Nuuskommentaar: Parlementêre chaos

Chaos het op 13 November in die Nasionale Vergadering uitgebreek. Foto: Twitter

Chaos het op 13 November in die Nasionale Vergadering uitgebreek. Foto: Twitter

As iemand nog getwyfel het oor Maroela Media se oordeel gister dat die ANC ook anargie na die parlement bring, is daardie twyfel later gister met mening uit die weg geruim. ’n Speaker wat heel duidelik in diens van Lethuli-huis staan en nie die belange van die land en die parlement voorop stel nie. Uiteindelik moes die ANC self die speaker in die openbaar slag, soos die media dit stel.

Hierdie “klip” is deur die ANC se hoofsweep, Stone Sizani, uit die pad gerol. Twintig minute later het die speaker ook sommer verkas.

Toe die ANC Baleka Mbete weer as speaker ontplooi het, is moeilikheid verwag. Haar eerste termyn as speaker het omtrent so suksesvol verloop soos haar pogings om ’n wettige rybewys te bekom.

Haar vernaamste kwalifikasie is dat sy ’n Zuma-lojalis is. Dit maak haar sommer ’n gunsteling om Zuma as president op te volg. Sy verdien immers nou haar spore deur alles in die stryd te werp om die beleërde president uit die sop te hou – iets wat Zuma steeds nodig sal hê wanneer sy huidige en laaste termyn verstryk – as die klok nie voor daardie tyd vir hom lui nie.

Die spore van Zuma- en Zoeloefikasie loop baie sterk deur wat gister gebeur het, en die afloop dui daarop dat die president die proses nie tot die vlakke kon deurvoer waar daar nie by tye ʼn verset gaan wees nie. Hierna het die ANC weer sy eie geledere probeer konsolideer deur die opposisie aan klassieke Prog-bashing te onderwerp.

Ten spyte van Jan en Alleman se begrip van die woord anargie, beteken dit nie noodwendig chaos nie. Die speaker se optrede is eerder klassieke anargie, terwyl die DA en die EFF nou nie juis ’n stigtelike kerkdiens bygewoon het nie.

Mbete verkrag demokrasie op drie maniere. In die eerste plek, as senior ampsdraer in Lethuli-huis hoort sy volgens internasionale konvensie (regsbindende gebruik) nie ook as speaker te dien nie. Kon sy haar twee rolle nog skei, en as speaker as onbevooroordeelde funksionaris dien, was dit ’n ander saak, maar sy neem duidelik haar opdragte uit Lethuli-huis saam na haar parlementêre amp.

Tweedens is dit duidelik dat sy nie die onderskeid ken tussen regerende party, en die regering snap nie. In ’n demokrasie bestaan die regering uit al die politieke partye wat in die parlement verteenwoordig is, die regspraak en die amptenary.

Derdens, in ’n demokrasie regeer die regering (soos dit veronderstel is om daaruit te sien) in algemene belang, nie in belang van die meerderheid (of die enkeling in die geval van Nkandla) nie. Om in belang van die meerderheid te regeer word ’n diktatuur van die meerderheid genoem.

En dan is daar nog grondwetlike demokrasie ook…

Dit is nie nuut van die ANC nie. Reeds in 2012 het prof. Pierre de Vos op sy blog, Constitutionally speaking, onder die destydse adjunk-speaker ingevlieg. Hy skryf onder meer: “Deputy Speaker of the National Assembly, Nomaindia Mfeketo, is either incapable of grasping the meaning of some rather clear and unambiguous rules of Parliament, or she is deliberately abusing her position as Deputy Speaker and flouting the Constitution and the rules of the National Assembly in order to protect President Jacob Zuma from criticism by opposition party members.”

Parlemente het in baie lande nie juis die voorbeeldigste reputasie nie, en tonele soos gister in ons eie parlement speel hulle gereeld in anderland af – ook in lande waarvan ʼn mens dit allermins verwag. Vuiste klap gereeld – in Oekraïne die afgelope paar jaar meer as gemiddeld een keer per jaar. Vuiste het ook al voorheen in ons parlement geklap, en LP’s het vir woordkeuses ook by wyse van spreke hul monde met seep uitgewas gekry. Wat miskien ’n bietjie ongewoon is, is dat dit in Suid-Afrika dikwels vroue-LP’s is wat weet hoe om ʼn pothou te plant, of darem &^%$ lelik te praat.

Ongelukkig is dit ook so dat parlementslede wêreldwyd nie ’n hoë aansien het nie. Peilings wêreldwyd het onder meer aan die lig gebring dat kiesers, soms oorweldigend, meen mense wie se name lukraak uit die telefoongids gekies word, beter as parlementslede sal vaar as diegene wat hulle self in daardie ampte verkies het. Of dat die posman op die naaste hoek beter sal vaar. Ironies, toe daardie peiling gedoen is – in Nederland – was die posmanne ook op ’n staking.

Of Stone Sizani se optrede tot ’n groter mate van verantwoordelike regering gaan lei, of die ANC etnies gaan kloof, en of hy eenvoudig ter slagting geneem gaan word, sal die tyd leer. Etniese klowing in ’n proses waarin Zuma self diep verweef is, speel ʼn belangrike rol in die teenspoed wat Cosatu nou kry.

Die tekens raak egter al duideliker dat Zuma se beergreep op die ANC swakker word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

jakoos ·

Goeie genugtig, Herman, het jy na dieselfde tonele op TV gekyk as ek – of het jy comics gelees?

Ek vra weer: Het jy daardie wit mans in swart pakke in die middel van die DA se banke gesien te kere gaan en gil en skreeu soos besetens? Het jy op die SABC gesien hoe daardie toneel aanhoudelik oorgespeel is. Die indruk daarbuite: dis die wittes in die DA wat die parlement so ontwrig.

En het jy na die Speker en ander amptenare se perfskonferensie vanoggend gekyk? Indien nie, maak plan en kyk weer – en wonder dan of jy nie jou kommentaar bietjie moet wysig nie.

Dit bly vir my ‘n saak van verdriet en kommer dat die Mulders en hulle paar lede so lustig aan die dinge deelgeneem het.

Kobus ·

Maar sulke klomp stoute skarmunkels! Dat hulle nou so chaos veroorsaak, g’n wonder die land sit waar hy sit nie.

Ludwig ·

Ek is baie jammer dat daar so n gemors in die parlement plaasgevind het. Wit manne wat ook skel en skree, maar liewe land, wie sal nie ga*vol raak deur die ANC se eenhoring optrede soos so duidelik te sien was in die beeldmateriaal op Fb. nie. Ek verstout my om te sê, slaat hul met ’n skerp tong.

Kobus ·

Ek is nou baie lelik, maar sit mens met die realiteite en ons sien wat om ons aan gaan, en dit als omrede die skuld van die Eropeer wat hier aan wal gestap het.

Jig, Amerika, Australie, elke land van die weste het skuld aan die chaos van die wereld en ons pik maar so op ons eie mishoop en is so self gesentreerd.

Maar weet ons wat, ons sien nie hier voor dat ek enige van die oosblok lande se naam genoem het nie. Hulle het mos nie aan die geskiedenis help skryf nie. Iemand het nou onlangs gesê: “Go figure.”

Kobus ·

En dan die Skotte en die Iere se geskiedeniis. Die Nederlande het ook gaan verken en “inboorlinge” inheemse mense van daai lande en streke gevind.

Die Spanjaarde was ook seevaarders en het ontdek.

Nou onlangs is stamme in die Amasone gevind wat met pyl en boë jag en wie velle om die middels het.

Nee, hulle is nie agtergeblewe nie, of is hulle? Hoekom, waarom? Ons moet respek en ongelooflik deernis vir daai mense hê.

Dan moet mens hulle soos ‘n kleinoot bewaar, want hulle weet nie van rassisme en apartheid af nie, vir hulle gaan dit net oor hul eie voortbestaan in daai wereld wat ons nie kan verstaan.

“go figure”

As iemand of Herman of jakoos my hierop kan antwoord, ek daag julle.

jakoos ·

Kobus, ek antwoord baie graag – as ek net kan agterkom wat jy probeer se^!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.