Nuuskommentaar: Parlement na Pretoria?

parlementDie moontlike verskuiwing van die parlement van Kaapstad na Pretoria het pas weer ‘n terloopse besprekingspunt geword. Die Tesourie het by die regering opdrag gekry om ondersoek in te stel na die koste om die parlement in Kaapstad te hou, teenoor om dit ook na die noorde te verskuif.  

Die huidige regering beskou die bestaande reëling as ‘n oorblyfsel van die apartheidsbedeling, al is die besluit geneem en geïmplementeer lank voor die Nasionale Party aan bewind gekom het.

Dat die ANC hom nie aan enige ou kompromisreëling gebonde beskou nie, blyk daaruit dat Bloemfontein, wat ingevolge dieselfde kompromisreëling die juridiese hoofstad geword het, vir alle praktiese doeleindes daardie status verloor het toe die grondwetlike hof in Johannesburg gesetel is, en die hoofregter van die grondwetlike hof ook die land se hoofregter geword het.

Die moontlike verskuiwing van die parlement van Kaapstad is ook nie nuut nie – in ‘n stadium het die ANC hom sterk daarvoor beywer dat die parlement na Midrand sou verskuif, wat intussen ook die setel van die Pan Afrika-parlement geword het.

Dat die dubbel-stelsel enorme kostes teweeg bring, is ‘n gegewe en word al lank besef. Vroeg in die 20ste eeu, so lui die notules van die Smithfield-tak van die Nasionale Party, is die tak se afgevaardigdes na die provinsiale kongres opdrag gegee om te versoek dat die hoofstad na Bloemfontein verskuif word omdat die huisves van die uitvoerende en wetgewende gesag saam in die middel van die land die land “miljoene ponde per jaar” sou bespaar.

Suid-Afrika is nie die enigste land in die wêreld waar “gesplete” hoofstede bestaan nie. Nederland, met Den Haag en Amsterdam is nog ‘n voorbeeld.

Hoofstede het ‘n uiters belangrike politieke funksie, en die keuse daarvan het baie dikwels daarmee te make om almal deel van die land te laat voel. Daar word dus dikwels moeite gedoen om te voorkom dat die ligging van die hoofstad ‘n etniese meerderheid bevoordeel en minderhede vervreem.

Dikwels lei dit tot ‘n voortdurende verskuiwing van die hoofstad, soos in Malawi, Pakistan, Nigerië en ander. Japan het eeue lank met die bewindsaanvaarding van elk nuwe keiser, ook ‘n nuwe hoofstad gekry. Die gebruik van winter- en somerhoofstede het ook nog nie heeltemal uitgesterf nie.

Baie lande het ook reeds die verskuiwing van hoofstede ingespan om ontwikkeling in onontsluite dele van die land te stimuleer, soos die verskuiwing van Brasilië se hoofstad van Rio de Janeiro na Brasilia wat spesiaal vir dié doel ontwerp en gebou is.

Om te voorkom dat ‘n provinsie politieke eienaarskap van die hoofstad neem, word dit dikwels losgemaak van die staat of provinsie waarvan dit oorspronklik deel sou wees, byvoorbeeld Washington DC en die Australiese hoofstad, wat ook spesiaal ontwerp en gebou is om as hoofstad te dien.

Soms is dit makliker om die besluit te neem om ‘n hoofstad te verskuif as die besluit om dit te implementeer, soos in Tanzanië waar die hoofstad sedert 1996 in Dodoma gesetel is, maar Dar es Salaam nog steeds vir alle praktiese doeleindes die hoofstad is. Die interessante is dat die amptelike titel van hoofstad daar deur die setel van die parlement bepaal word, terwyl in Suid-Afrika die persepsie meestal is dat die setel van die uitvoerende gesag die status van hoofstad bepaal.

Dit is ‘n gegewe dat die reëling soos wat Suid-Afrika nou het, baie groot kostes teweeg bring. Daar is ‘n voortdurende stroom van senior, en selfs minder senior amptenare, wat van Pretoria na Kaapstad moet reis om voor verskillende parlementêre portefeuljekomitees te verskyn. Dit bring geweldige vlieg- en verblyfkostes teweeg, en die feit dat die noordelike lughawe wat gebruik word, ook nie by Pretoria geleë is nie help ook nie juis nie.

Vir ministers en adjunkministers, en selfs sekere senior amptenare, moet ‘n dubbele stel ampswonings en kantore onderhou word.

Met die oorspronklike besluit om die uitvoerende en wetgewende funksies geografies te skei is egter nooit kon dink dat die kabinet en adjunkte so talryk soos Clifton se seesand sou word nie, veral met sekere funksies wat in die provinsies gesetel sou wees. Voorts was die parlement net ‘n halfjaar-funksie en was die bedoeling eintlik dat die parlementslede so ver moontlik hul oorspronklike beroepe sou bly beoefen.

Nou is die parlement ongetwyfeld deel van die soustrein.

Terwyl die huidige bedeling enorm en peperduur geword het, het die tegnologie egter ook nie gaan stilstaan nie.

Is dit werklik nodig dat die verwilderde nasionale polisiekommissaris gereeld met ‘n lywig span generaals en ander belangstellendes fisies afsit Kaapstad toe om die jongste brouwerk aan ‘n komitee te gaan probeer verduidelik, of kan minstens die spanlede nie in hul hoofkantoor as getuies ingesweer word en deur die tegnologie van videokonferensie meedoen nie?

En net so – kan daar nie danksy tegnologie plan gemaak word met die peperduur reisende openbare sittings van parlementslede nie?

Die digitale tegnologie is verstommend met onder meer Skype, om nie van die Gautengse oorbelle te praat nie, e-pos en Mixit en vele meer wat darem veel goedkoper uitwerk as om n lughawens te reis, te vlieg, en ten duurste te oornag.

Moet Tesourie, wanneer daar na die koste ondersoek ingestel word, nie sommer ook besin oor of die land nie met ‘n veel kleiner kabinet oor die weg kan kom nie?

Gaan die land nie ook die “miljoene ponde per jaar” bespaar en groter doeltreffendheid weer die land se ekonomiese ratte aan die werk kry nie as beter ministers aangestel word, en die ongrondwetlike kaderbeleid laat vaar word nie?

Die leier van die Christen-Demokratiese Party wys ook op ‘n ander aspek: In Suid-Afrika is daar ‘n geneigdheid om die skeiding van magte, naamlik die wetgewende, uitvoerende en juridiese gesag te laat vervaag. Die feit dat die parlement fisies nie by die uitvoerende gesag gesetel is nie verseker nog in ‘n mate ‘n skeiding van mag. Maar word die parlement noorde toe geskuif, hetsy Pretoria of Midrand, is dit boonop op die voorstoep van Luthuli-huis ook. En in Suid-Afrika het die skeiding tussen regerende party en regering ook reeds te veel vervaag, met Luthuli-huis wat in vele opsigte eintlik nie net die ANC nie, maar die land regeer.

Net ‘n laaste stuiwer in die armbeurs – as die keuse op Pretoria val kan aanvaar word dat die druk sal toeneem om Pretoria se naam na Tshwane te verander, want die versoeningsbeginsel van kompromieë het dan in ieder geval reeds in die slag gebly.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Chris ·

Ek wonder hoeveel die bou van ‘n nuwe parlement – wat natuurlik nog luukser gaan wees – gaan kos. Laat die parlement in die Kaap. Toon die ANC’ers maar hoe ‘n stad met effektiewe bestuur lyk. ;-) Anders kry die ANC nog die idee dat hy die hele land bestuur…

Koos Bester ·

En, Herman, as jy nou klaar gesweet het om die Titanic se dekstoele van Kaapstad na Pretoria te bring en die ANC se wetsousbakke Bloemfontein na Johannesburg en weer terug, sê my? Het jy darem die beste grondwet in die wêreld se loodreddingsgordel om jou nek?

Herman ·

Ek het nou nie die vaagste benul waaroor hierdie kommentaar handel nie. Ek is deeglik, dubbel en dwars, op rekord dat ek nie meen dat die grondwet die beste in die wêreld is nie, en het ook by herhaling gewys op leemtes in die grondwet. Al rede hoekom ek hierop regaeer is dat daar nie deur onkunde misverstande ontstaan nie.

Gemsbok ·

Ek is ten gunste daarvan dat die parlement van Kaapstad na Jozi of Tshwane verskuif.

Dit sal die regering se aanspraak en invloed op ons Afrikaanse meerderheidsgebied verminder.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.