Nuuskommentaar: Pasop vir kiekiesop

Zuma se Nkandla-tuiste. Foto: City Press

Zuma se Nkandla-tuiste. Foto: City Press

Sterk taal is teenoor die media gebruik om duidelik te dreig dat die publikasie van foto’s van die president se Nkandla-landgoed groot moeilikheid kan beteken, want dit is ‘n nasionale sleutelpunt.

Hierdie dreigement maak kleingeld van die konsep dat die reg per definisie nie absurd kan wees nie. Soos prof. Pierre de Vos uitwys, dit beteken die swierige parlementsopnening mag ook nie gefotografeer word, of gebeeldsend word nie, want die parlement is ‘n nasionale sleutelpunt.

En wie is nou ook in die sop oor die publikasie van foto’s van die parlement in die talle regeringspublikasies?

En is die buitelandse besoekers wat poskaarte met die parlement opraap tegnies nou spioene?

Hierdie absurditeit sou ignoreerbaar kon wees, en trouens, publiseer Die Burger vandag ‘n (ouerige) foto van die bouwerk op Nkandla onder die opskrif: “Dit mag jy NIE sien nie”, as dit nie na sulke hoë gesag gekom het nie.

Die probleem is dat daar sowat 200 nasionale sleutelpunte in Suid-Afrika is. Wat hulle is, word taamlik goed geheim gehou, en dit kos nogal bietjie soek om vas te stel dat alle internasionale lughawens nasionale sleutelpunte is. Oor die Waterkloof-lugmagbasis is met Guptagate hoog opgegee oor die krisis dat dit ‘n nasionale sleutelpunt is wat misbruik is, maar later is ook hier en daar ontken dat dit ‘n nasionale sleutelpunt is.

Ons weet egter nou dat kiekies neem van Nkandla, die internasionale lughawens en die parlement ‘n mens in die sop kan laat beland. Maar dan bly daar nog sowat 200 ander plekke oor wat nie gekiek mag word nie, maar wat dit is word geheim gehou.

Of het die kabinet in sy haas om verleenthede oor Nkandla te stuit bloot vergeet van die implikasies van so ‘n argaïese bepaling, en nou ‘n wet selektief wil toepas wat die regering self erken het ongrondwetlik is?

Suid-Afrika is een van die lande waar wette weens ‘n tydsverloop weens onbruik verval, sonder dat dit noodwendig herroep word. ‘n Goeie voorbeeld is die wet wat owerspel strafbaar maak. Het dit nie in onbruik verval nie, was die president self al meermale in die sop. Hy het byvoorbeeld owerspel suksesvol as verweer teen ‘n aanklag van verkragting ingespan, en hy het ‘n familievriend se dogter buite die huwelik in die ander tyd gesit.

Die toepassing van die ongrondwetlike is ingewikkelder. In die grondwetlike hof se uitspraak in die saak van City Council of Pretoria versus Walker (1998) is onder meer bevind dat iemand nie maar self wette kan ignoreer omdat hy glo dit is ongrondwetlik nie – daar moet ‘n regsproses wees. Tog is daar in die praktyk gevalle waar iets so duidelik ongrondwetlik is, dat dit in effek verval. So bepaal die titelaktes van baie wonings in die Bloemfonteinse woonbuurt, Langenhovenpark, op aandrang van die oorspronklike grondeienaar, dat daar nooit ‘n swart persoon op daardie erwe mag oornag nie. In die praktyk is daar egter verskeie swart huiseienaars sonder dat dié bepaling ooit geskrap is.

As die owerheid daarin kan slaag om met juridiese akrobasie weg te om, kan die samelewing inderdaad ‘n gekkeparadys word. Die regstelsel en die toepassing daarvan kan so geplooi word dat dit ingespan word om politieke opponente se lewe hel te maak, terwyl gekoesterde kaders weens die mees absurde leemtes net van krag tot korrupte krag kan gaan.

Terwyl die veiligheidsopgradering van Nkandla aan die gang was, moes Vrystaat Landbou die howe nader om ‘n vroeë hofbevel te bekragtig wat die owerheid verplig om na die veiligheid van burgers om te sien, en in besonder boere op die Lesothogrens. Wat het geword van die grondwetlike beginsels wat gelyke regte, soos gelykheid voor die reg opeis?

Verslaggewers Sonder Grense is nou besig om die volgende persvryheidsindeks op te stel. Op hierdie indeks het Suid-Afrika oor die afgelope aantal jare so erg agteruit geboer dat verskeie Afrikalande nou meer persvry as Suid-Afrika is. Dit is toegegee, nie alles die regering se skuld nie, hoewel die snoerwet waarskynlik die grootste enkele impak gehad het, maar ook wat beskou kan word die media se versuim om die land se politieke diversiteit behoorlik te reflekteer.

Heel ironies het die ANC juis nou ‘n versoek aan Sanef, die nasionale redakteursforum, gerig om beleid te formuleer wat politieke objektiwiteit deur joernaliste in die hand werk: “Though we affirm the right to freedom of association for every South African to belong to any party, journalists in this country must set themselves apart from political associations that tamper with objective reporting and analysis,” aldus die ANC se Oos-Kaapse verkiesingshoof, Mlibo Qoboshiyane.

Solank die ANC besef dit is ‘n tweesnydende swaard.

Die dreigemente oor foto’s van Nkandla, die beweerde aanranding van ‘n joernalis deur een van pres. Zuma se lyfwagte en die onbevredigende parlementêre proses oor die snoerwet, gáán ‘n negatiewe impak vir Suid-Afrika op die volgende persvryheidsindeks inhou. En die persepsies wat hierdeur losgelaat word benadeel die land as beleggingsbestemming.

Dit skep die indruk van benoude katte wat benoude spronge maak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae