Nuuskommentaar: Pik op PUK, persvryheid en billikheidsdoktrine

Skermskoot van die veldtog se Facebook-blad

Skermskoot van die veldtog se Facebook-blad

Met die bekendstelling van die #proPuk-veldtog Woensdagoggend is die stryd oor hoe die Puk-saluutkwessie hanteer word, tot nuwe vlakke gevoer.

Tot dusver het die saak onder meer verskeie agtereenvolgende dae voorblad-beriggewing in Beeld opgelewer, en ‘n ope brief van verskeie prominente oud-Pukke aan die voorsitter van Nasionale Pers. Beide kampe maak op hul verbintenis tot persvryheid aanspraak, maar dit is min of meer waar die gemeenskaplike denke eindig.

Presies wat die oud-Pukke gemeen het gaan gebeur, het gebeur toe die departement van hoër onderwys goed mond uitgespoel het, klaarblyklik nog voor die PUK se amptelike verduideliking bestudeer is.

In breë trekke kan aangevoer word dat die #proPUK-groep hulle daarop beroep dat persvryheid sonder die billikeidsdoktrine niemand ‘n guns bewys nie. Dit sentreer rondom die bewering dat die redakteur van Beeld, Adriaan Basson, ʼn persoonlike byltjie met die PUK slyp na ‘n vriendin met wie hy ‘n huis gedeel het, na ‘n skikking met die PUK die universiteit se diens verlaat het. Ou beeldmateriaal en inligting sou buite verband aangewend gewees het.

Maar wat is die billikheidsdoktrine? Amptelik is die billikheidsdktrine gestaak. Dit was ‘n Amerikaanse beleidstuk wat op die VSA se uitsaaimedia van toepassing was. Dit het nietemin in verskeie gedaantes bly voortleef, soos wetgewing oor openbare uitsaaiers in baie lande, en onder meer in die riglyne van die Persombudsman van

Suid-Afrika. Die woord “billikheid” kom verskeie kere in die perskode van die ombudsman voor. Dit verwys ook na openbare belang, en die verifiëring van feite.

Die geding voor ‘n tribunaal van die Kompetisiekommissie teen Media 24, hoe dié persgroep met GoldNet News van Welkom sou gehandel het, kan as ʼn verdere dimensie hiervan beskou word.

In die uitsaaiwese is die Uitsaaiklagtekommissie ook tot billike beriggewing in Suid-Afrika verbind.

In die VSA was daar pas ‘n openbare verontwaardiging oor die Federale Kommunikasiekommissie se voorneme om te bepaal of die media aan die publiek se “kritieke inligtingsbehoeftes” voldoen. Die kommissie het van sy planne afgesien. Volgens die jongste Rasmussenpeiling is die beswaar nie oor die poging om billike beriggewing te verseker nie, maar dat “die regering” die plan in werking wou stel. Die regering se meeluistering, onder meer van joernaliste, het pas die VSA se posisie op die internasionale persvryheid erg laat verswak – tot selfs swakker as Suid-Afrika se posisie daarop. Altesaam 76% van die respondente is minstens lugtig dat so ‘n aksie daartoe sal lei dat die regering gaan probeer om die nuusinhoud te probeer voorskryf.

Altesaam 55% beskou die Amerikaanse regering as ‘n bedreiging vir die grondwetlike persvryheid. Dit klink mos taamlik bekend.

Nogtans verkies byna die helfte van die Amerikaanse kiesers dat die grondslae van die billikheidsdoktrine moet geld.

Die effense louwarm entoesiasme vir die gelding van die billikheidsdoktrine is dat 76% glo dat die volle prentjie tog deur die kollektiewe poging van al die media – die internet, kabel- en satelliet TV, die radio en TV, na die publiek sal deurdring.

In Suid-Afrika speel die gedrukte koerante (nog) ‘n uiters belangrike rol in die verspreiding van nuus, veral onder die Afrikaner met sy hoë vlakke van geletterdheid. Dit is waarskynlik nog die belangrikste instrument om meningsvormers mee te beïnvloed.

Hierteenoor is die openbare uitsaaier se radiostasies baie belangrik om kritieke inligting na afgeleë, landelike gemeenskappe te bring. Die oog van opposisiepartye sal dus baie skerp gefokus wees of die openbare uitsaaier aan die kriteria van die “billikheidsdoktrine” voldoen.

Voorlopig lyk dit of die onverkwiklikheid oor hoe Beeld die PUK-kwessie hanteer op ‘n groot toets afstuur oor hoe doeltreffend die alternatiewe tot die gedrukte koerant geword het om tot die gemeenskap te spreek – mits Media 24 se grootbase uiteraard bly laer trek om Basson.

Die stryd word moontlik uiteindelik op die markplein besleg. Daar is reeds verskeie bekendes wat aangedui het dat hulle hul intekening op Beeld gekanselleer het, en ander wat skryf dat hulle die koerant nie meer koop nie.  Sou baie lesers dit doen, kan dit die migrasie na die elektroniese media versnel – ‘n proses wat internasionaal skynbaar in elk geval onomkeerbaar aan die gang is.

En uiteindelik sal adverteerders kennis moet neem.

Adverteerders sal egter ook tot ‘n groter mate kennis neem van die belangrikheid om die gemeenskapsmedia in die oog te hou. Penorent Nuus, wat daagliks verskeie volledige nuusbulletins aan gemeenskapsradiostasies voorsien, se kliënte het ‘n gesamentlike luistertal van sowat ‘n miljoen Afrikaanssprekendes. Hulle is nie die enigste rolspelers in dié veld nie.

Maroela Media groei besonder snel. Sy Facebook-blad as geheel se “likes” neem teen ‘n tempo van ongeveer ‘n duisend per maand toe.

Dit sal egter laat in die dag wees as diegene wat Basson oor billikheid aanspreek, in hul reaksie self die billikheidsbeginel prysgee. Maroela self sal aan sy eie beginsels, soos mooi uiteengesit aan die riglyne van Die Groot Debat, getrou bly.

Lees ook:
Puk-groet: Beeld reageer op Solidariteit se dispuut
Solidariteit: Bloedneus vir Beeld en Basson
Puk-groet: Departement sê koppe gaan rol
NWU-raad: ‘Ons sal nie menseregteskendings duld nie’
Puk-groet: NWU-bestuur moet dringend afgedank word – HETN
Premier reageer op Puk-groet
Puk-groet: Twitter-vermaak terwyl storm woed
Debat oor Puk-groet: ‘n G*tslag vir Afrikaans’n
Puk-rektor sê oor ‘Nazi-saluut’

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae