Nuuskommentaar: Piet Retief – gepolariseer en verpolitiseer

Betogers voor die hof in Piet Retief tydens ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Tania Heyns)

Die gemeenskap van Piet Retief beleef vandag ʼn swaar polisieteenwoordigheid met die beskuldigdes in die sogenaamde Pampoenkraal-saak wat weer in die hof verskyn. In dié stadium doen die beskuldigdes nog net aansoek om borgtog.

Vanaf die eerste hofverskyning het die saak met betogings, sommiges gewelddadig, gepaardgegaan. Die ANC-vroueliga en die EFF was van die partye wat die eerste dag al daar was om die slagoffers en hul families te ondersteun. So ook het hul teenwoordigheid die saak van die begin af verpolitiseer.

Twee uiteenlopende weergawes van die skietvoorval is deur onderskeidelik die boere en die betogers/plaaswerkers vertel. Daar is selfs nou videomateriaal wat blykbaar die polisie se getuies in die saak verkeerd bewys, deur te toon dat die Coka-broers wel in ʼn struweling met mekaar was. Dit is dié struweling wat na aanleiding van die boere se weergawe tot die skietvoorvalle gelei het.

Sodoende is die saak hoegenaamd nog nie beslis nie – daar bestaan baie onsekerheid oor presies wat daardie dag gebeur het en waarom dit gebeur het.

In die lig hiervan sou die redelike reaksie wees om vir die feite van die saak te wag voordat ʼn mens ʼn gepolariseerde mening daaroor aanneem. Tog voel die saak reeds gepolariseer en verpolitiseer – gegewe die politiek aan die orde van die dag tel die verpolitisering glad nie in die boere se guns nie.

Dié vyf boere word aangekla van moord en aanranding van twee broers in Piet Retief. (Foto: Tania Heyns)

Die staat en hoofondersoekbeampte in die saak het verlede week gevra dat die beskuldigdes nie borgtog toegestaan moet word nie ter wille van vrede en orde. Dit is eintlik ʼn versoek om die politiek rakende die gebeure swaarder te laat weeg as geregtigheid – hetsy die beskuldigdes skuldig of onskuldig is. Dit is versoeke soos dié wat jou laat wonder of politiekery die oogmerk van die hofsaak is of geregtigheid.

Die saak herinner al hoe meer aan die Coligny-twee en selfs Elana Barkhuizen. Die een ding wat in albei sake gebeur het, is dat die lyne tussen rassepolitiek en geregtigheid so vervaag het dat politiek uiteindelik onder die vaandel van billike prosedures en geregtigheid deurgevoer is – dit ongeag die daadwerklike feit van onskuld in albei gevalle. Dit is moeilik om terug te kyk na daardie sake en te sê dat die onskuldige swart teenoor skuldige wit rassepolitiek nie ʼn deurslaggewende invloed op die aanvanklike uitkomste gehad het nie.

In albei sake het die hof van openbare menings vroegtydige, rassepolitieke beslissings ongeag die feite van die saak gemaak. Die hele punt van oorhaastige beslissings komende van dié hof is dat blywende ongeregtigheid teen onskuldige partye gepleeg word – selfs al word hulle uiteindelik regtens onskuldig bevind. Sodoende lei die gepaardgaande rassepolitiek uiteindelik tot onreg, ongeag die waarheid of billike prosedures.

Die Piet Retief-saak begin al hoe meer soos dít voel. Die saak is ook nog nie beslis nie – daarom is dit gevaarlik om nou al enige kant toe finale beslissings oor skuld of onskuld te maak. Tog is die saak reeds aan’t verander in ʼn rassistiese wit teenoor onskuldige swart voorval. Daar waar feite onduidelik of afwesig is, word dit in die narratief gevul met aannames dat wit mense altyd weens inherente rassisme skuldig is in rassewisselwerkings.

(Foto: Tania Heyns)

Dit is nie die eerste of laaste keer dat so iets gaan gebeur nie. Uiteraard gaan die wit partye soms skuldig wees. Soms gaan hulle onskuldig wees. Die punt is egter dat die daadwerklike feite van die saak al hoe minder gaan begin weeg in vergelyking met die politiek daarvan – veral namate die ANC, en EFF, rassepolarisering aanvuur en verdedig in die openbare gesprek.

Namate die ANC in sy pligte as regering misluk, gaan hy die vlakke van rassepolitiek en -polarisering aanvuur. Solank  die party se kiesers steeds kwaad bly vir wit mense, word die aandag van ANC-mislukkings afgetrek. Verder het die party weens die doelwitte van die Nasionale Demokratiese Rewolusie die regstelsel gevul met kaders wat lojaal aan hul ideologiese doelwitte sal bly. Sommige burokrate sal dit in blote apatiese getrouheid doen. Sommige burokrate sal dit militant toepas in ʼn poging om hul eie politieke loopbane te bevorder.

Die feit bly dat daar in die soeke na sogenaamde rassegeregtigheid nog vele onregte gepleeg gaan word. Die ANC is getrou aan sy rasse- Marxistiese idees – hy gee regtig nie vreeslik baie om as onskuldige mense se lewe in die uitvoering hiervan verwoes word nie.

Onreg moet daarom as ʼn gegewe aanvaar word. Die ANC vorm ʼn magsblok met al drie bene en vlakke van regering wat met die party se idees en kaders gevul is. Dit gaan daarom byna onmoontlik wees om as individu teen die staat in opstand te kom. Diegene wat as individue die staat se onreg probeer beveg, gaan regtig hulself vasloop teen die regering as allesomvattende magsblok. Die beste antwoord hierop is daarom om met ʼn opponerende magsblok te antwoord. Eerder as individuele optrede, gaan die sukses in die gemeenskap en gemeenskapsinstellings lê. Hoe beter georganiseerd en sterker gemeenskapsinstellings deur en vanuit die gemeenskap word, hoe beter word die kanse om as daadwerklike magsblok teen die regering se onreg op te tree.

Indien ons as gemeenskap dié kapasiteit kan uitbou, het ons ʼn ál beter kans om onregte teen te werk. ʼn Mens gaan nooit alles wat sleg is, kan keer nie. Dié feit moet egter nooit tot ʼn tekort aan teenstand lei nie. Die geheim gaan eerder daarin lê om so sterk moontlik teen die regering te staan totdat hy nie meer die ongelooflike monopolie op mag het wat hy tans handhaaf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pieter ·

Sluit hulle almal toe wat optog hou. Almal is moordenaars en rasiste van anc en eff.

Werner ·

Na aanleiding van die feit dat die klaers lieg soos tande trekkers kan ek nie sien hoekom die boere nie onmiddelik borg kry nie.O ja danksy die rassistiese regering polisie en regter

Renier johannes ·

Genoeg is genoeg hulle soek moeilikheid wat kon gebly het

Mariana ·

Natuurlik is die EFF en ANC voor in die koor. Hoe dan anders, iemand moet die besigheid vererger. Kan nie verwag dat hulle in stilte daar moet wees nie, wie gaan dan plunder en skade aanrig.

David ·

Moet die beskuldigdes nie nou aansoek doen om vry gelaat te word na aanleiding van die beeld materiaal?

Riaan ·

Ek stem met die nuuskommentaar. Eendrag maak mag was ons land se kreet gewees, dit het gewerk toe en dit is die enigste antwoord op die huidige en toekomstige hindernisse wat voorlê. Die hindernis tans is egter meer soos ‘n ander planeet as ‘n berg en die eendrag gaan meer soos ‘n ruimte vaart beplanning moet geskiet as om ‘n steil berg uit te klim. Die eendrag gewilligheid is daar met “dieselfde” doel voor oë maar ons kan net nie saam stem oor die roete nie. Of te wel die manier waarop dit moet gebeur nie. Ons sal egter met dringendheid moet begin saam druk om die wa van die afgrond af te hou. Ongeag of jy saamstem met wie ook al die leisels het op daai stadium, solank die doel dieselfde bly.

Aikie ·

‘n Pluimpie aan Monica, die artikel is baie goed geskryf. Ja, die magsblok is onomstootlik daar en dit gaan baie vat om dit te oorkom. Tot dan is die oortuiging by die ANC daar dat dit aanvaarbaar is om’ n paar individue op te offer om die aandag van hulle af te hou. Veral as dit dan ‘n paar Boere is. Ek sien in die foto daar is’ n swart boer ook betrokke, ek wonder wat van hom gaan word.
Wie werk nou op die boere se plase? Die werk stop nie as die baas nie daar is nie.

Nico ·

Al wat ek kan sê is dat hierdie 5 boere hul koppe optel, hulle het mos al die feite van wat daardie dag gebeur het die waarheid sal die howe verkeerd bewys. die swartes kan mos niks verkeerd doen nie, die EFF moet wakker word die waarheid sal uitkom, die Almagtige Skepper het alles gesien en Hy sal hierdie 5 boere beskerm.

Danie ·

Dit maak tog nie meer saak wat die korrekte feite is nie.
Die regering het sy breindood meelopers so gebreinspoel dat alles wat n wit man doen aan rassistiese optredes gekoppel word.
Hulle glo hulself en sal in n duisend jaar nie dat feite hul reghelp nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.