Nuuskommentaar: Outisme – die eenderse andersheid

Argieffoto: Pixabay

Dit is vandag internasionale outisme-bewusmakingsdag, wat op sy beurt deel is van die internasionale outismemaand. Outisme is ’n toestand wat vinnig toeneem, hetsy deur de novo-mutasies of deur oorerwing.

Elke jaar neem die aantal outismegevalle toe. In Amerika is daar aan die begin van die eeu beraam dat een uit elke 150 babas outisme sou hê. In 2004 was dit een uit elke 125, en daarna 1 uit 110 in 2006, 1 uit 88 in 2008, 1 uit 68 in 2010 en 1 in 59 in 2014. Toe is voorspel dat dit teen 2020 vinniger as ooit sou toeneem. Nog ’n aanduiding van die toename is dat dit in 1991 net ses uit elke 10 000 geboortes was, teenoor 100 uit elke 10 000 geboortes teen 2009. Vier keer meer seuns ontwikkel outisme as dogters.

Soos nou met Covid-19 het ontkenners ook verwarring gesaai en prioriteite valslik in rigtings laat draai. ’n Britse wetenskaplike wat “bereken” het dat outisme nie werklik proporsioneel toeneem nie, was selfs ’n spesiale gas in Suid-Afrika, en is landwyd geneem om dié boodskap te verkondig. Dit het egter gou geblyk vals te wees deurdat mense en instansies wat by outisme betrokke is, weldra besef het as daar op haar aannames gewerk word, sou daar kort voor lank ’n tekort aan skole wees. Of liewer, dat die bestaande tekorte aan onderwysgeriewe vir outisme nog groter sou wees as die owerhede hul ore aan haar sou uitleen.

Dat ’n uitgebreide definisie die getalle laat styg het, asook beter opvangsgeriewe, het wel ook ’n invloed op die toename gehad, maar die toename is veel groter as wat deur bogenoemde faktore verklaar sou kon word. Bronne het tot baie onlangs klem gelê daarop dat niemand weet wat outisme veroorsaak nie.

Deesdae is reeds meer as 20 genetiese mutasies ontdek wat outisme tot gevolg kan hê, teenoor twee wat disleksie veroorsaak. Die mutasies sal egter ook nie noodwendig outisme tot gevolg hê nie, maar as ’n gepaste mutasie teenwoordig is, kan ’n “sneller” dit aktiveer. Dit gebeur dus dat met ’n tweeling met dieselfde mutasies net die een, wat aan ’n snellerfaktor blootgestel was, outisme sou ontwikkel en die ander nie. Benewens die genetiese mutasies wat met outisme verbind word, is daar enkele chromosoomdefekte ook. Die toestand, bekend as Fragile X, is nou ook by outisme ingesluit. Nog ’n chromosoomtoestand wat relatief onlangs ontdek is, Phelan-McDermot-sindroom, oftewel “22 q deletion 13.3”, word ook nou as deel van die outismespektrum beskou.

Die verskeidenheid faktore wat deur die genetika verklaar kan word, veroorsaak dat die kinders ’n verskeidenheid eienskappe het wat van elkeen unieke individue maak, maar ook soortgelyke eienskappe deel.

’n Onvermoë om genoegsaam te kan praat kom dikwels voor. Daar is ook verskillende grade van aangetastheid. Daantjie (Dinamiet) Badenhorst het kort agtereenvolgens die programme Noot vir Noot en Flinkdink gewen. Sy outisme word as ’n ligter vorm beskou, wat as Aspergersindroom bekend staan, terwyl die teenwoordigheid van ’n ander mutasie, savantisme, ongelooflike begaafdheid in ’n bepaalde veld tot gevolg kan hê. Wanneer hierdie prominente spesiale vermoëns nie so erg ongewoon is nie, staan dit as splintervermoëns bekend. Savantisme kom onder outisme- en Williamssindroom voor. Laasgenoemde lewer byvoorbeeld heelwat ongelooflike musikale vermoëns op.

Die ontwikkeling van spesiale vermoëns kan in sommige gevalle deur terapie ontwikkel word, sodat hy of sy dalk selfs tot ’n beroep kan toetree. Soms is die terapie nie beskikbaar nie. Geen kind, en dus ook jong mense met outisme, gaan noodwendig naby genoeg aan toepaslike terapiegeriewe wees nie. Dan klink die volgende woorde van ’n Tuks-terapeut op: “Onthou, die beste terapie is maksimale ouerliefde.”

Outisme kom op die volgende drie terreine voor: kommunikasie, sosiale interaksie en gedrag. ’n Paar eienskappe van outisme is:

  • Dit kom voor asof die kind doof is, want hy/sy ignoreer ander.
  • Min of geen oogkontak van die kind.
  • Herhalende bewegings, soos om hande te fladder.
  • Die kind kan sonder rede uitbarstings hê.
  • Die kind verkies om alleen te wees/speel en eerder by die huis te bly.
  • Dit is ontstellend vir die kind wanneer roetine verander word.
  • Die kind praat glad nie, min of geen klanke word andersins voortgebring.

Vir meer inligting besoek Outisme Suid-Afrika se webwerf: www.autismsouthafrica.org

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Verona ·

Daar is só baie ander dinge oor outisme wat nie in die artikel genoem word nie.

Dankie dat daar wel n artikel is!

Outisme is n massiewe lewens verandering vir elke familie. Die artikel praat nie van die skaarste van skole of fasiliteite vir die kinders wat so skaars is nie. Dat families uitmekaar val. Finansieel , emosioneel en fisies. Dat ouers ly aan depressie en selfs selfmoord pleeg omdat daar nie n uitweg is tov opvoeding of wat van hul kind gaan word wanneer hulle afsterf nie.
Ek noem nie eens die mense wat staar en aaklige aanmerkings maak oor die “stout kind wat n goeie pak” nodig het nie. Mense is nie naastenby genoeg ingelig nie!
Ek het sellf n outistiese kind van 20 wat nie kan praat nie en totaal afhanklik is van iemand wat hom 24 uur versorg. Hy is in n tehuis wat R15 000.00 n maand kos. Dit is sonder klere, medies en ander noodsaaklikhede. Hy is daar juis omdat ek te oud gaan word om hom te bad en aan te trek en , ek gaan nie vir ewig lewe nie.
Dis n issue

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.