Nuuskommentaar: Ou SA vlag op ‘massamoordenaar’ se baadjie

Dylann Roof in ʼn ongedateerde foto op Facebook. Hy het ʼn baadjie aan met vlae van apartheid-era Suid-Afrika en die voormalige Rhodesië (nou Zimbabwe). Foto: Dylann Roof, Facebook

Dylann Roof in ʼn ongedateerde foto op Facebook. Hy het ʼn baadjie aan met vlae van apartheid-era Suid-Afrika en die voormalige Rhodesië (nou Zimbabwe). Foto: Dylann Roof, Facebook

Die 21-jarige Dylann Storm Roof het die wêreld regop laat sit toe hy glo in ’n tradisieryke Afro-Amerikaanse kerk op die mense teenwoordig losgebrand, en nege doodgeskiet het. Na berig word, het hy gehoop dat sy daad tot ’n rasse-oorlog tussen wit en swart sou lei.

Die vreemde verskynsel is dat hy voordat hy glo begin skiet het, ongeveer ’n uur in die kerk was en aan die verrigtinge meegedoen het. Niemand word op grond van ras uit die kerk weggewys nie. Tydens die skietery het hy glo, byna apologeties, aan ’n oorlewende gesê hy moet dit doen.

Volgens mediaprofiele van Roof het hy geglo swart mense is besig om die wêreld oor te neem, en dat swart mense geen goeie bedoelings met wit mense het nie. Volgens een berig was ’n familielid van Roof glo die slagoffer van ’n swart-teen-wit-aanval.

Maar in plaas van ’n burgeroorlog het die gemeente en sy vertakkings die olyftak uitgehou, en reeds vir Roof vergeef vir sy beweerde grudaad. Die buitelandse media, wat geen simpatie met sy rasse-idees het nie, en hom as wit-meerderwaardige beskryf, meen ook oor die algemeen dat hy nog onvolwasse was, verwys gereeld na hom as ’n seun, en is oortuig daarvan dat hy geestesiek is. Die tyd sal leer.

Maar in hierdie stadium loop die Afrikaner die gevaar om die groot verloorder te wees – al het Roof so ver bekend geen Suid-Afrikaanse verbintenis gehad nie. ’n Foto het in omloop gekom waarop hy afbeeldings van die ou Suid-Afrikaanse en Rhodesiese vlae op sy hemp het.

Hoe reageer Afrikaners hierop?

Daar is heelwat konteks. Roof is ook al gefotografeer waar afbeeldings van die ou Konfederale vlag voorkom. In sommige suidelike state is die ou Konfederale vlag gewild as agtergrond vir nommerplate, en dit gaan blykbaar nou in Texas verbied word. In veral swart geledere is daar gereeld ongelukkigheid oor Konfederale simbole wat volgens hulle meer eer kry as wat dit verdien. Maroela Media het ook reeds in ’n nuuskommentaar hieroor geskryf. By die mense wat sentiment in die simbole het, geld baie ander redes as dit wat by sommige weersin veroorsaak, naamlik die stryd om die behoud van slawerny.

Gegewe Roof se uitdruklike rassesentimente is dit egter duidelik dat sy “verbintenis” met Konfederale simbole min te make het met heroïese veldslae en briljante militêre maneuvers teen ’n noordelike oormag wat hul lewenswyse op die suide wou afdwing. Hy hét diepgewortelde rassesentimente.

En selfs met die mees kritiese beoordeling van apartheid kan dit nie op dieselfde vlak as slawerny geplaas word nie.

Roof se idee dat hy ’n band met die ou Suid-Afrika deel, is dus misplaas.

Roof is ook nie die eerste persoon wat glo ’n massaslagting op grond van etniese herkoms gepleeg het nie. In die eietydse geskiedenis was daar die geval van die Noorweër, Anders Breivik. Breivik se varkies was klaarblyklik ook nie almal op hok nie.

In Suid-Afrika het ons die gevalle van die Wit Wolf en Kaalvoet Thysie beleef, maar die voorval met die sterkste ooreenkoms met Roof se optrede was die PAC-aanval op die St. Jameskerk in Kaapstad waartydens 11 kerkgangers dood en 58 gewond is. As een van die kerkgangers nie begin terugskiet het nie, sou die slagting waarskynlik baie erger gewees het omdat een van die aanvallers nog vier petrolbomme ook moes gooi, maar saam met sy makkers die hasepad gekies het.

Die Afrikaner stuur juis nou via onder meer AfriForum en Solidariteit ’n internasionaliseringsaksie van stapel om enersyds die beeld van die Afrikaner in die buiteland te verbeter, en andersyds die ANC te ontmasker vir die rasbenepe instelling wat dit is, wat onder meer plaasaanvalle, by monde van die vorige minister van polisie, as “goedkoop propaganda” beskryf. Geleenthede duik op, soos buitelandse joernaliste wat indiepte-artikels kom skryf, en dokumentêre rolprente wat buitelandse mediahuise maak.

Wonderlike geleenthede, maar ongelukkig ook met die klein jakkalsies wat in die proses spreekbeurt kry en enorme skade aanrig, soos om te gaan ontken dat Hitler massamoord teen die Jode gepleeg het.

Soms is dit moeilik. Pas het ’n boek, Minderheid in eigen land, in Nederland verskyn. Die skrywer is ’n Nederlandse parlementslid, en hy gebruik 2 000 voetnote in sy boek van meer as 500 bladsye om onder meer die ANC erg te looi, ook die Nederlandse Anti-apartheidsbeweging te verguis, en oplaas ’n doemprofeet-scenario oor Nederland en Europa uit te spreek oor die gevolge van die invloei van vreemdelinge.

Die “probleem” is dat die skrywer, Martin Bosma, lid van Geert Wilders se PVV is, en ook dat sy boek nie altyd vreeslik akkuraat met die waarheid omgaan nie. Wilders self het Bosma as “Boerebehep” gekritiseer. In ’n nuwe artikel in Trouw word Bosma daarvan beskuldig dat hy Moslems “opstel” om die teiken van diskriminasie (in Nederland) te word. Ook die skrywer – Leo Lucassen, direkteur van navorsing van die Internationaal Instituut voor Sociale Geschiedenis en hoogleraar aan die Universiteit Leiden – wys op feitefoute wat Bosma maak.

Hierdie soort gebeure toon eenvoudig aan hoe ’n groot taak die Afrikaner nog het om hom in sy korrekte konteks en beeltenis in die wêreld te bemark. Ja, pres. Jacob Zuma en sy regering maak dit nou “maklik” met hul sirkusagtige gedrag, maar op die oomblik wen die Afrikaner nie in gelyke mate simpatie en begrip nie.

En hierin het ons elkeen ’n baie belangrike rol. Baie mense het penvriende en familie oorsee, en kan via die internet as ambassadeurs optree. Van Maroela Media se nuuskommentare is al deur enkelinge en op eie inisiatief vertaal en via die internet na die buiteland versprei.

Ons moet net versigtig wees dat ons ons nie met die semels meng nie. Met sommige vriende het ’n mens nie nog vyande ook nodig nie.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Barend ·

Miskien moet julle eers julle feite agter mekaar kry die foto was gephoto shop. Of speel julle in die marxistiese liberale se kraal? Of is dit nou weer ‘n broedersbond bemarkings foefie?

Herman Toerien ·

Volgens die jongste inligting tot my beskikking is die foto nie ge-photoshop nie. Ek dink jy het ouer inligting tot jou beskikking

NICO ·

Ek het ook ‘n aanlyn berig gelees wat se die vlae is ge photoshop na dit van sy FB profiel gelaai is. Oorspronklike was glo ‘n republikeinse embleem. Nog nie ‘n latere berig gesien wat dit weerle nie?

Joe64 ·

Ah het hom: Die ou vlag verwys onder andere na dis sing van die stem deur sekere bekendes. Die gebruik hier natuurlik om so veel as moontlik propaganda daaruit te put om sodoende die feite te verberg en skade te veroorsaak waar dit dalk die sak sal raak. Die bedreiging wat hier uitgebuit word sal so ver uitgebuit word as wat moontlik is vir eie gewin.
Die oorspronklike foto soos nou op verskeie web blaaie nou dui aan dat die embleem wat vervang is op die baaitjie aan Obama se verkiesings veldtog behoort!.

Ampie ·

Artikel is erg deurmekaar en spring nogal rond. Eers gaan dit Roof en dan oor ‘n Nederlander wat ‘n boek skryf, waarin sy “probleem” is dat hy “Boerebehep” is. Wat die twee met mekaar te doen het, weet nugter. Verder weet ek van Barend Strydom se menseslagting (Wit Wolf), maar is nie bekend met Kaalvoet Thysie s’n nie. Hy is aangehou vir moord op Johan Heyns, maar vrygespreek. Daar was ook wilde, ongegronde bewerings destyds in naspers oor hom. Dis al. Miskien kan die skrywer ons meer hieroor inlig. Ek kan ook nie eintlik die doel van die artikel insien nie. Roof het mense na bewering geskiet, dit het niks met SA te doen nie, die PAC het kerkgangers gedood (tegnies Apla). My voorstel sal wees dat artikel op een storie fokus en wel een of ander gevolgtrekking moet vertoon. Iets soos rassekonflik is nie tot VSA beperk nie; hier by ons het dit al baie gebeur bv Strijdomplein, Tempe; dit gebeur ook tydens plaasaanvalle; ons (Afrikaners) moet hierdie aan groot klok hang en meer mense “Boerebehep” kry, of so iets.

Herman Toerien ·

Kaalvoet Thysie, of De Wet Kritzinger, is in Mei 2003 drie keer lewengslange tronkstraf opgelê weens die skietdood van drie mense op ‘n bus. Lees gerus die media-argiewe uit die tyd. Die skietery self het in 2000 plaasgevind. Maroela het reeds nuuskommentare oor al die onderwerpe wat jy voorstel geskryf.

Ampie ·

Herman, ek dink jy mis my punt oor die gevolgtrekking. Nietemin, De Wet Kritzinger is nie Kaalvoet Thysie nie. Kaalvoet Thysie is ‘n ex-Reccie, Matthys (Thys) de Villiers. Lees weer die storie oor Johan Heyns.

Kobus Smit ·

Jou inligting is verkeerd. Die foto was gedokter. Jou nuwe inligting is ook verkeerd.

Herman Toerien ·

As die foto’s ge-photoshop is kon dit eintlik net deur Roof self gedoen gewees het – die foto’s is van sy Facebookprofiele af gekry. Die kwessie of dit ge-photoshop is is kwalik die punt – daar is verskeie ander rasgedrewe instansies wat veral in die jongste tyd, bv in die VSA en Brittanje, die ou SA-vlag vir hul saak begin gebruik. Dit plaas ‘n teiken op die Afrikaner se rug en dis waaroor die rubriek handel.

Grotman ·

Ge photoshop of nie ge photoshop! Dis nou die vraag, maar wat is nou eintlik die werklike antwoord… Piet se so, Gert se so en Sarie se weer so… Nee kerels julle verwar my nou erg. Vergeet maar van die antwoord, ek gaan liewer oor na die volgend onderwerp.

Nico ·

As die foto gedokter is, is dit goed, behalwe dat ‘n paar miljoen mense dit klaar gesien het en klaar hul negatiewe persepsies van die ou SA gemaak het. Die boodskap van die artikel, vir die van julle wat dit nie verstaan nie, is dat so ding ongelukkig net slegte gevolge vir die Afrikaner het.

Se Maar Net ·

So asof ons land nie genoeg probleme het nie!! Dan word dit ook op ons
bord gelaai.

Ghost ·

Wat het die ou SA vlag nou met die moord uit te waai. Ek het n ou landsvlag, maar dit beteken nie ek is n moordenaar ens nie.

Johan v H ·

As jy kyk hoe ver die Rand weer veld verloor het ,( teen oor bv die ponp )na die debakel oor die Sudan se presedent weet ek nie of die ou SA vlag op n rasus in n ander land S A se grootste probleem is noe

Cathy Kotze ·

Dylann Roof het onbeskryflike skade gedoen aan die Afrikaner se reputasie. Daar het weereens lang berigte in al die koerante verskyn oor ons vermeende rassisme. Skielik was die ou Rhodesië ook slegter as Mugabe se Zimbabwe.

Ek het probeer wal gooi en in kommentaar geskryf dat die ou Suid-Afrikaaanse vlag al sedert 1928 bestaan. Ek het verduidelik dat swart en with trots onder daardie vaandel geveg het in die Tweede Wêreld oorlog sowels as in die grensoorlog.

Ek het ook geskryf dat daardie vlag net so min vir apartheid staan as wat die huidige een vir geweld, korrupsie, xenofobia en verkragting staan.

Nie dat dit veel gehelp het nie…

Peet Schabort ·

Daar is nie ‘n maklike manier om ‘n rasgedrewe- en vooraf geprogrammeerde kop teen ons wittes in SA te kry om te kan onderskei tussen die ware- en vredeliewende Afrikaner en die moeilikheidmakers. Dis lg. wat die dr*l in die drinkwater is en veroorsaak dat die gematigdes ook besig is om hul geduld te verloor met die uitlokkende houding teenoor ons. En dit is presies waaarteen ons moet waak. Dis egter ‘n moeilike situasie as daar teenoor jou as witte rassisties opgetree word want daar bestaan mos nie so-iets. Dis mos ALTYD wit teenoor swart.
Ek soek nog steeds na ‘n rassistiese woord wat ek kan gebruik teen ‘n witte.
Selfs net een woord asb. wat wetlik erken word en nie mag gebruik word.

Nico Strydom ·

Regstelling: Kaalvoet Thysie se regte naam is Mathys de Villiers, terwyl dit De Wet Kritzinger was wat aan die busskietery skuldig bevind is. Die verwarring het ontstaan deurdat van die bronne na De Wet Kritzinger as, alias Kaalvoet Thysie verwys. Die skrywer vra opreg om verskoning.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.