Nuuskommentaar: Paasnaweek van skokke en hoop

Foto:jumonville.wordpress.com

Foto:jumonville.wordpress.com

Paaslangnaweke in Suid-Afrika is bekend vir tragiese ongelukke, en hierdie was geen uitsondering nie.

Buite Bloemfontein is onder andere ‘n gesin byna uitgewis in ‘n botsing reg van voor, terwyl die 22-jarige bestuurder van die ander voertuig op ‘n aanklag van dronkbestuur in hegtenis geneem is. (Lees meer hier)

Die afgelope langnaweek sal egter ook onthou word as een van wrede plaasmoorde, met ‘n boer van Williston wat die lewe gelaat het (Lees meer hier), en twee gesinne wat op ‘n gasteplaas buite Harrismith aangeval is – met die een gesin wat nie weer terugkeer huis toe nie. Onlangse plaasaanvalle in die Oos-Vrystaat het kwalik die media gehaal. Daar was ook aanvalle en moorde op mense wat in dorpe en stede woon, te veel om te noem.

Ontleders moet intussen kop krap om sin te maak uit die jongste Ipsos-peiling wat vir die Sunday Times gedoen is, en skynbaar bevestig dat die ANC se steun nou op 65,5 persent staan. Die DA se steun staan op 23,1 persent, en Malema se EFF boer in die omgewing van vier persent, terwyl die ander partye tussen 2,8 en 0,3 persent kry. Agang SA wat eens as groot hoop voorgehou is, registreer kwalik steun. Is Ipsos reg – dat die ANC binne ‘n paar maande en te midde van byvoorbeeld die Nkandla-kwessie, sy steun van in die lae 50’s tot bykans dieselfde vlak as met die vorige algemene verkiesing kon herstel?

Tot dusver het dit nie gelyk of die aanslag op die ANC, en veral die leierskap van pres. Jacob Zuma dieselfde effek as die vorige verkiesing sou hê waar die “Fight Back” uiteindelik as ‘n aanval op swart mense beskou en ervaar is nie, en die ANC die voordeel getrek het. Die kiesers het toe ook nie werklik die party wat vir dié aanslag verantwoordelik was gestraf nie, maar dit was die kleiner partye soos die ACDP en ID wat die spit afgebyt het – met baie van hul ondersteuners wat Cope toe gedryf het, terwyl Cope se aanvanklike steun skynbaar hul weg terug na die ANC gevind het. Nou, so lyk dit, val Cope ook in by die geledere van die een-persentpartye. Met die IVP wat ook in daardie rigting mik.

Sou die geskiedenis besig wees om homself op ‘n manier te herhaal? Dat die ANC in werklikheid baat by die verbete aanslag teen hom? Dat die swart leiers wat die aanslag teen die ANC lei as coconuts beskou word, of as verraaiers van die Afrika-nasionalisme waar, soos dit die naweek gestel is, die induna (Zuma) se kraal sy heiligdom is en buite perke vir kritiek is?

‘n Mens sou verwag dat partye wat die ANC ernstig wil aandurf, adviseurs sou kry wat hulle oor hierdie kultuuraspekte sou inlig. Dat verkiesingstrategieë gesofistikeerd genoeg ontwikkel en uitgevoer sou word om die impak van rasgeondenheid en kuluuraspekte te kon verreken. En sou leiers soos dié van Agang, die IVP, Cope en ander nie vertroud genoeg hiermee wees nie?

Of is Ipsos verkeerd – dat die peiling nie die impak van die struwelinge binne Cosatu, die impak van die ANC se rasgedrewe klem op minderheidsgemeensappe behoorlik verreken nie – word die impak van die landelike steun dié keer oorverreken? Agang SA verwerp die peiling, maar nuwe partye wat hul steun moet skat aan die hand van die aantal mense wat by vergaderings opdaag, neig oor die algemeen om hul eie steun loshande te oorskat. Aan die ander kant is peilings oor die steunvlakke van kleiner partye dikwels nie besonder akkuraat nie, en was al in die verlede heeltemal van koers af. Maar Ipsos is nie ‘n groentjie in die veld nie, en het nou al verskeie verkiesings gehad om sy metodiek te verfyn.

Maar daar is ook aktualiteite wat die ontleder warm om die hart laat voel. Vrydag het Maroela Media ‘n dagstuk oor die Pase geplaas, en kort daarna opgevolg met ‘n nuuskommentaar met die vergunning van die e-Hervormer. Op die Facebook het dié twee stukke besonder baie “likes” gekry. Maroela se lesers se positiewe ervaring hiervan het die hart warm laat klop. Die lesers se harte sit op die regte plekke, en straal erkentlikheid en liefde vir die Skepper uit. (Lees meer hier)

Voor die aanbreek van die langnaweek is ta’ Grietjie Adams van “Dis ‘n lekker ou Jan” en die riel oorlede. By elke stuk wat oor haar geskryf is, het die lesers in groot getalle positief gereageer. Nie ‘n enkele wanklank nie. ‘n “Klein mensie” wat die land se leiers kon wys hoe ‘n enkeling ‘n positiewe verskil kon maak.

Die terugtog na die langnaweek moet in baie gevalle nog aangepak word, en Maroela wens almal ‘n veilige reis. Mag dit wees dat elkeen van die lesers oor die Paasfees opnuut gelaai is met die ervaring van God se almagtige genade en liefde, en dat ons almal ons lewens in erkentlikheid en liefde hiervoor sal volhard of inrig. Dat ons stembus toe sal gaan met ons voete deeglik geanker op moeder aarde, en ons harte gepunt na die Here wat oor die lotsbestemming van volke en nasies beskik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.