Nuuskommentaar: Padpredikante na verval

Die monument wat vir pres. Jacob Zuma en die ander rekrute van Umkhonto we Sizwe opgerig is. Foto: ANA

Die omstredenheid oor die monument in Noordwes wat ter ere van pres. Jacob Zuma opgerig is, wil maar nie gaan lê nie. Hoe word ʼn man wat die land en sy ekonomie soveel skade berokken het met ’n monument vereer?

’n Klompie jare gelede woon ’n Bloemfonteinse egpaar die begrafnis by van hul buurman. Ná die teraardebestelling is hulle ontstoke, want so ver soos die stoet gery het, het die padpredikante die pad na die “Dumping grounds” aangewys. Hulle het gevoel hul buurman se nalatenskap is in die proses erg geskend.

En Bloemfontein se stortingsterrein digby die begraafplaas het geen goeie reputasie nie, met pas weer ’n berig oor ʼn man wat daar aangerand is.

’n Plek waar die padpredikante gerus ’n ander koers kan inslaan, is die pad wat na die nuwe Zuma-monument in Noordwes lei. Dit sou veel meer gepas wees as die padpredikante die besoekers wegwys na die naaste erg agtergeblewe gemeenskap. Die monument steek maar erg galsterig in die keel vas, as in ag geneem word met hoeveel rand korrupsie in die land (daai ding wat Zuma ʼn Westerse konsep genoem het) en staatskaping die land reeds gekos het. Derduisende werkgeleenthede kon geskep en derduisende huise kon gebou gewees het met die geld wat deur dié twee euwels uit die ekonomie geroof word.

En iemand gaan ag dit wys om nóg staatsgeld te gebruik om Zuma met ’n monument te vereer?

Sy monumente staan reeds die wêreld vol. Die bankrot SAUK staan bakhand vir ’n regeringsaalmoes. Dit nadat Zuma se man, Hlaudi Motsoeneng, in die proses waarin van hom ontslae geraak is, steeds volgehou het dat hy die SAUK se geldsake met honderde miljoene rande verbeter het.

So bly die SAL slegs danksy enorme reddingsboeie van die regering in die lug, terwyl Zuma se vriendin die septer bly swaai.

Die lysie is baie lank.

En hoe sou die monument lyk om Zuma te vereer vir die feit dat hy die vernaamste dryfkrag was om die land in rommelstatus te dompel? ’n Hoop stukkende planke? Dis nou die planke waarteen Zuma die land gehad het, en die aanslae net nie kon weerstaan nie.

Niks in die staatshuishouding bly skynbaar intak en uit Zuma se kloue nie. In ’n nuwe verwikkeling neem Freedom Under Law nou vir Zuma hof toe om hom te dwing om Shaun Abrahams, direkteur van Nasionale Vervolging, te ontslaan, berig die Huff Post SA.

Die lustige aanwending van belastingbetalersgeld om monumente op te rig vir skandes en skandale is ’n erge belediging vir ’n platgeslane en verarmde gemeenskap wat met hulle pennies en tiekies, en die bak van berge koeksisters, geld ingesamel het vir die bou van onder meer die Vrouemonument – ’n verdienstelike monument as daar ooit een was.

Die ophef oor Zuma se monument is in skrille kontras met die standbeeld van oudpres. CR Swart wat geknak en gebreek skuins in ’n visdam moes lê. Met die vandale onaangeraak.

Laat elkeen van ons daarvan werk maak om te verseker dat die dag wanneer ons nie meer daar is nie, ons nalatenskap ’n monument ter ere van eerlikheid en godvrugtigheid sal wees – vlytig met ’n oop hand vir minder bevoorregtes. ’n Monument wat nie verniel of verwaarloos kan word nie, en een nie gebou in eiewaan nie, maar in nederigheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eish ·

Ja, dis so waar. Ons is vroegoggend in die Vrystaatse Goudveld juis geskok toe inwoners van Welkom, Odendaalsrus, Virginia, Theunissen en Ventersburg hul normale roete werk toe, versper gevind het met kippe en brandende buitebande. Etlike buitelanders se winkels is ook oudergewoonte verlos van hul vooraad, sonder betaling natuurlik. Die Unemployment Forum het die protesaksies georkestreer, tot groot ongerief van die inwoners. Die eise, werksgeleenthede op die myne.

Die geduld is op, die beloftes, onvervuld.

Rupert Ashford ·

Ek het gewonder hoe lank dit gaan neem voor iemand so ‘n opmerking gaan maak!!! Kostelik!!!

Eish ·

Huffpost gou beloer, nie my pot sop nie. Lees net MM en so een keer in 5 jaar Rapport.

Herman Toerien ·

Hallo JC, Rupert Ashford. Die spelling is net so uit die publikasie gekry (twee plekke) terwyl ek nêrens gesien het die spelling waaraan ek gewoond geraak het, is iewers gebruik nie. Ek het gemeen ek het iewers iets gemis.

JC ·

Hey Herman, niks met die spelling daarvan te make nie, maar met die feit dat die “nuusblad” – en op die koop toe ook nog hoogstens eufemisties gestel- as “bron” gebruik is.

Piet Pompies ·

Dit is vir die mensdom korrek om hul leiers te vereer, veral nadat hulle heengegaan het. Hierdie leiers het geskiedenis gemaak wat tot voordeel van die gemeenskap en die wêreld was, die eerbetoon word opgerig in die vorm van monumente.
Zuma val nie in die kategorie …….

JC ·

Gelukkig is oud-President C.R. Swart se standbeeld “opgetoffie”, herstel en hervestig op sy plaas De Aap net buite BLOEMFONTEIN (ek dink die plaas behoort juis aan die Voortekkers). Om te se dat ons geliefde Oom Swart se standbeeld in elk geval nie meer tuishoort by die Vrystaatse Politiese Indoktrinasie Sentrum (wat klaarblyklik liefs alle geskiedenis sal wil uitwis; as om die bestaan daarvan te erken-praat van geskiedkundige revisionisme-daarvoor kan hulle die No1 plek op die tersiere ranglyste kry, aangesien hulle SEKERLIK EN GEWIS nooit OOIT weer 1ste plek sal behaal in ENIGIETS NIE) nie; is om dit ligtens te stel! Dankie tog die barbare het sy STANDBEELD probeer verniel, want nou is dit op sy regmatige plek. (eintlik ‘n seening, of hoe?) DIS ONS GESKIEDENIS, DIS ONS HELDE!

John ·

Geen standbeeld van enige mens is nodig nie. Diegene wat dit oprig verkondig ‘n ideologie of ‘n aardse ideaal. As iemand iets goeds gedoen het, moet hy nederig bly en verering teestaan. Van die standbeelde wat nou in SA opgaan is bloot ideologies van aard en die karakters word as bo-menslike wesens voorgehou en met die tyd verander dit, soos in N-Korea, in klippe wat aanbidding vra.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.