Nuuskommentaar: Ore aansit met ‘goeie nuus’

Maroela Media se goeie nuus-afdeling.

Maroela Media se goeie nuus-afdeling.

Die media het te kampe met klagtes oor nuus wat dikwels slegte nuus is, maar dat die goeie nuus wat wel gepubliseer word, dikwels nie juis lesers trek nie. ’n Komplekse probleem is dat dit wat vir een persoon goeie nuus is, vir ’n ander baie slegte nuus kan wees. Die belangrike is dat ons ingelig oor die nuus moet wees om die verskynsel van “verdomming” wat skynbaar groei, hok te slaan.

“Ek koop nie meer koerant nie / luister nie meer die nuus nie want dis net moord en doodslag.” Dit is dikwels die verweer van iemand wat in ʼn geselskap ’n klomp kaf kwytgeraak het, en reggehelp is.

Die mensdom soek na goeie nuus. Maar te dikwels wys die elektroniese media, waar die gewildheid van berigte, artikels en rubrieke gemeet kan word, dat die meerderheid lesers juis die slegte nuus opsoek.

Die wegkoes van nuus omdat dit te veel ontstellende items bevat, het weer komplikasies soos ’n algemene “verdomming.” ʼn Goeie voorbeeld is mense wat steen en been oor ’n fout op hul munisipale rekening kla, en as hulle aangeraai word om hul raadslid daaroor te gaan spreek (hy kry immers in die reël ’n ruim vergoeding om raadslid te wees), wil die klaer weet wat vir ’n ding ’n raadslid is, of minstens wie die raadslid is. En dan het hy nogal in die vorige munisipale verkiesing vir daardie einste raadslid gestem!

Volstruispolitiek maak ons te maklik passasiers van onkunde op die lewenspad.

Ons het nuus nodig om ingeligte besluite in ons eie belang, en in belang van ons kinders, te neem.

Lodewijk Dros vra in Trouw of daar werklik iets soos goeie nuus is. Hy gebruik onder meer die voorbeeld uit 1973 toe ʼn Amerikaanse ekonoom in die tydskrif Freakonomics geskryf het die destyds afname in misdadigheid hou verband met die toename in aborsies. Hy het aangevoer dat die kanse goed is dat ’n ongewenste kind hom later tot misdadigheid sal wend. Hierdie stelling was en bly baie omstrede, onder meer omdat baie mense aborsies self as misdaad, naamlik moord, beskou.

Natuurlik is daar goeie nuus, en is dit goed as goeie nuus nuusprominensie verkry.

Maar moet dan nie die koerant wat dit aanbied gaan straf deur dit nie te koop nie.

Suid-Afrikaners het daagliks te make met ’n stryd om te bepaal of goeie nuus inderdaad goeie nuus is.

  • As pres. Jacob Zuma in die hof op sy baadjie kry, word dit ongekwalifiseerd as goeie nuus ervaar deur diegene wat al siek en sat is vir die skade wat Zuma aan die ekonomie en die land se beeld aanrig. Maar omdat Zuma aan sy pos klou, en toegelaat word om aan sy pos te klou, word so ’n streepsuiker in die hof later nie net vir die ANC skadelik nie, maar die hele land ly daaronder. Die verminderde waarde van die rand raak nie net die Zuma-ondersteuners nie, maar ook sy teenstanders.
  • As die Springbokke wen, is min of meer almal bly. Maar daardie blydskap is ook onbedoeld ’n mosie van ondersteuning aan die regering se beheptheid met rasgedrewe transformania, wat eintlik daarop neerkom dat middelmatigheid en ’n uitkringende geploeter aanvaarbaar bo nasionale trots en uitnemendheid is.
  • Baie van ons is bly oor hofoorwinnings wat die konsep van meertaligheid by enkele universiteite anker, maar ander ervaar die toepassing van meertaligheid as Afrikaanse taaldominansie, en daarom uitsluitend. Ongelukkig is daar vanuit sekere kringe ’n rowwe omgaan met die werklikheid wat die afetsing van wat nou eintlik goeie nuus is probeer verwarrend maak.
  • ʼn Kind slaag matriek met ongelooflike goeie punte, maar dit kan steeds slegte nuus wees as sy velkleur dwars in die pad staan daarvan om vir die studierigting waarvan hy gedroom het gekeur te word. Of hy kry die keuring, maar die nodige beurse of lenings bly weg weens sy ouers se velkleur.

Daar is ook “goeie nuus” wat die produk van propaganda is. Die feit dat Moody’s met sy onlangse kredietgradering nie Suid-Afrika se status tot rommelstatus afgegradeer het nie, is inderdaad ongekwalifiseerde goeie nuus. Maar regeringsgesinde media se doodse swye dat Moody’s Suid-Afrika se vooruitsigte van stabiel na negatief aangepas het, is baie gevaarlike volstruispolitiek wat kan boemerang.

Wees dankbaar vir goeie nuus, en gryp dit met ope arms aan. Neem kennis van die slegte om só die nodige paraatheid te verseker, maar om ook perspektief te kry dat die gras aan die anderkant van die draad nie noodwendig soveel groener as tuis is nie.

As gelowiges is ons nie maar fatalistiese passasiers deur die lewe nie, ons is rolspelers wat elkeen ’n bydrae tot ’n beter nalatenskap van ons kinders kan lewer, hoe gering ook al.

**Onthou dat jy altyd ‘n oordosis vol goeie nuus hier op Maroela Media kan kry. Besoek ons goeienuus-blad. – Red

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Theuns ·

Nou ‘Pra’Jy Herman. Jou vermoe om tussen die lyne te lees is uistekend. Ek wonder of daar ‘n planeetjie is tussen daardie groot groep planete wat so pas deur die Kepler Teleskoop geidentifiseer is, vir ons ouens wat Gatvol vir die ontstuitbare verdomming is?

johann cb ·

Baie dankie Herman, jy is so 100% in die kol dat die mense nie eens kommentaar lewer nie! Ons móét positief bly en ons algemene sienings aanpas ter wille van oorlewing en almal om ons. Kom ons sien die son skyn al reën dit.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.