Nuuskommentaar: Pasop vir Nkosazana!

Nkosazana Dlamini Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Daar is min eenstemmigheid oor hoe ’n knap persoon dr. Nkosazana Dlamini-Zuma is, veral met die oog daarop om as die volgende president van die ANC, en daarna die land, verkies te word. Maar is daar bande wat haar terughou, en verhinder dat sy, wat tot beter in staat is, as ’n Jacob-Mini-Me in die politiek optree en haar kanse oënskynlik skade berokken?

Terwyl pres. Jacob Zuma skynbaar oneindig dikvellig klou aan sy ANC-presidentskap sowel as die land se presidentskap, tik die horlosies dat daar wel (staatsgreep uitgesonder) ’n verandering in die ampte moet intree: die ANC-pos die einde van die jaar en dié van staatspresident in die algemene verkiesing in 2019. Hoe meer tyd verloop, hoe meer maak dit skynbaar sin om bloot die sand uit die uurglas te laat uitloop. Intussen kan min die ANC dit nadoen om homself só in die voet te skiet as die ANC self, en dit bring hoop vir 2019.

Maar wat as daar in die warboel iemand na vore tree wat erger en gevaarliker as Zuma self is? Soos nóg ’n Zuma?

Of sal dr. Nkosazana Dlamini-Zuma ’n verbetering op haar voormalige eggenoot, Jacob, wees?

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder, meen Nkosazana Dlamini-Zuma is ’n nonentiteit in die wedloop om Jacob op te volg. Ander meen die ANC-vroueliga se steun aan haar kandidaatskap (met afvalligheid) is ’n aanduiding dat sy nie onderskat moet word nie. Boonop is sy ook Jacob se voorkeurkandidaat.

Dit is dus veiliger om die oog op haar te hou.

Maar hoe ’n goeie of slegte president sal sy wees as sy president sou word?

Hieroor is daar geen eenstemmigheid nie. Sy het as minister in drie portefeuljes gedien, naamlik gesondheid, buitelandse sake en binnelandse sake. Haar termyn by buitelandse sake kan nie juis as ’n rasende sukses beskryf word nie. Haar termyn by gesondheid word meestal as ’n ramp beskou, met die Sarafina-skandaal as die kersie op die koek. By binnelandse sake het sy by tye baie lof gekry, maar jare ná haar vertrek daar blyk dit dat baie van die probleme wat sy sou opgelos het, nog yslike kopsere is.

Jacob het enorme energie (en dalk hulpbronne) gebruik om haar tot voorsitter van die Afrika-kommissie verkies te kry, en uiteindelik daarin geslaag. Haar termyn is voltooi en daar was geen poging om nog ’n termyn aan te bly nie. Daar was min tekens dat sy entoesiasties oor haar werk by die AU was.

Daar is sterk tekens dat, sou sy ’n tegnokratiese koers inslaan en haar van behoorlike advies bedien, sy die skip minstens aan die dryf sal kan hou. Reeds voor haar vertrek na Addis Abeba het sy egter reeds aanduidings gegee dat sy ’n aptyt vir radikale politiek het. By die abortiewe Kliptown-beraad in 2012, wat bedoel was om versoening in die land aan die hand te werk, het sy byvoorbeeld as spreker vir dr. Pieter Mulder, destyds leier van die Vryheidsfront Plus, erg oor groepregte betig. Dis duidelik iets waarvoor sy nie ooghare het nie, hoewel sy by geleentheid self ’n Jacob-Mini-Me was deur op haar Zoeloe-herkoms klem te lê. Haar tydsberekening, so kort voor die pos by die AU, was egter baie sleg.

Kort nadat Jacob vroeër vanjaar sy voorkeur vir grondonteiening sonder kompensasie geuiter het, en nadat die ANC laat blyk het dis geen ANC-beleid nie, het Nkosazana in die openbaar vir die konsep in die bres getree, en dit breedweg juridiese inhoud en regverdiging probeer gee.

Die groot kommer is egter haar jongste reeks uitsprake oor wit monopoliekapitaal en radikale ekonomiese transformasie (ook teen wit mense gemik).

Dit is veelbetekenend dat Nkosazana voortgaan om die term “wit monopoliekapitaal” te gebruik nadat dit onder meer weens die Bell Pottinger-stertjie erg in onguns verval het, en die ANC oorwegend besluit het om die “wit” uit te haal. Jacob het egter onverstoord voortgegaan om dit te gebruik, en nou is dit duidelik dat Nkosazana ook so maak.

Bogenoemde is uiteraard te min om ’n besliste profiel oor Nkosazana as toekomstige president te vorm, en daar is tussenin inderdaad ook matigende en tegnokratiese opmerkings. Dit bly egter onrusbarend dat sy, as bewese intelligente vrou wat haarself as dokter bekwaam het, haar in die teenproduktiewe retoriek van Jacob laat insleep.

Vandat Nkosazana heel voortydig (volgens ANC-besluite oor die opvolgstryd) na vore getree het, was dit duidelik dat sy Jacob se gunsteling as opvolger is. Sy word skynbaar geoormerk om te verseker dat Jacob ná aftrede nie in die tjoekie beland nie.

Maar dis ook duidelik dat Jacob se steun, minstens by tye, op Nkosazana se veldtog boemerang, en daar was trouens tekens dat sy in stadiums afstand tussen haar en Jacob geplaas het. Die naelstring word egter nie geknip nie.

Die laaste ding wat Suid-Afrika nou nodig het, is ’n intellektuele begronding van ’n versameling radikalismes, te midde van ’n voortsetting van patronaatskap, en ja, selfs moontlik ’n voortsetting van staatskaping.

En daar is heelwat waaroor Nkosazana gerus die mond kan uitspoel as sy ernstig as kandidaat beskou wil word wat die Grondwet sal onderhou, byvoorbeeld haar stem dik maak omdat adjunkminister Mduduzi Manana, adjunkminister van hoër onderwys, nog nie afgedank of minstens geskors is nie. Gebrek aan optrede teen Manana, en openbare goedpratery van sy optrede vanuit die Vroueliga, skep ’n baie swak beeld van die ANC. Gelukkig het die #ZumaMustFall-veldtog daartoe bygedra dat Suid-Afrika en die ANC, en spesifiek die Zuma-faksie, nie so maklik as dieselfde ding gesien word nie.

Manana, so blyk dit uit die jongste vrag onthullings oor sy ongure verlede, regverdig ’n nuuskommentaar op sy eie. En die onthullings sluit nie eens verwysings in dat hy, volgens betroubare getuies, in die parlement tydens die debat oor plaasaanvalle, uitgeroep het die boere moet lewend begrawe word nie.

Mag Croukamp se beoordeling dat Nkosazana ’n nonentiteit in die benoemingstryd is, in die kol wees. Net sy self sal kan verklaar hoekom sy, wat tot beter in staat is, verkies om die beelddraer van alles wat Jacob drooggemaak het te wil wees.

Miskien is daar net te sterk belangebande wat dinge inmekaar weef.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Frans ·

Wat het sy reggekry toe sy voorsitter van die AU was? Hoeveel oorloe het sy verhoed? Sy sal slegs ‘n handperdjie van eks manlief wees.

Johan ·

Behoed my dat ek ooit vir die ANC sal stem.Jy mag nie vir jouself dink nie, hulle dink vir jou en besluit hoe jy moet stem en hoe meer korrup jy is hoe `n hoer pos sal jy kry.Hulle kan my nie verkeerd bewys nie.

JC ·

Herman, jou artikel is weereens in die kol!
Myns insiens kan iemand wat deur haar optrede geen waardering wys vir die Republiek se kulturele verskeidenheid en diversiteit nie, glad nie steun verwag nie. Haar kommentaar op groepsregte waarna jy verwys openbaar ‘n erge miskonsepsie van Suid-Afrika en die unieke uitdagings wat dit in die gesig staar.
Dit diskwalifiseer haar outomaties, want enigiemand wat so onkundig kan wees as om voor te stel; as teenvoeter tot die verskynsel van kulturele verskeidenheid; dat die minderheid SOMMER NET SO LEKKER, ASOF DIT SO MAKLIK IS EN DAAR NIE TEENSTAND (GEREGVERDIGDE) SAL WEES NIE, moet assimileer na die kultuur van die meerderheid, verdien ooglopend nie om in ‘n leierskap posisie te wees nie, en misluk klaaglik daarin om SA en sy verskillende mense, rasse en kulture te verstaan. Niks van “vind gemene grond, respekteer mekaar se kulture, en bevorder onderlinge respek nie” NEE; sommer net lekker ou gedwonge ASSIMILASIE” FINISH EN KLAAR”. Ag hoe maklik is dit nie!!

JC ·

DZ se houding openbaar ook ‘n tipiese “afrika outoritere” gedagte-grondslag, “which is not going to wash” in Suid-Afrika.

John ·

Stem saam. Ons sal dan leer wat die woord arrogansie beteken.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.