Nuuskommentaar: Oproer téén, maar stem vir …

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: Werner Beukes / SAPA

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: Werner Beukes / SAPA

‘n Gemeenskap is drie maande lank sonder water na ‘n pyp gebars het, daar was ‘n betoging, en die polisie het minstens twee mense doodgeskiet… (Beeld se hoofartikel kan hier gelees word).

Skynbaar dink net Julius Malema die ANC gaan die verkiesing verloor – spesifiek omdat sy Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) die verkiesing (volgens hom) gaan wen.

Maar die peilings toon dat, hoewel die ANC ‘n duik in steun op die lyf loop, die party ná 20 jaar van nie juis die mees briljante regeerpoging nie, nog maklik die verkiesing gaan wen.

Die insident by Mothutlung is maar die jongste in ‘n bykans deurlopende reeks proteste oor swak dienslewering. Dikwels word die beginpunt aangedui as die dood van Andries Tatane by Ficksburg, met ‘n bloedspoor wat deur Marikana loop.

Word egter na die gewelddadige aspek sonder noodwendig sterftes gekyk, kom die spoor al langer aan, en is daar veel meer gevalle, ook met uitstaandes soos dié in Sasolburg en meer onlangs in Kaapstad. Trouens, daar is al verskeie navorsingstukke oor geskryf, en patrone ontleed soos tydperke van toenames en afnames, met die gemene deler dat dit neig om meer gewelddadig te word.

Onder pres. Jacob Zuma se bekende Davos-uitlatings is die een wat uitstaan dat dit wat in Suid-Afrika gebeur, ‘n algemene verskynsel in die demokrasieë wêreldwyd is, maar dat die media elders net nie daaroor berig nie. Zuma is reg in dié sin dat lande soos Brittanje wel periodiek gewelddadige betogings oplewer, en dat die polisie soms hardhandig optree, maar as griewe grondig genoeg is om sulke optredes te regverdig, rol die regering se kop gewoonlik in die volgende verkiesing.

Maar die diensleweringsbetogings wat dikwels soos domino’s oor die land spoel, is in wese ‘n Suid-Afrikaanse verskynsel, en dat hulle wat die luidste protes aanteken weer vir dieselfde regering stem – daai ene is maar so Suid-Afrikaans soos biltong en maroelamampoer.

Die situasie word gekompliseer deurdat arbeidsonrus boonop ook neig om dikwels ‘n gewelddadige element by te kry. Stakings deur radikale vakbonde wat sonder intimidasie en selfs erger verloop, is min of meer so skaars soos hoendertande. Zuma het in die parlement baie na daaraan gekom om ook hierdie “demokratiese reg” te verdedig.

Op die oomblik lyk dit egter of sake in die geledere van veral die radikale vakbondwese erg vloeibaar kan wees. Numsa se onttrekking van formele steun (en geld) van die ANC se verkiesingsveldtog gaan bepaald ‘n impak hê, veral etniese impak in die Oos-Kaap waar Numsa sterk staan. Die vakbond Amcu toon tekens van uitrafeling nadat dié vakbond eers ‘n strooptog van lede op die NUM uitgevoer het. Die NUM, tradisioneel ‘n Zuma-vesting, was tot die begin van verlede jaar nie net die grootste vakbond binne Cosatu nie, maar was ook Cosatu se ruggraat. Numsa het sedertdien daardie rol oorgeneem, en toe gedros. Die NUM is volgens aanduidings nou waarskynlik die derde grootste vakbond binne Cosatu.

‘n Peiling toon dat die ANC op die oomblik wel steun verloor het. Die Noord-Kaap is volgens die peiling nou binne die bereik van die DA, en saam met die steun wat Cope geniet, lyk dit baie waarskynlik dat die ANC die provinsie gaan verloor, veral as baie van sy ondersteuners uit protes van die stembus wegbly.

Op die oomblik wil dit uit ontledings voorkom asof die teenspoed wat die ANC by die stembus op die lyf kan loop nie so seer handel oor die party se gebrek aan ordentlike, skoon en verantwoordbare regeervermoë nie, maar weens ‘n persoonlike ongewildheid teenoor Zuma. Hierdie ongewildheid is egter steeds erg streekgebonde, met Zuma wat in KwaZulu-Natal, en veral in Mpumalanga, ‘n verkiesingsaanwins vir die ANC blyk te wees.

Malema, Suid-Afrika se eie klein Mugabe, se EFF geniet volgens peiling heelwat meer steun as Cope, die IVP, die UDM en Agang SA.

Voor die opkoms van Malema-fenomeen en Amcu, was daar vreemd soos dit mag klink, tog ‘n soort struktuur in die oproer en stakings. Binne die drieparty alliansie was daar altyd figure wat deeglik in die groter geheel ingebind is, wat ‘n soort beheer oor die algemene verloop kon uitoefen. Om een voorbeeld te noem – die Sasol-oproer kon eers met beloftes besweer word, en hierna kon die ANC sy beheer oor die afbakeningsraad uitoefen om te keer dat Sasolburg die spartelende Ngwate-munisipaliteit moes absorbeer. Dieselfde invloed het die DA-beheerde Midrand se lot min of meer verseël.

Dit is waarskynlik nog te vroeg om met sekerheid te sê, maar dit lyk al hoe meer of die toutjies waarmee die ANC ‘n mate van beheer oor die verloop kon uitoefen, deurgerafel raak. Malema teer nou lustig op die ANC se benadeelde stemvee. Amcu is van druk en invloed van die ANC geënsileer, en Numsa maak die rug styf. Die invloedryke Zwelinzima Vavi praat ook nie die ANC na nie.

Al toon peilings dat dr. Mamphela Ramphele en Agang nie die verwagte steun kon trek nie, die strooptog wat haar party op die swart intellektuele elite uitgevoer het tog ‘n baie sterk impak gelaat het. Hoe sterk die uiteindelike impak gaan wees, hang daarvan af of nog van hierdie mense, meestal akademici wie se posisies kwesbaar is, “uit die kas gaan kom” en hul steun openlik aan Agang gaan toesê.

Waarskynlik heeltemal onbedoeld, moet die impak van die Openbare Beskermer, adv. Thuli Madonsela, ook nie gering geskat word nie. Byna verslag na verslag maai onder Zuma se vernaamste kornuite soos Dinah Phule, en meer onlangs, Tina Joemat-Pettersson. Sy behou groot geloofwaardigheid, en wanneer haar finale verslag, soos verwag word, ‘n skoot bokhael op Zuma self afvuur, gaan die impak nie gering wees nie.

Elke oomblik wat die ANC langer Zuma as leier het, erodeer meer en meer aan die beheerbaarheid van die afvalligheid.

In die verlede kon die ANC binne ‘n taamlike kort tyd afvalligheid omkeer, soos om die rassekaart te speel. Dit is baie duidelik dat die ANC weer hierdie kaart speel. Maar dié keer, so lyk dit, gaan die rassekaart slegs beperkte invloed kan hê. Die rassekaart gaan Malema net so veel, indien nie meer nie, as die ANC bevoordeel. Agang gaan nie deur die rassekaart geërodeer word nie. Agang se grootste impak is egter dat dié party homself baie sterk gevestig het as die party wat oud-pres. Nelson Mandela se nalatenskap die suiwerste verteenwoordig. Dit erodeer die ANC se vermoë om “ter wille van Madiba” alle ander oorwegings links te laat en maar weer hul kruisies agter die ANC se naam te trek.

Cope het op die oog af sy groeipyne afgeskud, en kan na die verkiesing toe eerder sy posisie konsolideer as verder rysmier.  Die IVP het wel steun verloor, maar ‘n groot deel daarvan is na die NFP, wat nog tot die parlementêre stryd moet toetree.

Baie water gaan nog voor die verkiesing in die see loop, maar vir die eerste keer lyk dit of die insidente van onvrede met die ANC se regeervermoë ook ‘n impak op die verkiesing kan hê.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

william ·

Die gepeupel brand en breek alles af omdat hulle ontevrede is oor dienslewering. Maar dit is hulle wat die ANC keer op keer instem. Hoe dom kan n mens nie wees nie. Hulle besef nog nie dat hy sit met die oplossing in sy hand nie naamlik sy stemreg. Dis eenvoudig,stem hulle uit. Zuma maak hulle bang met die hel en tokkelosies en hulle glo dit. Ek is bevrees dit gaan nog lank neem vir die massas om te verstaan wat demokrasie nou eintlik is.

Nico ·

Die probleem is dat as die meerderheid agterkom dat die ANC niks vir hulle doen nie, gaan hulle nie na die DA of Agang se kant toe stem nie, maar na Malema. So dit gaan ons niks help nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.