Nuuskommentaar: Oranje, blanje blues vir Zuma

President Jacob Zuma aan die lag tydens ‘n vorige geleentheid in die Nasionale Vergadering. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Gaan die land of pres. Jacob Zuma Dinsdag die blues hê na afloop van die mosie van wantroue? Terwyl Zuma se draadjie baie skielik geknip kan word, is ’n neerlaag vir die kiesers nie so finaal nie, en kan die saak weer ’n draai in die howe gaan maak.

Die uitdrukking “Oranje, blanje, blues” verwys onder meer na Max du Preez se eertydse publikasie, die Vrye Weekblad, dan na ’n liedjie en verder na ’n skildery van Eugene Wicht wat die onsekerheid van minderheidsgroepe ná die 1994-verkiesing uitbeeld.

Die uitdrukking het in sekere kringe egter weer in die konteks van die mosie van wantroue wat Dinsdag op pres. Jacob Zuma wag, in omloop gekom.

As daar na die betekenis van die kleure gekyk word, is dit stellig heel gepas om oor die kleur oranje by die Nederlanders te gaan kers opsteek. Oranje is danksy die Huis van Oranje ’n baie sterk simboliese kleur in Nederland. Dit is eerstens ’n warm kleur, en dui onder meer op vriendskap, humor en optimisme. Dit is dinamies, energiek en is vrolik. Nog ander positiewe elemente word hieraan gekoppel.

Niks hiervan is werklik van toepassing op Zuma nie.

In die Bybel word wit met reinheid en heiligheid in verband gebring (Ps. 51: 7; Matt. 17: 2; Op. 3: 4). Ook dít is moeilik om met Zuma in verband gebring te word.

Dit is duidelik dat die werklike Zuma-verwysing in die “blues”-vervanging van die blou lê. Iemand wat die “blues” het, voel nie opgewek, energiek of optimisties nie. Hy voel eerder of hy depressie het, of hartseer is.

Kan dié simboliek op die dikvellige Zuma van toepassing gemaak word, hê-hê-hêê? Maar niemand kan twyfel dat feitlik die ganse land as gevolg van Zuma se optrede die blues het nie – daarvoor het rommelstatus en dreigemente van verdere afgraderings, die staatskaping en vele meer gesorg.

In die aanloop tot Dinsdag se mosie, word een van die omvattendste veldtogte geloods om druk op Zuma uit te oefen om van self die trekpas te vat en te loop. Dit sluit die grootste, of een van die grootste optogte in wat die land nog gesien het.

Wat Zuma egter die meeste die blues behoort te gee, is dat die beroepe op ’n suksesvolle mosie teen Zuma kom van mense en instansies wat veronderstel is om sy alliansievennote te wees. Cosatu en die SAKP het egter ’n beroep gedoen op LP’s om téén Zuma te stem. Dit sal veral interessant wees om te sien hoeveel van die SAKP-parlementslede, asook kabinetslede, sal waag om teen Zuma te stem.

Hier word byvoorbeeld aan ministers Blade Nzimande, Rob Davis en Ebrahim Patel gedink. En wat van die “eerste minister”, (minister in die presidensie) Jeff Radebe?

Trouens, die land het lanklaas so ’n totale aanslag beleef, en nog nooit tevore so ’n aanslag wat eintlik op een persoon fokus nie (hoewel besef word dat om dit behoorlik te bestuur, saam met die ANC se haas ongelooflike lomp hantering hiervan, die ANC fataal kan verniel). Dit het die bynaam van “nasionale dag van wantroue” gekry.

Die ANC het verskeie kanse gehad om die saak minder skadelik vir sy eie toekoms te hanteer. Omtrent al die opsies behels dat Zuma die trekpas moet kry. Die ANC sou byvoorbeeld veel minder skade gely het as die party vooraf met Zuma sou ooreenkom dat die parlementêre koukus wel vir hom sou stem, maar dat Zuma dan in die geheim instem om kort daarna self te bedank. Dit is egter nie Zuma se styl nie (en baie waarnemers sou sê dit is hoe Zuma die skynbaar onafwendbare tronkdeure probeer weghou).

Die ANC het op ’n styl van intimidasie van sy LP’s teruggeval, en dreig almal wat téén Zuma sou stem met dissiplinêre optrede. Dit beteken in wese dat hulle uit die ANC geskop kan word en so hul posisies as LP’s kan verloor. Die South Africa First Forum het egter gratis regshulp aan hierdie LP’s aangebied, ’n aanduiding dat die howe opgesoek kan word.

Die vraag is basies of die ANC-lede in hierdie  verband, en in die lig van die konstitusionele hof se uitspraak, teen LP’s kan optree wat ooreenkomstig hul gewete en kieserswil gestem het, eerder as in partybelang (wat dalk regstreeks teen kiesersbelange indruis).

Op Netwerk24 is dit soos volg opgesom: “Die speaker, Baleka Mbete, moet dus besluit watter prosedure (oop of geheim) die beste gaan wees om te verseker dat LP’s hul mag om die uitvoerende gesag verantwoordbaar te hou, die doeltreffendste uitoefen.” In die lig van die ANC se dreigemente is dit baie duidelik dat ’n oop stemming heelwat LP’s gaan verhinder om hul mag uit te oefen om die uitvoerende gesag verantwoordbaar te hou.

Sou Zuma die mosie oorleef, verdiep die hele land se blues – die ANC inkluis, want solank Zuma die septer swaai, sal die politieke klimaat waarbinne die ekonomie stabiliteit vir groei moet kry, nie kan realiseer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Met die klomp geld ” Murphy’s law.” Indien daar n kans is dat iets verkeerd kan gaan, sal dit. Die politieke ontleder, Mbeki, se siening van die aangeleentheid maak die meeste sin. Hy sit baie nader aan dié kampvuur as enigeen van ons. Ons moet ons maar regmaak vir n baie langer hoonlaggie van no 1. Ek dink as hy kaalvoet was, sou ons sy tone ook sien opkrul van lekkerte oor die uitkoms van die mosie.

Tiger ·

Hulle het blitsig van Mbeki ontslae geraak,waarom sukkel dit dan so om van Zuma ontslae te raak?Zuma kan nie eers in Mbeki se skaduwee staan nie!Myns insiens is hy die swakste staatshoof wat enige land nog gehad het.

Walter ·

Oranje lanje bleu is die 3 kleur van die ou Hollander vlag tusse 16/1700 die orange blanche bleu kom van france dit was hulle wat die drie kleur in die VOC tyd benoem het. Die drie kleur het verander na rooi wit blau en dis hoekom daar gereeld ook boe die vlag n oranje vaandel geplaas word. Oranje is die kleur van die Hollandse Koninklik huis Van Oranje Nassou.

Grassie ·

Zuma is nie slim nie en kan nie tel nie,maar hy is ‘n meester manipuleerder – ons het sy gelyke daarmee nog nie in hierdie land gesien nie. Ek glo hy sal vanoggend vir Mbete sê hoe daar gestem moet word. As hy seker is hy sal ‘n geheime stemming oorleef sal ‘n geheime stemming plaasvind, anders nie. Ek glo dat hy nie vandag in die hek sal duik nie en sterker en meer arrogant anderkant gaan uitkom. Ons het nog nie die einde van Zuma gesien nie – hef aan lê nog voor.
Trieste, Suid-Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.