Nuuskommentaar: Optimisme

vlag suid-afrika

Argieffoto

Opnames in Nederland en Suid-Afrika toon dat optimiste nou die meerderheidsgroep uitmaak. Dit hang van die diepgang daarvan af om tot beter gesondheid en groeivooruitsigte te lei.

 Aan die einde van gisteraand se RSG-program, Kommentaar, het Mari Harris, een van die paneellede en verbonde aan Ipsos, kortliks verwys na ’n opname wat daarop dui dat 52% Suid-Afrikaners nou optimisties is. Skriftelike bevestiging met meer besonderhede kan nog nie op die internet bekom word nie, en ’n potgooi van die program is ook nog nie beskikbaar nie.

Normaalweg sou hierdie yl gegewens nie gebruik word nie, maar in die lig van die belangrikheid daarvan, word dit in ’n breër konteks ontleed.

Die breër konteks word deur Nederland verskaf. Volgens die jongste verslag van die Nederlandse Sociaal en Cultureel Planbureau is meer as die helfte van die Nederlanders nou optimisties oor die toekoms. ’n Jaar gelede was nog net ’n derde van die land se bevolking optimisties. Die optimiste het tien jaar laas die botoon gevoer.

Die Buro weet nie hoekom daar  so ’n groot swaai was nie, of soos Trouw dit baie beskrywend stel: “SCP-onderzoeker Paul Dekker krabt zich erover achter de oren. ‘Heel eerlijk gezegd: we zijn er zelf ook nog niet uit hoe die sprong te verklaren is.’” (“’n Navorser van die Sociaal en Cultureel Planbureau, Paul Dekker, krap kop hieroor: ‘Om die waarheid te sê, ons weet nog nie hoe om die groot sprong te verklaar nie.’”)

In Suid-Afrika se geval is die ommeswaai waarskynlik maklik te verklaar; ná ’n dekade van waarskynlik die swakste president wat die land nog geken het, slaag pres. Cyril Ramaphosa se, soos dit deur ontleders genoem word, beeldbou-aksies nog.

Trouens, die optimisme herinner eerder aan ’n euforie onder ’n deel van die bevolking. Die manier waarop hy die beoogde grondroof sonder vergoeding aanbied, sou stellig die persentasie optimiste beduidend verminder.

Met die VN se onlangse vrystelling van die wêreldwye gelukkigheidsindeks blyk dit dat Suid-Afrika se posisie op dié indeks sedert 2014 erg begin afneem het. Op die jongste indeks beklee Suid-Afrika plek nommer 101 uit 155 lande.

(Lees meer hier, hier en hier. )

Die gelukkigheidsindeks is ’n verwikkelde dokument waar ’n magdom faktore soos die gehalte van gesondheidsorg alles verreken word. Dit is dus ’n veel meer empiriese verslag as opnames wat enkelvoudig iemand se vlak van optimisme sou meet.

Die VN se verslag word ook oor tydperke van drie jaar opgestel, en sluit dus die tydperk in voor Ramaphosa president geword het.

Die literatuur prys die voordele van optimisme aan. Lyste voordele wissel van vyf tot 45.

Die voordele sluit in dat positiewe mense se gesondheid neig om beter te wees as dié van pessimiste, geleenthede vir ’n beter toekoms, soos uitbreidings aan sakeondernemings, en om mislukkings in suksesse te omskep.

’n Euforie wat platval ná die gebeure, soos die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika, neig om tot post-euforiese trauma te lei.

Die Solidariteit Beweging se Plan B het met die bekendstelling ’n gees van optimisme onder vele Afrikaners tot gevolg gehad. Die rubriekskrywer, Max du Preez, het Solidariteit selfs daarvan beskuldig dat dit ’n staatskaping op die Afrikaner uitgevoer het.

Optimisme, gegrond op werklikheid en objektiwiteit, kan optimisme vir die Afrikaner en ander minderheidsgroepe bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Jerry ·

Ek wil bitter graag saam met jou stem tov die Afrikaner optimisme. Ek sien op hierdie platform egter geweldig baie paniek en negatiwiteit in Afrikaner kommentaar, veral tov onderwerpe wat die bedreiging van belange en geleenthede aanspreek. Mislukkings van Solidariteit en die forum blyk enige optimisme te laat verdwyn soos mis voor die son. Kom ons hoop dat hulle regtig aan die wenkant kan kom met plan B, want om so aan die verloorkant te bly demp Afrikaner optimisme.

Joe Hall ·

Jerry jy is klaarblyklik ‘n negatiewe siel wat jouself besig hou met allerlei negatiewe uitsprake oor Afrikaners en ons organisasies soos Solidariteit, Afriforum ens ens.
Negatiwiteit, in watter gedaante ookal, is uiteindelik van nul en gener waarde – vermorsing van tyd en ruimte.

Daar is baie erger dinge wat met ons voorvaders gebeur het. Ons het van hulle geleer dat selfs die moeilikste, gevaarlikste bedreigings oorkom kan word en dat daar altyd voor-in-die-wapad ‘n lig is, ene wat baie selde toe allie tyd ‘n aankomende trein was/is.

Die Jeremia’s soos die Jerry’s (toevallig?:-), was nog altyd tussen ons, maar hulle was/is nooit slim of sterk genoeg om ons “agtergeblewenes” van die spoor af te ruk nie. Daarom kon ons hierdie droewe land tsv ouens wie se naam met ‘n “J” begin, ontwikkel tot die beste, rykste, land in Subsahara Afrika.

Realiteite, getalle, geskiedenis, onmoontlike eise en verwagtinge asook terugslae kom langs die weg voor, maar ons kan aanhou en uithou soos ons voorouers ons geleer en gewys het.

Uiteindelik is die Jeremia’s en familie die verloorders wat nie die vreugde van sukses – veral na verliese en terugslae ken nie.

Groete en sterkte
Joe Hall

Walter ·

Die toename in optimisme in Nederland is baie maklik om te verduidelik.
‘n soemende ekonomie met groot groei in die arbeidsmark met baie nuwe werkgeleenthede. baie lae werkloosheid en goeie fasiliteite vir almal gelyk aan almal met ‘n goeie toekomsvooruitsig.

Eish ·

Optimisme onder die blanke minderheidsgroep is ek van mening word nie weerspieël in die 52% gelukkige Suid Afrikaners nie.
Meer as 600 000 blanke Afrikaners is verarm en die syfers groei met 7500 per jaar. Ek glo nie hul is heeltemal so gelukkig nie.
Boere leef in vrees vir plaasaanvalle en grondgryp sonder teenprestasie.
Wanneer ek met my een voet op n blok ys staan en die ander in die vuur, is dit n wilde bewering om te sê dat ek n aangename gemiddelde temperatuur van 50 grade ervaar terwyl ek vries en verbrand tegerlykertyd. Gegoedes sal uit die aard van die saak n selfsugtige en afsydige gelukkigheid openbaar gesetel in hul inkomste en veiligheid. Besighede raak in die knyp, boere vou, praat met enige bankbestuurder.
Ten opsigte van die meerderheid Suid Afrikaners waar grondgryp en dienste betogings asof op bevel eensklaps plaasvind, is ek ook nie so seker of die navorsing op hul van toepassing is nie.
Wat gebeur in die land, getuig nie van vreeslik oortuigende optimisme nie.
Die enigste bron van geluk, is dat ons Verlosser leef, die dood oorwinning het en weer terugkeer.

Paul ·

Geen mens kan opgewonde daaroor raak as jy soos ‘n padda stadig gekook word nie. Cyril is genadiglik nie korrup nie, maar dit klink my hy is weer ‘n uitmuntende kok en skroom nie om sy talent ten koste van die ‘paddas’ in te span nie.

Gerrit ·

Ek gaan dit in maklike terme beskryf , sou ek tien rand n maand verdien sal ek doodgaan van honger maar kry ek n dertig rand verhoging gaan ek optimities wees want ek verdien nou veertig rand , gaan dit my omstandighede verbeter nee ek gaan nogsteeds honger ly.Ons was gewoond aan n president wat n sluk als was nou het on n presedent met baie beloftes vir n sekere bevoorregte groep wat sy fortuin gemaak het deur n swart bemagtiger te wees vir groot maatskappye en die naiewe volkie wat nie veel nodig het om beindruk te word nie, agv die onbevoegde leiers en regering van voorheen dink ons is op die laaste deel van die pad na die beloofde land van melk en heuning.

Johan. H. ·

Statistiek kan gemanupuleer word hang af van wat jy die uitslae wil he, Persoonlik dink ek ons is in die laagste postiwityd in die geskiedenis,, Proof me wrong<, Ons weet waarom , Nou dink ek skielik aan penny sparrow en die tronkstraf ennetjie,, Donald Trump Bo~!!

Gemaskerde Sopbeen ·

As jy vir 10 jaar lank aan die swakste van swak blootgestel was is dit nie moeilik om optimisities te wees oor die kleinste sprankie hoop nie. Dis soos die kind wat opgewonde geraak het oor haar NUL uit TIEN……….want die meneer het haar NUL groter gemaak as al die ander kinders s’n.!!!!

Realis ·

“Fake news” of eerder fopnuus – optimisties oor wat?

Hansie slim ·

Mens probeer positief bly maar dis moeilik.
Gepraat van rasisme wanneer mense in die tronk beland, of beboet word maar aan die ander kant kan enige-iets gesê word en niks gebeur nie. Hoe kan so iets mens positief maak?
Moorde word gepleeg maar daar kom dadels van waar daar ‘n groot bohaai gemaak word as dit anders om is.
Mense se pensioen geld verdwyn, positief bly…?
Hoeveel voorbeelde nog..?
Ons moet net ernstig waak teen media sensasie!!!! Dit kan afbrekend wees.
Solank ongelykheid seëvier en gelykheid nie tel nie, is dit bitter moeilik om positief te bly, hoe graag mens ookal daarna uitsien!

Reguit ·

Hahahaha…. Wat ‘n belaglike spul liberale BOEL propaganda.

Koos ·

Seker al die ouens wat dink hulle gaan plase pasella kry wat so optimisties is!

Johan ·

Waar hulle daardie opnames kom weet nugter alleen. Almal kan duidelik sien en ervaar dat ons wittes diep bekommerd en negatief is. Dan is daar politieke leiers wat uitsprake maak wat haat en rassime aanwakker. Hoe kan mens onder sulke omstandighede optimisties wees.

Pietman ·

Ek het duidelik iets gemis langs die pad. Wat is die “Plan B” waarvan hier gepraat word en wat optimisme onder Afrikaners laar opvlam? Waar kan ek meer daaroor uitvind?

Gerhard ·

As ek die skrywes van die wat daarvan praat lees lyk dit iets in die lyn van druk jou kop in die naaste gat, werk harder, gee jou tiende aan organisasie-X wat dan so effens aan die probleem salwe, bid laat jy lam word en wag dan vir die wonderwerk wat enige oomblik uit die Hemel gaan val. As jy dit nie doen nie is jy of ongelowig of negatief. Wat beteken daar is soos vele kere in die Afrikaner se verlede geen plan nie. Dit is natuurlik ook geen probleem nie want die leiers sal jou gou daarop wys dat die Afrikaner baie kere voorheen geen plan gehad het nie maar dit oorleef het. Ek wonder of ons nog lewens oor het.

Hendrik ·

Gerhard ek dink jy som “Plan B” ongelooflik goed op. Aan die einde van die dag is ons maar net weer alleeen. Dit lyk of daar hierdie week weer net ‘n konferensie gaan wees…. en niks gaan weer gebeur.

Joe Hall ·

Gerhard
Siende dat jy oënskynlik skepties oor “Plan B” is, asook oor pratende slange, donkies en wonnirlikhede wat uit die lug mag val, kan jy ons spul liggelowiges dalk vertel wat ons te doen staan, voordat ons, ons koppe in die naaste gat loop druk.
Vertel asseblieftog vir aspirant kop-in-gat-drukkers hoe ongeveer 3 miljoen siele daarin kan slaag om 50 miljoen nie-kop-in-gat-drukkers se koppe te draai en om leefruimte vir kop-in-gat-drukkers te gun, sodat laasgenoemdes ook in hierdie droewe land kan oorleef.
O ja en meeste van ons agtergeblewe kop-in-gat-drukkers weet reeds dat ‘gesprekke’ en ‘gesprekke oor gesprekke’, oor die onregte wat in die naam van die National Democratic Revolution sal geskied, nie die spreekwoordelike hond se spreekwoordelik hare sal laat afval nie.
Alzo. Jelp tog!!!

John ·

sjoe, aggressie is nie sinoniem met optimisme nie. Om van Zuma ontslae te wees plaas ons nie eintlik op ‘n ander planeet nie. Die ANC gaan hom beskerm wat die boodskap van regdoen van die tafel sal vee. Gee tyd en kyk. Die gees en siel van die ANC is reeds besig om deur te skemer noudat Winnie gesterf het. Verkeerd en reg het in Afrika geen grenslyn nie. Om nou so opgewonde te wees oor Cyril sonder dat hy een woord gespreek het oor witregte, is so ‘n bietjie wensdenkery. Miskien is die pessimiste dalk eerder realiste wat die politiek betref. Wat is die glo plan-B van Solidariteit? Is dit die pak-die-wa-plan-na- (droomland). Breinspoeling werk nie by stoere Afrikaners nie… nie meer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.