Nuuskommentaar: Pasop, hier kom die Boere!

Cyril Ramaphosa

Cyril Ramaphosa

“’n Mens weet dis amper verkiesing wanneer ANC-ringkoppe skielik begin Afrikaans praat.” Miskien nie ‘n ou oerwoudgesegde uit die Skim-reeks nie, maar verkiesing na verkiesing is Afrikaanse TV-kykers verbaas oor watter ministers wat g’n nooit ’n woord Afrikaans spraak nie, skielik Afrikaans diep uit die kas opdiep, afstof en “the Taal” inspan.

Maandag was dit, aldus die SABC-nuus, die ANC se adjunk-president, Cyril Ramaphosa se beurt, terwyl die Vrystaatse premier, Ace Magashule, weer so gemaak het. Magashule is ‘n ou hand met Afrikaans, en het onder meer in 1994 sy eed met sy inhuldiging as LUR ook in Afrikaans afgelê.

Dié skielike Afrikaans-pratery is lankal deur die meeste Afrikaansprekendes deurgekyk. ‘n Donkie stamp sy kop net een keer, en die (meeste) Afrikaanssprekendes darem nie veel meer kere nie.

Die ANC wil die Wes-Kaap “bevry” en om dit te doen het dié organisasie die provinsie se oorwegende bruin en wit stemme nodig … Met al die moeilikheid in die ANC, die opkoms van Malema se sirkus, met Agang in die omtrek, is daar ‘n vae buitekans dat die ANC Gauteng kan inboet, en ‘n paar verdwaalde stemme uit Pretoria se Afrikaanse gemeenskappe kan vir die ANC dalk net handig te pas kom…

Maar Afrikaans is nie al wat Ramaphosa die nuus laat haal het nie.

By ‘n ander geleentheid het hy glo in Limpopo ‘n kieser wat weens ontevredenheid met die ANC van die stembus wil wegbly, gemaan dat dié wegblyery kan veroorsaak dat die “Boere” kan terugkeer om die land te regeer.

Presies hoe verskil dit van die klagtes van die ANC dat ander partye die “swart gevaar”-taktiek teen die ANC inspan?

In Europa word hierdie soort vergryp teen ‘n minderheid as rassisme en ‘n erge vergryp teen menseregte beskou, en is dit moeilik om te dink dat Ramaphosa vandag nog sonder ‘n baie groot ekskuus verder deel van die politieke toneel sou wees.

Die land het reeds enorme skade gely deur die gereelde uitsprake van pres. Jacob Zuma wat ook in die oorsese pers opslae maak. Dit kook nog in Christen- en kerklike geledere oor Gwede Mantshe se vergelyking van die ANC se drieparty-alliansie met God-Drie-eenheid na Zuma en kornuite nou al ten spyte van herhaalde vermaning uit kerklike geledere talle soortgelyke uitlatings gemaak het, of Ramaphosa voeg sy naam by hierdie bedenklike galery.

Die feite is egter dat Ramaphosa teer op gewortelde persepsies. Opnames toon dat baie swart mense glo dat selfs die DA, sou dit aan bewind kom, apartheid sal herinstel. Ramaphosa se stelling het juis saamgeval op ‘n kwesbare oomblik vir die DA.

Wanneer ‘n regerende party met leë hande en ‘n baie vrot eier in die gesig na ‘n verkiesing aanstap, word spookstories maklik opgedis. In die geval van Suid-Afrika is die maklikste om te sorg dat die verkiesing bloot in ‘n rasse-sensus ontaard, en siedaar, die ANC het weer ‘n baie groot meerderheid.

Die probleem is net dat baie Suid-Afrikaners oor politieke en rassegrense heen meer van Ramaphosa verwag het. Na Zuma byna ‘n jaar gelede vir nog ‘n termyn tot ANC-president, en dus in effek tot president van die land verkies is, het die verkiesing van Ramaphosa as adjunk baie gedoen om die markte en die ekonomie te stabiliseer. Onthou?

Daar was groot verwagtinge dat Ramaphosa in wese ‘n uitvoerende eerste minister sou word met Zuma wat meer van ‘n seremoniële rol sou opneem (en dus in wese nie meer in staat sou wees om die land soveel skade met los uitsprake te berokken nie). Onthou?

Zuma het egter anders beslis en die ou taktiek van verdeel en heers toegepas. Die politiek-ontmande adjunk-president Kgalema Motlanthe is in daardie amp behou, terwyl Ramaphosa hom in Luthuli-huis moes ingrawe. Om te keer dat Ramaphosa buite Zuma se skadu kan groei, is swaargewig-kornuite soos Zweli Mkhize in Luthuli-huis ontplooi, sodat selfs Gwede Mantashe as gewoonlik invloedryke sekretaris-generaal ‘n skadu-figuur begin word het – skynbaar tot hy nou ook besef het ‘n misplaaste knieval beteken bietjie sonskyn.

Die Zoeloe-opmars onder Zuma is so duidelik dat oud-pres. Thabo Mbeki net woes mond uitgespoel het oor die herlewing van “tribalism”. Selfs Winnie Madikizela Mandela het ‘n ego hiervan laat hoor.

Dat Ramaphosa tot die vlak sou daal om die Afrikaner / blanke as ‘n Antjie Somers in te span, pas nie by die statuur wat hy wyd geniet (het) nie. Of hy verskoning gaan vra hiervoor, sal bepaal of hy nou vir hom ‘n albatros om die nek gedrapeer het. Anders loop hy gevaar om in die Suid-Afrikaanse persepsie-politiek net nog “een van hulle” te wees. Dit is nou die politici wat kla dat die land bie skade ly omdat die publiek hulle as narre, en die regering as sirkus voorstel.

Die politiek is egter ‘n spel van geleenthede. Die bal wat Ramaphosa nou laat val het, was ‘n gulde geleentheid vir die DA wat nog self na ‘n aanslaan moet verdedig dat dit klap om die bal te probeer gaps. Ook die Vryheidsfront Plus en die CDP soek na die DA-aanslaan (of vliegramp) nou onderskep-geleentheid, en het ook op die Ramaphosa-aanslaan toegeslaan.

Die onlangse gebeure herinner net weer hoe belangrik dit is dat kiesers ingelig moet wees om sinvol te kan stem, en dit geld ook die Afrikaner / blanke kiesers. Wanneer kiesers nié goed ingelig is nie, word hulle gemaklik met donkie-ore toegerus. Dink maar aan die volgende uitsprake:

–       “Ons sal jul stem (binne die ANC) wees.” ‘n Baie stil stem inderdaad.

–       Moenie jul stemme op klein partytjies vermors nie.” Nee, nie dié keer Tony Leon nie, maar Marthinus van Schalkwyk toe die NP ‘n veel groter party as die destydse DP was. Leon was woedend en het deeglik moeite gedoen om op die valsheid van die argument te wys.

–       “Moenie jul stem op klein partytjies mors nie.” Dié keer die DA, na die NNP deur die ANC verslind is, en die DA die grootste opposisieparty geword het.

–       “Die referendum gaan nie oor hervorming nie, maar net oor ‘n ja of nee vir die instelling van die drie-kamer-parlement.”

–       “Die uitslag van die referendum (dieselfde referendum) was ‘n duidelike ‘ja’ vir hervorming.

–       “Die referendum handel slegs oor die ja of nee vir voortgesette onderhandelings, nie die aanvaarding van ‘n grondwetlike model nie. Daarvoor al ‘n volgende referendum volg.”

–       “Die referendum was ‘n duidelike ‘ja’ vir die nuwe bedeling. Watter tweede referendum?”

–       “Leen vir ons jou stem.” (Watter geleende stemme?)

Slegs ‘n goed-ingeligte, beginselvaste kieser sal kan voorkom dat sy stem die uitwerking het wat hy bedoel het dit moet hê. In die kiesstelsel wat in Suid-Afrika geld, tel elke stem. Slegs een stem kan ‘n groot verskil maak. Dit is dalk net daardie stem wat benodig is om ‘n bykomende setel in die Nasionale Vergadering of provinsiale wetgewer te verwerf. Daardie stem maak dalk net die verskil of die party nog ‘n setel in die Nasionale Raad van Provinsies kry. En die bykomende setel is dalk net die setel wat benodig is om op bykomende ondersteuningspersoneel en ‘n vergrote staatstoekenning aan die party te kwalifiseer.  Dit handel nie altyd oor vol kwotas (‘n kwart persent van die stemme uitgebring) nie, maar die enkele stem kan die party van keuse die voordeel van die grootste breuk van die balans verskaf.

Maar ‘n kieser wat met donkie-ore toegerus is kan homself en die land op daardie manier enorme skade berokken. Juis om hierdie rede is ‘n vrye media onontbeerlik, en plaas Verslaggewers Sonder Grense so ‘n hoë premie op die media se aanbieding van politieke diversiteit om die stand van persvryheid in ‘n land te meet.

Met die verkiesing wat Hitler se diktatorskap volledig gemaak het, het 168 pasiënte in ‘n Joodse hospitaal volgens die New York Times vir die Nazi’s gestem, 92 “nee” gestem en daar was 46 bedorwe stembriewe. By ‘n Joodse ouetehuis het 94 “ja” gestem, vier “nee” en daar was tien bedorwe stembriewe. Die les is dat ‘n misplaaste stem in niemand se beste belang kan wees nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

fransie ·

Duidelik het Ramaposa en sy aanhangers nie veel tussen hulle ore nie – nooit sal apartheid weer ingestel word nie want net so min as die swart bevolking dit wil he wil die bruin bev olking en meeste blankes dit nie he nie – ons is lankal verby die breinspoel stadium en mense met 2 korreltjies grysstof sal besef dat demokrasie gekom het om te bly en dat slegs daarder ons weer SA kan stabiliseer – dws as almal wakker en grootword en besef presies waaroor dit gaan – oor n land en sy mense nie slegs n paar individue se egos nie – ek kan so die he’ll in raak vir die mens met n groot EK om sy nek gehang!!!

Herman ·

Ek vra verskoning hiervoor. Omdat ek erg disleksies is is die Afrikaanse speltoetser baie belangrik. Die probleem is dat die speltoetser woorde soos “bie” herken wanneer dit eintlik “baie” moes wees. Die situasie is vererger deurdat ek met my tweevinger-aanslag (die meeste vingers is te dik om deur die toetse te pas) die ou toetsbord sat getik het. My vrou het toe vir my ‘n “harde diens-toetsbord” gekoop waar die toetse juis hard gemoker moet word. mdat ek lank hard moes konsentreer om my aanslag te versag, eral op toetse wat ek lankal pap geslaan hhet soos die “a” en “e” is my aanslag op hulle og dikwels te sag, en moet ek knaend teruggaan en letters insit.
Gistteroggend het ek weens die komplekse aard lank daaraan gewerk, en agter tyd geraak. Boonop het daar ongeveer 7-uur ‘n vrou gekom wie se man oorlede is, wat ek met ‘n faks van die sertifikate moes help, wat my oggendprogram heeltemal omvergewerp het. In die proses het die tyd my erg geknyp. My vrou het my gistermiddag reeds op die vlaatirs gewys. Sy doen gewoonlik my proefleeswerk, maar vir die vroeg-oggendwerk is dit nie moontlik nie omdat sy weer tot laat werk. Ek sal groter sorg aan die dag lê.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.