Nuuskommentaar: Persvryheidsindeks: SA kry uiteindelik goeie nuus op ‘n indeks, maar…

nuwe SA-vlagSuid-Afrika het op die jongste internasionale persvryheidsindeks sy posisie van die 52ste tot die 42ste plek verbeter. Dié nuus kom te midde van Suid-Afrika se voortgesette daling op ander indekse soos die korrupsiepersepsie-indeks, die innovasie-indeks, indeks vir mislukte state, en die geweldsindeks.

Ongelukkig is daar ‘n GROOT “maar” geskryf oor die blaaskans wat Suid-Afrika op die persvryheidsindeks indeks gekry het. In die bespreking van hoekom lande se posisie verbeter of verswak het, word as rede aangevoer vir Suid-Afrika se verbetering op die indeks, dat pres. Jacob Zuma geweier het om die omstrede snoerwet te teken. Verslaggewers Sonder Grense het inderdaad destyds, toe Zuma die wetgewing na die parlement terugverwys het, ‘n verklaring uitgereik om Zuma te loof. Uit die verduideliking nou was dit duidelik dat VSG op die aanvanklike inligting gereageer het voor dit duidelik geword het dat dit slegs oor enkele tegniese verstellings gehandel het, en dat die ANC steeds (klaarblyklik in opdrag van Luthuli-huis) die wetgewing sou deurstoomroller.

Suid-Afrika het dus ‘n frats-voordeel met ‘n afsnypunt gekry wat geval het in die tydperk na die aanvanklike, in wese misleidende nuus dat die wetsontwerp terugverwys is, tot dit duidelik geword het dat die terugverwys geen impak op die drakoniese beperking op ondersoekende joernalistiek sou hê nie. Fratstoestande het Suid-Afrika dus ‘n kunsmatige blaaskans gegee, veral as Zuma wel die wetgewing sou onderteken.

Die tweede spek wat in gedagte gehou moet word, is dat die algehele persvryheidsindeks vir die wêreld erg gedaal het. In 2013 was die indeks 3 395 punte, maar het in 2014 tot 3 456 gedaal. ‘n Land wat dus sy posisie sou kon handhaaf, sou dus outomaties sy posisie verbeter het.

Dit beteken ook dat verskeie van die insidente wat Suid-Afrika agteruit sou laat boer het, soos die opdrag tot die wegredigering van die uitjouery van Zuma tydens oud-president Nelson Mandela se huldigingsdiens, die verbod op enige nuusdekking aan Front Nasionaal deur verskeie koerante, en Okosa se eise aan onder meer Radio Pretoria buite die afsnytydperk geval het.

Dit moet in ag geneem word dat Verslaggewers Sonder Grense ‘n massa data van
180 lande moes verreken om die indeks op te stel. Boonop is Verslaggewers Sonder Grense in Parys, Frankryk, gesetel, en is die Afrika-lessenaar se personeel hoofsaaklik Franssprekend, wat dit moeiliker maak om vinnig op die nuus in die Engelstalige pers te maak, en gebeure in die Afrikaanse pers gaan maklik verlore as dit nie in Engelse verslae onder die aandag van die organisasie gebring word nie. VSG gaan, soos talle ander waghondinstellings, onder groot geldelike druk gebuk wat ‘n beperking op kapasiteit plaas.

Voorts moet in gedagte gehou word dat ‘n 42ste plek nie ‘n vleiende posisie is nie. In 2003 het Suid-Afrika nog die 21ste plek op die indeks beklee, en was die mees persvrye land in Afrika. Nou klop Namibië (22), Kaap Verde (24), Ghana (27) en Botswana (41) Suid-Afrika. Die burgeroorlog in Mali, en politieke onrus in Niger het dié lande heel verstaanbaar van hul goeie posies ten opsigte van Suid-Afrika se posisie laat terugsak.

Die interessantheid is dat Suid-Afrika nou beter vaar as die VSA, wat nou in die 46de plek is. Die VSA is veral gestraf vir die optrede, en gepoogde optrede teen fluitjieblasers soos Bradley Manning en Edward Snowden. Die departement van Justisie se beslaglegging op Assosiated Press se telefoonrekords en soortgelyke optredes het ook sleg afgegaan. Die onthullings oor die NSA se optredes sal blykbaar eers in die volgende verslagjaar volledig ‘n impak hê.

Vir Zuma en die ANC is die boodskap baie duidelik: Onderteken die snoerwet, en betaal die prys. Daardie prys sal egter eers lank na die verkiesing betaal word.

Die snoerwet is vir Verslaggewers Sonder Grense ‘n uiters teer punt, soos blyk daaruit dat die VSG nie net telkemale daaroor gewaarsku het nie, maar ook regstreeks aan ‘n ANC-kongres geskryf het om die wetgewing te laat vaar.

Dit beteken ook dat burgerlike instellings wat waak oor die vlot verloop van die grondwetlike demokrasie, ernstig daaroor sal moet besin of hulle nie VSG ook op hul lysie moet plaas van internasionale instansies wat genader word om druk op die regering teen vergrype teen die grondwet te plaas nie. Nie om dislojaal teenoor die land te wees soos wat die ANC al tevore aangevoer het nie, maar juis om lojaal teenoor die land en sy mense te wees om te voorkom dat ‘n diktatuur van die meerderheid behoorlik posvat.

Persvryheid word as die vierde, weliswaar nie-amptelike been van die demokrasie beskou. ‘n Vrye media gee inhoud aan die demokrasie deur die politieke diversiteit behoorlik te stel, en dit stel vergrype teen die demokrasie genadeloos aan die kaak. Om persvryheid te verdedig met al die middele tot die beskikking beteken nie net die verskansing van die grondwetlike demokrasie nie, maar voer ook ‘n strooptog op korrupsie uit wat lande van hul toekoms beroof.

Die verbetering van Suid-Afrika se posisie bied dus eerder rede tot groter waaksaamheid as om die borrelvoggies se proppe af te skiet.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae