Nuuskommentaar: Oscar en die Derde Wêreldoorlog

Argieffoto

Argieffoto

Daar kan geen twyfel wees nie. Die belangstelling van die Suid-Afrikaanse media is grootliks op die verhoor van Oscar Pistorius gerig. Die media oordeel dat die belangstelling onder die publiek die reuse, en eintlik ongekende, mediapoging regverdig. ‘n Groot deel van die media is geldelik onder druk, en iets wat groot getalle lesers en luisteraars verseker, is soos manna uit die hemel.

Tog is daar ‘n verskil van die mediabelangstelling as toe die Pistorius-sage aanvanklik op die toneel beland het. Toe het die internasionale media saam oor die saak oorboord gegaan. Op die oomblik is die internasionale media nog aan die stil kant oor die saak, en word veel eerder intensief gevolg en ontleed wat tussen Rusland en die Oekraïne aan die gebeur is.

Terme wat gebruik word, is dat die Koue Oorlog hervat is, of dat die kwessie die gevaar inhou om tot die Derde Wêreldoorlog te lei.

Wat ook al in die Oekraïne gebeur, die kanse is goed dat dit Suid-Afrika en elke burger veel meer gaan raak as wat die Pistorius-saak die burgers gaan raak waar dit seermaak – aan hul sakke.

Die komplekshede van die situasie in die Oekraïne is reeds deur Maroela onder die loep geneem. Leopold Scholtz het in Die Burger ook ‘n goeie uiteensetting verskaf.

Opsommend kan dit gestel word dat die Oekraïne, deur ‘n populêre volksopstand, van die pro-Russiese en uiters korrupte president ontslae geraak het wat na Rusland gevlug het. Die Europese Unie meen dat die afgesette president en sy kornuite altesaam sowat €5 miljard uit die Oekraïne se geldkas gestroop het, en so milddadig tot die land se ekonomiese krisis bygedra het. Buite die hoofstad Kiëf is die land se eie Nkandla – ‘n paleisagtige kompleks met die grootste prag en praal uitgedos, waarop die nuwe regering beslag gelê het.

Nie almal is egter ewe opgewonde oor die omwenteling nie. Veral aan die grens met Rusland woon heelwat etniese Russe en Oekraïners met ‘n lang geskiedenis van pro-Russies wees. Die fokus is egter nou veral op die Krim-skiereiland, wat sedert 1954 aan die Oekraïne behoort, maar steeds Rusland se belangrikste vlootbasis in die suide bevat, en waarvan byna 60% van die inwoners etniese Russe is. Dié gebied het ‘n spesiale status binne die Oekraïne geniet, met onder meer ‘n eie parlement.

Volgens die VSA het Russiese soldate nou vir alle praktiese doeleindes die Krim-skiereiland beset. Tot dusver, so lyk dit, was dit eintlik net die sowat 6 000 Russiese soldate wat aan die vlootbasis gekoppel was, wat ingespan is. Na berig word probeer die Oekraïne veilige deurtog vir sy eie soldate beding dat in drie basisse in die gebied vasgekeer is.

Onder kenners is die moontlikheid dat die kwessie nou ‘n groot gevaar inhou om tot ‘n Derde Wêreldoorlog te lei nie ter sprake nie. Die Koue oorlog, so lyk dit, het eintlik reeds begin.

Rusland self sê die land verkies om nie die term “oorlog” te gebruik vir dit wat nou aan die gang is nie. Die “versekering” word ook verskaf dat ‘n inval in die Oekraïne nie beplan word nie.

Die Weste, wat dit nog duidelik maak dat Westerse militêre ingryping nie beplan word nie, is egter reeds besig om maatreëls in te stel wat sterk aan die Koue Oorlog herinner.

– Europese Banke is reeds gevra om waaksaam te wees dat probeer sal word om die geplunderde geld uit die Oekraïne “skoon te was.”

– Die G7 (die G8 sonder Rusland) boikot die voorbereidingsvergadering vir die volgende G8 wat later vanjaar in Sotsji plaasvind. Die Olimpiese Winterspele het pas in Sotsji plaasgevind.

– Die Weste, veral by monde van die VSA, beloof “alles wat die Oekraïne nodig het om sy ekonomie te herstel” en maak dit duidelik dat die nodige rugsteun aan die IMF daarvoor gegee word. Bykans al voorwaarde is dat die oorgangsregering in die Oekraïne met die IMF om ‘n ronde tafel byeen moet kom.

– Rusland word met allerlei sanksies gedreig. Hoewel sanksies Rusland kan seer maak, sal dit veral Wes-Europa waarskynlik nog seerder maak, en Europa toon juis nou moeisame tekens van ekonomiese herstel. En dit is veral as Wes-Europa ekonomies geknou word, dat dit elke Suid-Afrikaner ten diepste (in sy sak) kan raak.

‘n Kwessie wat nou kwalik aandag geniet, is of ‘n Russiese oorname van die Krim tot ‘n eskalasie van internasionale terreur kan lei. Die Krim-Tatare, wat sowat 20 persent van die bevolking (ongeveer 400 000) uitmaak, is grootliks bitter gekant teen Russiese oorname. Hul geskiedenis met die Russe hou min aangename herinneringe in, en om weer volledig aan Russiese dominansie blootgestel te wees is onaanvaarbaar. Die Krim-Tatare is wel Westers in voorkoms en lewenswyse, maar hulle is Moslems. Daar woon baie Krim-Tatare in diaspora – die meeste in omringende Moslemgebiede, maar ook elders ter wêreld.

Die probleem is nie soseer dat die Krim-Tatare, selfs met die logistieke hulp van onder meer Tsjetsniese en Dagestanse Moslem-terroriste, en Krim-Tatare in diaspore, self tot terreur kan oorgaan nie, maar dat radikale Moslems wat reeds by internasionale terreur betrokke is, die kwessie as verskoning kan gebruik om hul eie terreurveldtogte te verskerp. In onder meer Europa, waar die kwessie van die Krim-Tatare ook al deur die Europese Parlement bespreek is, loop die simpatie vir die lot van hierdie mense dik.

Elders in die wêreld is ook gebeure wat ‘n veel groter impak op Suid-Afrika kan hê as die Pistorius-saak. Die betogings in Venezuela, ‘n groot olieproduserende land, eskaleer. Noord-Korea lanseer nou gereeld missiele.

Waarnemers meen El Nino kan later vanjaar terugkeer…

In Suid-Afrika is nog net twee maande oor voor die volgende verkiesing. ‘n Groot toets lê vir die media voor na aanleiding van die Potch-situasie waar die grense getoets word van gesonde joernalistieke standaarde en beginsels teenoor eie politieke agendas, en die impak daarvan op persvryheid.

Uiteindelik moet die publiek oordeel of hulle die nuus suiwer, objektief en van hoë gehalte wil hê.

Niemand sal egter betwis dat geen draaiboekskrywer beter fiksie vir ‘n sepie sou kon optower as die “werklikheidsepie” van Pistorius nie.

Die Pistorius-saak moet egter nie daartoe lei dat die publiek tot hul eie skade die oog afhaal van sake wat hulle ten diepste gaan raak nie – veral nie sake waaraan hulle self iets kan doen nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Madelaine ·

Wat my totaal verstom is dat daar n kanaal beskikbaar gestel word vir die Pistorius verhoor wat nou weer n media klug en frenzie gaan verooraak! Hoekom word daar nie 2 kanale beskikbaar gestel vir al die blankes wat daagliks so wreed aangeval en uitgemoor word nie, want 1 kanaal sal te min wees om voor te bly! Ek verstaan nie die prioritasie aspek van die media nie? Dis so asof hulle die heeltyd die aandag van die wereld in n ander rigting wil skuif, sodat hulle dit toegesmeer kan hou….wat sou die rede daarvoor wees? Daar moet sekere gesels bladsye gestig word net sodat ons n poging kan aanwend om die wereld te laat weet wat werklik in Suid Afrika aangaan. Daagliks vermoor een of ander lover sy ander helfte, maar dit regverdig nie vir my n kanaal van uitsending vir 1 persoon se daad nie. Daar is beslis n grootter prentjie wat dringende aandag verlang in die land as n 1 tot 1 geval. Dis maar my mening.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.