Nuuskommentaar: Padlangs (en luglangs) na ’n paloekrasie?

Argieffoto

Argieffoto

Dit is nie vreemd om na die Suid-Afrikaanse regering as ’n kleptokrasie te verwys nie. Nkandla staan immers as imposante monument hiervoor, en die land het die afgelope aantal jare skouspelagtig op die korrupsiepersepsie-indeks agteruit geboer. Op die omkoopindeks gaan dit nog erger en word Suid-Afrika deur Afrikalande soos die DRK en Ethiopië uitgestof.

Gegewe die gebeure hierdie week, waarvoor die Russe uiteindelik die skuld gekry het, wat glo “voortydig” die sluit van ʼn ooreenkoms oor die bou van kernreaktore aangekondig het, móét eenvoudig die vraag gevra word of die land nie nou ook flink afstuur op ʼn paloekrasie nie.

Oud-diktator Idi Amin Dada, VC, DSO, OBE en andere, het immers gewys iemand kan meer as een “titel” dra. Die Oegandese media moes in hul beriggewing waarin Amin ter sprake was, paragrawe om die beurt begin met “His Excellency Pres. Idi Amin Dada, Field marshal Idi… en Doctor Idi…”

As ʼn raserige nar in die Suid-Afrikaanse parlement ʼn “honourable” kan wees, is enigiets moontlik, en kan Suid-Afrika seker maklik tegelyk ʼn demokrasie, kleptokrasie en ʼn paloekrasie wees.

Maroela Media het die deurmekaarspul oor die ooreenkoms met Rusland ondersoek, en kon gister berig dat die nuus wat vanaf die Russiese Rosatom en die Russiese media uitgegaan het, foutloos was. Daar is duidelik na ’n moontlike toekomstige ooreenkoms vir die bou van die sentrales verwys.

Die enigste nuusverklaring wat op die finaliteit van die ooreenkoms (en dus die uitsluiting van ʼn tenderproses) dui, was op die webwerf van minister Tina Joemat-Pettersson se departement van energie. Soos die ander media en ontleders het Maroela Media ook sy nuuskommentaar hierop gebaseer – ’n nuuskommentaar wat besonder gewild was en wyd geslaan het.

Eers sowat 24 uur ná die departement van energie die verkeerde inligting die wêreld ingestuur het, het die regering ’n verklaring uitgereik waarin dit gestel is as foutiewe inligting, en die Russe geblameer het. RSG het ’n flitsberig hieroor uitgesaai. Dit is ’n veilige keuse om Rosatom die sondebok te maak, want om dit te ontken, beteken dat Rosatom baie moeilik die uiteindelike suksesvolle tenderaar sal wees. Tong in die kies kan sommer voorspel word dat Rosatom nie getransformeerd genoeg is nie.

Die foutiewe mediaverklaring was teen vanoggend steeds op die webwerf, anders as wat beloof is. ’n Latere mediaverklaring deur die minister oor haar besoek aan Wene is wel meer vaag oor wat geteken is, maar repudieer ook nie die vorige verklaring duidelik nie.

Kortom, dit is Suid-Afrika wat met die eier in die gesit sit. Punt.

Minister Joemat-Pettersson is nie vreemd aan omstredenheid nie. Wie sal vergeet hoe sy in ʼn breedvoerige artikel in Rapport geskryf het die sowat miljoen hektaar bruin landelike gebiede het deel van die 13% swart grondbesit in Suid-Afrika uitgemaak?

Die leiding wat Joemat-Pettersson van number one kry laat skynbaar ook maar baie brak kolle. Adv. Paul Hoffman, direkteur van die Instituut vir Verantwoordbaarheid, skryf vroeër dié maand verdoemend oor die administrasie van Zuma: “The Public Administration is so rotten that cabinet ministers feel obliged to publicly exhort civil servants not to act corruptly in the execution of their duties. The basic education system is in crisis, hospitals are dysfunctional and the rate of delivery of social housing is so slow that many marginalised citizens are bound to die…

Oor Zuma skryf Hoffman: “In this the President is named as a wrongdoer, not by an accusing critic, but in a judgment, tested on appeal and not found wanting. The nature of the relationship between him and his former financial adviser, Schabir Shaik has been described accurately as “generally corrupt” beyond any reasonable doubt. There is every prospect that the stalled review proceedings aimed at re-instating the corruption charges against Zuma will succeed and he will get his long-awaited day in court…

Ook in vandag se Volksblad doop die waarnemende redakteur, Gert Coetzee, sy pen in die spreekwoordelike gal terwyl hy Zuma onder hande neem.

Beide die DA en die Vryheidsfront Plus deel jaarliks “rapporte” aan Zuma en sy kabinet uit (wat met die grootte van die huidige kabinet nou die omvang van ʼn ensiklopedie gaan begin inneem). Die druipsyfer van Zuma en sy ministers reflekteer die stand van onderwys in die land.

Selfs die EFF vind luidrugtig fout met Zuma en kie se doen en late, en die EFF is nou nie juis ʼn voorbeeld van voorbeeldige Kinderkrans-lofkleuters nie.

Skynbaar is dit net die ANC wat reken alles is pluis, en dat hul hantering van die demokrasie voorbeeldig is. In die onderlinge warmbroeiery is dit skynbaar ’n geval van “Vra my broer Frik…”

Gewelddadige dienstebetogings word maklik voor die deur van opposisiepartye en die media gelê wat die benadeeldes sou “opstook”. Of soos ʼn Vrystaatse LUR wat in die Wetgewer die navorsers van opposisiepartye daarvoor blameer het dat hulle die oorsaak is dat mense weet hoe tekort hul dienslewering skiet. En kort daarna word die geldkrane aan opposisiepartye om navorsers te kan bekostig, amper volledig toegedraai.

Maar lê die probleem nie eerder by die beleide van kaderontplooiing en rasbegunstigde voortrekkery wat onder die dekmantel van “regstellende optrede” aangebied word nie? Hoe suiwer verloop dinge onder die kombers van transformasie waar enige navraag oor vreemdheid as rassisme begroet word?

Wat noem ’n mens ʼn regering anders as ʼn paloekrasie wat die ras-kwessie so sentraal plaas dat dit allesoorheersend is, en volgens talle waarnemers polarisasie aanstig, maar bly aanvoer dit maak deel uit van die skepping van ’n nie-rassige en nie-seksistiese samelewing?

Volgens Google lyk dit of “paloekrasie” ’n nuutskepping is, maar as dit dan inderdaad ʼn nuutskepping is, was die skepping daarvan al lank agterweë.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henkst ·

Herman nou moet jy help, ek is vertroud met die term phallokrasie of androkrasie maar paloekrasie is vir my Grieks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.