, mnr. en mev.” gereeld in Afrikaanse teks in die middel van ’n sin met hoofletters geskryf.

By ʼn Afrikaanse plattelandse dorpie in die Vrystaat wys die padpredikant ewe koers na “Sportground” in “Engels” en “Sports gronde” in “Afrikaans”.

Taal is wel aan verandering onderhewig. Dit is dinamies. Lees maar die geskrifte uit die eerste taalbeweging om te sien hoe baie Afrikaans, en veral sy spelling, in enkele jare verander het.

Dialekte en streektaal word as aanwinste beskou. Dink maar net hoe gewild het Namakwalandse stories wat in daardie streektaal vertel of geskryf is eens geword. Wie het nou ʼn moeilikheid om te hoor hoe die boer vir sy vrou vra: “Mêtjie, lô tsjarra da biekie bies vir die kjênd se gaat”? Of in Standaardafrikaans, “Mietjie, gaan haal asseblief bietjie melk vir die koffie van my neef se vrou”. Of wie sal nou sommer verstaan alles verloop reg as die Namakwalander sê dit “neuk”, want as dinge verkeerd loop, “neuk dit verkeerd”?

Met die koms van kort teksboodskappe het ʼn vorm van Afrikaans ontstaan wat kort boodskappe nog korter maak. Dosente sit egter die voet neer as iemand daardie “taal” ook in vraestelle gebruik, want nie almal ken daardie “taal” nie. Dit kom voor asof heelwat van die kommentare wat lesers op webwerwe plaas, maar waar dit onmoontlik is om uit te maak wat die skrywer probeer sê, ook pogings was om die “SMS-taal” te gebruik. Maar die spelfoute spring steeds in die oog.

Die ander kant van die munt is dat die taalpuriste tog nie so op die korrekte aanwending van Afrikaans, en dikwels formele Afrikaans wanneer geskryf word, moet aandring dat mense ontmoedig word om Afrikaans te skryf of selfs ontmoedig word om dit hoegenaamd te gebruik nie.

En ons het werklik baie om te sê. Ons almal moet kan stem dik maak oor die meer as R700 miljard wat die afgelope twintig jaar weens korrupsie verloor is, ons moet almal saam met Agri SA stem dik maak oor die vreeslike onkunde binne die ANC oor landbou, wat die organisasie sulke kafbesluite laat neem soos om grondbesit te wil beperk, natuurlik moet almal in elke moontlike medium groot lawaai maak as die kaders se onbeholpenheid/wanadministrasie veroorsaak dat dorpe dae lank sonder water sit, en die rioolwater in rivierstrome beland.

Ons het baie om te sê en te skryf, en ons moet nie geïnhibeer word om die mond daaroor uit te spoel nie. En ja, van die rubriekskrywers is moedswillig met feite en persepsies en verdien om geroskam te word. Of vloekwoorde wat verkeerd gespel is die regte manier is? Beslis nie.

Van die ouer Afrikaanse speltoetsers help ook meer van die wal in die sloot wanneer dit by saamgestelde woorde kom. Die verskillende dele word as korrek aanvaar, maar wanneer dit volgens die Afrikaanse taalreëls aanmekaar gelas word, word dit dikwels as verkeerd gemerk. En al is die reëls oor wanneer ʼn woord vas, en wanneer los geskryf moet word, in die meeste gevalle baie eenvoudig, ken baie mense dit nie (al het hulle pas ʼn onderskeiding in Afrikaans in matriek gekry).

Die groot geheim is dat gelet word op hoe die taalmense skryf. Of as ’n mens self iets vir publikasie lewer, hoe dit aangepas word. Trouens, hierdie reël geld ook vir korrespondente van koerante – kyk hoe is jou bydraes reggemaak. Maar dis nie altyd so maklik nie. By een koerant was ’n legendariese Oos-Vrystaatse skoolhoof ’n korrespondent, en hy het onder meer sy werkwoorde op die verkeerde plek in sinne gebruik (die Engelse reël gevolg). Hy het skoolgehou vir van die verslaggewers wat sy teks moes regmaak. Natuurlik het hy hom nie laat reghelp nie.

Gelukkig is die nuwe Afrikaanse speltoetsers toegerus om baie kinkels uit te skakel. Maak gerus daarvan gebruik sodat dit wat ons in Afrikaans skryf, ’n produk is waarop almal trots kan wees.

En ja, los maar die slegsêery met die hulp van swetswoorde, of dit nou reg of verkeerd gespel word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

26 Kommentare

anet ·

Dankie Herman vir hierdie puik Nuuskommentaar, ek het dit baie geniet veral die “veite” Ek dink ons lewe is te gejaag en almal skryf vinning en haastig sonder om regtig aandag te skenk aan hulle spelling.

Casper Labuschagne ·

Ek stem heelhartig saam. Hier is ‘n uitdaging, begin net suid van Johannesburg in Alberton en probeer die bekende Afrikaanse Woordelys en Spelreels in enige winkel koop. Gaan suid, van Afrikaanse dorp na dorp en vra vir ‘n Woordelys en Spelreels. Let op hoeveel Afrikaanse skole en kerke daar in elke dorp is. Hou aan tot by Bloemfontein waar jy wel een sal kan koop en dan weer (miskien) in Worcester of die Paarl.

Ek kan verskeie gevolgtrekkings maak hieroor, maar die legioen van stoere en heethoofdigde spellinggestremdes, sal my aanvat.

Casper

Grassie ·

Ek dink ouer mense spel baie beter as die jonger geslag. In die era voor televisie het ons baie gelees – biblioteekboeke, tydskrifte, koerante en die Bybel. Die jonger geslag sien alles van belang op die tv, hulle hoef nie te lees nie. Wanneer ‘n mens lees sien jy die woorde en raak gewoond aan die spelling. Op tv hoor ‘n mens die woorde en leer die klank ken maar nie die spelling nie.
Ek het al dikwels kommentare gelees waarin ‘n mens duidelik kan sien dat die skrywers intelligent is, beslis nie onnosel nie, maar die spelling en woordsamestelling is maar aan die eina kant – dan weet ek dat hy of sy ‘n lid van die jonger geslag is.

Hanno ·

Ja, en vandat oudhaker Uli Schmidt desjare op radio met “Australianers” begin het, is daar geen end aan nie.

Herman Toerien ·

Net so. Nog ‘n bekende rugbyseler het knaend gepraat van “op ‘n stadium” in plaas van “in ‘n stduim”. (Dis wel “op ‘n tydstip.”) Nou wonder ek of een uit tien mense nog weet “op ‘n stadium” is eintlik verkeerd. Nog iets wat my opval is dat selfs die koerante skryf iemand het ‘n operasie “gekry” of “gehad.” Ek weet “ondergaan” klink styf, maar so ver ek weet is daar nog nie ‘n erkende alternatief nie. Omgekeerd, in die ou dae is doodeenvoudig en heel korrek “vir water geboor.” Nou is dit “na water” en ‘n horde ander opsies, enigiets behalwe “vir”, en seker die dat so baie droë gate nou gesink word.

Willem ·

Jip, so is dit. ‘n Mens moet maar eintlik elke ding wat mens op die internet, webwerwe ens skryf, eers in ‘n Word dokument opstel en dan redigeer.

Dit gebeur nogal dikwels met my wat daagliks skryf dat ek per ongeluk ‘n woord verkeerd spel. En ek maak van ‘n speltoetser gebruik.

Dan is dit so as ek die stuk deurgelees het en geredigeer het, dan vind ek nou en dan tot my verleentheid as ek die stuk gestuur het, dat daar dalk nog ‘n spelfout is, soos ek ook nou die dag, ek dink dit was aan die begin van die week, ook onderaan Herman se skrywe gesien het toe hy op een van die lesers se antwoorde kommentaar lewer, waar hy twee woorde verkeerd gespel het.

Party se foute is sommer werklik onverskoonbaar, maar glip daar maar ongelukkig nou en dan ‘n fout deur, veral as mens direk tik.

Asjas ·

Herman, hoe lyk dit met ‘n stuk oor etiket op openbare forums? Ek het jou Nuuskommentaar geniet, dit is goed geskryf en het ‘n paar interessante feite bevat wat ek nooit geweet het nie. Ek is nogal bekommerd oor vandag se jeug se kennis van Afrikaans. My kinders (nou almal groot) sal my gereeld vra wat ‘n woord wat ek sopas gebruik het beteken. Dit maak my bang, ek is nie hoogs intelegent of verder geleer as Std. 10 nie (nou Graad 12) en ek het as klein kind in die laerskool al die betekenis van die woorde geken wat die jeug van vandag nie weet nie.
Ons het natuurlik baie gelees, iets wat vandag se jong mense glad nie meer doen nie. “Ek sal wag vir die DVD”!
En ja, daar is ‘n verskil tussen ‘n spel fout en ‘n tik fout, tik foute is natuurlik per ongeluk.
Om terug te kom na my vraag oor die etiket kwessie, hoekom die oomblik wat iemand se kommentaar nie aanvaarbaar is vir sekere mense nie, word jy beledig en as “eenvoudig” afgemaak? Wat beteken dit nou eintlik as iemand “eenvoudig” is? As dit is wat ek dink dit is, wel dan is ek trots “eenvoudig”. Ek is nie opgesmuk of probeer voorgee om iets te wees wat ek nie is nie.
Maroela Media gee ons die geleentheid om kommentaar te lewer, jou opinie te lig oor gebeure, maar die oomblik wat dit nie dieselfde was die massas is nie, word jy persoonlik aangevat en beledig.
Hoe lyk dit? Wat is jou mening oor etiket, vryheid van spraak en dalk sommer verdraagsaamheid?
NS – Jy weet nooit wie jy op ‘n forum beledig nie.

Herman Toerien ·

Dankie Asjas. Jou waarnemings is in die kol. Ek glo byvoorbeeld ook dat ons in die jare van isolasie agv apartheid, baie beter geweet het wat in die wêreld aangaan as vandag. Dink maar hoe was Joop den Uyl, Olaf Palme, Leabua Jonathan, Kenneth Kaunda en ander huishoudelike name, en ek glo nou sal iemand eers moet Google om te weet wie nou die bekleërs is. Ek dink die voorwaardes wat Maroela as aanvaarbaar vir kommentaar gebruik, ondervat die hele kwessie. Daar is wêreldwyd ‘n neiging om die vuil en beledigende taal (op die internet) vas te vat
Hoeveel moet ‘n mens as aanvaarbare kritiek beskou? By gebrek aan iets anders, dink ek ‘n mens moet kyk wat sê die reg. Die kwaadpraters, as hule vasgevat word, raas graag oor “nou wat dan van spraakvryheid” (soos in die grondwet). En vergeet, of weet nie, haatspraak en soortgelyk word ook in die grondwet verbied nie. Trouens, alle regte word beperk. In die oorgangsgrondwet is bv hoog opgegee oor bewegingsvryheid, maar iemand in die tjoekie kon nie maar huis toe gaan as hy lus het nie. Laster, kriminele laster, naamskending ens bly steeds staan.
Die boikot die KKNK-aksie stel dit bv duidelik dat hule nie geweld of lasterlike taal van hul ondersteuners sal duld nie.
‘n Lastigheid is natuurlik dat ‘n mens met “beter” taalgebruik maklik die reputasie van ‘n snob kan ontwikkel, en bv ‘n taalsnob genoem kan word. Op Netwerk 24 verwys Ilse Bigakle weer na die ouens wat sulke lelike tale gebruik as trolle. ‘n Mens moet maar probeer om in die middel getakseer te word.

Fanie ·

Asjas/Herman, in sekere gevalle sal slegs die tikker weet of hy verkeerd gespel het en of dit ‘n tikfout was. In baie gevalle egter is dit soos jy sê ‘n spelfout. Ongelukkig is dit ook so dat baie mense, ook Engelssprekend, of van ‘n ander Suid-Afrikaanse taal, wie op Afrikaanse webwerwe kommentaar lewer, nie taalkundig is nie.

Baie van hulle het dalk net graad tien.

Dit is die realiteit. Nou wil hulle ook kommentaar lewer, maar is nie kundig nie, moet hulle nou ook speltoetsers en dies meer aanskaf om aan ‘n gesprek te kan deelneem?

Ek self is nogal ‘n perfeksionis, maar het begrip vir mense wie nie so kundig is nie. Tot watter mate moet ‘n mens buigsaam wees en mense tot die gesprek toelaat?

Hoe maak ons met hierdie mense wie hul hand aan Afrikaans waag?

Verwelkom ons hulle?

Hierdie opmerkings hier bo is so effe van die punt af, maar is dit tog relefant.

Fanie ·

So terloops, ek het nou die dag ‘n antwoord op ‘n skrywe na Maroelamedia gestuur. Na ek die knoppie gedruk het en uit die skerm gegaan het, het ek besef ek het ‘n sekere woord met ‘n V ipv ‘n F geskryf (getik?) maar was ek klaar uit die skerm en het ek dit so gelos. Dit is reg so dat hierdie dinge aangespreek word, maar moet ons oppas om vir diegene wie probeer te lag.

Fanie ·

Nog iets, terwyl ek op die ‘toppic’ is; heel dikwels lewer ons so beterweterig kommentaar op ‘n ander se skrywe, so selfvoldaan omdat ek daardie persoon op ‘n punt kan wys, al is dit net om my eie beul te blaas.

Ook word die Bybel dikwels met bravade aangehaal, of sommer so uit die lug gegryp. Maar natuurlik is daar ‘n tyd en plek vir als, maar moet ons darem ook by die tersaaklike debat bly sonder om iets te sê net om iets te sê.

Grassie ·

Fanie..dit is seker “relevant” om te onthou dat “topic”(onderwerp) met net een “p” gespel word. ‘n Beul is iemand wat mense ophang en hy kan beslis nie geblaas word nie.Niemand is volmaak nie, ek maak ook soms spel- en taalfoute. Ons moet maar mekaar se glipse vergewe maar moet ons uiterste bes doen om ons pragtige taal suiwer te gebruik. Herman Toerien stel ‘n baie goeie voorbeeld hiermee in sy rubrieke,
Ek vervies my nie as iemand ‘n taal- of spelfout aan my uitwys nie. Ek waardeer dit al word ek so ‘n bietjie gekasty in die proses.

Fanie ·

Grassie, juis, ons maak almal foute, ook Herman soos ek hier bo beduie het. Ek het ‘n passie vir die Afrikaanse taal en skryf daagliks nie-fiksie, maar maak dit my nie stiksienig nie. As jy op my antwoorde wil antwoord, moet nie selektief wees nie.

Dit is reg dat ‘n mens na die volmaakte streef, maar moet ons oppas dat ons nie almal om ons met ons “passie”dood wurg nie.

Meeste, wel seker alle professionele uitgewers, of dit nou koerante in drukvorm; of digitaal is, het redigeerders.

Dit is absoluut reg dat die formele skrywes moet 100% foutloos wees, en kan daar geen, maar geen oorsig wees nie. Die strewe na uitnemendheid en kreatiwiteit sal altyd met ons wees en is dit reg so.

Herman Toerien ·

Omdat ek diseksie het, raak ek gek as ek op ‘n rekenaar sonder ‘n Afrikaanse speltoetser moet skryf. Ek verstaan dit voorts moeilik hoekom mense wat dit met gemak kan bekostig, dit nie laat “opsit” nie, en dan eerder hul stukke tik terwyl die Engelse speltoetser aan is. Dokument word vanself document ens, terwyl dit nie moeite sou wees om dit op “no proofng” of Nederlands of iets te stel nie. Hinder die stringe rooi strepe nie die mense nie? Elke keer wanneer ek ‘n uwe rekenaar kry, stel ek as vereiste dat my speltoetser moet oorgaan. Elke keer gee dit ‘n oorlog af, en uiteindelik moet ek dit self doen (terwyl ek min van rekenaars weet), en die IT-ou soos sy agterent spel.
Ek het juis so probeer skryf dat ‘n mesn nie diegene wat werklik sukkel ontmoedig nie. So kan ‘n taal ook doodloop. Net ‘n bietjie sorgsaamheid.
Ek het by geleentheid ‘n baas gehad wat homself as perfeksionis uitgegee het (en eintlik was hy ‘n pyn iewers). Ek het een “spelgeveg” met hom gewen – hy wou my middelpuntvliedend na middelpuntvlietend verander, maar ek het vasgestaan, en hy het toe die woordeboek nadergepluk om te wys hy’s reg. Toe nou nie.
Net terloops, ek sien al meer en meer mense gebruik die “wie” in Afrikaans verkeerd, soos bv “die man wie daar loop” in plaas van “wat daar loop.” Ek weet die ou SAW het sy mense op groot skaal verkeerd geleer, maar ek het gedink dit sou oorwaai na die SAW tot niet is. Toe nou nie.

Fanie ·

Herman, jy is 100% korrek vir die mense wat spesialiste is en wie met hierdie tegnologie kennis gemaak het, in hul werk.

My werk is om te skryf, ook maak ek van Pharos se woordafbreker, Speltoetser van die PUK en woordeboeke wat langs my lê gebruik in my professionele werk. Ek is daaglik met naslaanwerk ook op die internet doenig. Ook redigeer ander mense my werk, ook soos joune.

Die gewone man in die straat en diegene wie normaalweg kommentaar of antwoorde op skrywes gee, weet nie hiervan nie, en waarom sou hulle die moeite doen as hulle dit nie werklik nodig het nie?

Ek praat van mense wat kommentaar onderaan webwerwe se artikels en onderaan byvoorbeeld jou skrywes antwoord of dan hul opinie gee.

Dus, as hulle nie perfek in Afrikaans kan skryf nie, sluit hulle uit! Dit is mos wat julle sê.

Maar natuurlik moet ‘n mens as jy ‘n perfeksionis soos ek is daarvoor oppas dat ‘n mens nie ‘n pyn in die gat vir ander mense is nie.

Ek het nog nie gesien dat Engels hul mense so misken nie.

Genade, en as ons almal nou mekaar se spelfoute onderaan ons antwoorde aan die groot klok hang, waar gaan ons eindig?

Hoekom maak julle nie ‘n opname en stel vas hoeveel mense wie aan Afriforum en Solidariteit behoort, asook diegene wat Meroelamedia lees, het ‘n speltoetser nie?

En ek praat van die gebruiker.

NS: Jy is korrek met; “die man wat daar loop”, maar, ” wie loop daar?”

Grassie ·

Herman – my “speltoetser” is ‘n HAT. Die dik blou boek lê langs my rekenaar en word geraadpleeg sodra ek oor iets twyfel. Dit is soms tydrowend en ek is seker maar ‘n bietjie outyds, maar dit werk vir my.

Jacques ·

Interessant dat niemand in die kommentaar Herman se voorbeeld kon volg en “‘n” reg spel nie.

Jacques ·

Dit is die webwerfsagteware se skuld. Dit verander die afkappingsteken outomaties na die linkeraanhalingsteken.

Miskien moes ons as taalpuriste die fout vroeër opgemerk het.

Jacques ·

Is gogga die regte vertaling vir “bug?” My AWS en kuberwoordeboek lê nou by die werk…

Fanie ·

Jacques, ek sien nie in die antwoorde hier bo waar die ‘n verkeerd is nie. Ek het nou vlugtig gekyk. Wat wel so is, is dat die PUK se speltoetser so gestel is om outomaties die afkapping en die n na een lettergreep toe te wysig en nie twee nie.

Baie van die webwerwe se formate tel dit nie op nie en as hulle sodanige artikel ontvang wat deur die PUK se speltotser geredigeer is, dan wys dit by hulle ‘n ? (dit wys ‘n vraagteken) in plaas van die ‘n. Gaats dan is die hele artikel by hulle net vraagtekens waar daar ‘n moet wees.

Ek het dit twee jaar gelede opgetel en aan hul IT mense uitgewys, maar kon hulle niks daaraan doen nie, Dus het ek die outomatiese regstelfunksie in die speltoetser afgestel. Die ‘n word nou by my as ek skryf met rooi onderstreep maar behou dit die twee lettergrepe en verander dit nie outomaties na die een lettergreep nie.

So is daar nog ‘n paar ander goed wat ek aan hulle uitgewys het wat hulle beduie het hulle aan werk, maar tot op hede het ek nog nie kon sien dat hulle wel gehoor daaraan gegee het nie.

Die speltoetser wys nou vir my waar hy met my verskil, dan slaan ek dit in die woordeboeke na voor ek besluit wat om te doen.

Fanie ·

Nog iets, dit is nie net in die Word dok waar ek dit opgetel het nie, maar in sekere gevalle ook in Excel as mens daar skryf. Jy kan die die formaat verander soos jy wil, maar maak dit nie ‘n verskil nie, dan sien jy bo-aan ‘n “dubbele” afkapping.

As ek reg het, het ek destyds ook toevallig met ‘n Jacques by die IT afdeling gesels, dit was nie dalk jy nie?

Charl ·

Ek dink dit is belangrik om ten minste te probeer om ons taal te handhaaf – soos ek aflei, is meeste lesers op hierdie forum nie tieners nie, en as ons nie die taal handhaaf nie, is daar geen kans dat ons kinders dit sal regkry nie. Ek gee gladnie om as iemand my reghelp nie, ek waardeer dit. Sit heeltyd met n woordeboek naby, want ek sukkel dikwels om woorde se spelling te onthou, aangesien ek selde in Afrikaans skryf.
Wat ek wel amusant vind, is dat mense wat hulleself as “groot Afrikaans” beskryf, so sukkel om te spel. Dis juis diegene, wat enigiemand wat nie n “Steve” aanhanger is nie, uitmaak as n slegte Afrikaner, wat nie hulle eie taal kan handhaaf nie. Nou hoe dan nou? En kan iemand vir my verduidelik wat n “groot Afrikaner” nou eintlik is? En wie oordeel of mens n “groot Afrikaner” mag wees of nie? Is daar n afsnypunt 100kg, 120kg?

Herman Toerien ·

As hierdie nuuskommentaar tot gevolg het dat mense nie meer die vrymoedigheid sou hê om in Afrikaans te skryf nie, dan het ek nie in my doel geslaag nie. Ek voel dikwels sekere reëls moet oorboord gegooi word omdat Afrikaans eintlik net seerkry as dit naas Engels moet bestaan maar in soveel opsigte die teenoorgestelde is, bv wat vas, en wat los geskryf moet word. Daar is al wel uitsonderings gemaak soos dat die naamwoord volgend op ‘n eienaam, soos by straatname, los geskryf mag word. Ek het eendag op my rug geval toe ek met ‘n Afrikaanse dosent, en lid van ‘n skrywersvvereniging, gepraat het en dit blyk sy het geen benul van hoe hierdie reël werk nie (ek self ken maar omtrent die helfte). Dit laat my nogal dink. ‘n Paar jaaar na my pa se dood is my ma met die skrywer-digter Barend J. Toerien in die VSA getroud (hy was my pa se neef). New York was mos eers ‘n Nederlandse kolonie. In die dorpie waar hulle gebly het, het die Nederlandse gemeenskap vreeslik lank Nederlands probeer handhaaf, en onder ander is die predikante uit Nederland beroep om in Nederlands te preek. Maar na een diens wou ‘n kind by haar ma weet wie die “Het Evangelie” is van wie sy so gereeld by die kerk hoor? En net daar besef hulle dit kan nie meer nie. Hiermee sê ek allermins dat ons Afrikaans moet los. Ek wonder net of ons nie van die taalreëls waar ons skynbaar reeds teen Engels verloor het moet laat skiet nie. Ons het bv reeds “sneeu” as die regte Afrikaans vir “snow” aanvaar (eers was snow net kapok en sneeu was “sleet” (ysreën). Toe het “familie” ‘n aanvarbare gebruik vir “gesin” geword (waaroor ek suur is). Nou die dag het ‘n baie, baie ervare joernalis (byna 60 jaar oud), in ‘n groot koerant “seksie” in plaas van “artikel” gebruik, en dis deur al die prosesse tot in die gedrukte koerant. (Oor hierdie een sal ek self lawaai maak, want “ons” Engelse is nie die internasionale norm nie, waar “article” dikwels, en veral in die internasionale reg, gebruik word).
Nog iets waaroor ek sal vasskop is die 116 Maraistraat, of dan 116 Marais Straat. Op Radio Rosestad (in die advertensies) word dit gereeld verkeerd gebruik, en ek skakel op slag oor na ‘n ander stasie.
Let gerus op hoe min groot Afrikaanse koerante gebruik die woord “pensioenaris”. Daar word van “pensioentrekker” gepraat. As nuusredakteur van oorle Radio Hoogland het ek my hierin vasgeloop. Dit blyk daar was ‘n groot taalman wat ‘n kleintjie dood had daaraan. Die kort en die lank is egter dat die HAT die woord “pensioenaris” as sinoniem vir “pensioenaris” gebruik, en by die breë publiek gaan niemand, as jy “pensioenaris” skryf, dink jy verwys na die amptenaar wat pensioene uitdeel, of na ‘n senior VOC-amptenaar (met ‘n eie spelling) nie. Wat my betref “fermoor” daai soort gatvasheid die taal. Al het ons via Engels by die huidige toepassing gekom.

Fanie ·

Herman, dankie ek het baie by jou geleer. Dan nog ‘n volgende vraag: Is ‘n mens ‘n leerling, of ‘n leerder. Deesdae is almal mos leerders, dis nou na 1994.

Herman Toerien ·

Ek het ook maar agtergekom daar word leerder, in plaas van leerling gebruik, maar die formele aankondiging gemis. Ek is ook nie seker of die verandering van die taalkommissie, of van die onderwysmense kom nie. Vir my voel “leerder” erg Anglististies (learner) en daarom verkies is om leerling te gebruik (pupil). Ons gaan moeilik na ‘n toestand van 100 persent korrekte Afrikaans terugkeer. Gisteraand op Kommentaar op RSG verwys ‘n dame van die Instituut vir Rasseverhoudinge kort-kort na sekere opleiding wat “polisieoffisiere” moet ondergaan. Eers toe sy die Engels gebruik, kom ek agter sy bedoel eintlik polisiebeamptes. In Engels word veral by die polisie “officer” vir beampte gebruik wat die laagste moontlike rang is. In Afrikaans kan dit weer net gebruik vir vir ‘n kommissierang, soos in die fliek, An officer and a gentleman – maw die persoon wat ‘n rang het waarvoor hy gesalueer moet word.

Fanie ·

Herman, jy sal nooit weet watter waarheid jy in daai eerste drie sinne kwytgeraak het nie. Ek is een van daai wie ‘n kans gegun is deur sodanige persoon. Vandag ……

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.