Nuuskommentaar: Overvaal en die EFF – Haat en sy markwaarde

‘n Betoging buite Hoërskool Overvaal in Vereeniging (17 Januarie 2018). Foto: Twitter via @jonisayi

In die VSA is ’n organisasie wat volgens sy oprigtingstatuut haat moet aanspreek, maar groot geld maak deur juis “haat te verkoop”. Is dit nie maar wat die EFF nou by Hoërskool Overvaal doen nie? Terwyl anargiste haat opstook en sommige met hul basse agter tralies beland, kry die leiers lekker vet parlementêre salarisse.

Twee artikels oor haat volg vanoggend kort ná mekaar oor die rekenaarskerm. Die eerste in dr. Leopold Scholtz se artikel, “Wraak was die doel by Overvaal”, en ’n artikel van die Amerikaanse ontleder, John Stossel, “Selling hate”.

Die feite wat die twee skrywers onder die loep neem, het uiteraard min met mekaar gemeen, maar die beginsels het baie ooreenkomste.

Teen dié tyd weet ons dat anargiste die situasie by Overvaal probeer kaap het, met ’n onbevoegde LUR vir onderwys, wat met ’n vuil onderrok wat ver uithang, sake net al verder vertroebel.

Stossel het dit teen ’n organisasie wat hy eens gesteun het, die Southern Poverty Law Centre. Die sentrum het pas ’n splinternuwe hoofkantoor betrek. Die afgelope aantal jare fokus die sentrum meer op die insameling van geld as op die uitvoer van sy veronderstelde taak. Telkemale, soos die teiken bereik word, word dit net opwaarts aangepas. In plaas van die aanvanklike teiken van $55 miljoen wat hul hande sou losmaak om hul werk te doen, is $320 miljoen bereik en word ten dele in oorsese rekeninge gehou. Die hoof ontvang ’n enorme salaris.

Dit laat min ruimte vir twyfel – Stossel het ’n punt beet – roer die pot van haat eerder as om haat te probeer besweer, want daar is groot geld te make uit haat.

Suid-Afrika het ’n “ryke” geskiedenis van instansies wat ’n bestaan uit haat maak of gemaak het, en waar daar nie genoeg haat was nie, is vreeslik gelieg om haat aan te blaas, en persepsies van haat onder die publiek lewend te hou. ’n Tipiese slagoffer was die Wes-Kaapse boere wat op ’n daaglikse basis van aanranding (verkragting ingesluit) van plaaswerkers beskuldig is, asook ander beweerde onmenslike optredes teen die plaaswerkers. Vrotappel-gevalle is nagejaag, maar wanneer dit ontbreek, is dit met leuens geskep.

Die uiteinde was dat Agri Wes-Kaap en die Wes-Kaapse Departement van Landbou, destyds onder ’n NP-geleide regering, ’n deurtastende ondersoek begin het. Twee gevalle het die hof gehaal, maar die betrokke boere het albei sake gewen. Kortom, in ses maande kon nie ’n enkele geval bewys word nie.

By ’n nasionale kongres in Gauteng kort hierna het die einste NRO’s en ander organisasies egter opgedaag en hul spookstories wat pas as leuens bewys is, net so herhaal. Dit het geblyk baie van die organisasies bestaan met geldelike hulp van onder meer Cosatu en buitelandse fondse. Die geld sou dadelik opdroog as die probleem nie bestaan nie.

Ook uit hierdie tyd dateer min. Lulu Xinwana se berugte Kerkplein-toespraak waar sy ’n enkele geval (wat reeds as vals bewys is) tot ’n algemene norm probeer verhef het.

Pres. Jacob Zuma se Kliptown-beraad om versoening te probeer stimuleer, is deur die regering self en sy meelopers in ’n haatberaad omskep. Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma was een van die vernaamste opstokers – ironies terwyl sy op pad was na die OAE en ’n rol moes speel om vrede op die kontinent te moes probeer bewerkstellig.

Kortom, die land, en nou veral die regering, het geen gelukkige geskiedenis met die doeltreffende aanspreek van haat nie. Ras-onewehandige optrede bly onder meer maar ’n groot probleem, en instansies soos die Menseregtekommissie het deel van die probleem in plaas van oplossing gebly.

Julius Malema. Foto: EFF, Facebook

Gelukkig is daar instansies soos die Instituut vir Rasseverhoudinge wat goeie werk doen, en nie skroom om by die waarheid, en soms baie ongemaklike waarheid, te bly nie.

Met die totstandkoming van die EFF het die leier, Julius Malema, dit duidelik gestel dat sy party minder op versoening ingestel sou wees, en meer op transformasie. Omdat van die oogmerke op die oog af strydig met die Grondwet was, het die Vryheidsfront Plus vooraf by die OVK beswaar aangeteken om hierdie party te registreer. Die OVK het egter voortgegaan, en wat eintlik weinig anders as ’n populistiese bende anargiste is, as party geregistreer.

Intussen kry ’n hele aantal mense onder die EFF-vaandel lekker vet salarisse om hul anargistiese doelwitte te bereik – met gewoonlik nie die geringste teken van versoening nie – die een hoeksteen waarop die onderhandelde skikking gebou is. Vir hulle is dit lonend om haat te verkwansel.

As Ramaphosa ’n suksesvolle staatsman wil word, moet hy nou sy populistiese praatjies oor onteiening sonder vergoeding laat staan, en sterk op versoening konsentreer. Hy beleef nou ’n ongewone “vakansietyd” waar hy met die land se menings kan toor, maar so ’n vakansietyd droog mettertyd op en dan gaan elke negatiewe uitspraak en optrede sake vir hom bemoeilik – ook vanuit die buiteland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Nader aan die waarheid kan dit nie. U slaan die spyker senter op die kop met hierdie artikel. Wat ookal die skeet mag wees, staatskaping, radikale transformasie, BEE of populistiese politiek, die vuur word gestoot deur geld.

E.K. die eerste ·

Jare gelede was daar in ‘n seker area (plaasgebied) ‘n baie goei Duitse skool. Alhoewel my vriende ampers langsaan gewoon het en baie ander plaaskinders wat of Afrikaanssprekend of Engelssprekend was ook op plase naby die skool gewoon het het hulle nie aangedring om na die skool te kon gaan en hul klasse in Engels en/of Afrikaans te kry nie. Dit sou belaglik wees! Toe my kinders skool toe is was die Engelse laer- sowel as hoërskool reg om die draai tog het ons nou maar moeite en onkoste gehad maar hul na die AFrikaanse laerskole gestuur. En glo my ons het dit GLAD nie breed gehad aangesien my man weer begin studeer het en ons alle onkoste van aandklasse, petrol, boeke ens SELF moes betaal en nie een van ons het hengse salarisse gekry nie. My punt is: daar is geen verskoning om aan te DRING om jou kinders in hierdie skool te WIL sit nie.

Heinrich ·

Die ANC keur goed wat die EFF doen anders sou hulle hulle al lankal uitgespreek het daarteen. Kyk maar die houding teen plaasmoorde in the parlement; daar was geen onderskeid tussen EFF en ANC lede nie. Die EFF is ‘n handige ‘tool’ vir die ANC want hulle doen wat die ANC graag sal wil doen – die ANC het mos belowe om die land onregeerbaar te maak. Niks sal verander as Ramaphosa aan bewind kom nie, die haat sal verder aangeblaas word. Al verskil is ANC het meer regeringskrag agter hulle om dit meer formeel te kan regverdig. Moenie julle asems ophou nie, maar bly op julle knieë.

Janneman ·

Baie dankie Herman, ek stem meestal saam met jou alhoewel ek nie glo die EFF se doelwitte transformasie is nie. Hulle soek algehele oorheersing van minderhede. Die doelpale gaan die heel tyd verskuif word. Hulle wil nie versoening en rasse harmonie he nie want dit sal hul bestaansreg bedreig.

Ongelukkig werk hierdie propaganda van hulle. Die vraag is, wat staan ons te doen?

Jerry ·

Die ongewone “vakansietyd” geld nie net vir CR nie, dit geld vir ons almal. Ons moet maar hoop dat dit vir sy hele termyn voortduur. Wraak is tydelik in sy spore gestuit agv minder radikale uitsprake deur CR as deur sy voorganger. Laat die wetstoepassers met die EFF en ANC radikales bots. Moet nie betrokke raak nie, want die wetstoepassers sal hulle fokus vinnig na ons verskuif en dan kan wraak weer momentum kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.