Nuuskommentaar: Persvryheid en SA

Argieffoto: Pixabay.com

Volgens die jongste persvryheidsindeks wat Verslaggewers Sonder Grense (VSG) pas bekend gestel het, het Suid-Afrika sy posisie die afgelope jaar met drie plekke verbeter, en beklee nou die 28ste plek.

Suid-Afrika se posisie het vanuit die middel van die Zuma-era, toe die land die 52ste plek beklee het, drasties verbeter. Die vorige jaar nog het die land met tien plekke getuimel. Veral die dreigende snoerwet en die ANC se aandrang het erg tot die kreeftegang bygedra, en VSG het Suid-Afrika blatant daaroor gedreig. Dit word in perspektief gestel deurdat Suid-Afrika nog in 2003 die 21ste plek op die indeks beklee het, en die mees persvrye land in Afrika was.

Selfs in sy sterk verbeterde posisie is daar nog twee Afrikalande wat meer persvry as Suid-Afrika is, naamlik Ghana en Namibië.

Die mees persvrye lande is Noorweë (1), Swede (2), Nederland (3) en Finland (4). Volgens die indeks vaar Suid-Afrika beter as Spanje (31), Frankryk (33) en Brittanje (40). Suid-Korea het 20 plekke verbeter, maar beklee nou die 43ste plek.

Noord-Korea in die 108ste posisie beklee oudergewoonte die agterhoede.

Die ommekeer in Suid-Afrika se posisie is ironies deur ’n fout ingelui. Volgens VSG het Zuma “geweier” om die snoerwet te teken. Volgens Zuma self het hy dit egter vir verdere regsadvies verwys, en dit kon steeds enige oomblik onderteken word. Trouens, toe Zuma onder druk geplaas is om as president te bedank, is berig dat Zuma dalk beoog om uit wraak die wetsontwerp te teken.

Terwyl nie alle mediakenners met Suid-Afrika se flinke verbetering op die persvryheidsindeks sal saamstem nie, is dit ook so dat daar tydens die Zuma-era ’n “opening” gekom het waar mense in selfs vooraanstaande koerante geskryf het Zuma (en die Guptas) is skelms, en vele meer. Dit is selfs oor besprekingsprogramme oor die SAUK gesê. Verbete ondersoekende joernalistiek, en die publikasie van bevindings, het die staatskaping stuk vir stuk begin oopbeitel.

Baie van die vrymoedigheid was te wyte daaraan dat die persoon wat voel hy word so benadeel volgens ons regstelsel moet bewys dat die aantygings onwaar is, en nie in openbare belang nie. Op die oog af lyk dit of die staatskapers sal sukkel om hulle voor enige hof as leliewit te bewys – nie met die vragte der vragte bewyse wat reeds in omloop is nie. En baie daarvan is (ook) in die hande van die media.

Of dit ’n soort genoeë persvryheid onder die Zuma-era was, is nie heeltemal duidelik nie. Zuma het telkens ernstiger sake in sy mandjie gehad as “skinderstories”.

Hofuitspraak ná hofuitspraak het egter die “skinderstories” bevestig. Bedoeld, of waarskynlik onbedoeld, het ’n de facto-persvryheid baie daartoe bygedra dat Zuma tot ’n val gekom het.

Dit sal pres. Cyril Ramaphosa loon om die media die nodige beweegruimte te gee om verder in die korrupsie en staatskaping te delf. Daar moet egter gemaan word dat gebeure soos dit wat tot die sogenaamde SAUK-8-saak gelei het, nie weer mag voorkom nie. Op die oog af was dit ’n siek poging om die openbare uitsaaier tot ’n presidensiële mondstuk te omskep, al het dit tot die geldelike ondergang daarvan gelei.

Persvryheid word egter op vele terreine gemeet. In baie lande, soos Griekeland, word die nuusagenda deur groot sakelui bepaal, en bevorder so ’n klimaat van georganiseerde misdaad. In Suid-Afrika het die Guptas swaar in hul eie media belê.

Voorts word mediavryheid bepaal deur die media se gewilligheid om behoorlike aandag aan die politieke diversiteit in ’n land te skenk. Die harde ongemak is dat, soos ’n waarnemer reeds jare gelede opgemerk het, iemand in Suid-Afrika net ’n tik- en faksmasjien nodig het, dan kan hy ’n politieke party wees. Hy kan mediaverklarings uitreik wat selfs die mees obskure koerantjie of radiostasie haal. Vandag, met rekenaars en e-pos is dit soveel makliker, en dit kan boonop deur ’n getwiet aangevul word. Is daar werklik ruimte vir ’n feitlike nie-entiteit om plasingsruimte in die media op te neem?

In Suid-Afrika is daar wel beperkings, en dit word byvoorbeeld deurlopend in Maroela Media uitgespel by sleutelpunte waar lesers hul kommentaar kan lewer. Ondanks die voorskrifte (sommige op Maroela Media afgedwing, sommige deur Maroela Media vir ordentlikheid self daargestel) is daar gereeld lesers wat kla dat hul bydraes verwyder is “terwyl ek niks verkeerds geskryf het nie”. Ook ander instansies, soos Netwerk24, volg ’n soortgelyke metode, terwyl ander hul kommentaargeriewe heeltemal verwyder het.

’n Rubriek soos hierdie kan kwalik afgesluit word sonder om ook te verwys na rassisme en haatspraak. ’n Mens staan net verstom dat, ná verskeie gevalle wat opslae gemaak het, daar steeds kort-kort iemand daarmee op Facebook en ander gemeenskapsmedia lostrek. Persvryheid strek immers nie so ver nie, en word ook duidelik in die Grondwet uitgespel.

Intussen moet ons dankbaar wees dat persvryheid ons in staat gestel het om duike in korrupsie en staatskaping te slaan, en mag dit so voortduur. Terwyl dit voortduur, is dit maar ’n smerige en onaangename tyd. Tensy, natuurlik, die sukses teen korrupsie in mense se gemoed dieselfde soort plek begin inneem as ’n Springbok-oorwinning op die rugbyveld, of atlete wat ná ’n toernooi met hande vol medaljes terugkeer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Casper Labuschagne

Slegs ‘n Sonstraal wat deur ‘n donker wolk breek? * SA redakteursforum se aantal besorgde verklarings wat onlangs uitgereik is. (Google “BFLF SANEF”) * Verslaggewers word nou algemeen deur opruiende skares bedreig, belet en weggejaag. * Funksie om kommentaar te lewer op nuusstories is afgeskaf deur alle hoofstroom mediagroepe vanweë wetgewing wat haatspraak beperk – persvryheid is toelaatbaar vir media maar die leser se opinie is dus nou onder sensuur. * Verskeie wette wat in- of deur ‘n goedkeuringsfase is waarvan die toepassing hierdie jaar sal geskied. Die effek sal wees om breedweg sensuur toe te pas op enige voorkoms… Lees meer »

Rynhardt

Persvryheid het n baie lang pad om nog te loop.Daar was nog nooit in meer as n 100jaar kompetisie vir Media24(groot sondebok in verhaal)wat die kitaar slaan nie.Net so is daar ook nie behoorluk kompetisie in 42 jaar vir die SABC nuus nie.Bogenoemde is propagandamasjiene vir vorige en huidige regeri gs.Daar word nog steeds stilgebly deur hoofstroommedia rakende die stil volksmoord en diskriminasie teen Boermense.Ons kort meer onafhanklike afrikaanssprekende koerante en tydskrifte wat ons mense se taal behoorlik praat!!!!

Jacobus

Almal en dit sluit my self in het al in die hitte van die oomblik al komentaar gelewer op artikels vanweë die gevoel van beleërdheid van die oomblik en die situasie waarin ons verkeer sonder om werklik die saak eers goed te deurdink. Moontlik is dit maar deel van PTSD of die menslike faktor van eie beskerming/oorlewing wat ‘n rol speel. Vandag se media; nuuskanale, koerante (aanlyn of gedruk), radio stasies ens. word deur die publiek onder ‘n vergrootglas geplaas omdat baie media platforms eensydig berig oor gebeure en nie meer werklik vertrou word nie; dit word oorwegend gesien as… Lees meer »

Kannaland

Suid Afrikaners moet hulself deeglik bemagtig om nuwe tegnologie en digitale media te kan gebruik en self platforms te kan skep. Dit sal die ANC al minder greepkrag gee.

TDW

Geniet ek nou Quora. Mense vra vrae en ander kan dit antwoord. Die intelligente en deurdagte antwoorde wat daar uitkom is lekker om te lees. Waarhede word vertel sonder om bang te wees dat dit polities inkorrek is. Intelligente mense wat daagliks met sekere onderwerpe te doen het is gewoonlik die wat antwoord, hetsy politiek, werktuigkundiges, dokters of ouerskap. Sensuur word steeds toegepas, maar dis nie so eng soos ‘ander’ media nie, en as hulle jou antwoord verwyder kan jy nog appèl aanteken, dan hersien hulle dit. Mense van Amerika lees oor dinge van Suid-Afrika. Dis ‘n platform waar jy… Lees meer »