Nuuskommentaar: Pierre Korkie en die terroriste

'n Argieffoto van Pierre Korkie en sy gesin. Foto: Gift of the Givers

‘n Argieffoto van Pierre Korkie en sy gesin. Foto: Gift of the Givers

Enkele weke gelede is Suid-Afrikaners verenig in gebed dat die ontsette buitelandse gyselaar in Jemen, die Suid-Afrikaner Pierre Korkie sou wees. Die hoop het egter beskaam, maar die aandag was weer gevestig op die lot van Korkie, en die groot spanning op sy gesin in Suid-Afrika.

Dit het later geblyk dat die ontsettingsoperasie deur die Amerikaanse Seals daarop gerig was om ’n Amerikaanse fotograaf te ontset. Anders as die aanvanklike berigte, dat ’n Amerikaner ontset was, het dit later geblyk dat daar drie buitelandse gyselaars onder die agt was wat ontset is, maar dat die Amerikaner,  Luke Somers, nie meer in die grot aangehou is nie.

Hy en, volgens sommige berigte, Korkie ook, is kort tevore na ’n ander Al Kaïda-basis verskuif. In die Amerikaanse pers is wyd bespiegel dat daar ’n lekkasie was.

Dit is hierdie basis waarheen Somers verskuif is wat nou aangeval is. Somers en Korkie is egter tydens die ontsettingsoperasie dodelik gewond, blykbaar deur ’n Al Kaïda-lid wat hulle wou teregstel. Korkie is volgens die jongste inligting aan boord van ʼn spesiale helikopter dood terwyl om sy lewe geveg is, en Somers aan boord van ’n skip met gevorderde mediese geriewe waarheen hy en Korkie afgevoer is.

Omdat die Seals se operasies uiters geheim is, sal dit lank neem voor detail oor die operasies in Jemen bekend sal wees, indien ooit. In dié stadium lyk dit of ’n lid van die terroriste wat na buite is omdat die natuur geroep het, deur ’n blaffende hond gewaarsku is van die aanval wat sou volg.

Die Gift of the Givers wat namens die Korkies oor Pierre se vrylating onderhandel het, maak daarop aanspraak dat ’n ooreenkoms bereik was dat Korkie die dag na die ontsettingsoperasie vrygelaat sou wees. Dit is nie duidelik of hierdie inligting met die VSA gedeel was nie. Die VSA het gereageer op Al Kaïda se dreigemente dat Somers “binne 72 uur” tereggestel sou word – dus voor Korkie se vrylating.

Dit moet dadelik gestel word dat terroriste-organisasies, en so ook Al Kaïda, bekend is daarvoor dat hulle leuens en verbreekte beloftes as deel van hul terreurtaktiek inspan. Niemand sal dus weet of Somers werklik tereggestel sou word, en of Korkie wel vrygelaat sou wees nie.

Maar hoe kry Al Kaïda en ander terreurorganisasies so maklik vastrapplek in Jemen, dat dit moeilik is om vas te stel waar gyselaars aangehou word?

Die huidige Jemen is ’n samestelling van die ou Noord-Jemen en die ou Suid-Jemen, beide bergagtige lande, waarin die landbou ʼn groot rol speel. Beide lande is deur talle stamme bewoon, wat onder tradisionele leiers gestaan het. Noord-Jemen was deel van die Ottomaanse Ryk, en het in 1919 onafhanklik geword. Dit is deur Imans (koning) regeer.

Suid-Jemen was in Britse besit, hoewel eintlik net die hoofstad Aden regstreeks deur die Britte regeer is. Die res van die land was eintlik net ’n protektoraat wat deur emirs regeer is. Die Britte het Aden in 1830 beset. Voor dit was dit ’n seerowersnes, waarvandaan ʼn skrikbewind oor belangrike seeroetes gevoer is.

Na onafhanklikheid van Brittanje in 1969 verkry is, het dit het ’n kommunistiese staat met baie noue betrekkinge met die USSR, China en Kuba geword.

Noord-Jemen het ’n heelwat groter bevolking as Suid-Jemen, en na unifikasie in 1990, was daar gou spanning toe inwoners van die voormalige Suid-Jemen gevoel het hulle word deur die ou Noord-Jemen gekoloniseer. Hulle was veral ongelukkig omdat oliebronne wat op die grondgebied van die ou Suid-Jemen ontdek is, net deels weer in die gebied aangewend is. In 1994 het Suid-Jemen dus weer weggebreek, maar is taamlik gou deur die getalryker Noord-Jemen onder die knie gekry.

In die noorde van die ou Noord-Jemen is ’n groot aantal Sjiïtiese Moslems wat ook baie sterk tradisionele leierskap beleef het. Hierdie groep is al lank haaks met die Soenie-regering, en burgeroorlog word al lank gevoer. Dit het veral versterk toe die ou Suid-Jemen in 1994 weer onafhanklik probeer word het, en die regering van die ou Noord-Jemen deur Wahabiete uit Saoedi-Arabië gesteun is. Die Wahabiete is deel van die Soenie-Islam, maar is ook nou verwant aan die radikale neo-Salafisme waaruit Al Kaïda, die IS, Al Shabaab en Boko Haram hul inspirasie put.

Vroeër vanjaar het die Sjiïtiese opstandelinge pandemonium veroorsaak deur ’n groot deel van die hoofstad, Sana’e (ook die hoofstad van die ou Noord-Jemen), te beset. Hulle is egter uiteindelik verdryf.

Die huidige Jemen kan allermins met ’n baie serk nasionale eenheidsgevoel spog. Groot dele van die land is nie werklik woestyn nie, en daarom is die bevolking nie so volkome langs die kuste saamgetrek soos in ander lande op die Arabiese skiereiland nie. Omdat die gebied bergagtig is, is skuilplek volop. Jemen ontbeer ook jaarliks miljarde rande aan olie-inkomste omdat die pypleidings van die olievelde na die kus te kwesbaar is.

Die ontvoering van gyselaars en die eis van lospryse, is ’n florerende bedryf, en so lonend dat groepe selfs gyselaars aan ander groepe “verkoop”.

Die Korkies is skynbaar vir Amerikaners aangesien toe hulle ontvoer is, maar die ontvoerders, in die beste tradisie van die ou seerowers van Aden, ontvoer enigeen wat hulle meen ’n losprys waardig is.

Die “probleem” is dat die VSA en ander lande, waaronder Suid-Afrika, nie met terroriste onderhandel nie. Dit beteken egter nie dat van die gyselaars se families nie soms enorme bedrae bymekaar maak om gyselaars los te koop nie. Dit gebeur so stil as moontlik, sodat die terroriste nie die indruk moet kry dat dit ’n maklike manier is om geld te maak nie. Tussen 2004 en 2012 het terreurgroepe wêreldwyd sowat R1,3 miljard uit ontvoerings verdien. Die IS het verlede jaar tussen R385 miljoen en R500 miljoen verdien uit lospryse wat vir ontvoerdes gehef is. Daar was ’n skerp toename in die ontvoerings na die leier van Al Kaïda, Ayman al-Zawahri, in Oktober 2012 ’n oproep op Al Kaïda-geaffileerde organisasies gedoen het om Westerlinge te ontvoer. Lees die volledige berig op Maroela Media.

In Jemen het dit egter ook nou duidelik geword dat die VSA se intelligensiebronne so opgeknap is, dat dit nou moeilik is vir terroriste om die plekke wat hulle gyselaars aanhou, te lank geheim te hou. Deur die Seals en ander spesialismagte het die VSA ook die vermoë om op byna enige plek in die wêreld toe te slaan om ontsettingsoperasies uit te voer. In Jemen het die Amerikaners boonop die volle ondersteuning van die regering. Jemen se eie regering is egter nie sterk genoeg om self ontsettingsoprasies uit te voer nie. In die jongste twee ontsettingsoperasies is verskeie terroriste gedood. Na berig word is ook aansienlike skade aan die terroriste se infrastruktuur aangerig.

Hoe lank die ontvoeringskwessie nog ’n “bedryf” gaan wees, hang van baie faktore af. So lank daar regerings en families is wat die losprys betaal, sal dit ’n lonende bedryf bly. Daar kan ook nie van families verwag word om die hand dig toe te hou as die lewe van iemand op die spel is nie.

Pres. Barack Obama se versekering dat die land oor die vermoë beskik om sy burgers oral ter wêreld te beskerm, moet nog na behore bewys word, maar intussen sal Al Kaïda weet om Amerikaners te ontvoer, hou vir hulself aansienlike risiko in. Ook die IS leer dat elke teregstelling van ’n Amerikaanse gyselaar, verskerpte bomaanvalle op sy vestings tot gevolg het.

Intussen is dit baie hartseer van Pierre Korkie. Suid-Afrikaners wat die krag van gebed in twyfel trek, kan egter gerus ’n blaadjie neem uit die boek van Yolandé Korkie: “Ons verkies om te vergewe.”

God verhoor gebede, maar nie altyd soos ons wil hê dit moet gebeur nie omdat God beter weet wat goed vir ons is.

Dit is belangrik dat Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk of reis, goeie kennis het van die omstandighede daar – nie net uit toeristebrosjures nie.

Sommige is wel deeglik bewus van die gevare, en omdat in baie Moslemlande nie Christen-sendingwerk gedoen mag word nie, word ontwikkelingswerk as stille getuienis gedoen. Radikale groepe sal egter maklik so iets ook as sendingwerk sien, net soos wat baie mense in die optrede van die Gift of the Givers ook stille sendingwerk vir die Islam sal sien.

Die Taliban het juis aangedui dat hulle gemeen het die sentrum waarin hulle die Groenewald-gesin in Kaboel, Afganistan afgemaai het, ’n Christelike sentrum is.

Maar dit is ook nie juis so vreeslik veilig in Suid-Afrika nie.

 

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Petrus Potgieter ·

Beste Jakoos

Jy het gereageer op my vorige kommentaar op hierdie “Nuuskommentaar” en ek wóú nog iets daaroor sê, maar toe is beide ons bydraes skoonveld.
Jy kan gerus op my boernaal – (we)b(j)oernaal – na die verdere verloop gaan kyk:

http://mierleeu.blogspot.be/

Groete

Petrus Potgieter

jakoos ·

Dankie, ek sal gaan kyk.

Maar hierdie gesusansor sit nie lekker nie. Laat my so sterk dink aan Jannie Kruger en die Sensuurraad van doerie tyd! Selle arrogansie, selle eensydigheid, selle bekrompenheid, selle dwingelandy!

Petrus Potgieter ·

Jakoos, jy wil nie jou oorspronklike kommentaar aan my e-pos sodat ek dit met die ander korrespondente kan deel nie.

Groete

Petrus Potgieter

jakoos ·

Ek onthou taamlik wat ek geskryf het, maar ek sukkel om dit weer so in te span.

ek sal probeer, maar belowe niks!

Petrus Potgieter ·

By voorbaat dankie, Jakoos.

Dis miskien dít wat my só frustreer van die sensuur – dat ‘n mens se oorspronklike, spontane gedagtes sonder (na)denke geëlimineer word en ‘n mens bewaar nie altyd die teks in byvoorbeeld ‘n Word-dokument nie.

Indien dit sou help, het jy begin deur my aan te vat vir my vermetelheid om die skrywer se meerdere kennis van God en Sy Raadsplan te betwyfel en dan het jy na GotG verwys.

(Hierdie kommentaar gaan natuurlik onmiddellik na ‘n Word-dokument en dan na die sandkolk van die MIERLEEU.)

Groete

Petrus Potgieter

jakoos ·

Petrus ek dink dit was iets soos die volgende:

Petrus Potgieter, hoe durf jy vir Herman so aanvat? Jy kan mos sien hy weet presies wat God dink. Hy kan dan vir ons vertel: “God verhoor gebede, maar nie altyd soos ons wil hê dit moet gebeur nie omdat God beter weet wat goed vir ons is.”

Maar nou staan ek net en wonder wat dan nou goed is vir ons met Korkie se dood.

Want as die Gift of the Givers se bewering waar is dat Korkie Sondag sou vrygelaat word (en blykbaar was daar iets want Korkie se vrou was reg om oorsee te gaan), dan is dit darem ‘n verskriklike ding wat die alwetende godheid gedoen het om mense maande lank te laat bid en hoop – en dan toe te laat dat die man ‘n dag voor hy vrygelaat sou word, doodgeskiet word.

Wat wonder ‘n mens, sou daaraan goed wees vir ons om so wreed ontnugter te word.

(ek wou iets byvoeg soos: “maar dalk wou God vir ons ‘n duidelik boodskap daarmee stuur. Soos dat hy eintlik nie bestaan nie” maar ek het dit toe maar gelos.

Ek stuur hierdie vir jou via Mierleeu.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.