Nuuskommentaar: Paasfees en politiek – ‘Ons wil Barabbas hê!’

paasfees-danabaai-strand-deur-juanita-badenhorst-03

Foto ter illustrasie van Paasfees. (Foto: Juanita Badenhorst)

Dit is Paasfees, maar ons is ook in die pylvak na die komende algemene verkiesing, en die uitdaging vir Christene is om die Paasfeesviering nie skade te laat ly nie.

Wanneer twee Christen-nasies teen mekaar oorlog maak, gebeur dit periodiek dat daar tydens Kersfees ’n skietstilstand geld. Soms gaan dit so ver dat die strydende partye saam Kersfees vier. ’n Dag of wat later skiet hulle weer op mekaar.

Vir Christene is die Paasfees die belangrikste herdenking op die kalender. Dit sou heel gepas wees as Paasnaweke ook in die regte atmosfeer kon plaasvind, beginnende by Donderdagaande se donker nagmaal wat al meer gevier word, die herdenking van Christus se dood die Vrydag, sy opstanding die Sondag, en gesinne se vreugdevolle samekoms die Maandag.

In die praktyk is dit dikwels ’n tyd wat baie mense op die lang pad is, padsterftes voorkom, huisbrake skerp toeneem en ander misdade baie se vakansies bederf.

Maar hoe het dit gegaan tydens die pasga wat tot die ontstaan van die Pase gelei het?

Die politiek het swaar geweeg. Israel was onder Romeinse beheer, nie lank nie nadat die Makkabeërs daarin geslaag het om die gebied waaruit Israel tradisioneel bestaan het, grootliks van die Grieke te verower. Daar was egter een groot verskil – die tien stamme het vir alle praktiese doeleindes nie meer bestaan nie, en hul tradisionele woongebied in die Noorde is toe grootliks deur Jode bewoon. Jesus self het in Nasaret grootgeword wat deel van hierdie gebied was. Die Romeine het Galilea van die tradisionele Judea om Jerusalem probeer skei deur Samaria en die tien Griekse stede te ontwikkel wat as die Dekapolis bekend gestaan het om te probeer voorkom dat die noordelike en suidelike Jode in ’n opstand sou kon saamstaan.

Tradisioneel het die Romeine tydens pasga iemand laat vrylaat wat die Jode kon kies. Pilatus het die keuse tussen Jesus Barabbas en Jesus Christus gelaat, maar die erge misdadiger Barabbas is gekies.

Pilatus se handewas as teken van sy “onskuld” was ook ’n politieke gebaar.

Gelukkig is daar darem ’n paar weke ná die Paasfees voor dit verkiesingsdag, 8 Mei is, sodat mense met die regte ingesteldheid nog behoorlik aandag aan die Pase kan gee. Tog gaan die Paasfees sterk staan in die tydsgees waar die kiesers moet besluit of hulle die spreekwoordelike Barabbas of Jesus gaan kies.

Politieke analiste se etiek bepaal dat hulle self in hul werk streng onverbonde moet wees. Dit beteken egter nie dat onverbondenheid ’n blindheid vir partye se betrokkenheid by misdaad en ander euwels, verdoesel moet word nie. Die gevolge vir die keuse vir die spreekwoordelike Barabbas moet juis uitgespel word, en kiesers gewaarsku word.

Maar wie is die spreekwoordelike Barabbas van ons tyd? Kiesers is vanjaar baie bevoorreg om te kan kennis neem van die getuienis wat voor die Zondo- en ander kommissies van ondersoek afgelê word, om toegang te hê tot die werke van ondersoekende joernaliste, dat iemand die sogenaamde Gupta-e-posse laat uitlek het, koerante en elektroniese media wat hieroor kan berig, en vele meer.

Maar die keuses is nie altyd so opsigtelik tussen goed en sleg nie. Pas het die Vryheidsfront Plus die DA tot ’n debat oor Afrikaans uitgedaag. Tensy iets baie belangrik voor Maandag opduik, sal dit die onderwerp van Maandag se nuuskommentaar wees. In wese handel dit daaroor dat die VF Plus meen dat die DA oneerlik is deur so kort voor die verkiesing aanspraak te maak op pogings om Afrikaans tot sy grondwetlike reg te laat kom.

Gaan ons ’n waardige Paasfees gegun word?

Ongelukkig is dit onwaarskynlik. Hierdie verkiesingsveldtog vind plaas teen die agtergrond van landwye oproer, met ook ruim vandalisme en ook lewensverlies.

’n Belangrike faktor wat tot dié onluste bydra is dat baie kiesers met die vorige geleentheid om kruisies te trek, die spreekwoordelike Barabbas met hul stemme vereer het. En vanjaar waarskynlik weer so gaan maak.

’n Interessante nuwe woord wat in die aanloop tot die komende verkiesing vir die Europese parlement in Nederlands die lig gesien het, is ’n “preferendum.” (Die Engelse woord “prefer” en die Franse woord “préférer” kan ook hierin herken word).

Hierdie neologisme het ontstaan uit die persepsie dat die verkiesing vir die Britte as ’n pre-referendum gaan dien oor of Brittanje deel van die EU gaan bly, en of met Brexit voortgegaan moet word. Die steun wat partye kry wat vir en teen Brexit is, sal bepaal watter sentiment die meeste steun sou hê.

Suid-Afrikaanse kiesers, en veral minderhede het ook verskeie preferendum-sake wat aandag moet kry.

Vir ANC-ondersteuners is dit ʼn geval van kies tussen pres. Ramaphosa en die sekretaris-generaal Ace Magashule. Vir Afrikaanse kiesers sal die preferendum se uitslag ook ’n aanduiding gee van die mate van weerstand die regering kan verwag vir die aanslag teen Afrikaans.

Grondgryp sonder vergoeding sal ook deur ekstrapolasie gemeet kan word. Kiesers kry ongelukkig net een nasionale stem en moet dikwels hul voorkeure teen ander voorkeure opweeg om te besluit waar hul stemme heen gaan. Die Kaapse Party gaan, ook deur ekstrapolasie, ’n aanduiding gee van hoeveel steun die konsep het om die Wes-Kaap van die res van die land te laat afskei.

In werklikheid het die preferendum reeds begin, onder meer deur die “dipstick”-metode van leserskommentare, lesersbriewe, inskrywings in die sosiale media en vele meer. Dit verg baie statistiese ekstrapolasie – ’n komplekse proses en daarom nie gereeld beskikbaar nie. Ook hierdie onderwerp sal op ’n geskikte geleentheid vollediger bespreek word.

Maar dis Paasfees, en die belangrikste preferendum is die opkoms by kerklike geleenthede ter herdenking van Paasfees.

’n Baie geseënde Paasfees word al ons lesers toegebid.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kaapliks ·

Die kaap sal dom wees as hulle nie afskei nie. Al hoop vir die kaap is om te skei voor die anc en eff die hele land sink.

KAKtus ·

Nou ja daar het jy dit. En die wat nie wil gaan stem nie, word gekruisig. Hoe ironies….. Gaan kies vir Barabas, ek kies Jesus.

😎leser ·

waarom moet politiek nou saam met paasfees wees, hou die twee ver weg van mekaar

John ·

Ongelukkig is hierdie skrywe in swak smaak. Alles op deeske aarde is nie maar reg en goed as mens se subjektiewe oortuigings voor eleksies ook die kerkbanke opeis nie. Nee wat, die VFPlus is ook nie engeltjies nie.

Gerhardt O ·

Ek dink die skrywe is gepas en goed. Volstruis-wees help niemand nie. Ek wens dan ook vir Oom Herrie en sy naaste ‘n geseënde en gesonde paaswees.

Therese van Schalkwyk ·

Skitterende skrywe vir die Paastyd!
Insiggewend hoe politiek, van toentertyd tot nou, vervleg is met elke faset van die lewe.
Selfs in die alomteenwoordige bitterbal-kritiek …

Essa ·

Dis jammer, maar ons kan nie by realiteit verby kom nie – politiek is inderdaad altyd oral. Dis net ons wat vir ons self moet besluit hoe dit ons be-invloed ten opsigte van ons eie geestelike ingesteldheid.
Geseënde en verrykende Paasfees vir die Toeriens en my mede-lesers toegewens.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.