Nuuskommentaar: Pas op vir nuwe Slagtersnek

Argieffoto (Pixabay)

Argieffoto (Pixabay)

Daar is soveel ooreenkomste tussen die Slagtersnek-rebellie en die onlangse gebeure by Parys, veral teen die agtergrond van groot ooreenkomste tussen omstandighede destyds in die Oos-Kaap en nou in die land, dat die onversigtige ontleder potensiaal vir ’n nuwe Slagtersnek-opstand kan bemerk. Maar daar is ander opsies om ’n veilige toekoms uit te kerf soos die Solidariteit Beweging se Plan B.

Die Slagtersnek-gebeure, wat ’n groot bydrae gelewer het daartoe dat die Groot Trek plaasgevind het, het hom 200 jaar gelede in die Oos-Kaap afgespeel.

Nou speel iets hom in die Parys-omgewing af wat ongemaklik baie raakvlakke het, of dan beweerde raakvlakke, want die saak moet nog in die hof afgehandel word.

Die Slagtersnek-gebeure het begin toe ’n Khoi-plaaswerker sy werkgewer by die owerheid gaan aangee het na aanleiding van ’n arbeidsgeskil. Dit het tot ’n rebellie gelei.

Volgens die EFF en die oorledenes in die Parys-geval, was die twee plaasaanvallers eintlik net twee plaaswerkers wat uitstaande lone by die boer gaan eis het.

Uiteindelik is vyf rebelle gehang in die berugte voorval waar die toue van vier van die vyf aanvanklik gebreek het. In die Parys-geval word vier boere en ’n polisiekaptein nou van moord aangekla.

Die bedoeling is egter nie om hier op ’n aantal merkwaardige, maar toevallige ooreenkomste te wys nie, maar om die twee gebeurtenisse teen die groter prentjie van destyds en nou af te speel.

Uit Piet Retief se manifes wat op 2 Februarie 1836 in die Graham’s Town Journal geplaas is, kan veel van die omstandighede destyds in die Oos-Kaap te wete gekom word. Verskeie grepe stem sterk ooreen met die situasie wat die boere vandag in die land beleef, soos:

  • “Ons gee moed op om die kolonie te red van daardie euwels wat dit bedreig weens die oproerige en oneerlike gedrag van leeglopers wat toegelaat word om die land oral te teister, ook het ons geen vooruitsig van vrede en geluk vir ons kinders in ’n land wat so deur interne toestande verwar is nie.
  • “Ons kla oor die swaar verliese wat ons gedwing is om te ly deur die vrystelling van ons slawe, en die ergerlike wette wat aangaande hulle verorden is.
  • “Ons kla oor die aanhoudende stelsel van plundering wat ons gedurig moes verduur van die ******* [Xhosas] en ander gekleurde klasse, veral tydens die laaste inval in die kolonie, waardeur die grensdistrikte verwoes is, en die meeste inwoners geruïneer is.
  • “Ons kla oor die onregverdige blaam wat op ons gewerp is deur betrokke en oneerlike mense, onder die dekmantel van godsdiens, wie se verklarings in Engeland geglo word met die uitsluiting van alle getuienis in ons guns; en ons kan as gevolg van hierdie vooroordeel, niks anders as die algehele ondergang van die land voorsien nie.”

Die opskrif van AfriForum en TLU SA se jongste jaarverslag oor plaasaanvalle is “Wreedste jaar nog vir boere en hul werkers”. Maroela Media het onlangs in ’n nuuskommentaar, “Zuma versus die boere / Boere” die huidige spanning tussen die regering en die landbougemeenskap bespreek. Daar is egter ook uitgewys dat dit min of meer neerkom op: Vat aan ’n boer en jy vat aan ’n Boer.

Die Slagtersnek-rebellie en sy tragiese afloop was grootliks die uitkristallisering van bykans onmoontlike omstandighede wat tot groot mate deur die Britse regering in die hand gewerk is. Die ANC-regering blink nou ook nie juis uit daarin om sake vir wetsgehoorsames makliker te maak nie.

Dis moeilik om die Parys-gebeure in hierdie stadium konkreet in dieselfde mate te verbind omdat die saak nog sub judice is. Tog is dit ’n gebied wat die afgelope aantal jare erg onder die wreedste plaasmoorde denkbaar deurgeloop het. Die boere in die omgewing is klaarblyklik baie paraat en dit is heeltemal verstaanbaar dat hulle erg ontevrede met die situasie sal wees.

Parys en omgewing is egter nie uniek nie. Ná byna elke plaasaanval is daar ’n reusemonstering van boere in die omgewing om die aanvallers te probeer vastrek. Voorts is dit nie net plaasaanvalle wat boere se voortbestaan bedreig nie, maar byvoorbeeld veediefstal en selfs gewasdiefstal.

Ook wat oplossings betref, kan daar na Retief se manifes gekyk word, onder meer:

  • “Ons is vasbeslote, waar ons ook al gaan, om die regverdige beginsels van vryheid te handhaaf, maar terwyl ons sal sorg dat niemand in ’n toestand van slawerny gehou word nie, is dit ons vaste voorneme om sodanige bepalings in stand te hou wat misdaad sal onderdruk en ’n gesonde verhouding tussen baas en kneg sal verseker.
  • “Ons verklaar plegtig dat ons hierdie land verlaat met ’n begeerte om ’n rustiger lewe te lei as tot nou toe. Ons sal niemand molesteer, nóg van die kleinste besitting beroof, maar, as ons aangeval word, sal ons onsself ten volle geregverdig ag om ons lewe en besittings te verdedig, na die beste van ons vermoë, teen elke vyand.
  • “Ons is van voorneme, om gedurende ons reis, en by ons aankoms in die land waar ons permanent sal woon, die inboorlingstamme in te lig oor ons voornemens, en ons begeerte om in vrede en in ’n vriendskaplike verhouding met hulle te lewe.”

Sommige boere het reeds ’n nuwe “Groot Trek” na ander Afrikalande onderneem, daar is Suid-Afrikaanse boere in Georgië gevestig, en heelwat skop nes in lande soos Australië. Daar is ook ʼn trekkrag na Orania.

Maar is daar nie ’n opsie dat Suid-Afrikaanse boere ’n toekoms op hul geboortegrond, of grond wat hulle gekoop en opgebou het, kan uitkap nie?

Het die regering sy kant gebring, was dit al ’n perd van ’n ander kleur.

Word ’n soortgelyke stelsel as die kommando’s weer toegepas, is dit ook ’n ander kwessie.

Maar daar was al soveel gevalle waar boere, en selfs vroue, wat hulself verdedig het in die selle beland het en hul hande vol gehad het om nie vervolg te word nie. Dit het ook al tot verskeie suksesvolle siviele eise teen die polisie gelei. In ’n onlangse geval moes AfriForum weer ingryp.

Die Solidariteit Beweging het ook die skep van ’n veilige leefomgewing vir Afrikaners in die oog, en AfriForum skenk heelwat aandag en hulpbronne aan plaasveiligheid. Die aksie om plaasaanvalle tot prioroteitsmidsdaad te verklaar word selfs op internasionale verhoë gevoer.

Die dae van ’n Slagtersnek-tipe rebellie is verby. So gebrekkig soos die Grondwet ook al is, dit is nie die groot probleem nie, maar ’n regering wat halsstarrig versuim om die politieke wil aan die dag te lê om  die veiligheid van almal te verseker en so sy grondwetlike verpligtinge versuim. Trouens, Vrystaat Landbou het die regering reeds hieroor hof toe geneem en twee keer ’n skikking buite die hof bereik.

Tog, word na die pennevrug van die Seunse Weenkoor gekyk, lyk dit of die Solidariteit Beweging met sy Plan B ’n tipe hoogverraad pleeg. ’n Vinnige oorsig oor dié artikels bring gou aan die lig dat die skrywers nie skroom om woorde, en veral bedoelinge, daaraan te koppel wat glad nie op die agenda is nie. Maar met dié tipe verdagmakery word probeer om ’n kleed van ’n rebellie-op-hande te kweek.

Kom ons sit skouer aan die wiel en laat Plan B werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
DPJ

Herman Toerien kan al sy kwalifikasies op noem maar as sy geloof nie in die drie-enige God is nie beteken dit niks.
Dan bou hy sy plan B nie op God se wilsbesluit nie.
Ons as volk (Vrytaat se boere, BOERE)moet terugkeer na God drie-enig soos die voortrekkers dan en dan alleen sal dit slaag.
Daar is GEEN SPRAKE van ‘n groot trek nie!
AL GROOT T IS TERUG NA die woord(BYBEL) en bid en smeek God verlosing. Leef dan ook so juig loof en prys God vir sy redende GENADE!

Mike de Beer

Ek stem heelhartig met DPJ saam maar dat Herman Toerien ingelig is weet waarvan hy praat is duidelik. Sal graag Solidariteit se Plan B wil bestudeer?

chrisp

Herman. Amper word ek yskoud! Ek is besig met die boek AmaBhulu deur Harry Booyens en het presies dieselfde gedink en gewonder in die deel waar Slagtersnek vertel word. Die ooreenkomste is nogal skrikwekkend en uiters gevaarlik. Ons sit op ‘n kruitvat en dwase(liberales en sosialiste) speel met al die vuurhoudjies. Graag stem ek saam met bg twee here (DPJ ) en die feit dat ons trek sal wees terug na God toe anders sal die behoud van ons waardes en kultuur uitsterf. Die keuse le uitsluitlik by ons en die tydsgleef is besig om tot sy einde te kom.… Lees meer »

Loeis

Die skrywer se verwysing na verdagmakery van goeie beginsels deur die die ingooi van goed wat niks met die besprekingspunt te doen het nie, maat my dink iemand wie, ironies genoeg, onder die skuilnaam “Gelofte” op hierdie forum kwaadstook. Daardie gebruiker sal nou seker begin om ‘n ander naam te gebruik.

Sakkie

Met ‘n spreekwoordelike vergrootglas wat ek Maroela se berigte lees en geregverdig so, glo ek. My eerste ervaring van Herman 20 Toerien se jongste penproduk was dat hy waarskynlik ‘n bonus op hierdie artikel gaan verdien. Behalwe om ‘n geskiedenis (kultuur-) lyn te trek welke uiteraard emosionele krag dra, eindig hy dawerend met die kitsoplossing vir al die probleme. Let wel. AL die probleme. Plan B. Vra ek nuuskierig my kollega, “Wat is Plan B”? Reken hy: “He he he he, hardloop as die *** die fan strike.” Enige aksie/poging/plan(B) is sekerlik beter as niks maar vir my is die… Lees meer »