Nuuskommentaar: Oproer by platinummyne en vrede in Sirië?

Argieffoto

Argieffoto

Die verloop van die res van die jaar word vandeesweek tot ‘n groot mate in verskillende dele van die wêreld bepaal. Tensy iets voorval begin die Siriese vredesamesprekings Woensdag in Switserland, en begin die vakbond Amcu Donderdag met ‘n staking by platinummyne. Die Wêreld-Ekonomiese Forum se jaarvergadering vind van 22 tot 25 Januarie in Davos, Switserland, plaas. In Kief, die Oekraïne, dreig die reuse betogings om tot ‘n burgeroorlog te ontaard. ‘n Radikale Moslemgroep van Daghestan dreg in ‘n video met ‘n “presentjie” vir Rusland as die Olimpiese Winterspele in Sotsji wel plaasvind.

Dit is nie die enigste sake van belang dié week nie, maar dat elkeen van hulle ‘n besliste vermoë het om die res van vanjaar se koers te bepaal is gewis.

Die beplande staking op die platinummyne, en Amcu se rol daarin, skets geen gerusstellende vooruitsigte nie. Die Farlam-kommissie werk steeds moeisaam om ‘n geheelbeeld van die Marikana-skietery te kry. Amcu het te kampe met elemente van afvalligheid, en sal alles in die stryd werp om sy eie beeld te herstel na dit wat hom so skouspelagtig ten koste van Cosatu se NUM laat groei het.

Die afgelope maand het die platinumprys van $1 320 tot $1 454 per ons gestyg. Die afgelope aantal jare was daar telkemale ‘n skerp styging tydens mynonrus in Suid-Afrika. Nou toon die wêreldekonomie tekens van kop optel, wat vermoedelik die vraag na platinum sal laat toeneem, maar of die verwagte prysstyging genoeg sal wees, veral op die lang termyn, om aan Amcu se salariseise te voldoen lyk nie waarskynlik nie.

En vreedsame stakings in Suid-Afrika blyk so skaars soos hoendertande te wees.

Dit is verkiesingsjaar, en boonop die ANC se twintigste jaar aan bewind, en die ANC is onder druk om sy beloftes van ook “ekonomiese vryheid” gestand te doen. Om oproepe op die stemvee te doen om hul verwagtinge af te skaal omdat werklikhede dit vereis, is nie hoog op die agenda nie – nie terwyl die ANC die uitgawes aan Nkandla en juis die premier van Noordwes se luukse vuurwa as nie buitensporig nie, aan die kiesers moet probeer verkwansel.

Soos diensleweringsbetogings neig stakings om aan die domino-effek blootgestel te wees. Boonop het vakbonde ook reeds geleer dat vakbonde wat hulle doof hou vir regeringsoproepe om met hul stakings te wag tot na gebeurtenisse soos die wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika en verkiesings, makliker hul sin kry. Dié wat ewe gehoorsaam wag, loop hulle dan in ‘n toe hand vas. Dus lyk dit of die stakingseisoen vanjaar heel waarskynlik voor die verkiesing ingeprop sal word.

Na vele terugslae lyk dit of die Siriese vredeskonferensie in Switserland Woensdag sal kan begin, maar die wêreld hou asem op omdat talle aspekte wat dit kan laat ontspoor nog voor dit begin, steeds aanwesig is.

Een van die vernaamste struikelblokke is dat die Siriese opposisiegroepe oor een aspek saamstem, en dit is dat pres. Bashar al-Assad nie deel van Sirië se toekoms kan wees nie. Trouens, daar is sterk aandrang dat hy moet bedank voor die samesprekings kan begin. Assad bly egter onwrikbaar dat hy nie gaan bedank nie.

‘n Tweede knelpunt is dat die sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-moon, Iran genooi het om aan die vredesamesprekings deel te neem. Die ander lande wat genooi is, is Nederland. België, Luxemburg, Australië, Bahrein, die Vatikaan, Griekeland, Meksiko en Suid-Korea.

Iran is ‘n bondgenoot van Assad, en die opposisiegroepe is wild dat dié land genooi is. Ban Ki-moon dobbel waarskynlik met die impak van die meer gematigde beeld wat Iran sedert die einde van verlede jaar onder sy nuwe president uitstraal, maar, of die wantroue teenoor Iran onder veral Midde-Oosterse lande genoegsaam gesus kon word, is twyfelagtig.

Die belangrikste opposisiekoalisie se vernaamste bondgenoot onder die deelnemende partye is waarskynlik Bahrein. Bahrein sal moontlik die stukrag van die Arabiese Bond, en die Bond van Islamitiese Lande agter hom hê – beide organisasies wat Assad reeds die koue skouer gegee het – in laasgenoemde geval weliswaar met die teenkanting van Iran.

Uit die keuse van deelnemende lande is dit duidelik dat Ban so ver moontlik wil voorkom dat die wêreld se groot moondhede die proses vir eie gewin wil kaap, maar dit is onafwendbaar dat die VSA, Rusland en China se invloed steeds baie sterk by die samesprekings sal wees.

Vanuit ‘n Westerse oogpunt is dit duidelik dat die weste deur Rusland en China uitoorlê is. Dié twee bondgenote van Assad het besef dat hoe langer gesloer sal word met die oplos van die Siriese krisis, hoe meer verskans word Assad se posisie. Uiteindelik is daar in Westerse koerante min of meer ‘n konsensus dat Assad deel van die oplossing is, selfs al word die stertjie gewoonlik bygevoeg dat dit ‘n ongelukkige waarheid is.

Rusland en China het waarskynlik die moontlikheid dat radikale Moslems die burgeroorlog sou kaap, beter as die weste “gelees”. Al Kaïda, en radikale organisasies met Al Kaïda-bande beveg nou die opposisiekoalisie net so hard as wat teen Assad geveg word. Verskeie Wes-Europese lande, veral België, het te kampe met jong Moslem-burgers wat na Sirië wegglip om teen Assad te gaan veg, en heelwat beland in die hande van Al-Kaïda se groepe.

Intussen het Assad ook strategies meer gematigd begin klink, soos sy aanbod vir die uitruil van gevangenes. Op die oog af werk sy regering saam met die internasionale gemeenskap om van chemiese wapens ontslae te raak.

Rusland en China se bondgenootskap met Assad kom egter ook teen ‘n prys. Na die “opbreek” van die Sowjet-Unie sluit die Russiese Federasie steeds verskeie “outonome” republieke met groot en selfs oorwegende Moslembevolkings in, waaronder Tsjetsnië en Daghestan die bekendste is. Hierdie gebiede is veral in die Kaukasus geleë, in die omgewing van Sotsji waar die Olimpiese Winterspele binnekort plaasvind. Radikale terreurgroepe uit hierdie area het reeds getoon dat hulle oor ‘n operasionele vermoë beskik tot in Moskou en St. Petersburg, en onlangs is altesaam 34 mense in twee selfmoordbomaanslae in die suidelike stad, Wolgograd, dood.

Ook China het ‘n Moslembevolking wat volgens berigte selfs groter onderdrukking as Christene beleef. Hierdie etniese Moslems is dikwels ten nouste verwant aan Moslem in buurlande in selfs so ver as Turkye. Ook hulle het die afgelope jaar verskeie opspraakwekkende terreuraanvalle geloods. China self probeer dit as nie iets besonders nie afmaak, maar kan lank nie meer dinge so doeltreffend agter die bamboesgordyn vir die media gesnoer hou nie.

Sirië self is ‘n staat met talle godsdienstige, etniese en ideologiese foutlyne wat sterk na buurlande deurloop. Mortiere land letterlik gereeld in Turkye en Libanon, Hamas het stryders na Sirië gestuur om die militêre ewewig in Assad se guns te swaai, Iran probeer sy deurvoerroete na sy bondgenoot, Hamas, in stand hou.

Israel hou uiteraard sake in Sirië fyn dop, maar is ook onder druk om nie self te veel betrokke te raak nie, omdat groter Israeli-betrokkenheid sake baie kan kompliseer.

Die wêreld se probleme gaan nié die week opgelos word nie, maar hoe dit aangespreek gaan word, gaan ‘n groot impak hê op hoe die res van die jaar gaan verloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

GawieM ·

Die land is baie vinnig besig om heeltemal ten gronde te gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.