Nuuskommentaar: Piet Croucamp en die Afrikaner

Dr. Piet Croucamp. Foto: litnet.co.za

Dr. Piet Croucamp se deelname aan Maroela Media se Groot Debat onder die opskrif, Dáárom is ek geen Afrikaner nie, het besonder baie reaksie ontlok, waaronder ‘n groot aantal wat as doodgewone vitrioel beskryf kan word wat ongelukkig stukrag aan van Croucamp se provokatiewe stellings gee.

Een van die bykans 100 mense wat op die hoofblad kommentaar lewer, Wynand Boshoff, vat dit goed saam: “Dr Croucamp het ‘n belangrike argument onder ‘n provokatiewe opskrif en growwe veralgemenings versteek. Soos hy sekerlik verwag het, was daar ‘n stortvloed reaksies, maar die meeste het liewer sy veralgemenings bevestig as weerlê. Dis jammer.”

Die bedoeling is nie om hier volledig op Croucamp se artikel te reageer nie, maar sekere belangrike aspekte binne die Suid-Afrikaanse en internasionale konteks te plaas. Beter toegeruste persone sal wel die debat wat Croucamp ontketen het op die gepaste forum verder voer.

Sommige rubriekskrywers is meer suksesvol as ander; sommige rubriekskrywers probeer ‘n professionele diens lewer waar sake van die dag so vakwetenskaplik en feitelik suiwer moontlik ontleed en bespreek word, ander kan deur satire die ontleedmes besonder skerp inlê, en ander floreer deur die inspan van omstrede en provokatiewe stellings. Die eerste groep, veral diegene wat daarin slaag om die saak so te beredeneer dat hy of sy selde kritiek van links of regs kry, neig om die vaal kolle op die blad te wees. Dit stimuleer selde debat. Dit is nie wat redakteurs wat in verkoopsyfers belangstel interesseer nie, maar dit maak ‘n belangrike deel van die meningsvormingskultuur in ‘n land uit. Dit dien as belangrike instrument tot die toerus van mense om hul stemreg verantwoordelik uit te oefen.

Dit is ook nie hulle wat genooi word om landboukongresse en ander geleenthede toe te spreek nie. Die spreekbeurte gaan meer geredelik aan omstrede figure wat ‘n gewoonte daarvan maak om bog oor landbou te skryf, soos landboutoestande in Ethiopië en Zimbabwe. Wat geensins impliseer dié mense is dom nie, of weet nie baie van baie dinge nie. Soms, soos Deon Maas met Rapport, word die vingers wel verbrand.

Die rissiepit-kommentator, Rhoda Kadalie, het per geleentheid geskryf dat politieke korrektheid die diktatuur van die liberalis is. Flip Buys, grootbaas van Solidariteit, het gister in sy rubriek in Rapport na ‘n verwante saak verwys, naamlik die onverdraagsaamheid van die liberalis teenoor standpunte anders as hul eie, terwyl meningsvryheid feitlik as hoogste reg verhef word. Onder die opskrif, Liberaal práát verdoesel kwaad, skryf hy onder meer: “Selfs die voorste liberale intellektueel Francis Fukuyama waarsku dat die waarskynlikste linkse bedreiging vir die demokrasie kan kom van diegene wat liberaal praat, maar die ware betekenis van binne af tot die teenoorgestelde omskep. Dít mag ons nie toelaat nie.”

Dié verskynsel is betreklik onlangs ook onderstreep in AfriForum en die TLU-SA se hofsaak teen Julius Malema se haatspraak. Terwyl die hofsaak plaasgevind het, is Malema verbete deur die ANC gesteun, maar vanuit liberale oord was daar bykans geen piep om die haatspraak te veroordeel nie. Na die uitspraak téén Malema was daar uit liberale oord heelwat kritiek en foutvindery met die uitspraak. Van die kritici is bekend daarvoor dat hulle besonder krities is teenoor uitlatings en optredes uit die ander kant van spektrum, soos die onlangse betoging wat by Kleinfontein naby Pretoria gehou is.

Politieke subjektiwiteit drup uit stellings soos dat die Afrikaner grootliks nog ‘n groot mate van welvarendheid geniet, ten spyte van die neo-apartheid in die vorm van die SEMS-ingenieurswese (sosio-ekonomiese, maatskaplike en sosiale ingenieurswese) waaraan nie-swart (wat nie African Africans is nie)  onderwerp word. Dat daar ‘n sleureffek vanuit die vorige bedeling is of was, is so, maar dat die rol na 20 jaar beperk moet wees is ook so, met ander faktore soos verantwoordelike gesinsgroottes en emigrasie wat ook ‘n rol speel, maar is politiek inkorrek om aan te voer).

Daar is Afrikaners wat ter wille van oorlewing en dalk selfs inhaligheid meedoen aan korrupte praktyke  om tenders en staatskontrakte te kry. Van die voorste transformasie-propagandiste se eie sagte kussing-aanstellings dateer uit ‘n tyd voor transformasie. Dit is maklik, maar kwalik moreel, om vanuit hierdie ivoortorings statistiese gegewens aan te haal, sonder om uit hul eie poste te bedank en dan weer in die neo-apartheidskonteks vir hul eie poste aansoek te doen. Selfs al gebruik hulle gereeld hul blootstelling in uitsendings om hul “patetiese salarisse” te kritiseer.

Daar is dieperliggende faktore ter sprake. Die tipiese Afrikaner word met ‘n bepaalde soort waardestelsel geassosieer, waaronder sy Christelike geloof, ‘n baie vroeë ingesteldheid oor ‘n demokratiese regeringstelsel, regverdigheid, en ‘n liefde vir sy moedertaal. Dit beteken nie alle Afrikaners is in alle opsigte tipiese rolmodelle van hierdie veralgemeende kenmerke nie.

Wat die Afrikaner in die moeilike posisie stel dat hy in sy vaderland ervaar dat die land se president ‘n veelwywer is, wat boonop kinders buite die eg verwek het, en owerspel suksesvol teen ‘n aanklag van verkragting aanvoer. Dit is ‘n land waar instellings soos Solidariteit en AfriForum gereeld die howe opsoek om te keer dat Afrikaanse instellings bloot in die slag bly. Die land is bevriend met muishondlande soos Kuba, en pas het pres. Jacob Zuma vir Mugabe geluk gewens met sy verkiesingsoorwinning. ‘n Verkiesing wat nie net weens die Zanu-PF se monopolie oor die media erg ongelyk was nie, maar wat vol ander bewese gebreke was. Wat voorspel dit vir Suid-Afrika se verkiesing volgende jaar as die regering geen fout kan of wil sien nie?

Staatsgeld word gebruik om voorvadergeeste van verskillende plekke in die wêreld na Suid-Afrika te bring, en amptelike geleenthede soos die oorhandiging van HOP-huise word ANC-verkiesingsvergaderings.

Waar die oppergesag van die reg voortdurend onder skoot kom, en die regerende party amptelik ‘n ongrondwetlike beleid van kaderontplooiing dryf?

Teen hierdie agtergrond is dit nie verrassend nie dat ‘n webjoernaal se titel lees: “Ek het ‘n moedertaal maar geen vaderland nie.”

Is dit vreemd dat baie Afrikaners die vraag vra of hulle eerstens Afrikaners, of eerstens Suid-Afrikaners is?

Daar is ‘n internasionale sentiment om weg te beweeg van die konsep dat mense se afkeer teenoor sekere optredes van die regering van die dag noodwendig op gebrekkige vaderlandsliefde dui. Peilings in die VSA toon dat die Amerikaners taamlik verdeeld is oor of die klikbek Snowden verraad gepleeg het, of juis lojaal was teenoor die waardes wat in die Amerikaanse grondwet vervat is.

Croucamp het die reg om hom van die Afrikaner te disassosieer. Koos Kombuis en ander het by geleentheid dit “mode” gemaak om as Afrikaners te bedank.

Daar moet egter gewaak word daarteen om die baba saam met die badwater uit te smyt deur nie ook kennis van Croucamp se artikel te neem nie. Afrikaners moet daarteen waak om deur hul optredes en woorde juis perseptiewe substansie te gee aan Croucamp se stereotipes.

Jare gelede is ‘n bekende rubriekskrywer genooi om ‘n damesgroep toe te spreek. Hy neem toe aan dat dit hier werklik oor dames handel, en in sy toespraak verwys hy na tipiese kenmerke en gedrag van wat dames nié is nie, en skets die tipiese “lydie” van die zef-generasie.

‘n Skril stem kom agter uit die gehoor: “Jy praat nie so van ons nie, ons is f*&^%n lydies!”

Die Afrikaner moet daarteen waak dat die takhare in eie geledere nie die stok bied om die Afrikaner negatief te stereotipeer nie. ‘n Suiplap-predikant maak immers nie ‘n hele kerkverband ‘n suiplap-kerk nie.

Lees die skrywe van dr. Piet Croucamp hier.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Tante Afrikana ·

Ag nee wat – hierdie hele debat oor Afrikanerskap of nie, verveel my erg. Ek sal maar vir Bart Nel aanhaal. “EK is nog hy/sy”. Jy as mens het die volle seggenskap oor jouself. Wees wie JY wil wees, nie wat ‘n groepie voorskryf nie. Ag en al onse ou geleerde manne/dames wat tog so graag die pen op papier plaas en tot satwordens toe gorrel oor MY identiteit…..(afrikaanssprekende persoon in ‘n veeltalige land), loop hou julle besig met iets wat ten minste veranderinge ten goede meebring.

Gemsbok ·

Tante, dit is net in ‘n droomwêreld waar elkeen regtig net kan maak soos hy of sy wil.

Gewoonlik is daardie droomwêreld beperk tot die enkelinge wat genoeg geld het om van niemand anders afhanklik te wees nie, terwyl hulle (weens ‘n verskeidenheid redes) nie enige afhanklikes het waaroor hulle nagte lank wakker hoef te lê nie.

Sulke vryswewendes is dalk soms bemind, maar self reken ek dat hul nalatenskap te klein is om werklik te bewonder.

Gee vir my eerder ‘n Afrikaner, want al hou ek dalk nie van haar nie, weet ek ten minste waar sy staan.

Gemsbok ·

Dit is ironies dat dr. Croucamp sy professionele loopbaan te danke het aan die Universiteit wat deur die Broederbond gebou is en die belastinggeld wat Afrikaners betaal.

Tog is dit die ANC wat besluit hoe daardie belastinggeld aangewend word en daarom is dit glad nie vreemd dat hy so na die politieke korrekte pype dans nie.

In dr. Croucamp se repliek op Wynand Boshoff se kommentaar stel hy dit baie duidelik dat Afrikaners nie eie publieke instellings benodig nie. Dit sal interessant wees om te sien of hierdie standpunt van hom onveranderd gaan bly indien die ANC besluit dat Afrikaners, weens hul gebrekkige politieke invloed, nie meer professors in Politieke Wetenskap nodig het nie, en hom summier op ‘n Transnet pensioenskema plaas.

Laastens is dit onregverdig dat dr. Croucamp toegelaat word om te beledig, maar die kommentators dan uitsluitlik uitgesonder word as die leweransiers van “vitrioel”. Myns insiens het hy net gekry wat hy uitgedeel het.

Ronel Storm ·

Ek is eintlik bly hy distansieer hom van Afrikaners. Ons het hom nie nodig nie. Hy kan wees net wat hy wil. Niemand dwing hom om n Afrikaner te wees nie.

Ronel Storm ·

Ek is vreeslik bly vir sy part dat hy nie n Afrikaner is. In vandag se tyd kan mens wees net wat mens wil. Hoera vir Pet. Ons wat wel Afrikaners is, voel dieselfde oor hom.

Gert Vermaak ·

Die man is sleg. Niks meer kan gese word nie. Pierre de Vos-sleg. Koos Bekker-sleg. Ja, so erg.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.