Nuuskommentaar: Phiyega, nou ook die res!

Nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega. Foto: Werner Beukes/SAPA

Nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die langverwagte, en lank agtergeblewe besluit om Riah Phiyega as polisiehoof (met volle salaris) te skors, staan in skrille kontras met die SAUK se versuim om Hlaudi Motsoeneng ná selfs ’n appèlhofuitspraak te skors. Die ANC se beleid dat eers teen iemand opgetree word nadat hy skuldig bevind is, word egter nou sommer dieselfde dag vir ’n ses geslaan nadat die Noord-Kaapse voorsitter van die ANC, John Block, aan onder meer korrupsie skuldig bevind is. Block is ook LUR vir finansies en ekonomiese sake – nou nie juis die soort portefeuljes waar ’n bedrieër in gesien wil word nie.

Die ANC wil eers ná vonnisoplegging reageer, en daar word probeer om dié datum na einde Januarie aanstaande jaar uit te stel. In Februarie begin nóg korrupsieverhore teen Block.

Of die versuim om Motsoeneng te skors veel met ’n danigheid oor hierdie peperduur uitsaaibaas te make het, en of dit blote instink van die ANC is om die Openbare Beskermer te ondermyn, is nie seker nie. Met Motsoeneng aan die stuur is die SAUK His Master’s Voice met eilandjies waar redaksionele onafhanklikheid geduld word.

Wat Phiyega betref, pres. Jacob Zuma moet self die skuld dra vir haar aanstelling in die eerste plek. Na buite het Phiyega nooit vertroue ingeboesem nie, en na binne skynbaar gesorg dat die topbestuur in woord en daad na haar pype dans, soos die brief van provinsiale kommissarisse wat onder haar toesig geskryf is en waarin lojaliteit teenoor haar uitgespreek is. ’n Foefie wat sleg geboemerang het.

Die toekenning van medaljes aan haar kort ná haar aanstelling het bygedra tot die skep van ’n karikatuur. Die motiverings vir die medaljes het met mekaar meegeding om mekaar in belaglikheid te oortref. Die kersie op die koek was stellig die medalje om haar vir haar optrede tydens die aanbied van die Wêreldbekersokkertoernooi in Suid-Afrika te vereer. Sy was toe egter nog lank nié in die polisie nie.

Dit is nou hoog tyd dat die ANC die les leer dat mense op meriete aangestel moet word, en dat behoorlik vasgestel moet word of die persone oor die nodige integriteit, kundigheid en funksionele vermoë beskik. In ’n demokrasie is daar nie plek vir politieke kommissarisse wat in die eerste plek die party se belange moet dien nie.

En sulke eienskappe moet sommer die president en kabinet ook geld.

Dis duur om mense te skors en met vol pakkette en salarisse tuis te laat sit totdat uitgerekte prosesse afgehandel is. Die land kan dit nie bekostig nie.

’n Manier moet gevind word om van die ander Phiyega’s in die staat en staatsinstellings ontslae te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tascha ·

Raak ontslae van Zuma en sy kaders dan sal dinge uit die staanspoor verbeter… Die land het nie noodwendig ‘n wit leier nodig nie maar goeie genugtig daar moet iemand wees wat in belang van die land en nie sy eie sak wil optree nie!! Die ANC gebruik ‘poppe’ soos Phiyega maar net soos wat en vir hoe lank dit hulle pas daarna word hulle uitfasseer en kry hulle nog ‘n goue handrukke wat miljoene werd is… Hierdie regering is besig om die land soos ‘n kanker te vernietig en daar is niks wat mens kan doen buiten om te sit en wag tot die laaste fluitjie geblaas het en daar vasgestel kan word wat nog gered kan word nie

Thomas ·

vir die 1ste keer verstaan ek wat die regering doen( ANC) elke Tom Dick en Harry word aangestel in enige pos deur n maatjie sodat hy sy n fortuin kan kry en as die druk hoog raak word hulle met volle betaling n goue handdruk gegee. So dis n welvaartskepoingsproses vir vriende en het absoluut niks met enige dienslewering of werkprestasie te doen nie. Moenie eers oor kwalifikasies praat nie. Dis n vloekwoord in die regering– daar is hordes voorbeelde—Prasa, SAUK, SAP, Die amptelike beleid is; word ryk so vinnig moontlik en gee dan jou pel ook n kans! .. Vervolging ?You must be joking! Dit is absolute Gods wonder dat die land nog bestaan– Soos Dawie roodt se.. Volgende geldjie wat gestroop word is die GPG.. Staat pensioen!

Bruno Stef ·

Ek staan absoluut verslae om nou deesdae na die aanstellings van persone in die staatsdiens en semi/staatsdiens te kyk.n Mens voel eintlik bly dat jy persoonlik self al jare afgetree het en nie met sulke onbevoegde domastrantheid ook te doen het nie.My tydgenote moes hard studeer het en baie jare aandklasse ook bywoon om hulle kwalifikasies te verbeter en om bevordering op meriete te kon verkry.Deesdae ontpop twyfelagtige kandidate agter elke bos uit met handevol geld en bonusse as beloning.

Jan maak n Plan ·

Ons as publiek moet net een ding besef en dit is dat die ANC aanbewind bly slegs deur om sy eie maatjies in al die sleutel poste in te druk en sodoende die massas onder hulle daardeur te beinvloed. As dit naby stem tyd kom kry n klomp geld, sommiges huise en sommiges goue hand drukke. Die ANC skop n spul stof op en na die verkieisng is dit weer terug na die gewone self verrykking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.