Nuuskommentaar: “Oproep” van selfbeskikking en gesinswaardes val nie uit lug nie

Argieffoto

Argieffoto

Selfbeskikking mag dalk net te midde van ʼn groot aantal ander begrippe byna terloops op Solidariteit se krisisberaad ter sprake gekom het, maar in sekere media en onder links-liberale kommentators is kliphard strooipoppe hieroor gebou en onder skoot gebring sodat ’n erg skeefgetrekte beeld oor die verrigtinge die wêreld ingestuur sou word as dit nie vir ander media was nie.

Terwyl die dam in dié geval onder die eend se stert uitgeruk is, het nog ’n kernbegrip na vore gekom, naamlik gesinswaardes. Soos met selfbeskikking is gesinswaardes nie ’n nuwe begrip nie, maar tot dusver in die “verkeerde” partye gekoester. Die DA het dit pas as deel van sy beleidsraamwerk aanvaar.

Maar van waar Gehasi, en hoekom het die liberale vleuel van die DA soos die verslane dr. Wilmot James die aanvaarding daarvan teengestaan?

Gesonde gesinswaardes maak ’n sentrale deel uit van die Nuwe Wêreldse Christen-Demokratiese partye se beleidsraamwerke. Of die party nou in Australië, Suid-Afrika of Kanada gesetel is, gesinswaardes staan in die kern daarvan. Op Google is bykans 200 miljoen verwysings hierna, en Wikipedia gee die volgende opsomming: “Family values, sometimes referred to as Familial values, are traditional or cultural values (that is, values passed on from generation to generation within families) that pertain to the family’s structure, function, roles, beliefs, attitudes, and ideals.”

Omdat daar erg negatiewe “gesinswaardes” soos gedwonge kinderhuwelike kan wees, word dit wat onder die begrip verstaan word breedvoerig in beleidsdokumente uitgelig, sodat sommige partye nie werklik moeite hoef te doen om meer te sê nie as dat dit gesinswaardes as beleid het. Almal verstaan wat daarmee bedoel word.

Dit beteken die gesin neem ’n belangrike rol as bousteen van die samelewing in, en die gesonde waardes soos ’n (Christelike) morele kode word hoog aangeslaan. Onder die Ou Wêreld se Christen-Demokratiese partye, soos in Duitsland, beteken dit onder meer dat die gereelde saam eet van gesinne aanprysenswaardig is. Gehaltetyd saam deur gesinne word hoog aangeslaan.

In die Nuwe Wêreld sal sake soos die tradisionele rol en karakter van huwelike en gesinne hoog aangeslaan word. Onder die invloed van charismatiese fundamentalisme sal die man se rol gewoonlik met dié van (hoë-) priester van die gesin gelykgestel word, wat uiteraard groepe soos Womens’ Libbers wat haar wortels in die liberalisme vind, die aapstuipe laat kry. Daar sal byvoorbeeld aangedring word om met die hoof van die huis (die man) oor besigheid te onderhandel en ooreenkomste te sluit, al is dit die vrou se sakeonderneming. Nie alle Nuwe Wêreldse CDP’s gaan egter so ver nie.

So hoog word gesinswaardes aangeslaan dat daar in lande soos Kanada ook periodiek partye tot stand kom wat nié tot die Christen-demokrasie behoort nie, maar hulle steeds in dié dampkring skaar of selfs gesinswaardes as naam vir hul party kies.

Dat die DA nog nie die begrip mooi onder die knie het nie, blyk daaruit dat ’n besluit ook aangeneem is om te vra dat BTW op die verspreiding van kondome opgehef word.

Binne die gesinswaarde-opstel is die ideaal dat ’n rondslapery buite die huwelik verkeerd is, trouens anti-normatief is, en dat die uitdeel van kondome allerlei negatiewe gevolge het.

Dit sal interessant wees om periodiek te bepaal hoe suiwer die DA gesinswaardes opneem, en of dit wat neerslag gaan vind op ’n liberale hibriede, of selfs ʼn karikatuur neerkom van dit wat normaalweg as gesinswaardes beskou word.

Albei begrippe, gesinswaardes en selfbeskikking, dui egter op tipiese kragte wat binne staatkundige bedelings aan die werk is. Die afstof van gesinswaardes is ’n tipiese teenreaksie op die morele verval wat in lande intree, met tipiese “kenmerke” soos dwelmgebruik (ook onder kinders), prostitusie (weereens met die intrek van kinders teen hul sin), leë kerke, ’n roekeloosheid oor die handhawing van wet en orde (soos die gesin wat wel kerk toe gaan, maar al wat verkeerswet oortree deur voet in die hoek kerk toe te jaag), toename in korrupsie en vele meer.

Selfbeskikking, of die geneigdheid tot sentralisering, is die tipiese gevolg van hoe sterk die middelpuntvliedende of middelpuntsoekende kragte teen mekaar opweeg. Hoe vrotter ʼn regering regeer en hoe meer minderheidsgroepe onmenswaardige behandeling ervaar, hoe sterker sal middelpuntvliedende kragte intree, en terme soos federalisme, korporatiewe federalisme en selfregering ter sprake kom. Dinge kan selfs so erg raak dat die internasionale reg onder bepaalde voorwaardes die reg op sesessie erken.

Hoewel die Grondwet in artikel 235 voorsiening maak vir selfbeskikking, sowel geografies as korporatief, wat nié op ras geskoei is nie, word dié begrip steeds deur die oorgrote meerderheid ontleders en kommentators wat toegang tot die media het as uiters onwenslik en selfs boos beskryf. Deur dit aan die ou beleid van apartheid te gaan gelykstel (daar is enorme verskille), word daar ’n regte Antjie Somers geskep en is die blote noem van selfbeskikking veronderstel om erg negatiewe reaksies op te rakel.

Dié keer het daar egter ’n glipsie gekom. Die Jacob Zuma-era het dinge so erg die kreeftegang laat gaan (gaan kyk maar na die land se agteruit boerdery op die geloofwaardigheidsindekse) dat die middelpuntvliedende kragte nie meer met strooipoppe en Antjie Somers bang gemaak kan word nie.

Voorts het hoogs beskaafde mense soos Carel Boshoff respek by baie begin afdwing, al word daar gereeld gehaas om te sê “al stem ek nie met hom saam nie”.

Voorts is dit ʼn volkeregtelik-erkende begrip. Ironies is dit dikwels die linkse partye wat die sterkste voorspraak maak vir selfbeskikking. Dit is ook die geval in Brittanje, waar die Skotse pro-onafhanklikheidsparty, die SNP, byna skoonskip in Skotland gemaak het tydens die pas afgelope Britse algemene verkiesing. Premier David Cameron het reeds die “grootste moontlike mate van selfregering” aan die Skotte beloof, net kort van soewereine onafhanklikheid. (Tog het ʼn kommentator in RSG se program, Kommentaar, gesê die Skotte het hulself nou erg geïsoleer.)

Die bykanse histerie waarmee sommige media en politieke ontleders op hierdie een enkele aspek van Solidariteit se krisisberaad reageer het, kan vertolk word as groot kommer dat die agteruitgang in die sentrale regering so erg geword het dat die middelpuntvliedende kragte nou soveel momentum opbou, dat die ontleders in wese relevansie kan verloor.

Want suiwer vakwetenskaplike beoordelings het sommer vanuit die staanspoor by die venster uitgewaai.

Dis nie die ontleders wat die werklikheid suiwerder probeer vakwetenskaplik beoordeel se “skuld” dat gesinswaardes en selfbeskikking ter sprake kom nie. Trouens, die links-liberale kommentators neem ewe lustig deel aan die uitwys van hoe die skroewe onder die Zuma-bewind een vir een losgeskud word en uitval. En oorsaak het eenvoudig gevolg.

Die feit van die saak is dat die oorsake van die middelpuntvliedende kragte nou so enorm sterk raak, dat dit erg negatief kan oorkook as dit nie deur verantwoordelike mense en instansies na die middelgrond bestuur word nie.

As die middelgrond nie sy rol opneem nie, gaan die middelpuntvliedende kragte die groter geheel wat nou deur links-liberale as onskendbaar en onaantasbaar voorgehou word, self in die gedrang laat kom.

Die verhaal word vertel van die boer wat ’n lastige bobbejaan vasgetrek het deur ’n gat net groot genoeg vir ’n bobbejaan se hand in die pampoen te sny. Die bobbejaan het sy hand ingesteek en die pitte beetgekry, maar toe is sy hand te groot om uit die gat te kry. Om die pitte te laat los om sy lewe te red het nie by hom opgekom nie.

En ja, aan albei kante van die ideologiese spektrum sit “bobbejane” met hul hande in die pampoengat. Aan die een kant word ’n eenheid nagestreef sonder om op die gevolge te reken om minderheidsgroepe swak te behandel. Solank die eenheid onaangetas bly, en die illusie volgehou word dat daar geen nodigheid vir vorme van selfbestuur is nie.

Aan die ander kant is daar diegene wat buite-om dit waarvoor die Grondwet en die volkereg voorsiening maak eise stel. Deur velkleur as norm te gebruik, is yslike teikens op die rug vasgeverf, en staan hulle sonder regsbegronding. Hulle word ook deur die ander kant van die politieke spektrum misbruik om diegene wat na die middelgrond streef, verdag te maak.

Hierdie debat wat met klein byltjies gesaai lê, kan ook nie vir altyd duur nie. Die fase van iets doen het nou aangebreek, en ja, uit sekere kringe sal daar ’n histerie losbars.

Die geheim is nou om die regte ding te vind om te doen en nie deur die histerie ontstig te word nie. Ook nie deur diegene wat die Solidariteit Beweging verdag probeer maak deur dit aan allerlei samesweringsteorieë te koppel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Alwyn Beetge ·

Aan die ander kant is daar diegene wat buite-om dit waarvoor die Grondwet en die volkereg voorsiening maak eise stel. Deur velkleur as norm te gebruik, is yslike teikens op die rug vasgeverf, en staan hulle sonder regsbegronding. Hulle word ook deur die ander kant van die politieke spektrum misbruik om diegene wat na die middelgrond streef, verdag te maak

Wens mense wil dit lees en verstaan

Bruno Stef ·

Herman dit is n pragtige uiteensetting van wat ons in die verlede met verkiesings as amptelike Konserwatiewe party beleid aanvaar het.Dr AP Treurnicht het by verskeie geleenthede gese Die Selfbeskikings Reg van die Afrikaner is nie onderhandelbaar nie.Die Nasionale Party het daarop aangedring dat Wigte en teenwigte die oplossing sal wees en vandag weet ons waar dit ons gebring het.Dit is net vir my duidelik dat Solidariteit dit beter met meer doeltreffendheid en praktiese uitvoerbaarheid benader.

Frik Lotz ·

Selfbeskikking het niks met aparheid, ver-regses, laer trek of sulke goed te doen nie. Selfbeskikking is n internasionaak aanvaarbare konsep en word wereldwyd toegepas. Die Afrikaner kan ook mos daai reg vir homself opeis. Ja, wat die DA betref, dié party weet self nie wat hul wil hê nie en is rigtingloos en leierloos. Ja, leierloos. Maimane is geen leier nie, net n grootprater.

Leon ·

Die gebiede wat regeer word deur die stamhoofde, is dit nie ook dieselfde as selfbeskikking nie? Verder hulle kry ook van ons belastingeld om hulle lewenswyses te handhaaf. Hoekom is dit verkeerd van ons om dit ook te wil hê?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.