Nuuskommentaar: Padda in slaai maak Cyril-ooreenkoms ver-“Shrek”-lik

Adjunkpres. Cyril Ramaphosa en lede van opposisiepartye tydens die perskonferensie by Tuynhuys in Kaapstad op 18 November 2014 Foto: Kopano Tlape, departement van kommunikasie

Adjunkpres. Cyril Ramaphosa en lede van opposisiepartye tydens die perskonferensie by Tuynhuys in Kaapstad op 18 November 2014 Foto: Kopano Tlape, departement van kommunikasie

Dié week was dit groot nuus oor ’n ontevrede klant wat slaai by ’n supermark gekoop en ’n paddatjie op die koop toe saam gekry het. Die klant was geen Fransman nie, en daarom half suur oor die diertjie  wat in sy slaai kom krap het. Net om alles te kroon het ’n ander klant beweer sy het ’n dooie insek in ʼn pak pasta van dieselfde winkelgroep aangetref.

Net so was die dood in die pot van die ooreenkoms tussen adj. Pres. Cyril Ramaphosa en opposisiepartye oor toekomstige parlementêre gedrag, toe Ramaphosa aangedui het dat speaker Baleka Mbete se ontplooiing in daardie amp ononderhandelbaar was. Weliswaar het die ooreenkoms ook behels dat Mbete en die ander parlementêre ampsdraers hulle voortaan in ooreenstemming met die konvensie van daardie ampte sal gedra. Mbete is egter in ’n magstryd met Ramaphosa gewikkel om die land se volgende president te word, en het boonop die binnebaan deurdat sy ’n onverdunde Zuma-lojalis is. Sy is ook die voorsitter van die ANC, en as sodanig, kon sy volgens konvensie nie speaker word nie.

Sy is om een rede as speaker ontplooi – sy moet Zuma beskerm. Dit kan sy net doen deur partydig te wees en die speakersamp onwaardig te wees. Die Burger stel dit hard en duidelik in ’n hoofartikel: “Van onafhanklikheid is daar geen sprake nie. Sy is ’n deurtrapte ANC-kader vir wie die belange van ‘Die Party’ (waar sy ook voorsitter is) eerste, tweede én derde kom. Só beskryf sy haarself: ­‘Baleka Mbete is in die eerste instansie ’n maaksel van die ANC – die organisasie wat my gevorm en ontplooi het’.”

Met Mbete in die amp is daar geen kans dat die parlement sy oorsigrol sal kan vervul om Zuma en ministers in hul ampte verantwoordbaar te hou nie. Tog het Ramaphosa dit in sy ooreenkoms met die opposisiepartye onderneem. Het Ramaphosa weer ’n Kodesa op die opponente getrek – stem tot ’n ooreenkoms in, net om agterna te sê dit moet eers sanksie van die partyleiding of voetsoolvlak kry? Teen dié tyd moes Ramaphosa tog weet dat ’n ooreenkoms wat hy ex officio aangaan, veronderstel is om bindend te wees.

Reeds die volgende dag – gister – het dit gelyk of die ooreenkoms pure wolle oor die oë trek was. Dat die ooreenkoms sou beteken dat ’n vars bries deur die ANC moes waai, en dat bloot van die opposisie verwag sou word om sy helfte van die ooreenkoms na te kom. Mbete (en haar styl) en die ANC se laertrekkery om die president en kopsku ministers bly onveranderd.

Toegegee, Ramaphosa is in ’n baie moeilike posisie binne die ANC. Sake ontwikkel op die oomblik nie so dat Zuma permanent teen vervolging verskans sal bly nie, en Ramaphosa openbaar homself nie genoegsaam as Zuma-lojalis om toegelaat te word om in statuur te groei om duidelik as opvolger na vore te tree nie. Aan die ander kant, Ramaphosa moes ook weet in watter troebel water hy hom sou bevind na hy homself beskikbaar gestel het as kandidaat vir die ANC se adjunk-presidentskap. Dit was opsigtelik ’n stap om Zuma se herverkiesing te verseker. Van buite die ANC was verwagtinge hemelhoog dat Ramaphosa se toetrede vertroue in die land sou herstel, wat meer Ramaphosa en minder Zuma sou vereis.

Maar Zuma was nie van plan dat Ramaphosa in sy skadu sou kon groei nie.

Zuma se strategie het gou duidelik geword: “Laat die publiek daar buite verstaan – as julle wil hê dat ek die deur op ’n gleufie moet oop hou dat Ramaphosa dalk die volgende president word, moet julle nie toelaat dat Ramaphosa uit my skaduwee groei nie.”

Met Zuma se stelling dat die volgende president ’n vrou kan wees, kon die boodskap nie duideliker gewees het dat Ramaphosa se aandele by nommer een nie baie hoog is nie. Behalwe Mbete is daar ’n paar ander vrouekandidate, maar die meeste van hulle word gou na mindere portefeuljes ontplooi as hulle te veel in statuur groei. Soos met ander ministers, is daar deurgaans die vermoede dat bekwaamheid nie altyd die hoofoorweging is wanneer beslis word hoe sterk vroue toegelaat sal word om in hul ampte te groei nie.

Ramaphosa het ook duidelik die boodskap gekry dat Mbete onaantasbaar in haar amp is. Geen wonder dat Ramaphosa nou op foto’s dikwels net so moedeloos voorkom as wat Shrek was toe hy as regent vir die koninkryk van Far, far away moes optree.

Uiteindelik sal die ANC-afvaardiging by ’n kongres beslis wie Zuma as president van die ANC, en daarna die land sal opvolg. Ramaphosa is lid van een van die kleinste stamme in die land, die Venda. Mbete is ’n Zoeloe, die grootste stam in die land. Ramaphosa kan deur die afwys van “tribalism” die ANC aan sy voete probeer kry. Dit kan ook wees dat juis Zuma se sterkste magsbasis – die tradisievaste Zoeloes, traag en onwillig sal wees om vir ’n vrou te stem. Mbete kan weer die stamgrense oorsteek deur die Vroueliga emosioneel mee te voer.

In sy hoofartikel doen Beeld ʼn beroep op die opposisiepartye om in alle opsigte Ramaphosa te steun om die ANC so ver te kry om Zuma en sy ministers so ver te kry om die parlement toe te laat om sy oorsigrol te vervul.

Strategies mag dit moontlik sin maak, maar so lank die “insek” in die slaai is, gaan die kiesers langtand wees om te glo dat die parlement iets anders as ’n sirkus is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jakoos ·

Herman, jy moet tog net onthou om sindikasiefooie te eis as Beeld en Burger begin om jou kommentare in diue plek van hulle hoofartkels te gebruik.

Kobus ·

Ek lees nie eens meer deesdae Herman se nuuskommentaar nie, en kyk net of jakoos sy neekoos-knoppie gedruk het, dan weet ek Herman was in die kol.

So sal ek nou maar voortaan onderaan elkeen van jakoos se kniejerke reageer.

Herman Toerien ·

Hallo Kobus. Eintlik is daar ‘n goue reël dat ‘n mens jou nie moet steur aan iemand wat ‘n skuilnaam gebruik nie (al kan ‘n mens taamlik maklik vasstel wie dit eintlik is). Ek laat my egter gewoonlik deur die inhoud lei of ek reageer. Met Jakoos het ek gou agtergekom hy meen ek moet die sowat 250 000 lesers los en hom persoonlik vermaak – iets wat tog nie kan gebeur nie. Ek lees daarom al lankal nie meer sy kommentare nie. Ek kry heelwat komplimente, en die aantal lesers per nuuskommentaar of ander item, is meer as voldoene aanduiding dat die enigste pap wiel wat Jakoos veroorsaak sy eie is.

jakoos ·

Herman, ek probeer jou maar net vroegtydig waarsku dat jy stadig maar seker besig is om jou op Naspers se beriggewing te verlaat. Jy weet goed dis gevaarlik. Jy is nie en kan nie deel wees van hulle nie – jy is te sterk pro-Afrikaner daarvoor. Hou by jou eie sterk oortuigings en sieninge. Dis gewoonlik goed – net soms ‘n bietjie kritiek nodig!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.