Nuuskommentaar: Orde! Orde! Die moegoes is op ons

CaptureJulius Malema is uit die parlement gejaag, en het dié instelling verlaat gevolg deur sy raserige partygenote. Binne ‘n rekordtyd het hy en sy partygenote ‘n kleurvolle verskil aan die parlement gemaak – in kleredrag, neusdelwery voor die kameras – die skoenslanery volgens hul Sowjet-model wag seker nog (wanneer hulle weer na die parlement mag terugkeer).

Malema se sonde was om die ANC-regering weens die Marikana-skietery moordenaars te noem. Daar is gevoel hy loop die uitslag van die Farlam-kommissie vooruit, en dat sy uitsprake die kommissie onbehoorlik sal beïnvloed. Dis byna ondenkbaar dat die kommissie hom enigsins aan enige mening van Malema sal steur.

In die platinumgordel word woer-woer gespeel oor “ooreenkomste in beginsel” – met eerder die kenmerke van beginselloosheid om die staking van vyf maande te beëindig. Na berig word eis die Advanced Moegoe Catastrophic Union (AMCU) nou dat die stakers vir die halfjaar wat hulle nie gewerk het nie en die land se ekonomie oneindige skade berokken het, besoldig word. (Moegoe is volgens ‘n verklarende woordeboek iemand wie se gesonde oordeel hom in die steek laat. Dit is hierdie verklaring wat hier gebruik word, want die ander verklarings kan ‘n man liederlik in die sop laat beland).

Prof. Adam Habib se gepubliseerde uitsprake teen Afrikaanse universiteite – wat hy meen teen die gees van die grondwet indruis, loop erg onder kultuurleiers en analiste deur. Onder die kritiek tel ‘n rubriek in Die Burger deur dr. Leopold Scholtz, en ‘n artikel in Volksblad waar die FAK se prof. Danie Goosen standpunt teen Habib inneem.

Vandag antwoord pres. Jacob Zuma op die toesprake in die parlement waarin op sy staatsrede gereageer is. Die land hou duime vas dat die replieke inhoudelik meer verbandhoudend met die werklikheid sal wees as die futlose staatsrede self.

‘n Graderingsagentskap het die vergrote kabinet – of liewer die mense wat daarin aangestel is – as een van die redes gebruik vir die land se ekonomiese afgradering. Die fynskrif hiervan lees dat hoe groter die kabinet, hoe meer plek word daar vir “moegoes” gemaak.

In die praktyk sal elke mens die een of ander tyd ‘n moegoe wees. Die probleem kom daarby in as mense wat gewoonlik moegoes is, in bestuurs- en regeerposte beland. En ‘n regering wat dan nog “moegoes” as adviseurs aanstel …

Maar wie se skuld is dit dat daar soveel moegoes in die regeerampte is? Die spreekwoord lui immers dat die burgers in ‘n demokrasie die regering kry wat hulle verdien – of dit nou ‘n goeie regering is, of ‘n sirkus vol narre, of moegoes. Die duiwel was los toe ‘n spotprenttekenaar die kiesers as po%%^lle en die regering as narre uitgebeeld het.

Iemand wie se oordeel hom in die steek laat is egter nie al verklarende definisie vir moegoe nie. Dit word onder meer ook gebruik om ‘n gek of ‘n idioot te beskryf.

Laat ‘n mens die duim en hart vashou dat die meer beledigende definisie van moegoe nie dié land gaan rig nie. Want die parlement se reaksie op naamgeeëry tender sterk vir die tweede definisie. Malema het beswaar gemaak omdat dr. Mulder hom ‘n “arrogante jong man” genoem het. Thandi Modise het besluit Mulder moet die “jong man”-gedeelte terugtrek, maar die arrogante kan bly staan. Andile Mngxitama van die EFF het dr. Mulder ‘n dief genoem, wat hy moes terugtrek.

Dit herinner aan ‘n insident in die parlement toe Langenhoven gesê het die helfte van die lede is bobbejane. Hy is aangesê om dit terug te trek, waarop hy gesê het die helfte van die lede is nié bobbejane nie. Die term, “bobbejaan” het intussen ‘n rassistiese betekenis gekry, en daarom moet nou omsigtig te werk gegaan word oor wat die land se regeerders genoem word.

Daar is niks mee verkeerd dat daar bietjie afwisseling in die parlement kom nie. Besonders waardig was die instelling nooit werklik nie. Dis immers binne die parlement waar Johnny de Lange eerste teruggeslaan het en ‘n NP-LP binne-in die ANC ingemoker het. Dianne Kohler-Barnard het al teenspoed gekry oor gekruide taal wat sy gebruik het.

Baie van die agbares verdien werklik nie om as “agbare” aangespreek te word nie. Om deurgaans “agbare” met “moegoe” te vervang sal ook nie deug nie. Maar dit is die land se hoogste wetgewende liggaam, en die kiesers stuur mense nie parlement toe om te gaan loodswaai, hulle te wangedra en dikgevreet van hul mandaat te vergeet nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

HEVW ·

Nouja, ons kan humoristies wees en grappe maak, wat ekself geniet, maar die werklikheid is, ons sit met n masale tragedie wat niemand kan se hoe word ons daarvan verlos.

Danie ·

Malema is geen grap nie.Dis verseker.Mngxitama het in sy toespraak voorgestel dat die EFF saamspan met die ANC om n twee derde meerderheid te vorm om die grondwet te verander om die onteiening van plase makliker te maak.Swaar tye le voor.Saamstaan is al wat gaan help,en Solidariteit is die organisasie waar Afrikaners kan saamstaan en hulpbronne bymekaar bring.
Laat ons hoop die ANC span nie saam met die EFF nie,en self moet ons beginselvas bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.