Nuuskommentaar: (Pik + Vavi) x (Marikana + Zuma) = ?

Pik Botha

Vandag is die eerste herdenking van die Marikana-skietery wat ‘n hele nuwe hoofstuk in die buitelandse persepsies van die ANC en die land ingelui het, maar die nuustoneel word ook oorheers deur ‘n uitlating oor regstellende aksie deur oud-minister Pik Botha, woelinge in Cosatu oor die skorsing van sy sekretaris-generaal, en die Nkandla-verslag wat volgens die Openbare Beskermer 99 % klaar is. Daar is ook ander omstrede sake soos die ondersoek na die wapentransaksie wat bitter baie werk gaan verg om geloofwaardig te word, die hoofregter wat aangekla is in ‘n poging om hom in ‘n staat van beskuldiging te plaas, ‘n weer eens verdoemende verslag van die ouditeur-generaal oor die land se munisipaliteite, die sg. Zuma-bande en vele meer.

Afrikaans het ook dié week verjaar, met nog bitter min waarborge wat Afrikaans se posisie in die praktyk bestendig gaan word.

Maar die vraag is, is daar ‘n verband tussen hierdie sake, en indien wel, wat gaan die gevolge wees?

Hier word, op die gevaar af dat sake te kripties saamgevat word, en dat dit oorvereenvoudig gestel word, na ‘n paar antwoorde gesoek. Hier is geen aanspraak dat dit ‘n diepsinnig akademiese ontleding is nie, maar eerder ‘n eerlike poging om “in die koppe” van kiesers te kom.

Pik

‘n Berig in Maroela Media dat oud-Minister Pik Botha gesê het die ANC het die grondwetlike onderhandelde ooreenkoms oor regstellende aksie verbreek, en dat die NP nooit sou instem tot die bepaling nie sou daar ‘n bewustheid gewees het dat die ANC so sou kierang, het ‘n stroom kommentare ontlok – byna voor die voet sommer erg veroordelend. Binne enkele ure is die hoeveelheid kommentare wat ‘n bydrae van dr. Dan Roodt in reaksie op ‘n omstrede bydrae van dr. Piet Croucamp, ontvang het loshande oortref.

News 24 het sy kommentaargerief by die berig gesluit.

Hier is verskeie kontekste, maar die een wat stellig die meeste krap is dat Croucamp ‘n onderskeid tussen konserwatief en regs getref het, en toe meer as net ‘n suggestie oor regses se IK gemaak het. Nou gee Pik in wese toe dat die ANC die “verligte” onderhandelaars van die NP ore aangesit het, en impliseer onbedoeld dat die “regses” wat destyds wolf – wolf geskree het, reg was.

‘n Groot deel van die probleem bly dat die sluier steeds dig getrek word oor wat van die beloofde tweede referendum geword het. Deurdat hierdie referendum soos mis voor die son verdwyn het, is die mat onder talle ja-stemmers van die eerste referendum uitgeruk wat wel ten gunste van voortgesette onderhandelings was (waaroor die eerste referendum gehandel het) maar beslis sou walgooi in die tweede toe dit wat onderhandel was, aan die kiesers voorgelê sou word.

Die verbandhoudende misterie is hoe die onderhandelaars so drasties van hul mandaat, gelaai met terminologie uit ‘n verslag van die Staatkundige Komitee van die Presidentsraad oor staatkundige modelle, kon afwyk sonder dat die mandaatgewers wolf – wolf begin skree het. Die Burger het selfs in ‘n hoofartikel ruimte aan die konsep van korporatiewe selfbeskikking geskenk, en mense genooi om voorleggings hieroor te doen. Een van die bekendes wat later ‘n voorlegging hieroor aan die Volkstaatraad gedoen het, was prof. Willie Breytenbach.

Moontlik is gereken dat die uiteindelike grondwet, wat dikwels as “die beste grondwet ter wêreld” opgehemel word, soveel tevredenheid sou veroorsaak dat die kiesers geheueverlies oor destydse verwagtinge en opofferings sou beleef. Dit het klaarblyklik nie gebeur nie. Die ANC spreek gereeld sy ontevredenheid uit oor die mate waartoe die grondwet meerderheidswil ondermyn, daar is gereeld sprake en beskuldigings – onder meer vanuit die FW de Klerkstigting – dat die ANC die ooreenkomste van die Nasionale Vredesakkoord begin opsê, en leemtes word al hoe meer uitgewys soos die president se aanstellingsregte van die hoofregter, die omseilbaarheid van die grondwet deur gereeld van waarnemende direkteure van Nasionale Vervolging gebruik te maak (waartydens onder meer die hofsaak teen pres. Jacob Zuma self geskrap is), die kwessie van wat toelaatbaar en nie toelaatbaar in terme van rasbegunstigde aanstellings (affirmative action wat verkeerdelik met “regstellende aksie” vertaal word), en vele meer.

Vavi

Dit gaan baie moeilik wees om die gewone kieser te oortuig dat Cosatu se optrede teen sy sekretaris-generaal, Zwelinzima Vavi, iets anders as naakte politiekery beskryf kan word, met sy grootste sonde dat hy in die aanloop tot die Mangaung-kongres nie die grootste Zuma-ondersteuner was nie. Kort hierna is die lang messe teen hom uitgehaal, soos beskuldigings van korrupsie met die verkoop van Cosatu se vorige hoofkantoor. Daar is ook hard probeer om ‘n prentjie te skilder dat Vavi en die DA-leier, Helen Zille, ideologies baie na-aan mekaar beweeg het.

Dit sou egter ‘n Simson en Delila-verhaal wees wat tot sy skorsing gelei het. Die kat is behoorlik in die duiwehok los hieroor, met veral Numsa, die radikale vakbond wat onlangs die NUM as Cosatu se grootste vakbond vervang het, wat erg ontevrede is. Vaagweg word die stertjie bygelas dat dit ook handel oor hoe Vavi die kwessie daarna in die openbaar hanteer het.

Vir die gewone publiek bly die vraag oor dubbele standaarde egter staan. Zuma self is van verkragting aangekla maar het suksesvol owerspel as verweer aangevoer, en president geword. Hierna het Zuma nog ‘n kind buite die eg by die dogter van sy goeie vriend, Irwin Khosa verwek. Hy het met ‘n verloofde in die huwelik getree by wie hy reeds kinders buite die eg verwek het. Geen sprake van skorsing nie.

Marikana

Altesaam 34 mense is vandag presies ‘n jaar gelede in die skermutseling by Marikana-koppie dood. Byna dadelik was Suid-Afrika in bebloede terme op die wêreld-voorblaaie, en sommer baie gou is dit in die internasionale media met die Sharpeville-voorval vergelyk.

Kort hierna het die Nasionale Vervolgingsgesag bekend gemaak dat die gearresteerde betogers kollektief van moord vir die dood van die ander aangekla gaan word. Die beginsel van kollektiewe doel is internasionaal in die reg erg omstrede, en dit het baie gou die saak van die sogenaamde Pabalelo-groep geopper wat gesamentlik ter dood veroordeel is weens hul betrokkenheid by moord. Suid-Afrika se naam is net nog verder in die modder getrap.

Vrae is ook dadelik gevra oor die staat se intelligensievermoë om nie die omvang van die probleem betyds te kon voorsien nie. Terwyl die regering nog wind gehap het om ‘n konsep te vorm van wat gebeur het, en hoekom dit gebeur het, het akademici soos prof. Andries Bezuienhout dit reeds in die fynste detail uiteengesit – die inligting waarvoor die intelligensiedienste skynbaar blind was, was reeds in die openbare domein.

Die regering is van blinde politiekery beskuldig, veral omdat die vakbond wat toe al ‘n geruime tyd die platinumbedryf gedestabiliseer het, Amcu, die houvas van die Cosatu-geaffilieerde NUM uitgedaag het.

Die regering se subjektiwiteit is goed gedemonstreer toe die minister van minerale gesê het sy het eers ná die Marikana-skietery van Amcu gehoor. Dit, na Amcu danksy ‘n langdurige staking die internasionale platinumprys baie opgejaag het, en die minister self kort voor die Marikana-skietery, ‘n afspraak met Amcu gekanselleer het. Dit het nie ‘n positiewe beeld oor die kwaliteit van ministers uitgestraal nie.

Ook die regering se optrede daarna het aanvanklik ‘n groot onwilligheid getoon om Amcu as beduidende rolspeler te erken. Maar dié politieke blindheid het nie die feit verander dat die NUM soveel steun ingeboet het dat dié vakbond, eens Cosatu se ruggraat, na die tweede of selfs derde sterkste vakbond in Cosatu verswak het nie. Dier NUM se probleme het ‘n lang aanloop gehad, veral aar die leiers self deel van die mynbestuur geword het en voeling met die werkers verloor het. Minstens een myn moes druipstert om verskoning vra dat hy die verkiesingsveldtog van kandidate vir die NUM se leiersverkiesings gefinansier het. ‘n Teelaarde vir AMCU se groei is in wese deur die NUM self geskep, en ondernemings binne NUM om die interne kwessie op te los, het praatjies gebly.

Na ‘n aanvanklike voeteslepery, is die Farlam-kommissie aangestel. Dié kommissie is nog besig met sy ondersoek. Die mandaat van die kommissie is nie net tot die skietery by Marikana-koppie beperk nie, maar om die gebeure van 11 tot 16 Augustus, waartydens altesaam 44 mense dood, 70 beseer en sowat 250 persone in hegtenis geneem is te ondersoek. Dit sluit sake van openbare, nasionale en internasionale belang in, hoewel op die oog af baie sterk op die gebeure by die koppie self gefokus word.

Die ondersoek sal egter onvolledig wees as die regering se eie politiekery, die rol van die intelligensiedienste en die erg negatiewe internasionale mediadekking wat dit die land besorg het, nie saam met die rol van die polisie, toordokters met hul doepa, en leemtes in die arbeidsreg ook deeglik onder die vergrootglas geplaas word nie.

In min of meer dieselfde tyd het Mary Robinson, bekend vir haar rol as voorsitter van die VN se Menseregteraad, en Hillary Clinton, toe Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, hul weergawes van die winde van verandering-toesprake in Suid-Afrika gelewer.

Binne ‘n baie kort tydjie is die internasionale beeld van die ANC as vryheidsinstasie wat niks verkeerd kan doen nie, erg verniel. Zuma het, ook danksy ander uitsprake en insidente, in die Weste die beeld van Suid-Afrika se grootste probleem verwerf.

Marikana het baie verander, maar te veel het nog dieselfde gebly.

Zuma

Baie oorsigtelik is Zuma se haastige kondonering van Zimbabwe se verkiesing waar die speelveld opsigtelik nie gelyk was nie, nie goeie nuus vir die vooruitsigte dat Suid-Afrika vir volgende jaar se verkiesing ‘n baie gelyk speelveld gaan hê nie. Gaan daar nou, uiteindelik, sin in die chaos op munisipale vlak gebring word?

Gevolgtrekkings

Baie velde van polarisasie ontwikkel, soos blyk uit die onlekkerte tussen Cosatu en Amcu, en binne Cosatu self, oor die grondkwessie wat by gebrek aan ander prestasies as vername, indien nie die vernaamste verkiesingskwessie gaan word nie, bitter swak ministers wat in die stoel bly, minstens drie provinsiale LUR’e wat weens ernstige aanklagte in die hooggeregshof tereg staan maar, anders as Vavi nie geskors word nie, die Wes-Kaapse poefie-oorlog vlam periodiek nog op, dienleweringsbetogings rol gereeld oor die land, rou riool beland in besproeiings- en gereeld in drinkwater – en die Afrikaner baklei nog die lekkerste met sy eie mense (al het van hulle as Afrikaners bedank).

Die kop duisel oor waar die land sou staan (of dalk al gelê het) as dit nie vir die werk van burgerlike instellings soos Solidariteit, Outa en AfriForum was nie. Dit was jou werklikwaar AfriForum, en nie soseer die politieke partye wat die meeste geraak word nie, wat die sterkste standpunt oor die Potchefstroomse kospakkieskandaal ingeneem het en beloof het om ook iets te doen aan hierdie wanpraktyke wat die politieke speelveld ongelyk maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.