Nuuskommentaar: Oscar-saak toets nou ook regsbeginsels

Oscar Pistorius op 6 Mei 2014 in die hof Foto:  Mike Hutchings/Reuters/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op 6 Mei 2014 in die hof Foto: Mike Hutchings/Reuters/Pool (SAPA)

Regter Thokozile Masipa se uitspraak in die opspraakwekkende Oscar Pistorius-moordverhoor is nog nie volledig gelewer nie, of nuwe fronte van omstredenheid is reeds geopen. Die hoof-brandpunt wentel om twee Latynse woorde – dolus eventualis, of te wel, verminderde aanspreeklikheid.

Tot en met die omtrent ewe opspraakwekkende saak van die Reitz-vier het die gewone Jan Publiek waarskynlik nog nooit van hierdie uitdrukking gehoor nie. Die Bloemfonteinse hooflanddros wat die saak verhoor het blykbaar ook nie, want hy het die vier gestraf asof daar (in ooreenkoms met die staat) geen verminderde aanspreeklikheid was nie, en boonop die vier nog gaan vonnis vir iets waarvan hulle nie aangekla is nie na die staat toegegee het dat die “urine” wat die skoonmakers “moes” drink, eintlik Oros was. Die Appèlhof het die landdros goed geroskam en die vonnisse aansienlik versag.

Oscar is nou onskuldig bevind aan moord na die regter regskenners laat kopkrap het oor haar uitleg van die beginsel van dolus eventualis.

Die appèlhof het reeds oor die uitleg van dolus directus, dolus indirectus en dolus eventualis beslis, en in die geval van eventualis bevind dat dit ʼn buigsame begrip is wat wissel van grensend aan nalatigheid, tot grensend aan directus – dit wil sê waar die moordenaar doelbewus daarop ingestel was en dus die opset tot moord gehad het.

Die grens tussen moord en strafbare manslag is waar die beskuldigde selfs subjektief voorsien het dat sy daad tot die dood van die slagoffer kon lei, maar nogtans met die daad voortgegaan het.

ʼn Goeie onlangse voorbeeld uit ons regspraak is die geval van ’n taxibestuurder, Jacob Humphreys, wat met sy taxi vol skoolkinders by ’n spooroorgang by die motors wat reeds vir die aankomende trein gewag het, verbygejaag het, en tot die dood van tien kinders gelei het. Hoewel hy nie die regstreekse opset gehad het om sy passasiers te vermoor nie, is hy steeds weens die roekelose aard van sy optrede op tien aanklagte van moord skuldig bevind en twintig jaar tronk toe gestuur. Die regter het boonop verlof tot appèl geweier. In die uitspraak word dit duidelik gestel dolus eventualis het voortgespruit uit die roekeloosheid van die optrede.

In die Oscar-geval het regter Masipa egter bevind dat atleet nalatig was (en dus nie roekeloos nie, of andersins bewustelik genoeg om volgens hierdie beginsel aan moord skuldig te wees nie). Nie alle regsgeleerdes stem saam nie, en dit lyk in dié stadium of die staat gaan appelleer om te bepaal of die regter inderdaad buite die regspresedent van die appèlhof hieroor beweeg het. Die regter het self hiertoe bygedra deur onder meer te vra: “Would a reasonable person in the same circumstances as the accused have foreseen the possibility that if he fired four shots at the toilet that whoever was behind the toilet might be struck by the bullets and die as a result? The answer is yes.” (Uit die Christian Science Monitor). Sy het voorts bevind Oscar het “oorhaastig” opgetree en dat hy buitensporige geweld gebruik het.

Hoewel ander regters heel moontlik ook tot die gevolgtrekking kom dat dit nie moord nie maar eerder strafbare manslag was (die uitspraak wat vandag verwag word), is dit onwaarskynlik dat ’n ander regter dieselfde regsargumente sou volg.

Die mate waaronder sy skynbaar eerbare staatsgetuies gestriem het, sal waarskynlik ook as ’n beginselsaak appèlhof toe geneem moet word om te voorkom dat eerbare mense in die toekoms tou in die bek raak om hul getuienis te gaan lewer.

Intussen gons dit nog oor die saak van die twee Kovsies wat onskuldig bevind is na ’n onderonsie met ʼn swart student. Vroeër het die Menseregtekommissie, wie se eie woordvoerder die voorval voorheen as ’n voorbeeld van rassisme aan die media voorgehou het, bevind dat dit nie ’n rassevoorval was nie. Dit is veral die wyse waarop die universiteit teen hulle opgetree het, onder meer deur hulle te skors en die rektor na hulle as “gewese Kovsies” verwys het, wat die grense van reg en geregtigheid toets. Weens Kovsies se skynbare beleid van ondeursigtigheid – sodat hulle hieroor reeds deur die persombudsman gestriem is – is daar nog geen duidelikheid oor watter tipe ondersoek en proses gevolg is om hulle te skors nie (al het die rektor nou die juweeltjie daaraan toegevoeg dat dit vir hul eie veiligheid was). Omdat geregtigheid nie gesien is om te geskied nie, bestaan by die publiek die persepsie dat dit ’n boendoehofproses was. Die uitkoms dui immers daarop. Volksblad het selfs, waarskynlik na goeie regsadvies ingewin is, ’n brief gepubliseer waarin die rektor regstreeks van rassisme beskuldig word.

Ook hierdie saak kan duidelik nie hier gelaat word nie. Dit is duidelik dat die universiteitsraad nou vinger sal moet trek, soos die konvokasie reeds probeer doen het, om ’n liederlike ontsporing te voorkom. ’n Universiteit met ʼn gerespekteerde regsfakulteit kan nie die beeld kry van ’n sirkus wat deur ’n nar gelei word nie.

Voorts sal Kovsies moet besin oor regsaanspreeklikheid as sy woordvoerders klakkeloos die bestuur (rektor) napraat wanneer dit wat van bo kom nie suiwer is nie, en die woordvoerders in die posisie van persoonlike aanspreeklikheid plaas omdat hulle in wese onwettige opdragte dolus eventualis uitvoer. Kortom, van Kovsies se mediaverklarings oor die onlangse geval kan self die onderwerpe van regsoptrede word.

Boonop volg hierdie gebeure kort na die grondwethof se uitspraak in die Renate Barnardsaak. Oor hierdie uitspraak skryf dr. Leopold Scholtz vanoggend in Die Burger onder die veelbetekenende opskrif: “Uitspraak ramp vir demokrasie.” Hy motiveer sy mening goed. Oor dieselfde saak het mnr. Dave Steward, hoof van die FW de Klerkstigting (wat die Sentrum vir Grondwetlike Regte insluit) gesê dat dit in stryd is met die nasionale vredesakkoord. Die akkoord het weer die grondwetlike beginsels gebaar wat, al is dit as konvensie, in die grondwet behoort voort te leef.

Niemand kan die buitelandse joernaliste wat nou in die land vir die Oscar-uitspraak is, verkwalik as hulle indrukke van ʼn piesangrepubliek kry nie. De Standaard gebruik ‘n gesindikateerde verslag om te skryf die regter het die saak “kort na ’n uitgerekte etenspouse verdaag” – nie goed vir ’n land wat pas op die WEF se mededingingsindeks verder teruggesak het nie. Ook ander soek allerlei motiewe vir die skielike verdaging.

Terselfdertyd skryf pres. Jacob Zuma (wie se beeld oorsee aan flarde is) ’n brief aan die Openbare Beskermer waarin hy min of meer haar grondwetlike magte uitdaag.

Die ANC onderskep ’n gesamentlike opposisiepoging om van die speaker ontslae te raak – iemand wat teen internasionale demokratiese konvensie in nog voorsitter van die ANC is – en dit in haar speakersamp laat geld. Sommer so terloops noem Die Burger in ’n hoofartikel dat sy op ʼn tyd haar rybewys gekoop het.

Dit alles lekker skietgoed vir kundige joernaliste wat iets soek om hulle tydens “uitgerekte etenspouses” en na vroeë verdagings besig te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

henk ·

ek stel voor daardie “kundige joernaliste” spandeer elke uitgerekte etenspouse agter die dik boeke wat deur verskeie hoogs gerespekteerde opgestel is en bestudeer alle regsaspekte deeglik voordat hulle net links en regs kommentaar lewer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.